Название | Hermann Giliomee: Historikus |
---|---|
Автор произведения | Hermann Giliomee |
Жанр | Биографии и Мемуары |
Серия | |
Издательство | Биографии и Мемуары |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624066842 |
Die prins, tussen ons gesê, is ’n taamlik hopelose “specimen of humanity”. Hy is uiters senuagtig, lyk taamlik “dissipated” en boesem jou nie die minste ontsag in nie. Hy begin ’n sin en as jy hom dan ’n bietjie vas in sy oë kyk, “titter” hy en begin ’n splinternuwe sin.
Ek het dan ook gou maar die etiket oorboord gegooi en daarvandaan was hy klaarblyklik makliker en ons het nogal lekker gesels, oor die universiteit en oor sport. Hy het een goeie karaktertrek en dit is hy probeer aangenaam te wees … Hy doen klaarblyklik sy bes in baie moeilike omstandighede en die gevoel waarmee hy my die sterkste inspireer, was een van baie diep simpatie. Hy is deur en deur ’n “nice” seun, met geen sweem van trots nie; mis egter al die eienskappe van iemand in sy posisie.
Hierdie oordeel was nie ver van die kol nie. Twaalf jaar later het die prins die troon as Edward die Agtste bestyg. Enkele maande later het hy geabdikeer nadat hy die doodsonde begaan het om te weier om af te sien van sy plan om met ’n geskeide vrou te trou. Hy het toe die titel van die Hertog van Windsor geneem. Winston Churchill het hom afgemaak as “a little man, dressed up to the nines”.
Oom Johann het in 1925 ’n BA-graad verwerf en toe twee jaar lank in Pietermaritzburg as redakteur van The Times of Natal gaan werk. Hy het in 1928 teruggekeer Stellenbosch toe en sy studies in die regte voltooi.
Die senaat het besluit om ’n student te vra om op gradedag die gehoor toe te spreek. Oom Johann is aangewys. Ná die toesprake van die rektor, vise-kanselier en nog een of twee ander amspdraers het hy uiteindelik aan die beurt gekom. “Dames en here”, het hy gesê, “u het geluister na woorde van wysheid. Nou kan u luister na woorde van gesonde verstand.” Hy het vervolg:
Ek is nou tien jaar op Stellenbosch. In hierdie tien jaar het daar al baie veranderings plaasgevind. Hier is nuwe universiteitsgeboue opgerig … En nou weet ek nie of dit waar is nie, maar daar is sommige studente wat beweer dat daar in hierdie tien jaar selfs in sommige professore se aantekeninge ook verandering gekom het.
Die studente het hom toegejuig maar die vise-kanselier, prof. Adriaan Moorrees, was nie geamuseerd nie.
“Skrander skrywer”
Markus Viljoen het Buhr beskou as een van die veelsydigste en begaafste joernaliste met wie hy ooit in aanraking gekom het. “Hy was ’n gebore humoris wat snaaks kon wees sonder om dit selfs te bedoel.” Omdat die koerantredaksie so klein was, kon hy selde sy aanleg as humoris vrye spel gee. Die pers het Buhr selfs die pos van sportredakteur aangebied.
Van sy bekendste berigte is sy verslag van Malcolm Campbell se aanslag in 1929 op Verneukpan op die wêreld-snelheidsrekord op land. Hy het ook as verslaggewer saam met die eerste Afrikaanse toneelgeselskappe op toer gegaan en in sy reeks artikels “Agter die sterre” oor akteurs soos Paul de Groot en Wena Naudé geskryf. André Huguenet bestempel Buhr as ’n “skrander en geniale skrywer”, wat baie gedoen het om die publiek se belangstelling in teater te prikkel.
In 1930 het hy op dertigjarige ouderdom weens gesondheidsredes bedank nadat hy tering opgedoen het. Hy het in sy hele lewe minder as ses jaar ’n heeltydse pos beklee.
Hy het nietemin gedurende die 1930’s verskeie kortverhale en artikels van besondere gehalte vir Die Burger en Die Huisgenoot gelewer.
’n Jaar of twee voor sy dood in 1940 op die ouderdom van 40 het ’n paar van sy studentevriende hom besoek by sy eenvoudige huisie op die veepos, waar hy weens sy siekte in die winter gebly het, om afskeid te neem. ID du Plessis, latere Hertzog-pryswenner vir digkuns, het hierdie treffende huldeblyk gelewer:
Ná die uiterlike geoordeel was Johann Buhr nie imponerend nie. Maar dit was net swak gesondheid wat verhinder het dat hy veel bereik het, as joernalis en ook as letterkundige met ’n ligte satiriese aanslag; want agter daardie uiterlike het ’n merkwaardige gees geskuil: ’n sprankelende intelligensie, fyn humorsin, kwiksilwer-talent wat die Afrikaanse joernalistiek ’n nuwe dimensie kon gegee het.
As hy van die begin af sy talent aan rubriekwerk kon bestee, dan was ons vandag stellig ’n bydrae van blywende waarde ryker op sy besondere gebied.
In die laaste jare van sy siekte moes hy wintermaande op ’n eensame veepos deurbring. Deur bemiddeling van sy vriend Recht Malan het hy van Kaapse kant leesstof gekry: ’n gebaar waarvoor hy aandoenlik dankbaar was; want vir dié beminlike mens was dit altyd ’n verrassing dat ander mense so goed vir hom kon wees.
My laaste indruk van hom was by Nieuwoudtville toe ’n paar van ons hom in die laaste jaar van die sonsverduistering besoek het. Daardie dag het hy vir my gesê: “Wat ’n heerlike voorreg moet dit wees om jou in verse te kan uitlewe.”
Wat sou in hom omgegaan het toe hy ons agterna staan en kyk: ons wat op pad was na ’n lewe met al die moontlikhede wat hom met sy blink talent nie beskore was nie?
Ná sy dood in 1940 het Die Burger geskryf: “So opreg en trou soos hy altyd teenoor sy vriende was, was hy teenoor die Afrikaner-saak, wat hy na sy beste vermoë bevorder het.” Die Cape Times het geskryf: “Sy vriende het verwag dat hy ’n bydrae sou maak tot die viriele Afrikaanse letterkunde, maar ongelukkig is ’n baie goeie brein in ’n swak liggaam geplaas.” In sy werk Spykers met koppe (1946) bestempel Johannes Steinmeyer Johann Buhr as een van sy kollegas in die joernalistiek wat “manne van groot reputasie was”.
My ma het die tragedie van die vroeë heengaan van haar broer sterk aangevoel. Daar was waarskynlik ’n sterk band tussen hulle, want hy het haar benoem as eksekutrise van sy boedel. Ek het altyd gevoel my ma was ekstra ontsteld as ek onderpresteer omdat sy gemeen het ek het my geleenthede verspeel.
In 1980, veertig jaar ná oom Johann se dood, het Anthony Heard, redakteur van die Cape Times, en Gerald Shaw, assistent-redakteur, my genooi om ’n rubriek in die koerant te skryf. Dit was op aanbeveling van die bekende joernalis Anthony Delius, wat ek gedurende die akademiese jaar 1977-’78 aan die Yale-universiteit leer ken het. Ek het gewonder wat oom Johann sou gemaak het van ’n geleentheid om sy eie rubriek te skryf – iets waarvoor hy by uitnemendheid toegerus was.
Hoofstuk 2
“En hoor jy die magtige dreuning …?”
My ouers was Gerhardus Adriaan Giliomee (1905-1986), gebore op Villiers in die Vrystaat, en Catharina Gesa Giliomee (1903-2001), wat haar eerste lig op die plaas Grasberg, naby Nieuwoudtville op die Bokveld, gesien het. My oupa aan vaderskant het aan sowel die Anglo-Boereoorlog as die Rebellie van 1914 tot 1915 deelgeneem en dit het my pa polities gevorm. My ma is polities veral beïnvloed deur haar Duitse pa, Hermann Buhr, en die koloniale patriotisme wat in die negentiende eeu by Kaapse Afrikaners gekweek is.
Met my ouers se geboorte vroeg in die twintigste eeu het die Afrikaners ’n groot agterstand by die Engelssprekende gemeenskap gehad. Aan die wortel hiervan was die gebrekkige opvoedkundige en kulturele grondslae wat die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie in die eerste 150 jaar van die nedersetting gelê het. Toe die Britte in 1795 die Kaap vir die eerste keer verower het, was daar geen koerante, tydskrifte, of boeke wat plaaslik uitgegee is nie. Die burgergemeenskap was geïsoleerd, swak opgevoed en ver agter ontwikkelinge in Europa.
Die Britse bewindhebbers het besluit om Engels die enigste amptelike taal en die taal van onderrig in die skole te maak. Die afsondering op plase en ’n groot tekort aan skole op die platteland het dit vir die Afrikaners moeilik gemaak om ’n kultuurbewuste middestand te vorm.
Teen 1930, toe my ouers die universiteit verlaat het, het ’n kommissie bevind dat ’n kwart van die Afrikaners as armblankes gereken moes word – so behoeftig dat hulle ver benede die peil geleef het wat beskou is as geskik vir ’n wit mens. In die groter dorpe en stede het talle in haglike omstandighede geleef. Engels was hier die oorheersende taal en kultuur. Die Engelse gemeenskap het die toon aangegee op die gebied van kleredrag,