Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse

Читать онлайн.
Название Wilna Adriaanse-omnibus 1
Автор произведения Wilna Adriaanse
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624050315



Скачать книгу

oor haar skouer en haar tas agter haar aan, loop sy deur die reuse-aankomssaal tot by die aangewese toonbank. Sy neem ’n paar diep asemteue om die ergerlikheid te laat bedaar.

      Na sowat twintig minute sien sy ’n man haastig aangestap kom en kan nie help om op te let dat hy nogal aantreklik is nie. Sterk, aantreklike gesig, ligte hare, en vriendelike blou oë. Toe hy by die toonbank tot stilstand kom en soekend om hom kyk, kom sy stadig orent. Dit moet haar werkgewer wees en hy lyk glad nie sleg nie.

      “Doktor Parker?”

      Hy draai haastig na haar en dan sien sy die vraende blik wat by haar verbygaan en weer na haar gesig terugkeer. Sy steek haar hand uit. “Ek is Georgina Walters.”

      Daar is nog steeds nie ’n verwelkomende glimlag nie, net dieselfde vraende blik en sy begin twyfel of dit hy is. Dan skud hy sy kop en steek sy hand glimlaggend uit. “Ek is jammer, ek het iemand ouer verwag. Hallo, jammer vir die vreeslike lang wag. Ek weet nie wat gebeur het nie.” Hy tel haar sak op en neem die tas se handvatsel en dan moet sy haar treë rek om by te bly. Sy kyk verbaas op toe hulle by ’n skuifdeur uitstap en hulle weer op die aanloopbaan bevind, maar daar is nie tyd vir vrae nie. Hy hou ’n motordeur vir haar oop, terwyl die bestuurder haar tas agterin die motor laai.

      Toe hulle uiteindelik langs mekaar agterin die motor neersak, steek hy weer sy hand na haar uit. “Mark Anderson, aangename kennis. Ek is jammer, die baas het vergeet om vir Ann te sê jy arriveer vandag, anders sou daar beslis iemand hier gewees het.”

      “Jy is nie doktor Parker nie?” Sy trek haar hand uit syne.

      Hy lag. “Nee, hy is al die hele dag in ’n vergadering en ons moet oor ’n uur Washington toe vlieg, so ons het nie baie tyd nie.”

      Georgina voel hoe alles skielik net te vinnig vir haar gaan. En toe die motor oomblikke later tot stilstand kom en hy die deur vir haar oopmaak, kan sy net stom na die helikopter voor haar kyk.

      Sonder seremonie word haar tas by ’n deur onder die romp ingeskuif en help Mark Anderson haar teen die trappies op.

      Sy draai terug en haar mond gaan oop en toe, maar hy beduie dat hy nie kan hoor nie en sy moet wag totdat die deur agter hom toeswaai en hulle albei met ’n stel oorfone op die kop sit, voordat sy weer kan praat.

      “Meneer Anderson, ek verkies om ’n huurmotor te neem. Gee my net die adres.”

      Die blonde kop skud terwyl hy oor haar buk en die veiligheidsgordel oor haar skoot vasknip. Met ’n kopknik beduie hy vir die vlieënier dat hulle gereed is en die volgende oomblik gryp sy benoud na die armleuning. Sy was nog nooit bang vir vlieg nie, maar sy vertrou nie helikopters nie. En veral nie hier waar Manhattan se wolkekrabbers skrikwekkend vinnig nader kom nie. Dit voel vir haar of sy in ’n driedimensionele rekenaarspeletjie vasgevang is. Haar maag ruk skielik en die volgende oomblik sak hulle bewend op die dak van ’n gebou neer.

      Sy bly met lam bene sit, maar Mark Anderson het reeds haar skouersak opgetel en wag dat sy hom volg. ’n Ouer man staan en wag vir hulle ’n entjie van die helikopter af, en neem dadelik haar tas. En al wat Georgina kan doen, is om agter die blonde man aan te loop, met die ouer man kort op hulle hakke. In die hysbak sien sy haar weerkaatsing in die vollengte spieël, vee met haar vingers deur haar kort donker hare en probeer ongemerk haar gekreukelde wit hemp en denimbroek regtrek. Langs die man met die uiters smaakvolle pak klere, lyk sy skielik soos een van die sakmense wat met hulle winkelwaentjies die strate bewandel.

      Die deure skuif geluidloos oop en Mark Anderson beduie vir Georgina dat hulle hier moet uitklim. Haar swart stewels sak in die dik mat weg en haar blik gly vlugtig oor die wit-en-room vertrek. Alles is perfek, alles pas bymekaar, selfs die deftige mense wat heen en weer by haar verbyloop. Georgina moet by haarself glimlag. Sy gooi haar kort swart leerbaadjie oor haar arm en lig haar kop. Aan die einde van die lang gang maak die jong man ’n deur oop en beduie dat sy moet instap. ’n Ouer vrou kyk gesteurd op en ’n paar fletsblou oë gaan vraend na die man agter Georgina.

      “Juffrou Walters, dit is Ann Meyerson, Chris se sekretaresse. Ek gaan jou voorlopig hier by haar laat. Chris het gesê hy wil jou sien voor ons Washington toe vlieg.”

      Georgina steek haar hand na die ouer vrou uit en sy sien die huiwering waarmee die goed versorgde hand uitgesteek word. Ann Meyerson beduie na die diep leunstoele wat aan die oorkant van die ruim vertrek staan en Georgina neem aan sy moet daar wag.

      Sy beskou die ruim verrek met min belangstelling. Dit lyk soos ’n baie deftige sitkamer, met ’n groot bos wit lelies op ’n hoektafel. Maar haar kop is so dof. As sy net vir ’n paar uur kan slaap. Die telefoon op die groot lessenaar lui kort-kort en mense kom en gaan en saam met al die bedrywighede rondom haar, kan sy voel hoe die ergerlikheid in haar toeneem.

      Georgina is so ingedagte dat sy nie die groot deure aan die oorkant van die vertrek sien oopgaan nie, ook nie die drie mans en ’n vrou wat geluidloos oor die dik mat aangestap kom nie. Dis eers as ’n paar bene voor haar gesigsveld inskuif, dat sy opkyk – vas in twee rookgrys oë onder donker wimpers. Oë wat haar op en af beskou. Sy kom stadig orent, maar moet steeds opkyk toe sy voor hom staan. ’n Hand word vlugtig na haar uitgesteek en sy neem dit traag.

      “Ek is Chris Parker. Ek is bly jy kon kom.” Dan draai hy om en Georgina staan sprakeloos na die groepie mense en kyk. Al vier is besig om jasse aan te trek en die vrou agter die lessenaar is besig om in ’n sagte stem met haar werkgewer te praat. Hulle is al by die groot dubbeldeure voordat die lang, donker man omkyk.

      “Ek is ’n bietjie haastig, juffrou Walters. As ons net gou ’n paar woorde kan praat?” Daarmee draai hy om en die gevolg kom weer in beweging.

      Georgina huiwer, maar Ann Meyerson beduie dringend met haar kop dat sy moet saamloop en Georgina kom ook in beweging. Die hysbakdeure word oopgehou totdat sy haastig agter hulle inloop, dan gly dit weer geluidloos toe en aan haar maag kan sy voel dat hulle die hoogtes inskiet.

      “Ek het sesuur ’n vergadering in Washington, maar vlieg direk daarna terug. Edward sal jou huis toe neem. Die kinders is by die huis.” Hy kyk haar weer met dieselfde blik as oomblikke vantevore in die kantoor aan. Asof hy iets wil vra of sê, maar die deure skuif oop en hulle stap weer op die dak uit, waar die helikopter se motore reeds begin draai het.

      “Ons praat later weer.” En daarmee klim die vier in die wagtende tuig en kan Georgina net sprakeloos staan en kyk hoe die lemme al vinniger draai, totdat die romp lig.

      Dieselfde ouer man van vroeër staan agter haar toe sy omdraai.

      “Ek is Edward, juffrou. U tas is reeds in die motor.” En vir die derde keer binne ’n uur, gly die hysbak se deure geluidloos agter haar toe en moet sy na haar eie beeld in die spieël staan en kyk.

      Georgina se brein het vir een dag alles ingeneem wat vir haar moontlik is en niks kan haar meer raak of verbaas nie. Nie die donkergroen Rolls Royce wat onder die gebou vir haar wag of die gebou oorkant Central Park waar Edward die motor tot stilstand bring nie. Maar haar oë knip tog ’n paar keer toe die hysbak op die vierde vloer oopgaan en hulle in ’n uiters smaakvolle portaal uitstap. Die mure is oorgetrek met donker houtpanele en die meubels is almal pragtige antieke stukke. Georgina is genoeg van ’n kenner om te weet dit is nie replikas wat hierdie ruim vertrekke versier nie. ’n Gryskopman kom uit ’n ander vertrek gestap en knik vriendelik.

      “Ek is William Connely. Welkom hier.” Hy groet vir Edward en neem die tas by die ander man. ’n Gryskopvrou kom ook die portaal binne en glimlag. William Connely beduie met sy kop na die vrou.

      “Dit is my vrou, Betsy.”

      Georgina steek haar hand uit. “Aangename kennis.” Sy is dankbaar vir die glimlagte. Mevrou Connely stap voor haar uit en draai ’n deur aan die linkerkant van die portaal oop. Hulle stap deur ’n klein sitkamertjie en dan in ’n ruim slaapkamer in. Groot skuifdeure maak soos in die sitkamertjie op ’n wye balkon oop en daaragter kan Georgina die bome in die park sien.

      Op Betsy Connely se vraag of sy kan help uitpak, skud Georgina haar kop. “Dankie, maar ek sal regkom.” En dan voeg sy by: “Is die kinders hier? Ek sal hulle graag wil ontmoet.”

      Die