Proteus. Deon Meyer

Читать онлайн.
Название Proteus
Автор произведения Deon Meyer
Жанр Ужасы и Мистика
Серия
Издательство Ужасы и Мистика
Год выпуска 0
isbn 9780798157476



Скачать книгу

moeilikheid lê agter hom. Net die kronkelende, oop pad voor hom. Hy draai die krane oop, en dan ontvou die vallei voor hom, ’n sprokieslandskap in die silwer lig van die maan.

      * * * * *

      Monica Kleintjes sit ineengekrimp in die sitkamerstoel in haar pa se huis, traanstrepe oor haar wange. Oorkant haar sit Williams op die punt van sy stoel, asof hy in empatie na haar wil uitreik. “Juffrou Kleintjes, ek sou presies dieselfde gedoen het as dit my vader was, dit was ’n nobele optrede,” sê hy sag. “Ons is hier om u te ondersteun.”

      Sy knik, haar onderlip vasgebyt, haar hande beklemmend op haar skoot, haar oë groot en nat agter die bril.

      “Daar is net twee sake waarop ons graag wil hê u moet lig werp: U vader se verbintenis met meneer Mpayipheli en die aard van die data wat hy by hom het.”

      “Ek weet nie wat op die hardeskyf is nie.”

      “U weet nie?”

      “Name. Rekords. Nommers. Inligting. Toe ek my pa vra waaroor dit gaan, toe sê hy dit is beter as ek nie weet nie. Ek dink … Name …”

      “Wie se name?”

      “Bekendes.”

      “Watter bekendes?”

      “ANC. Die Regime …”

      “Kan u spesifieke name onthou?”

      “Hy het nie gesê nie.”

      “Niks?”

      “Niks.”

      “Juffrou Kleintjes, dit is noodsaaklik dat ons weet waaroor hierdie data gaan. Dit is in landsbelang.”

      Haar hande kom los van haar skoot, die trane spoel oor ’n keerwal. “Ek wou nie weet nie en ek dink my pa wou nie sê nie. Asseblief …”

      “Ek verstaan, juffrou Kleintjes.”

      “Dankie.”

      Hy gee haar ’n oomblik om te kalmeer. Sy reik na die sneesdoekies en snuit, versigtig en vroulik.

      “En meneer Mpayipheli?”

      “My pa het hom in die Struggle geken.”

      “Kan u meer spesifiek wees?”

      Nog ’n sneesdoekie. Sy haal haar bril af en vee versigtig onder haar oë. “Drie weke … twee of drie weke gelede het my pa na my werk toe gekom. Hy het dit nog nooit gedoen nie. Hy het ’n stukkie papier gehad. Hy het gesê dit is die naam en kontaknommer van iemand wat hy heeltemal vertrou. En as daar iets met hom gebeur, moet ek vir Tiny Mpayipheli bel.”

      “Tiny?

      “Dit is wat op die papier gestaan het.”

      “Was u verbaas?”

      “Ek was bekommerd. Ek het vir hom gevra hoekom iets met hom sal gebeur. Hy het gesê niks gaan gebeur nie, dit is net versekering, soos die goed waarmee ons by Sanlam werk. Toe vra ek hom wie Tiny Mpayipheli is en toe sê hy ’n wonderwerk.”

      “’n Wonderwerk?”

      Sy knik. “Toe sê hy ’n kameraad, Tiny was ’n kameraad, hulle het saam gedien, hy het Tiny sien grootword in die Struggle.”

      “Jou vader was in Europa tydens die Struggle?”

      “Ja.”

      “En dit is waar hy vir Mpayipheli leer ken het?”

      “Ek neem so aan.”

      “En?”

      “En as iets ooit verkeerd moet gaan, moet ek vir Tiny kontak. Toe vra ek weer wat gaan verkeerd gaan, ek was bekommerd, maar hy wou niks meer sê nie, hy wou oor my mooi kantoor praat.”

      “En toe u die oproepe uit Lusaka kry, bel u vir Mpayipheli?”

      “Ek het eers die kluis gaan oopmaak om die hardeskyf te kry. Bo-op was daar ’n nota. Tiny Mpayipheli se naam en telefoonnommer. Toe bel ek.”

      “En toe neem u die hardeskyf na hom in Guguletu?”

      “Ja.”

      “En vra hom om dit Lusaka toe te neem?”

      “En toe stem hy in?”

      “Ek skuld jou pa, het hy gesê.”

      “Ek skuld jou pa.”

      “Ja.”

      “Het u sedertdien enige kontak met meneer Mpayipheli gehad?”

      “Julle luister dan na die telefoon. Julle weet mos …”

      “Juffrou Kleintjes, het u enige idee waar meneer Mpayipheli hom nou bevind?”

      “Nee.”

      * * * * *

      Radebe roep haar vanoor die Opskamer.

      “Ja?”

      “Die span wat die lêers in Pretoria deursoek het, mevrou …”

      “Ja?”

      “Daar’s niks. Hulle kry nie ’n Tobela Mpayipheli nie.”

      11

      Die agent is van die Oos-Kaapse Buro in Bisho. Sy weet dit is operasioneel gesien die gatkant van Suid-Afrika; professioneel gesien ’n dryfsandput, want daar gebeur nooit iets wat jou die geleentheid bied om uit te styg, om jou op te dring aan Hoofkwartier nie. Hoe langer jy daar is, hoe dieper sink jy weg in die verstikking van middelmatigheid.

      Wanneer Radebe van HK bel om te sê jy moet ’n onderwerp gaan ondervra in Alice, dan kla jy nie oor die gebrek aan inligting nie, jy sit ywer in jou stem en hou die dankbaarheid daaruit en jy klim in die vuil, stotterende wit Volkswagen Golf Chico met 174 000 km op die klok en jy omhels die geleentheid, want dit kan dalk net die paspoort tot hoër louere wees.

      Dan fokus jy jou gedagtes op die vrae wat jy gaan vra, die stemtoon wat jy gaan handhaaf, jy berei jou voor tot jou gedagtes begin dwaal, tot jy begin dagdroom oor die moontlikhede van hierna, jy sien in jou geestesoog hoe mevrou die verslag sal lees en vir Radebe inroep (jy weet nie hoe haar kantoor lyk nie, maar jou verbeelding vul dit met meubels van chroom en glas) en sê: “Hierdie agent is briljant, Radebe. Wat maak sy in Bisho? Sy hoort hier by ons.”

      En nog voor die fantasie behoorlik gestalte kan kry, voor sy haar droomwoonstel in Seepunt se uitsig en meublement vorm kan gee in haar gedagtes, is sy daar, hou sy voor die huis in Alice stil, net ’n kilometer of wat van die mooi nuwe geboue op die Fort Hare-kampus, sien sy daar brand nog ’n lig en klop sy aan, hoflik sag, haar opnemer en notaboek in haar handsak, haar vuurwapen teen die kuiltjie van haar rug in ’n leerskede.

      Die man wat oopmaak, is silwergrys, die plooie op sy gelaat diep en menigvuldig, die lang liggaam reeds geboë in ouderdom, maar wanneer hy “Goeienaand” sê, is daar net geduld in die stem.

      “Dominee Lawrence Mpayipheli?”

      “Dit is reg.”

      “My naam is Dalindyebo. Ek het u hulp nodig.”

      “Dan het jy na die regte plek gekom, suster.” ’n Sterk stem. Die leraar staan terug en hou die deur oop. Sy kamerjas is wynrooi, met twee beaarde kaal voete wat onder uitsteek. Die agent stap in, laat haar oë oor die vertrek swiep, die boekrakke teen twee mure, honderde boeke, die ander mure behang met swart-wit en kleurfoto’s. Die voorkamer het ’n eenvoud – geen luukses nie, net ’n aura van rustigheid en warmte.

      “Sit asseblief. Ek wil net vir my vrou sê sy kan maar slaap.”

      “Ek is jammer oor die uur, dominee.”

      “Moenie jammer wees nie.” Die dominee verdwyn in die gang, sy kaal voete geluidloos op die tapyt. Die agent probeer vanuit haar stoel na die foto’s kyk. Die dominee en sy vrou in die middel, by bruidspare, by kerkrade, by amorfe groepe mense. Eenkant ’n gesinsfoto,