Название | Hartstog in Malawi |
---|---|
Автор произведения | Lizet Engelbrecht |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624050391 |
Sy sit nie aan nie! Hemel, gisteraand toe die kelner skielik die drankie op haar tafel neersit, het sy so geskrik dat sy skoon lighoofdig was. Sy kon die sogenaamde kaptein wat die drankie gestuur het nêrens sien nie en ofskoon sy hom nie wantrou nie, kon sy nie die onbekende opsom nie. Hy is arrogant, dit weet sy, maar die restaurant, die kroeg, die hotel en haar kamer – alles was vreemd.
Sy het gesoek na uitkoms, maar kon nie sien deur die angs wat haar oorweldig het nie. Sy kon nie die waarheid sien nie. Die vrees het haar hart so swaar omklem dat sy haar moes staal en harder moes praat om enige woorde uit haar keel te kry. Terwyl sy en die kelner gepraat het, het sy heeltyd gewonder: Het hy die drankie gestuur of iemand anders? Hoekom sién sy nie die man nie?
Sy was oortuig dat die drankie gedokter is, dat iemand haar dophou en onwelvoeglike planne met haar het. Sy het skoon haar eetlus verloor en toe boonop die hele nag nagmerries gehad. Dieselfde nagmerrie wat sy reeds die afgelope twee weke elke aand beleef, maar verlede nag het dit ’n stertjie bygekry. Soos die vorige veertien nagte het sy haarself wakker gesoebat, haar lakens deurweek as gevolg van die angssweet en haar liggaam uitgeput deur die hewige geveg wat sy beleef het. Dis presies dieselfde geveg oor en oor.
Vanmôre het sy ’n uur vroeër as beplan die hotel verlaat in die hoop dat sy nooit weer vir kaptein Costa hoef te sien nie. Haar ou nagmerrie is genoeg, sy kan verduidelik waar dit vandaan kom, maar die nuwe stertjie raak nou te erg.
Vlugtig loer sy weer na die roetekaart. Liwonde-reservaat, volgens die roetekaart, is slegs ’n skrale 250 kilometer van Blantyre. Volgens haar berekening sou die rit nie langer as drie uur neem nie. Onkundig het sy natuurlik nie tyd bereken vir ’n smal kronkelpad wat voortdurend vol kinders, bokke, smouse, honde en katte is nie. En sy het ook nie besef dat dit die een klein dorpie op die ander is en dat jy selde vinniger as 80 kilometer per uur ry nie.
Rochelle glimlag innerlik. Toeter en toet het vandag ’n nuwe betekenis gekry.
Verslae dink sy aan die aantal mense wat sy tot nou toe gesien het. Massas sonder einde; soos miere wat heuning ruik, borrel hulle voortdurend uit en skarrel rond. ’n Opvallende verskynsel is die hoeveelheid fietse – verstommend!
Malawi is ’n klein landjie. ’n Bietjie groter as die Krugerwildtuin, en twintig persent van die oppervlakte word deur die Malawimeer bedek. Met ’n bevolking van twaalf miljoen is dit een van die digs bevolkte lande in Afrika. Sy het baie mense verwag, maar sóveel mense sou sy nimmer as te nooit kon raai nie.
Skielik moet sy weer rem trap vir die vale. Nogmaals swets sy – iets wat sy normaalweg nooit doen nie. ’n Fietsryer met ’n hele boel lewende hoenders, kop onderstebo oor die stuurwiel vasgemaak, en ’n boerbok op die saal vasgegespe, het reg voor haar ingery.
Onmiddellik vererg sy haar bloedig en wil sommer op haar toeter lê, maar toe laat die komieklike prentjie haar skaterlag. Die meeste onvoorsiene komplikasies is eintlik so snaaks dat dit bomenslike inspanning verg om nie te lag nie, besef sy. Nogmaals reik sy na haar kamera om die kostelike affêre op film vas te vang voor sy verder aankruie.
“Nee, nee!” kreun sy moedeloos toe nog ’n padversperring voor haar opduik.
Behendig bring Rochelle die Kia tot stilstand. Dis nou die derde padversperring. En soos by die vorige twee is daar weer eens net ’n blou bordjie wat lees: Stop. Police.
’n Paar meter verder is die versperring oor die middel van die pad opgerig. ’n Beampte in uniform kom nader. Dieselfde twee vrae in dieselfde gebroke Engels: “Waarheen gaan u? Het u enigiets om te verklaar?”
Ritmies trommel sy met haar naels op die stuurwiel en probeer die gejaagde gevoel afskud. By die vorige punte is ander voertuie deursoek; letterlik alles word uitgepak, oopgemaak en ondersoek. Sy was tot dusver gelukkig.
Sy byt op haar onderlip en ’n angssweet slaan yskoud op haar vel uit toe die beampte wys sy moet langs die pad aftrek. Sonder haas stap hy om haar motor. By haar venster steek hy vas en vra: “Lisensie, asseblief.”
Woordeloos oorhandig sy haar rybewys. Sy is waaksaam en elke sintuig is op hom ingestel.
Die beampte bestudeer haar lisensie oneindig lank.
“Tringels, asseblief,” vra hy met die rybewys nog in sy hande.
“Ekskuus?”
“Tringels, asseblief.”
Dis die enigste woorde wat hy herhaal, maar die ongeduld slaan ongetwyfeld in sy stem deur. Agter haar lê ’n minibusbestuurder op sy toeter en in haar truspieël kan sy sien hoe die passasiers by die vensters uitpeul om tamaties, vis, vetkoek, ensovoorts te koop.
“Ek is jammer, meneer, maar ek het nie die vaagste benul waarna u verwys nie. Kan u vir my verduidelik wat dit is waarna u soek?” vra sy benoud.
Met ’n verergde klik van die tong swaai die beampte op sy hakke om en skreeu iets op Chichewa, die amptelike taal van Malawi. Nog vinniger draai hy terug, leun met sy elmboog teen haar deur en herhaal stadig en bevelend: “Ek wil beide u tringels sien. Nou!”
Sy stemtoon styg as gevolg van sy ongeduld en sy oë trek onvriendelik op twee skrefies.
Twee, flits dit deur haar brein. Wat kan dit wees?
Onbeholpe maar steeds in beheer, verduidelik sy dapper: “Meneer, ek verstaan nie wat u soek nie. Kyk, hier is my paspoort,” en sy oorhandig haar paspoort. “Ek besoek Malawi en het gister gearriveer, maar niemand het my geadviseer oor die goed waarna u op soek is nie.”
Haar moed begin sink toe sy sien hoe sy gesigsuitdrukking hard en onversetlik raak. Haar ingewande bewe. Die beelde van ’n koue, nat Afrika-tronksel en niemand wat haar onmiddellik vermis nie, spring voor haar geestesoog op.
Die beampte is glad nie gelukkig met haar nie. Die vrees maak haar heeltemal dom en soos mis voor die son begin haar selfbeheersing kwyn. Haar oë skiet vol trane en sy kyk hulpsoekend rond.
“Tringels, of jy het nagelaat om die wet te volg, en dis ’n probleem. ’n Gróót probleem.”
Die adrenalien pomp deur haar are. “Asseblief, meneer …” Sy maak keel skoon en probeer weer: “Asseblief, meneer, ek weet nie …”
Haar onvaste stem word onderbreek deur ’n motor wat met skreeuende bande tot stilstand kom. Iewers klap ’n deur en vaagweg wonder sy of dit die vangwa is wat gearriveer het.
“Middag, dame. Wat is die probleem?” vra ’n diep stem.
Die rustigheid daarvan dring deur haar angsneurose. Verligting spoel oor haar. Sy was werklik nog nooit in haar lewe so verlig nie. Sy kan haar ridder op sy wit perd sommer ’n klapsoen gee.
Deur haar venster kyk sy op, en op en op. Wat ’n massiewe stuk vleis, flits dit deur haar gedagtes – voor sy vaskyk in kaptein Costa se gesig.
Haar nuutgevonde optimisme sak tot ’n laagtepunt toe sy besef wie haar ridder is, en dat sy gesigsuitdrukking verraai dat hy wens hy het eerder verbygery. Maar te diep in die penarie om haar aan sy liggaamshouding te steur, glimlag sy bewerig.
“Dankie, miskien kan u help. Die beampte is op soek na my tringels,” sê sy en probeer haar stem kalm hou.
Hy staar woordeloos na haar.
Moedeloos trek sy haar skouers op, gooi haar hande in die lug en vaar uit: “Ek het nooit so iets ontvang nie! Nie by geboorte nie en ook nie gister by immigrasie nie. Ek weet nie wat dit is nie! Wat moet ek nou doen?”
“Sluit oop jou deur,” beveel hy.
Rochelle voel hoe haar mond letterlik oopval. Verbyster gaap sy die lang man aan.
Sy