Название | Brandwaterkom |
---|---|
Автор произведения | Alexander Strachan |
Жанр | Историческая литература |
Серия | |
Издательство | Историческая литература |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624073376 |
“Praat ons nou deesdae Ingels?”
“Dis blote toeval,” verseker Vilonel hulle – “die Charity Ball noudat die runderpes so onder die beestroppe maai!” Hy lag nie regtig saam nie, hy sê dit so by nadenke.
Oom Mooi Piet, die afgelope maande in ’n opstootjie oor weiding gewikkel met sy oudste broer, die skatryk oom Lelik Piet, het ook ’n stuiwer in die armbeurs te gooi. Veral noudat die drank begin trek. Hy ken Vilonel al lank – skietbaanmakkers.
“Vergeet die voshaar,” spreek hy Vilonel uit die bloute aan toe die ander nie luister nie; “sy is nie vir jou nie, daar is te veel verskille.”
Laat hulle nou nie al rondom die ding gaan staan en praat nie. Sonder dat hy dit besef, eggo hy net Vilonel se gedagtes van die afgelope weke. Realiteite. ’n Geleerde woord, ja. Maar wat as daar oorlog kom met Groot-Brittanje? Wie staan dan waar? Wat van jou gesin? Om onder jou eie mense uit te trou, is ’n allemintige affêre. Hoe en waar word die kinders in so ’n gemors bygesleep? Waffer taal gaan julle praat? Nie dat hy, ’n eenvoudige man van die veld, ’n slim prokureur advies wil gee nie. Nimmer as te nooit, maar dink gerus ’n bietjie na.
“Stadig, oom Mooi Piet,” waarsku Vilonel. “Moenie so met jou perde op loop sit nie. Elke man staan vir sy eie jukskei. Ek het mos die manier om dinge op my eie te deurdink.”
Oom Mooi Piet het klaar die kar voor die perde gespan. Hier in Senekal lê ’n allemintige toekoms. Op sewe-en-twintig is Vilonel reeds tot die eerste stadsklerk verkies. Ongehoord op so ’n jong ouderdom. Vir burgemeester is hy lankal geoormerk; hy kort net die regte vrou aan sy sy. Almal wat saakmaak, weet tog hierdie ding. Daar bly net een antwoord.
Sarah du Toit Luttig.
Oom Mooi Piet spreek die naam nie hardop uit nie; jy noem nie ’n respektabele nooi se naam in ’n kroeg nie. Maar daar is geen onduidelikheid oor wat hy meen nie. ’n Nooi so na die jongeheer Vilonel se hand – Hollands-Afrikaans, Vrystaats gebore, dieselfde kerk, dieselfde wyk, dieselfde agtergrond. ’n Nooi uit die platteland, al is haar mense op pad Kaapkolonie toe.
’n Burgemeestersvrou uitgeknip.
Hierdie ding van die dans sal gou-gou oorwaai, mense onthou nie lank nie. Dit was een aand se joligheid. Die Boerenooi sal by dié geringheid verbykyk. Hoogmoedig is sy wel, maar darem nou ook nie ’n ydeltuit wat op alles neersien nie. Dinge is anders bestem. Moet nou nie gaan staan en wegkyk van ’n voorslagvrou nie. Hulle is dun genoeg gesaai in hierdie geweste.
Oom Mooi Piet knipoog. “En vra gerus maar vir ’n ouer man – in die donker is alle katte grys.”
“Spaar gerus jou asem, oom Mooi Piet. Nou-nou beef jy op die skietbaan en dan val jou skote bont. Moggetroffe. Ek weet wat my voor die hand lê. Net tyd gewen om my osse agtermekaar te span.”
Dit is nietemin die laaste keer dat hy die naam Sutty hardop in geselskap noem. In sy kantoor begin hy nou al hoe harder werk. Dis sy manier om sy gedagtes hok te slaan. Saans kom hy eers ná donker by die huis. Dan is hy moeg en ná ’n bietjie leeswerk gaan hy bed toe.
HOOFSTUK 6
Is dit vooraf so gereël? Hoe gebeur dit dat Vilonel en Sarah du Toit Luttig die Sondag langs mekaar in die kerkbank beland? Gekis en gestewel sit hulle kiertsregop en op die oog af onbewus van mekaar na die preekstoel en tuur. Maar toe die kerkorrel begin speel, deel hulle ’n psalmboek en só vind die eerste fisieke aanraking tussen hulle plaas deur ’n terloopse geskuur van vingers. Terwyl hulle wag vir die volgende psalm, gee hulle weinig aandag aan wat doomnies Paul Roux preek. Nie links of regs nie, maar stywenek kyk hulle voor hulle uit.
Ná die diens drink die gemeente saam tee en eet melktert. Vilonel voel koel en gemaklik in sy netjiese grys pak. Sonder om ’n druppel te stort hou hy die oorvol koppie rooibostee tussen sy vingerpunte vas. Tussendeur gesels hy en dwaal sy oë so dan en wan. Die dorpskroeg vermy hy nou weer soos vantevore. Met tye beweeg hy en die aanvallige nooi tot in mekaar se ruimte.
“Dalk gaan wys ek jou eendag die plaas?” stel hy voor. “Daar is veel meer te sien as wat ’n mens vermoed.”
“Regtig?” Juffrou Du Toit Luttig klink geïnteresseerd.
Hulle ry vir ’n piekniek op De Rust saam met die bure in kapkarre uit. Sarah sien sy beeste, skape en resiesperde. Hy laat sy gunstelinghings opsaal sodat sy dié op die werf kan rondlei.
“My mak bome wat ek aangeplant het,” beduie hy – “sipres, sering, bloekom, den en populier. Alles word met ’n graaf natgelei uit die fontein. Hulle verg heelwat meer aandag as die wilde bome.”
“Dis ’n mooi tuin,” sê Sarah.
“Ek het ook ’n jakaranda uit Pietermaritzburg probeer,” sê Vilonel. “Maar dié het net gaan staan en doodryp in die winter. Die roostuintjie snoei ek sommer self. Dit voel nie soos werk nie. Elke Augustus sit ek ’n dag hiervoor opsy. Dis vir my lekker om my hand aan my tuin te hou.”
Die perd ruk aan die teuels, maar juffrou Du Toit Luttig behou haar teenwoordigheid van gees. ’n Wilde dier soos Beaufort sien sy wel nie kans om te ry nie, maar hy is kapabel en trap haar. Nietemin gaan sy haar nie deur hom laat intimideer nie. So, dan ken Vilonel selfs die roosbome se name? Sy is beïndruk. ’n Kleinerige maar netjiese opstal, merk sy op. Ook die grasdakrondawel – die vleiskamer. En daar neffens die vrugteboord: perskes, appels, pere, kwepers en druiwe. Die drade rondom die opstal is styf gespan; dié het sy met die aankoms haar al laat welgeval.
By die rivier rol hulle die piekniekkomberse onder die olienhoutbome uit. Hy wys haar hoe die karee teen die rant groei en die mengelmoes ouhout in die klowe. Dis ’n stil, helder stroom en sy kan die geelvis sien swem. Sy skuif teen die wal af en laat haar voete in die water hang.
“Onder die klippe is krappe met lang knypers,” terg hy.
Juffrou Du Toit Luttig lag vir die eerste keer onbeskroomd. “Moet ek skrik?” Haar tabberd het hoog opgeskuif oor haar enkels. Sy laat dit daar, buig vooroor en laat die water deur haar vingers stroom.
Só snel die dag verby sonder dat hulle dit agterkom. Eers toe dit lyk of die weer gaan opsteek, pak hulle die terugtog dorp toe aan.
Dit bly nie daarby nie. Wanneer hy skietbaan toe gaan, stuur sy vir hom saam met haar vader toebroodjies en twee gekookte eiers. Ook ’n porseleinfles, van die rooibostee waarvoor hy so lief is. Vergesel van haar moeder gaan sy sy linne en kombuis na en gooi uit wat nie diensbaar is nie. En sy vat sy stukkende klere huis toe om te gaan regmaak.
Net voor sy studeerkamer stuit sy, want hier gaan niemand in nie. Dié vertrek is ook sy geweerkamer. Leë patroondoppies, ’n tarentaalveer, briewe, inkbottels en vulpenne op die lessenaar. Sy bekyk alles van die deur af. Hy kan so vitterig raak oor sy persoonlike goeters. Hoe sal sy ooit weet watter boeke het waarde en watter trofees is belangrik? Sy reël nietemin vir twee diensmeisies en hulle maak die res van die huis van hoek tot kant skoon.
Een Sondagmiddag vertel Sarah hom wat haar droom is. “Ek wil Kaapkolonie toe. Dis waarheen ek eendag graag wil verhuis.”
Wanneer die tyd reg is, natuurlik. Die Kolonie is wel teenswoordig onder Engelse bewind, maar wat skeel dit tog? Intussen is Senekal goed vir haar, maar eendag. Daar in die Kaap behoort groot werk vir ’n wetsman van Vilonel se stoffasie te wees. Dan kan ’n mens boonop hierdie dreigende oorlog afweer. Kaapstad sal ’n skaflike plek wees om jou kop neer te lê. Dit sal ’n ander lewe wees, weg van die Vrystaatse droogtes en stof.
Sien hy nou uiteindelik ’n ander kant van hierdie jongvrou? Maar hoekom is daar nie daardie hartklop en hol gevoel op sy maag nie? Straks is dit tog beter só. Om iets nugter, sonder te veel hartkloppings, te benader.
“Ons het almal ons drome,” sê Vilonel.
Hy hou haar hand by tye vas en soen haar langer as wat groet vereis. Verder gesels hulle aanhoudend: die kerkbasaar, konsertaande en verjaardagpartye. Wanneer sy oor die straat stap, volg sy oë haar. Sy trek