Liefde is nie tjoklits nie. Helen Brain

Читать онлайн.
Название Liefde is nie tjoklits nie
Автор произведения Helen Brain
Жанр Учебная литература
Серия
Издательство Учебная литература
Год выпуска 0
isbn 9780798156851



Скачать книгу

van ons skool se uitruilprogram met Duitsland en sy het voorgestel ek kom waitress by die Bay Café.

      “Jy sal lekker tips verdien,” het sy belowe.

      Dink net – drie wonderlike maande in die sneeu by ’n Duitse gesin met tieners so oud soos ek. Maar hoe gaan ek óóit die vliegkaartjie betaal met sulke tips?

      “Dis die laaste van die lunch crowd,” sê Nick op sy nors manier toe ek die vuil borde afdra. “Julle twee kan gaan sodra die tafels skoon is.”

      Meriel gee vir my ’n lap en ’n bottel Handy Andy aan. Ek vee die krummels en die vuil papierservette in ’n swart vuilgoedsak. Die Bay Café het Franse deure wat op ’n lang stoep uitloop. Vandaar kyk jy uit oor die houtkaaie waar tientalle seiljagte vasgemeer staan, en op Steenkamp Toere se kantoor.

      Soos die duiwel dit wil hê, stap my donkerkop net toe by Steenkamp Toere se deur uit en stryk met lang treë aan oor die kaai. Met ’n bonsende hart kyk ek hom agterna. Wie sou hy wees? Met sy lenige lyf en skewe glimlag is hy loshande die aantreklikste ou wat ek nog ooit gesien het. Die regte Logan Lerman kan gaan slaap.

      Meriel wikkel haar heupe en maak groot oë vir my.

      Ek bloos en vryf my tafel met mening blink.

      Sy giggel en begin vertel: “Dis Scott Steenkamp. My suster het verlede jaar met hom uitgegaan. Hy’s cool, nè?”

      “Werk hy permanent daar?” Ek probeer my bes om ongeërg te klink, maar ek verskuif nietemin na ’n ander tafel vir ’n beter uitsig.

      “Hy swot toerisme in die Kaap. Werk net vakansies by sy oom. En hy’s mal oor seil! My arme sus se romanse het nie lank gehou nie, want sy raak seesiek.”

      Ek bars uit van die lag. Toe ek weer kyk, staan Scott kaalvoet op die dek van Die Meermin. Sy sonbruin maag is plat en gespierd bo sy afgesnyde jeans, en my mond begin water. Maar waar sal so ’n ou tog na mý kyk?

      “Hy het nie op die oomblik ’n meisie nie,” skimp Meriel.

      “Meri, jy weet hoe pateties ek is as dit by ouens kom.”

      “Jy moet iewers begin! Glo my, as dit nie vir Jaco was nie, het jy kompetisie gehad . . .”

      Asof. Sy is so verlief op Jaco, haar roomrosette lyk al soos trourokke. “Dit sal tog nie werk nie,” protesteer ek. “As ’n ou net na my kyk, dan begin ek al hakkel en dan dink hy ek’s ’n imbesiel.”

      “Practise makes perfect, nè! Jy moet net aanhou probeer. En moenie maak of jy nie van hom hou nie – ek het oë in my kop.”

      “Ja, maar . . .”

      “G’n maars nie. Gaan net vir hom en klaar.”

      Meriel is reg, my maag is vol skoenlappers elke keer as ek hom sien. Ek sal wat wil gee om sy gespierde arms om my te voel – om sy foto in my koshuiskas te plak – om hand aan hand met Scott Logan Lerman Steenkamp by die skool se lentedans aan te kom.

      Meriel lag. “Jy het daai tafel al vyftig keer afgevee, selfs Nick sal tevrede wees. Kom ons loop en gaan sê hallo vir die Incredible Hulk.”

      “Jy’s nie ernstig nie.”

      “Hoekom nie? Gaan maak jou gou mooi. En moenie skelm wegglip nie, oukei!”

      Ek loop hang my voorskoot op en draf badkamer toe. Jy is eintlik baie oulik, praat ek myself moed in terwyl ek die rekkie uitsukkel en die kam deur my hare trek. As jy net nie so vaal was nie. Wat van superswart hare en ’n superbleek vel? Soos Kelly Rippa en Jesse J in hulle Goth-stadium. Of Kate Berry met haar pers hare. Ek het hulle nou die dag gegoogle en gewonder hoe die look my sal pas.

      Maar wat dínk ek alles?

      Terwyl ek oor Goth-chic fantaseer, kom Meriel die badkamer ingewarrel. “Hier, sit aan!” Ek is te bang vir haar om nee te sê en rol die pienkpers gloss gehoorsaam oor my lippe, dis sowaar effens Goth. “Rol nou jou T-hemp ’n ent op sodat hy daai sexy lyf kan sien.”

      “Wat? Jy’s lekker laf,” keer ek, maar Meriel is nie iemand wat “nee” vir ’n antwoord vat nie.

      “Wie’s laf? Jy’s fantasties gebou, maar jy steek dit altyd weg. Dis beter. Nou net ’n tikkie maskara om daai super-mega-oë.” Sy beskou my krities. “Tonne beter. Kom ons gaan toor hom.”

      Scott sit op ’n meerpaal in die kokende middagson en kerf ’n stukkie dryfhout. Hy kyk met ’n glimlag op toe ons aangestap kom. “Howzit, Meriel,” groet hy.

      “Fine. Dis my vriendin, Tamara. Sy’s nuut op die dorp en sy dink jy’s gorgeous.”

      “Meriel!” Ek stamp haar in die ribbes. Ek moes ook geweet het. Pleks ek by die Bay se agterdeur uitgeglip het toe sy nie kyk nie.

      Scott speel saam. “Wel, sy’s duidelik iemand met smaak. Hoe’s dinge, Tamara?”

      “E . . . oukei,” stotter ek, so verleë dat ek nie weet waar om te kyk nie.

      “Geniet jy jou werk by die Bay?”

      “E . . . ja, dankie.” Hoekom kan ek aan niks interessants dink om te sê nie?

      “Tamara spaar vir ’n vliegkaartjie om as uitruilstudent Duitsland toe te gaan,” babbel Meriel.

      “Duitsland is fantasties,” sê Scott. “Ek en ’n pel het laasjaar met rugsakke deur Europa getoer. Op plase gewerk en skottelgoed gewas in restaurante. Dít het ek gehaat. Waarheen gaan jy, Tamara?”

      “M-München.”

      “München is amazing! Jy sal beslis mal wees oor die Tamaen-platz en die Asamkirche. Kan jy Duits praat?”

      “So ’n bietjie.”

      “Bietjie?” val Meriel my in die rede. “Jy moet haar hoor – sy het laasjaar die prys vir Duits gewen en sy parlez-vous Français ook by alles.”

      Ek gee haar ’n kyk, maar gelukkig is Scott se aandag by ’n groep toeriste wat foto’s neem van die baai. Hy spring op. “Jammer, julle, ek moet gaan, dis my toergroep daar oorkant. Lekker om jou te ontmoet, Tamara. Cheers, Meriel. Sien julle later.”

      ’n Dik vrou met ’n strooimandjie dring daarop aan dat Scott haar eerste op Die Meermin help. Haar man, wat alles afneem, volg haar met ’n flitsende kamera. Gou wemel die boot van vakansiegangers.

      “Oppas daar by die kant, Johannie!” roep ’n stem.

      “Ek wens die klein helsem val in en versuip,” brom Meriel.

      “Jy was dan so gaaf met hom!”

      “Toneelspel, of wat het jy gedink?”

      Die Meermin se enjin begin tjok-tjok. Scott waai vlugtig terwyl hy die boot behendig tussen die visserskuite deur na die breekwater stuur.

      “Hy hou van jou,” sê Meriel.

      “Moenie mal wees nie. Ek het skaars twee woorde met hom gepraat.”

      “Sewe. Ek het getel.”

      Ek sug. “Dis beter om nie met ouens te sukkel nie.”

      “Ja? Ek sien jou oor twintig jaar, ’n suur oujongnooi soos juffrou Smal hier op die dorp – wat altyd kla oor die kleintjies so mors in haar precious bib.”

      Ek boks haar teen die arm.

      “Jy was fine, Tamara! Ten minste is julle albei mal oor Duitsland. Gesels volgende keer daaroor.”

      “As daar ’n volgende keer is.”

      “Natuurlik sal daar, trust me.”

      Ek sê niks, maar dit pla my dat Scott so vinnig padgegee het. Hy kon nie gou genoeg by Die Meermin kom nie. Die feit is, ek is vaal en vervelig, dis wat.

      Op pad huis toe babbel Meriel oor haar en Jaco se naweekplanne. My gedagtes dwaal heeltyd na Scott. Eintlik, as ek eerlik moet wees, was hy nogal gaaf. En daar was regtig toeriste wat hy