Название | Al die lieflike dade |
---|---|
Автор произведения | Charl-Pierre Naudé |
Жанр | Зарубежные стихи |
Серия | |
Издательство | Зарубежные стихи |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624069393 |
Al die
lieflike
dade
Charl-Pierre Naudé
Tafelberg
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Al die lieflike dade mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
Vir Nicky
“[Soms] beoordeel jy dade nie as goed of sleg nie maar as mooi;
nie as regverdig nie maar groots; en nie as redelik nie maar
buitengewoon.”
– Montesquieu, Die gees van die wette (Boek IV, hoofstuk 2)
“It is not impossible to describe human actions, even some
insignificant ones, in terms of structures known to mathematics,
structures which by implication are uncontainably ‘large’.
In their beauty, such small actions might be likened to pebbles
that shine with the infinite light of universes.”
– Gregory Faber jr., wiskundige en filosoof, IBM
Voorwoord
(of: Hoe die mens ontstaan het, en toe die digkuns)
Deur gelykenisse
kom die mens en sy wêreld tot stand,
brei hy na buite uit:
eers hyself ín homself
(die voet lyk soos die hand);
daarna word die heinings in pale voortgeplant.
Die blinkertjies wat hy pis
om sy reis aan te dui, of in die bome hang
om sy perk af te merk,
weerspieël mekaar naderhand
soos ’n skool visse sigself:
Onmoontlik om te sê
waar die oorsprong lê.
Hier kom die wiel,
loshande,
soos die seisoene wat nooit ophou aanrol nie,
in vier kwarte opgedeel soos buurmanne
wat mekaar nodig het, en dus van die siel,
by verstek, ’n simbool is.
En die gode uit die bergstroom getap
en oorgeskink
in volkome ongelyke en klingelende emmers,
wel, dít was mos iets wat ’n verklaring kon bied
vir ongemaklike dinge.
Voortaan sou ’n kwatryn
volgens voorskrif van Bo
met let-ter-gre-pe ploeë,
en vier sye hê nes ’n dorpsplein.
En die tweeledige koeplet?
Dit was ’n bok wat nog sy horings het
maar hom darem kon gedra
en deeglik gehou het by die burgerwet.
Die ritmes
van opgediepte Romeinse teaters
het moeilik gerym
met “windmeulens”, “unie” en “bond”;
maar was tóg verstaanbaar:
Voeg maar net water by
en bak dit verdomp in die bietjie son.
Nóg later
het die reëlmaat en funksie van gedigte
(gewaande dryftuigies, of wel
strooibiljette-met-ballas)
verander toe dit na Afrika gekom het.
Siestog, ’n verskeepsding genaamd die villanelle –
výf seiltjies uit die Pentateug
en ’n vierflappige evangelie
wat sing aan die fokkemast;
God, alewig die getel! –
hoe berekend het die mensdom
oor die waters geloop, mens kon sweer
dit was geloof.
Die epos, ’n storiewa
wat in die ou dae die kosmand huis toe ge-jie-jie het,
was op die nuwe vasteland ’n stamelkas
wat bulkend op bergriwwe strand,
en moes van meet af aan opklink.
Wildernis, bosse, die onmeetlike …
Die strofes groei hier baie dig,
dis nie varings nie; natúúrlik word nie lu/-kráák af/-ge/-káp
nie! Wa-
wag. Lyk my hier’s ’n bietjie deurgetraptheid, ja-
ja: ’n paadjie
en pale daarlangs geplant
met maskers op wat grinnik. Goddank,
’n ooptetjie en,
jou werklikwaar (gerugte van gehoor),
die gevaarlike stank: ’n giftige, vleisetende,
lieflike
inheemsblom,
en wat is dit wat daar uitsteek – bo die kroonfrille –
voorwaar …
my eie kop
Blomme van Algiers
Op die savanne pryk geen kastele
met gragte en opslaanbrûe of burgtorings
met kantele uit die oudheid nie;
nóg dof-beskilderde koningstente
wat vol ruis en weer sak,
soos die wange van God.
Sulke ou-ou vestings bestaan nie op die savanne nie.
Blokhuise, ja, dié gebluste swartoogkonkas
nie veel ouer as ’n eeu nie;
of skotteltjies vlam hier en daar
van ’n mensheid-in-die-knop
– sigbaar uit die lug –
wat blik-aan-die-enkel rondkletter in die nag
en dan verdwyn en ’n sleepspoor agterlaat;
en die getingel en -sug
van ’n amulet.
Kastele, wat oorgebly het, is
daar nié op die savanne nie.
Daar is ook geen miershope in Antarktika nie.
Maar hier in die Maghreb
waar ons ’n paar dae gelede neergestryk het,
staan getepelde moskeekoepels uit die vyftiende eeu
soos ligbeierende teepotte
wat brou aan die tyd
terwyl kleure soos papegaaie weerkaatsend
van dakstoepe af klokkeleer “nou, nou, nou!”;
en kom ’n