Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Charl-Pierre Naudé

Читать онлайн.
Название Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey
Автор произведения Charl-Pierre Naudé
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780624084358



Скачать книгу

was skaars voelbaar en het liggies beweeg soos iets wat lewe in ’n eierdop.

      “Ja, ek sien jou baie goed.” Reent het die wit vrou op en af bekyk. Mens het gewoonlik nie so na ’n witte gekyk as jy self nie ene was nie. Haar skerp neus het soos ’n rissie na onder gebuig, selfs meer konveks wanneer die glimlag by haar wange optrek. Die oë was hoë, swart vlamme. Haar tandvleise het na veldkrui geruik.

      “Oom Willempie sal ek mos nie ongehoorsaam wees nie,” het die veldvrou goedig gesê. Sy was in lappe geklee en haar lyf was welriekend. Dit was somer. Sy het haar arms na Ans uitgesteek. “Jy is my suster. Kom binne.”

      Dit het Ans opgeval dat Reent haar nie met die beleefde “u” aanspreek nie.

      Hierdie eerste besoek het al in 1970 plaasgevind. Alwyn het by Ans van die besoeke gehoor. Ek konstrueer. Wat nie in die een relaas is nie, is in die ander een, of tussenin. Die latere besoek was vroeg in April 1974. Hiervan het Boer niks geweet nie.

      “Oom Willempie sal die nooi verwys,” het Siena haar verseker. “Ek sal by hom gaan hoor.” Oom Willempie was die kroon van al die velddokters.

      Ans se eie herder, dominee Verster, was nie van veel nut met Dirkie nie. Die vrug van ongedelgde skuld, was sy teologiese siening.

      En die sielkundige, meneer Visser? Sý diagnose was: “Trauma of ’n onderliggende geneigdheid. Bestem, soos die Bybel leer.”

      Siena en Ans het stadig met die kronkelpaadjie tot naby Reent se plek gery. Dit was nie nou tyd vir ’n pap band nie, twee vroue alleen. Lang grasse het deur die venster gebuig en teen Ans se gesig gevryf. Daar was natuurlik ’n kol water naby.

      Siena was op die DKW se agtersitplek. Die ligblou DKW, altyd in die agterste skuur geparkeer, was Mevrou se kar wanneer Boer met die Mercedes weg is “vir sake”.

      Die kar het saggies oor die grasse en bossies gesjôrk. Dit is lekker hoog gebou vir die Lykso se plaaspaaie. Hier en daar het die enjin in die los sand getremolo, dan weer gesputter of proestend by ’n hellinkie af gerammel terwyl klippies opslaan.

      Die twee bane lig het gedein en geswaai, gedoof en weer opgehelder. Soos palings in die see. Dit was diep veld hierdie.

      Ans en Siena moes die laaste entjie oor klipveld. Ans het ’n paar maal gestruikel, en elke keer vooroor leunend haar een been kant toe uitgestoot, wat gemaak het dat haar wolstofrok styf oor haar middeljarige agterstewe span. ’n Paar keer moes sy afbuk vir balans, hande plat op die grond, hande-viervoet, handsak wat sy oor die klippertjiegrond sleep. Vader onse, dit moet lyk of sy wag vir iets onstigtelik. Dank Vader, ander mense is nie by nie. Net Siena. En ek, natuurlik, soos wat ek hier skryf.

      “Ek is hier, Nooi,” het Siena verseker en Ans aan die arm opgehelp. Stadig het die hut uit die donkerte opgehelder. Waarom woon die vrou hier, op die nêrens? Toe sien Ans die ronde muurtjie van ’n put agter die hut, die skepemmer aan ’n dwarsbalk bo die gat. Die vertroude “veldkapelletjie” van ouds, soos dit soms hier rond genoem word. Op wie se plaas? Daar is vorms van nedersetting wat nie met die plase te doen het nie. Dit gebeur skelm, besluit Ans.

      Melkagtige ringe het al hoe vaer rondom die helder maan uitgekring. Hulle het gebukkend by die hut se opening ingeloop, die veldvrou voor. Siena het buite bly rondstaan en is later maar ongesiens te voet weg. Terug na haar stroois, myle daarvandaan.

      “Jou pa se naam was Bert. Jy kan maar glo wat ek sê,” sê Reent. Op die suisende primus prut ’n brousel, ’n blou vlam wat die keteltjie soos ’n klou van onder gryp. Sy gee Ans ’n blikbeker aan. “Jy moet drink.”

      “Ja,” sê Ans. “Sy naam wás Bert.” Sy het aan haar varkleerhandsak bly klou of dit die laaste bekende ding op aarde is. Toe haar oë aan die doflig gewoond raak, sien sy twee vensters, die dekriet wat na ’n punt oploop en vier daksparre soos in ’n wawiel. Die kassie was eenkant, botteltjies in ’n halfmaan daarop gerangskik. En die kaalbolyfseun het oopoë op ’n matjie by die ronding van die muur gelê, ’n arm agter die kop. Hy kon nie ouer as vyftien gewees het nie.

      “Dis my man, Dienkie,” sê Reent trots. Haar skraal skouers trek op, en dan agtertoe, fier. Ans sien hoe ferm die borste vorentoe punt, die geswolle tepels onder die lapkleed. Sy kan nie help om dit te bewonder nie. Sy is tog besig om ouer te word. Dis hoekom sy hierheen gekom het.

      Dienkie antwoord nie. ’n Kombers maak sy onderlyf toe. “Ons is al vyftig jaar getroud,” lig Reent haar in.

      “Dis lank,” sê Ans. Sy kan nie glo sy slaag daarin om so onverstoord te klink nie. Vyftig jaar lank getroud met ’n kind? Sy bid haar tyd by die heidenvrou moet kort wees. “Julle lyk albei nog jonk,” komplimenteer sy, en sluk swaar.

      “Ons hou mekaar maar so.” Reent stap na die seun, hurk wydsbeen langs hom en vou die kombers onder sy dun lyf in omdat dit begin koelerig word het. Aan sy oë, die wit en hoe dit beweeg, kan Ans sien hy kommunikeer met die vrou. Ans verbeel haar sy sien ’n sydelingse uitdrukking in Reent se oë wat vir haar, Ans, bedoel is. Reent was ’n kenner van die liefde. Van hoe om die liefde weer regop te laat sit, of dit van agter die berge te roep. Mense, ek bedoel swart en bruin mense, veral vroue, het van ver na Reent gekom, aldus Siena. En soms uit pure sinsgenot. Die mans het meestal na oom Willempie gegaan.

      Toe soen Reent die seun op die voorkop. Daar het ’n kettie langs hom gelê. Die seun het op sy sy na haar gedraai en leun nou op sy elmboog vorentoe. Hy leun nog verder vorentoe en steek sy kop onder die veldvrou se lapkleed, wat span oor haar hurkende bobene, in. Met een hand gryp hy haar aan ’n boud vas en hy trek sy jong lyf nader.

      “Wag nou maar, Dienkie.” Die twee kuiltjies in Reent se laerug skyn soos katoë. Ans kon sien dat sy nie onderkleding aanhet nie want die lap het nou heeltemal oor haar bo-dye oopgeval. Toe steek Reent albei hande ferm tussen haar bene in, so in die hurkposisie, en lig die seun se kop tussen haar bene uit. Pure vroedvrou. Wat op aarde was sy wat Ans is, besig om te aanskou? Reent rangskik die seun se kop weer op die matjie, soos sy wil hê hy moet lê. En hy lê agteroor.

      Haar vlegsels piets soos riempies met die opstaan. Sy loop oor na Ans. Ans was Reent se eerste wit vrou. Wit, soos die maan. En toe vertel Ans haar storie aan Reent. Terwyl sy ’n tweede skietgebedjie opstuur.

      “Dis oor die drome wat ek kry. Ek het geen beheer daaroor nie.” Haar man raas met haar, want sy praat in haar slaap. Sy praat glo met … ander mense!

      “Ander máns,” korrigeer Ans haarself in ’n bieg en draai haar gesig, wat vertrek by die gedagte, na Reent wat regs langs haar op die verweerde sofatjie kom sit het. Daar is ’n veilige afstand tussen hulle. Ans fokus op die lantern op die tafeltjie en druk deur.

      “Ek ken geen ander mans nie, ek is in die kerk getroud en het geen man voor my man geken nie.” Sy bely vuriglik. “Hy … hy het dit op die tape recorder opgeneem. Boer, my man. Terwyl ek slaap. Dis hier.” Ans wys na haar handsak. Dan reik sy oor haar skoot daarna aan haar linkerkant en haal die silwer-en-swart bandspelertjie uit. “Wil jy hoor?” Reent knik. Ans klik dit aan.

      Dis duidelik haar stem. Sy praat, koesterend, aanvlyerig, woedend. Dit word meer intens, vryerig, behaagsiek. “Moenie my verlaat nie, Hans, asseblief! Beteken dit alles vir jou niks nie?”

      Ans skud haar kop in ontkenning en gaan geluidloos aan die huil. “Ek ken g’n niemand met die naam Hans nie.” Sy proes. “En wie is Perie? Wie Albert? Vat dit net weg! My man dreig my hieroor.” Reent het die band laat terugdraai, dit weer oorgespeel om fyner te luister.

      “Die pille wat my dokter gegee het, help nie. Ek is bang my man soek … dít … op ’n ander plek.” Ans sê die woorde “dit” en “ander plek” met moeite.

      Die bandspelertjie speel. Dis duidelik “dit” wat opgeneem is. “Verskoon my as … asseblief. Dit was net in ’n droom.” Reent gee Ans se skouer ’n drukkie.

      “Jou drome sal nie meer pla nie.” En dit hét ook nie.

      Reent het na Ans daar in die deurkosyn gedraai, haar gesig in albei haar hande geneem en vir ’n rukkie saggies met haar vuil duime oor die Ans-vrou se wangbene gestreel.