Название | Roepman |
---|---|
Автор произведения | Jan van Tonder |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798158961 |
Ek wou nog lank daarna gekyk het, maar hy het die ding by my gevat en in sy wallet teruggesit. “Die laaitie kan nog nie eers skuim pis nie en hy’s klaar jags,” het hy gesê en na Martina hulle gekyk.
As Ma hom so moes hoor praat …
Ek weet wat jags is, maar ek het nie verstaan wat Hennie bedoel het toe hy sê ek kan nog nie eers skuim pis nie. Voor die meisiekinders kon ek hom nie vra nie, want dan het hulle geweet ek kan dit nog nie doen nie, wat dit ook al is. Lank daarna het ek en Salmon een aand buite staan en pie. Salmon is Erika se boyfriend. Ons staan nog so en pie, toe sien ek vir die eerste keer waarvan Hennie gepraat het. Waar Salmon se straal die grond tref, staan daar stadig skuim tussen die gras op. Hy het al sy gulp toegetrek en teruggeloop huis toe, toe is die skuim nog daar. Die blasies het begin bars maar ek het bly kyk tot die laaste een toe. Daai aand het ek besluit ek sal nie rus voor ek dit ook regkry nie.
Nou skyn die maan en ek pie en pie, al op een kol. Die lig blink op ’n klompie blasies, maar hulle tel nie, hulle bars te gou. Ek staan op my tone om ’n bietjie meer hoogte te kry. Dit help ook nie. Ek skud my peester af en sit hom terug en trek my broekspyp reg. Miskien as ek hoër staan. Op ’n stoel. Of nóg hoër.
Dalk op die dak, maar daar sal mense my sien. Ek kyk na Gladys se kaia. Jip, dis die regte plek. Hoog genoeg, en weggesteek tussen die wildevy se takke.
Die wildevy is baie groot. Ma het hoeveel keer al vir Pa gevra om hom af te saag, maar Pa wil nie. Eenkeer het hy gesê: “Vrou, Jona het net ’n wonderboom gehad om onder te skuil, ’n rankerige ding wat in een nag opgekom en in een dag verlep het – hy sou wat wou gee vir een soos dié.”
“Net oor hy nie sewe kinders en ’n man en ’n ma se wasgoed gehad het om droog te kry nie, Abram.”
Ek skrik ’n bietjie toe ek Gladys se deur hoor oopgaan. Dis van daai blikdeure wat soos asdromdeksels raas. Sy gaan sit haar groot skottel aan die shower-kant van haar kaia neer en vat ’n emmer en loop oor die gras na ons agterdeur toe. Ek bly staan sonder dat ek weet hoekom, tot sy met die emmer warm water op haar kop na haar kaia terugloop. Sy sien my nie agter die wildevy se stam nie. Sy gaan in die shower in maar maak nie die deur toe nie. Boytjie slaap seker al. Ek dink sy los die deur oop sodat sy kan hoor as hy wakker word.
Daar brand ’n kers by Gladys. Sy trek haar klere uit en sak op haar knieë af, boude teen haar hakke, en skep water met ’n blik oor haar lyf. Terwyl sy haar was, wieg haar tiete stadig soos die hawe se water wanneer ’n boot verbykom.
Ek buk deur die heiningdraad, want by die Ahlerse se piesangbome sal ek na Gladys kan kyk sonder dat iemand my sien. My voet haak vas en die draad spring. Gladys kyk op. Ek is bang sy maak die deur toe, maar sy doen dit nie. Sy begin haar lyf met seep smeer. Haar hande vryf oor haar blink bene en arms en in haar kieliebakke en gaan oor haar tiete en onder hulle deur. Ek wonder of haar vel baie glad is met die skuim daarop, en hoe sag dit is waar dit induik onder haar vingers.
Ek het nog nooit iets gesien wat so mooi is nie. Elsie en Helen, ja, maar hulle het altyd klere aan.
Gladys kan gerus wees, ek sal haar nooit weer probeer skrikmaak wanneer sy haar badwater gaan haal nie.
Sy gooi weer water oor haar lyf. Wit strepe skuim loop teen haar af. Ek gaan sit, want my rug raak seer van so staan en buk om tussen die piesangblare deur te kyk. Die droë blare ritsel en kraak. Gladys kyk op, reguit na my kant toe. Ek voel my ore rooi word, al weet ek sy kan my nie sien nie. Gladys hou haar arm oor haar bors. Sy blaas die kers dood. Ek hoor hoe sy weer water oor haar gooi. Dis ’n rukkie stil voor die kaiadeur se slot inknip.
Toe ek buk om deur die draad te klim na ons kant toe, gaan die Ahlerse se buitelig aan. Die agterdeur gaan oop.
“Naand, Timus, waa’ntoe is jy so haastig op pad?” vra oom Basie, Hein se pa.
Dis niks lekker as oom Basie ’n mens voorkeer om te praat nie. Hy sê dieselfde ding oor en oor. Hy het ’n snor en ’n groot maag en net een been. ’n Shunter gewees, maar toe verloor hy sy been en hulle gee hom ’n office job. Die mense sê hy het ’n bottel by die werk weggesteek gehad, ’n paar honderd tree van die loco af waar die spore teen stampblokke doodloop. Die uitskoptrokke hol op hulle eie soontoe nadat die lokomotief of die elektriese unit hulle ’n stoot gegee het. As jy met jou rug na die loco toe sit, kom die trokke by jou verby sonder dat jy hulle hoor. Doodstil, daai ysterwiele op die spoor, selfs ’n swaar lokomotief soos ’n Garratt s’n. Net oor die laste hoor mens hulle: tiktik-tiktik.
Dis ’n lekker plek om te speel, maar as ’n shunter die slag op ’n trok aangery kom, voete op die trap en een hand aan die reling en die walkie-talkie in die ander hand, dan moet jy vinnig padgee of hy spring net daar af en foeter jou. Dit sal nie help om dan by die huis te gaan kla nie, want wat het jy daar gesoek? Dis die gevaarlikste plek waar mens kan dínk om te speel, sê die grootmense.
Oom Basie was een aand glo weer by die bottel en toe hy daarna twee trokke moet koppel, sien hy die buffers is uit lyn uit en hy skop na die skewe een. En sy been word vasgeslaan. Morsaf. Glo bloed net waar mens kyk toe hulle die trokke uitmekaar trek. Daar’s nie ’n dokter op aarde wat so ’n spul aanmekaargewerk sal kry nie, ene pappery tussen die enkel en die knie.
As oom Basie kans kry, vertel hy jou die storie. Braam sê hy kan verstaan hoekom Fransien is soos sy is as hy na oom Basie kyk. Fransien is Hein se suster. Niemand wil haar vir ’n meisie hê nie, al sê sy altyd sy gaan met Joon trou as sy groot is.
Daar is drie mense vir wie Fransien liewer is as vir al die ander saam: haar ma, Boytjie, en Joon. Sy gaan lankal nie meer skool nie en sy is nou eers vyftien. Haar mond is heeltyd oop en haar tong woel soos ’n kleinhondjie wat halfpad gebore is en nie verder kan kom nie. As sy praat, verstaan omtrent net haar ma en Boytjie en Joon wat sy sê.
Agter oom Basie kom Hein ook uit. Hy’t seker gehoor sy pa praat met my. “Kom kyk hier,” sê hy, “ek wed jy’t nog nie so iets gesien nie.”
Ek kyk eers om my, want Ma hou niks daarvan as ek met Hein praat nie, wat nog van in hulle jaart kom. Ek wens hulle wil die buitelig afsit.
“Kyk,” sê Hein. “My pa het dit by sy pel gekry wat by die walvisstasie werk.”
“Wat is dit?” Ek kry net-net om die ding gevat. Weerskante van my hand steek hy ’n ent uit.
“Walvistand. Fokken groot, hè?”
As Ma my hier moet sien en die tale hoor wat Hein praat, en oom Basie se asem ruik!
Ek moet huis toe. Maar as ek loop, kan ek nie meer na die walvistand kyk nie. Dis ’n mooi ding. Baie glad. Half wit en half geel, soos die twee ivoorseekoeitjies wat Pa van die Noorde af gebring het na die oorlog. Maar die walvistand is vir my mooier.
“Sal ek ook een in die hande kan kry, oom?”
“As jy by die walvisstasie kan uitkom, ja. En as jy twee rand het – daai kaffers wat slag, is fokken snoep.”
Nee wat, ek kan dit maar op my maag skryf. Waar sal ek twee rand kry? Noudat ek nie meer kan help met die bome nie, sal ek nie ’n sent uit Pa kry nie. Hy vra net altyd of ek weet hoe swaar hy aan die geld kom wat hy end van die maand huis toe bring.
Maar ek weet nou dat ek nog graagter as voorheen walvisstasie toe wil gaan. ’n Mens weet nooit. En al kry ek nie ’n tand nie, sal ek darem weet hoe dit lyk as hulle die walvisse slag. Braam beloof net altyd om my te vat, maar ek weet hy sal nie.
Ek kan self soontoe loop, maar Pa het gesê hy slag my af as ek dit doen. Dis te gevaarlik, sê hy, die ent tussen die Suid-pier en die walvisstasie wat aan die seekant van die Bluff is.
My blaas begin seer word van te lank knyp.
Ek hou die tand na oom Basie toe uit, maar Hein sê: “Nee, gee hier, dis myne.” Hy vat die tand en sit dit in sy sak asof dit sommer ’n ding is wat mens agter