Название | Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey |
---|---|
Автор произведения | Charl-Pierre Naudé |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624084358 |
Sy het haar iets in ’n botteltjie gegee. Ans moes die inhoud in haar badwater gooi. Maar sy het die botteltjie met die inhoud weggesmyt sonder dat sy daarvan gebruik het.
En tog het Reent se gees haar geseën. Reent se sagte stem, haar uitstraling, haar omgeefsel. Net die gedagte aan die tydlose Reent was ’n seën. Die heidense veldvrou. Mag die Here Ans dit vergewe. Die naturelle kom maar oor ’n mens se pad.
En nou is sy weer terug by Reent. Weer middernag. Weer is Boer vir “landbouverenigingsake in Bloem”. Die DKW staan sowat driehonderd meter van die rondawelhut geparkeer. Weer met haar mooi leerhandsak, is Ans. Weer op die voetpad hierheen moes sy plek-plek soos ’n bobbejaan buk staan om balans te herwin. Soos ’n blerrie Citroën-kar maak, ja, soos ’n tweedehandse Triumph, het sy teenoor Alwyn gebieg, terwyl die klippertjies haar handpalms sny. Triumphs is te laag vir die plaaspaaie.
Reent lyk steeds jonk, slank, steeds pragtig ná die vier jaar wat verloop het. Armoede kan haar nie raak nie. Jonk, soos ’n tienderjarige. Maar nie mooier as wat ’n naturel of ’n gekleurde kan wees nie. Darem nie mooier as dít nie, dink Ans.
Reent se glimlag dryf bo hulle in die lug. Dit voel vir Ans of die veldvrou haar glimlag uitstuur. Vader onse, dink sy, en sy kyk na die diskus wat in die lug hang. Mag die Here haar bewaar.
“My man wil my seun aan ’n gestig oorgee. Hy sê ons kan nie meer vir hom sorg nie.”
“Ag, my liewe suster. Kom binne, ons sal gesels. Die toorvrou loop in spronge vooruit oor die stofwerf na haar voordeur, op geveerde voete soos ’n meisiekind wat hopscotch. Haar gedraaide vlegsels piets-piets rondom haar soos ’n swerm perdebye.
Binne gaan sit hulle op die sofa’tjie. Ans het haar die storie van Dirkie vertel. Dat hy van kleins af bietjie anders, “buite homself”, was. Dat hy nie getel kan word nie. Van die geheimsinnige petalje in die kerk. Hoe hy “vries”. Dat dit amper onmoontlik is om foto’s van hom te neem. En van die foto van die bruin vrou wat lyk soos ’n filmster. Hoe onafskeidbaar Dirkie van dié foto is, en niemand weet waar dit vandaan kom nie.
Het sy dit saamgebring, die portretjie? Ja, in haar handsak. Sy kon dit net saambring omdat Dirkie nou slaap. As hy dit nie in sy wakker ure vashou nie, dan neuriehuil hy voortdurend.
Reent kyk aandagtig na die foto. Buite raas watervoëls skielik verskriklik in die donker, ’n gekwê en ’n gefladder. Ans kan hoor hoe een in die put se skag beland, verskrik teen die wande vasvlieg en oplaas kwê-kwê oor die hut se dak wegvlieg. “Wildeganse,” sê Reent. Die stilte draai so skielik dat jy die sterre hoor sing.
“Wie is sy?” vra Ans. Reent het die foto bekyk. Haar skerp gelaatstrekke het in allerlei vorms in die skaduweelig van die lantern teen die oorkantste muur weerkaats.
“Sy woon in Pella. Dis ver van hier. By die Roomse. Jy sal haar daar vind. Gaan praat met haar,” sê Reent. “Maar een ding moet ek jou sê. Moenie skop teen die prikkelse nie.”
“Wat bedoel jy?” vra Ans.
“Daar is drome wat g’n drome is nie.” Reent vryf haar hande inmekaar en oormekaar, nadruklik. Nou sit sy kruisbeen op die sofa, skuins gedraai na Ans, soos ’n meisietjie. “Vir hulle moet jy op jou pasoppens wees, diése drome. Daar is anderster wêrelde wat mens soms wegroep uit dié een. Daardie wêrelde is soos hierdie lewe selwers. Buiten dat dit anders is. Doerie wêrelde bestaat gelykertyd met ons senne. Maar dis miskien groter.”
Ans se ore tuit. “Groter as die hemel? Geen plek is groter as die hemel nie?” sê sy.
“Hulle ís,” sê Reent. “En hul se goddens is somaar ook groter as God ook. Dis groot goddens, daai. Die wit mense se God is maar net skaduwee. Damab ook. Hulle is almal skaduwees.”
Ans dink: Dis omdat sy ’n heiden is dat sy so praat. Die vrou kan haarself nie verhelp nie.
“Ek verstaan nie,” sê Ans. “Vertel jy my dat my seun nie genees kan word nie?”
“Ek sê vir jou dat jý weer genees kan word. Dis wat nodig is. Dan sal jy jou seun weer sien. Almal van hulle.”
Die laaste sinnetjie was vir Ans net te vreemd, seker maar beter so. Die ma-mens het onbeskaam teen Reent se skouer in trane uitgebars. Sy het die bruin vrou vasgegryp, vasgedruk, haar oë vraend.
Reent het haar hande oor Ans laat seil, liefdevolle slange, oor haar skouers, haar witmensgesig, haar sye. Op sulke oomblikke word die mens herskape uit die klei. Reent gee vir Ans iets in ’n beker aan. Vir kalmte. Vir troos.
Met dagbreek word Ans op die sofa wakker, haar kop in die veldvrou se skoot. Reent het heelnag nie van die sofa beweeg nie. Ans se hele lyf is seer, sy het met haar bene opgetrek geslaap soos ’n fetus.
Nog nooit het sy so vreedsaam gevoel nie. Bokant hulle in die hut dobber Reent se projeksie-ding, die diskus so groot soos ’n grammofoonplaat.
Ans het lank daarna bly kyk. Die diskus het soos Reent se glimlag gevoel, het sy Alwyn vertel. Dit het langsamerhand met die ligword minder sigbaar geword. ’n Piering van goedertierenheid.
Die Here moet haar wat Ans is die gedagte vergewe, vergewe die veldvrou haar sondes ook, Heer. As die Heer se vergifnis so ver sal strek.
Nie lank nie of Reent staan met ’n stomende beker swart koffie voor Ans. “’n Bietjie boeretroos,” sê Reent. Sy lag vir haar eie grappie.
“Dankie, Reent.” Ans neem die beker. Op Ans-hulle se plaas drink net die plaaswerkers uit emaljebekers.
Teen die muur het die seun begin wakker word. Hy sit regop in sy kombers en strek sy arms en rug. Die vloeiende buitelyne van sy lyf glinster. Ans het hom onthou as dieselfde seun van die klompie jaar tevore. Nie ’n dag ouer nie. Hy moes deur al haar ontboesemings geslaap het.
Reent het met die veldpaadjie langs saam met Ans tot by die kar geloop. Dit was nadat Ans ’n geldnoot in die kartonboks by die hut se ingang geplaas het. Soos die vorige keer ook. Reent het geweet haar vrede werk op Ans.
Maar toe Ans by die kar omdraai vir die groetslag, bemerk sy iets baie onthutsend. Reent loop met ’n kierie! Haar postuur is gebukkend, en sy is dekades ouer as gisternag. Speel haar sinne haar parte?
“Jy moet geseënd bly,” sê Reent en omhels haar. Die vrou stink ’n bietjie vanoggend. Waar bevind Ans se Christen-self haar tog?
“Jy moenie lat jou gedagtese jou oud dink nie,” waarsku Reent onverwags. Ans trek haar uit die omhelsing weg, verskrik deur die vroumens se binnekennis oor wat sy aan die dink was. Reent glimlag net, die glimlag wat haar gesig so mooi by die kante oplig.
En meteens sien Ans weer die meisie voor haar, die jong borsies met die sponsagtige tepels met die tekstuur van vetplant.
Toe buig Reent agteroor en steek haar lootagtige arms uit om Ans by die elmboë vas te hou, op ’n afstand, sodat sy haar gas met haar legendariese glimlag kan groet, met die uitgestuurde diskus daarvan.
Ek wonder soms of Reent geweet het van die groot gevaar wat oor Ans en haar gesin se lewe gehang het. Sy was tog ’n siener. Volgens oom Willempie het sy. Maar vir Reent was die einde nie die einde nie en sy het nie vir Ans van haar wete vertel nie.
Ans sien die plat tienderjarige magie in Reent se agteroorte. En onder die heuplap se windsels sien sy ’n vlesige gevleg wat onbedoeld uitstoot uit die mik, bultend soos ’n luiperd se tong. Hier moet ek weg, dink sy. Gotta, nee!
Nóg ’n verbasende sinnetjie van die veldvrou het haar bygebly: “Nie die een nie, maar die vele.” Wat sou dit tog beteken? In elk geval, daar was vrede in dié woorde.
Al die pad met die grondpaadjies langs het haar hart gesing. Sy het by haar plaashek ingery, en net toe val daar groot druppels uit die hemel. Wanneer laas? Ek is geseënd met Dirkie, het sy gedink.
En met Reent.
* * *
“My ma het nogal in besonderhede van die kuier