Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale. Deon Meyer

Читать онлайн.
Название Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale
Автор произведения Deon Meyer
Жанр Публицистика: прочее
Серия
Издательство Публицистика: прочее
Год выпуска 0
isbn 9780798169479



Скачать книгу

jaar later – volgens my horlosie so tien minute – kom hulle terug.

      Steyn is die een wat die vonnis moet uitspreek.

      “Die dissiplinêre komitee het besluit om jou te skors, meneer Liebenberg.” My hart val reg deur, tot op die vloer. “Betreding van ’n dameskoshuis is ’n baie ernstige oortreding. So baie van die dames se ouers het met skok op jou optrede gereageer. Daarom kan ons nie anders as om die sterkste moontlike strafmaatreël toe te pas nie.”

      Ek gaan toe, na alles, wel die aarde moet bewandel.

      “Maar,” neem prof Tienie nou oor, sy stem krapperig soos ’n ou grammofoonplaat, “daar is myns insiens aansienlike versagtende omstandighede. ’n Jong man wat sy hart verloor en sy trane vind, verdien ’n reddingsgordel. Daarom het ons besluit om die vonnis op te skort vir solank as wat jy aan dié universiteit studeer. Tensy jy natuurlik weer in ’n dameskoshuis se gange loop en gil,” sê hy en hy glimlag, en ek weet hy het wragtig toe nie gesit en slaap nie.

      * * *

      Toe ek die deur oopmaak, wag Coach, Willem, Lordan en die hele span vir my in doodse stilte. En toe ek glimlag, brul hulle, en dit is ’n skouerkloppery en ’n optellery en omhelsing uit ’n ander wêreld. Maar toe ons buite die hoofgebou by die trappies afloop, word almal skielik stil.

      Onder, by haar fiets, staan Sara Nieuwoudt.

      Die manne laat my alleen na haar toe stap.

      Sy het ’n blom in haar hand. ’n Enkele geel blom, wat sy na my uithou.

      “Ek het van alles gehoor,” sê sy, en ek weet Lordan se kontakte samel nie net nuus in nie, hulle versprei dit ook.

      “Ek is jammer …” begin ek sê, maar sy maak my stil.

      “Daar is vanaand ’n volle uitvoering van Mozart se klavierkonsert nommer sewe-en-twintig in die Odeion. Nie net die stukkie wat jy gehoor het nie.”

      “O,” sê ek.

      “Sal jy my neem?” vra sy en sy glimlag die soetste, mooiste glimlag wat ek in my hele lewe gesien het.

      En toe huil ek weer, sommer vir die lekker.

OM ’N MAN TE VANG

      Ek weet hulle spot al met my.

      “Louise Luttigh is al agt maande lank ’n polisievrou en sy het nog nie eens iemand vir ’n verstreke parkeermeter gevang nie.”

      Feit van die saak is, dit is nie my skuld nie. Maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Veral die mans. “Gaan saam met my uit vanaand, Louise, dan gee ek jou rede om my te arresteer.” Of: “Hier is ek, Louise, boei my aan jou vas. Sluit ons toe.” Of: “Arresteer jouself, Louise. Vir diefstal. Jy het nou net my hart gesteel.”

      Eers was dit net ’n kollegiale geterg. Nou is dit al gewoonte.

      Ek doen diens in die middestad. Voetpatrollie, van Strandstraat tot Waalstraat, letterlik in die skaduwee van Tafelberg. En daar is maar die gewone stedelike misdaad – van handsakdiewe tot gewapende roof. Wanneer die radio aan my heup knetter, dan hardloop ek. En ek is nie stadig nie. Maar ek is nooit vinnig genoeg nie.

      Die arrestasie word altyd deur ’n man gedoen. “A, sien jy is ook hier, konstabel,” sê hy dan, lag en lei die verdagte na die patrollievoertuig.

      My woonstelmaat, Inge, het ’n ingewikkelde metafisiese teorie dat skoonheid juis lelike dinge soos misdaad wegstoot. “Jy is te mooi. Daar is jou probleem,” sê sy met Germaanse finaliteit en gaan aan om haar lesing voor te berei. Inge kom van Namibië af en gee Duits by die hoërskool hier agter ons teen die berg.

      “Gmf,” sê ek. “As ek so vervlaks mooi is, hoekom kan ek nie ’n man vang nie? Selfs net om saam met my te gaan fliek.”

      “Omdat jy ’n polisievrou is. Dit intimideer hulle. Mans het baie klein ego’tjies, jy weet.” Aldus die Duitse orakel.

      Ek sug en kyk by die venster uit na die swembad en tuin. Al die woonstelle kyk uit op die swembad, want die gebou is daarrondom gebou. ’n Paar mense benut die laaste hitte van die laatmiddag om lyf nat te maak.

      Ek en Inge swem nie baie nie, want sy sê sy is nie gebou vir swemklere nie. En ek wil nie alleen gaan swem nie.

      Dan sien ek hom. Lank en lenig stap hy, breë skouers, atletiese tred, wye snor en donkerbril, handdoek oor die skouer, net genoeg hare op die bors, vel mooi bruingebrand, hare kort en swart.

      “Sjoe,” sê ek. “Daardie een se ego kan nie te klein wees nie.”

      Inge staan op, kom staan langs my by die venster. Meneer Lenig vou sy handdoek netjies op en sit dit op die gras neer, sit sy donkerbril daarop neer en duik dan grasieus in die sprankelende blou water in.

      “Dis die een wat oor die naweek in nommer drie-en-veertig ingetrek het,” sê Inge. Sy weet van alles, want sy drink in die middag ná skool soms tee by die opsigter en sy vrou, wanneer ek kastig my skoonheid as die Polisie se geheime wapen inspan.

      “Waar kom hy vandaan?”

      “Gauteng.”

      “Hm. Seker ’n grootwildjagter. Of ’n gimnasium-instrukteur,” fantaseer ek.

      “Tannie Annetjie sê dit is snaaks, hy sê hy is glo ’n konsultant, maar hy is die meeste van die tyd hier by die woonstel.”

      “Miskien het hy nie nodig om te werk nie. Miskien het hy ’n skatryk pa,” sug ek en staan op. “Wil jy koffie hê?”

      “Wortelsap, asseblief.”

      * * *

      Ek doen my rondte by Groentemarkplein se vlooimark toe die radio skielik lewe kry. “Alle reaksiespanne – gewapende roof by Suiderkruis Bouvereniging, hoek van Burg- en Houtstraat … Ek herhaal, alle …”

      Ek luister nie verder nie; ek druk net my pet met die linkerhand vas en hardloop. Twee straatblokke. Dis al. Mense maak vir my ’n pad oop op die sypaadjie as hulle my sien kom. Een lummel fluit vir my, maar ek steur my nie daaraan nie. Ek wil eerste daar wees.

      Ek sien Suiderkruis Bouvereniging se uithangbord en trek die rewolwer uit sy skede, hou dit met twee hande voor my bors, nes ek by die kollege geleer is, en kom tot stilstand voor die deur. Die glas is ondeursigtig. Ek weet wat om te doen. Ek druk die deur met my skouer oop en swaai die rewolwer in, halfgebukkend, gewig mooi op elke voet versprei.

      “Moenie skiet nie, konstabel Luttigh. Ons is aan jou kant,” sê Snijders, die kort konstabeltjie met die groot mond wat saam met my begin het, en ek weet hulle gaan vanaand by die stasie weer heelwat hê om oor te lag.

      Ek bêre die vuurwapen en glimlag verleë, soos elke keer. Snijders sê die rower is skoonveld en hy het al die speurders laat kom.

      “Hoe het jy …?”

      “So vinnig hier gekom, Luttigh? Voorgevoel. Ons mans hét dit net.”

      Wat kan ek sê? Miskien is hy reg. Die speurders stap in, stel hulself voor. Speurder-sersant Johan Kok, jongerig, maar sy kop is so bles soos ’n hoendereier, en speurder-konstabel Van Rhyn.

      Sersant Kok het ’n mooi, sagte stem. Hy vra my om te bly, want ek moet bysit tydens die ondervraging van die vroulike tellers.

      “O, dié bankrower was baie vriendelik,” sê die vrou wat die geld aan hom moes oorhandig. Sy is lank, skraal en blond, met lang, rooi vingernaels en ’n goue ring aan elke vinger. “En hy is so aantreklik. Hy lyk amper soos Tom Selleck. Jy weet, Magnum van die televisie. En hy sê vir my …”

      “Hy het dus geen vermomming gedra nie,” sê sersant Kok met groot geduld.

      “Nee. Behalwe die donkerbril. Jy weet, soos Arnie in Terminator 2 gedra het. En hy sê vir my …”

      “Ek wil hê u moet hom so volledig moontlik beskryf. Haarkleur, gesigsvorm, lengte, gewig, ouderdom. Sal u dit kan doen?”

      Sy draai een