Onthou jy nog die liefde?. Marlee Tesselaar

Читать онлайн.
Название Onthou jy nog die liefde?
Автор произведения Marlee Tesselaar
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624050346



Скачать книгу

In die rukkie wat ek daar by hom was, het hy nooit sy linkerhand gebruik of beweeg nie. Maar sy verstand en spraak is op die oog af orraait. Ek wil vandag met sy dokter gesels om die volle prentjie te kry. Ek weet vir ’n feit dat sulke pasiënte gewoonlik goed op terapie reageer.”

      Sy trek haar knieë onder haar ken in; hy loop rusteloos op en af in die vertrek. Skielik steek hy vas en draai met ’n glimlag in haar rigting.

      “Onthou jy nog vir oom Bennie Matthee?”

      Sy wil eers ontkennend haar kop skud, maar dan onthou sy tog. “Praat jy van die ou oom wat Saterdagmiddae by jou pa gekuier het?”

      “Die einste!” Hy uiter ’n laggie.

      “Ons het gewoonlik agter die stoepmuur weggekruip wanneer hy by jou pa kuier. Lewe hy ooit nog?” vra sy belangstellend.

      “Die ou oom is nog hups, sê ek vir jou! Ja, ons het daar weggekruip om te hoor wanneer begin hy nies van Pa se pyprook en dan poep hy ook.”

      Sy glimlag spontaan; hy ruk sy asem onhoorbaar in by die aanskoue van haar skoonheid.

      “Hoekom praat jy spesifiek nou van hom?” vra sy.

      “Ons, ek en Gerhard, het sy seun aangestel as plaasbestuurder. Die mannetjie is hardwerkend en beslis ’n aanwins vir Nouveau.”

      Hy kom langs haar op die rusbank sit en sy deins instinktief terug tot teen die leuning. As hy dit agterkom, laat hy dit nie blyk nie. Daar is net ’n effense frons tussen sy ruie wenkbroue.

      “Onthou jy nog hoe my pa altyd in die winter sy partytjiepruik opgesit het om sy kaal kop warm te hou? Hy het soms selfs daarmee winkel toe gegaan,” praat Nelis sommer die gedagte wat hom te binne skiet om die gesprek lig te hou.

      Anika het egter genoeg daarvan gehad. “Watse onthou-jy-nog-speletjie is dit hierdie? Jy weet ons onthou presies dieselfde gebeure, so hou op om rowe af te krap. Gister is verby!” Sy spring van die rusbank op en gaan met haar arms voor haar bors gekruis by die venster staan. Sy wil nie nou herinner word aan ’n gister wat hulle gedeel het nie. Want hy is die middelpunt van haar verlede, haar hel!

      Nelis kom agter haar staan, maar raak haar nie aan nie.

      “Is daar dan sere met rowe, Antjie? Ek het dit nie geweet nie. Ons het alles eenders beleef, eenders oor dinge gevoel.”

      Sy tol so vinnig op haar hakke om dat haar hare deur die lug swiep. Daar blits woede in haar oë en hy deins effens terug.

      “Staak dit, sê ek jou!”

      “Is jy nie ’n bietjie te fyngevoelig oor blote opmerkings nie?”

      Hy vat haar skouers vas; sy voel die warmte, die grofheid van sy hande deur haar dun nagklere en ril. Met amperse desperaatheid wring sy haar onder sy hande uit.

      “Los my! Jy raak nie aan my nie!”

      Hy frons vererg. “Jy oorreageer!” sê hy skerp. “Wat’s fout met jou? Natuurlik is gister belangrik, en om dit te probeer ontken of weg te wens is onmoontlik. Wat gister gebeur het, bepaal tog hoe ons optree, die besluite wat ons neem.”

      “Ja, ja …” beduie sy met haar hand.

      Hy moet nou ophou, anders gaan sy dinge sê waarvoor nie hy óf sy gereed is nie. Nie nou al nie, nie voor sy al die antwoorde op haar vrae het nie. Die selfverwyt wat aan haar vreet omdat sy haar verantwoordelikheid op iemand anders afgeskuif het, sal haar die res van haar lewe soos ’n bloeddorstige dier agtervolg. Dit bly op haar spoor, soms kan sy die warmte van selfverwyt in haar nek voel blaas; ander kere is sy net van sy teenwoordigheid iewers op die agtergrond bewus.

      Sy trek haar kamerjas stywer om haar lyf vas. “Ek het nog baie om te doen, Nelis. Asseblief, jy moet my verskoon,” pleit sy amper.

      “Natuurlik,” knik hy geredelik.

      Sy stap na die voordeur en hou dit vir hom oop. Hy kom tot by haar en vee ’n haarsliert van haar voorkop weg. Sy aanraking brand haar! Sy durf egter nie enige fisieke kontak tussen hulle duld nie. Hy is ’n getroude man, hy behoort aan ’n ander vrou.

      “Kom kuier vir my op Nouveau,” nooi hy gretig. “Ons het nog baie om oor te gesels, jare se belewenisse om oor te vertel en in te haal.”

      “Het jy van Bertha vergeet – jou vrou?” vra sy skerp.

      Omdat sy so daarop hamer, begin dit hom irriteer. “Bertha … Nee, vir geen oomblik het ek van haar vergeet nie. Maar jy hoef my nie aan my vrou te herinner nie. Bertha is my probleem, my gewete.”

      Sy verstaan nie die strekking van sy woorde nie, maar vra ook nie uit nie. Van Bertha Beukman-De Villiers wil sy niks hoor nie. As sy nooit weer nodig het om die vrou se naam op haar tong te vorm nie, sal dit haar perfek pas.

      “ ’n Mens los nie ’n klomp afgebreekte drade net so nie; jy probeer hulle knoop, sin daaruit maak. Daar is dinge waaroor ons moet gesels, Anika. Kom kuier vir my op Nouveau – jy ken sekerlik nog die pad.”

      “Nee!”

      Hy raak ongeduldig. “Jy vergeet ek ken jou te goed. Jy konsentreer op hierdie oomblik baie hard om iets vir my weg te steek. Toe, uit daarmee!”

      “Jy praat twak! Wat sal ek nou sodanig vir jou probeer wegsteek?”

      “Jy vertel vir my leuens, terwyl ek die waarheid wil weet. Kom kuier op Nouveau,” herhaal hy. “En as Bertha dalk die probleem is: moenie bang wees nie, sy het nog nooit op Nouveau gewoon nie. Dis net ek en Gerhard wat daar boer.”

      Sy bly net haar kop ontkennend skud. “Nee!”

      “Gaan jy my inlaat in jou geheim? Jy skuld my die waarheid, Anika!”

      “Geheim? Watter geheim? Jy praat –”

      “Snert, ja, ek weet. Genugtig, Anika, jy’s amper te bang om asem te haal.”

      Hy vee met sy vinger oor haar kuiltjie, waar haar pols vinnig klop. Instinktief wil sy wegruk, maar sy dwing haar om sy aanraking te verduur. Desperaat probeer sy haarself oortuig Nelis de Villiers se aanraking beteken niks vir haar nie.

      “Kom uit na Nouveau en bewys aan my én aan jouself dat niks van die verlede tussen ons staan nie. For old times’ sake!” koggel hy haar.

      Sy antwoord nie en hy lag saggies. “Ek wag vir jou op die plaas – enige tyd, maak nie saak wanneer jy kom nie. Ek is maar heeldag daar in die kelder doenig.”

      Hy stap uit en net voor hy die trappe afgaan, draai hy terug en sê: “Dis goed jy’s terug, Antjie. Veral ter wille van jou pa, hy het jou nodig … maar ons ook.”

      Dan is hy weg. Sy bly staan met haar hand om die deurknop geknel.

      Hy was altyd die leier van sy seunsmaats en sy was sy gewillige volgeling. Ter wille van hom het sy maats haar as deel van die speelgroep aanvaar – dis immers hoe Nelis dit wou hê.

      Toe Nelis die voorhekkie agter hom toeslaan, is dit asof hy vir die eerste keer weer onthou om asem te haal. Met vinnige asemteue lawe hy sy longe. Dan eers word hy bewus van die winterkoue en ril; hy rek sy treë na sy bakkie en klim in. Met sy hande rustend op die stuurwiel sit hy sonder om sover te kom om die sleutel in die aansitter te draai.

      Die beeld van ’n naakte lyf wat teen syne pas, die geur van parfuum in sy neus, donker hare oor sy bors gestrooi … Dis beelde wat hom nou al jare lank treiter, hom mal maak omdat hy nie die oorsprong daarvan ken nie.

      Hy het Bertha elke nag in sy arms vasgehou en dan hierdie drome oor sy droomvrou gedroom. Met sy droomvrou was dit ’n fees en het dit gevoel of sy presies in sy arms pas. By Bertha het hy dieselfde passie en intensiteit gesoek wat hy in sy drome by sy droomvrou ervaar het. En telkens was hy teleurgesteld.

      Hy voel weer die bruin hare wat tussen sy vingers deurglip, die geur van haar warm lyf … sy droomvrou. Sy hand wat om ’n vol ronding vou; haar tepels onder sy tong is warm en styf. Fyn, warm hande wat om sy boude vou, hom nog nader aan haar beur.

      Hierdie