Название | Roepman |
---|---|
Автор произведения | Jan van Tonder |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798158961 |
“Was jy nooit kind gewees nie, Awerjam, het jy jou nooit dinge verbeel nie?”
Dinge verbeel, sê sy. Ouma glo my ook nie.
“Ek wil nie my neus in jou sake druk nie, dis oor jou goedheid wat ek vandag hier by julle kan bly, maar ek sê vir jou, as jy vandag daardie klong gaan loop foeter, sal dit ’n sône wees. Wat hy daar in die vlei gesien het, het hy gesien.”
“’n Kaffer wat in die lug opstyg, Ma?” Pa se stem is skielik hard.
“Ek sê jou, hy’t gesien wat hy gesien het. Ons moenie, Awerjam, ek en jy wat nie meer daardie gawe het nie, dit van hom af probeer wegvat nie. Onskuld is puur genade, en die Here weet, dit duur nie.”
Ek hoor Pa se voetstappe aankom. “Jy kan maar gaan speel, maar sorg dat jy terug is vir ete,” sê hy kwaai voor hy in die gang afstap sitkamer toe.
Ek kan my ore nie glo nie. Ek staan op. Ouma is nog in die kombuis. Vir die eerste keer is ek bly sy het na ons toe gekom. Nes my arm gesond is, sal ek vir haar die mooiste avokadopere in die bos gaan pluk. Ek sal een deursny en met ’n vurk fynmaak sodat sy nie eers haar tande hoef in te sit om dit te eet nie.
“Dankie, Ouma.”
Sy wys met haar hand dis sommer niks nie. “Kom hier,” sê sy.
Ma sê ons moenie so wegtrek as Ouma ons ’n drukkie wil gee nie.
“Ouma …”
“Ja, Timus-kind?”
“Wat is onskuld nou eintlik?”
“Ek weet nie hoe om te verduidelik nie.” Sy haal haar sakdoek uit. Die lap is gevlek van die snuif. Sy blaas: prrrrr! Toe sit sy haar arm weer om my en sê: “Onskuld is iets wat ’n mens eers leer ken as jy dit kwyt is.”
“Wat help dit dan mens het dit, Ouma?”
Sy trek net haar skouers op. “Ek weet nie. Maar dít kan ek jou sê, Timus-kind, ons kry dit eendag in die hemel terug.”
Toe loop ouma Makkie by die kombuis uit, verby die badkamer, na haar kamer toe.
2
Ek loop sommer straatop om onder Pa se oë uit te kom, netnou dink hy aan nog iets waaroor hy my badkamer toe kan stuur.
Dis byna tyd vir Mara om huis toe te kom. As die meisiekinders op ’n Saterdag dorp toe gaan, is hulle voor eenuur terug. Ma sê sy hou daarvan dat haar kroos saam om die etenstafel is.
As ek by die busstop wag, koop Mara dalk vir my iets by die kafee; sy hou nie daarvan as Pa my slaan nie. As sy by die huis is wanneer ek slae gekry het, keer sy die eerste roomyskarretjie voor wat verbykom, en laat my uitsoek wat ek wil hê. Regte roomys, nie die koeldrank-ys wat Ma koop nie.
“Pa het my amper pak gegee vandag,” sê ek vir haar toe sy van die bus afklim.
“Hoekom?”
“Hy het my gevra hoe ek my arm gebreek het.”
“En?”
“Toe vertel ek hom.”
“Die waarheid?”
Sy moenie ook kom staan en lol nie. “Jip.”
“Tog nie dat dit Sondag was nie?”
“Hoe weet jy dit was ’n Sondag?”
“Joepie se ma. Gesê sy is bekommerd oor jou.”
“As sy regtig bekommerd was oor my, sou sy nie vir Pa gesê het nie.”
Dit lyk my ek het Mara verniet gaan inwag. Ons trek al langs die oop stuk veld voor ’n mens in ons straat afdraai, klaar verby die kafee én byna verby die OK.
“Weet jy wat, Timus?”
“Wat?”
“Ek dink ek weet wat die eintlike rede is hoekom Pappie jou wou foeter: dis oor die bome. Noudat jou arm gebreek is, kan jy nie meer help met die bome nie.”
Daaraan het ek nooit gedink nie.
Pa kap Saterdae bome af. Bome wat mors of wat dit te donker maak in huise, of waarvan die wortels mure laat kraak. Of wat mense bang is op hulle karre en goed sal omval. Dis hoekom ons een van die dae by Kenneth-hulle gaan kap. Kenneth Shaw is in my klas, al is hy Engels. Sy ma sê hy moet tweetalig grootword. Hulle huis sit hoog op die bult anderkant Bluffweg. Ryk mense met twéé lakens op elke bed. Hoekom weet ek nie, want hulle komberse is so sag dat dit mens nie eers sal krap nie. Kenneth se ma is mooi, sy lyk nie soos ’n tannie nie. Haar hare is altyd gedoen en haar mond is rooi van die lipstick. As ek partykeer in die middag na skool daar gaan kuier, kan ek Pa se bulldozer van hulle stoep af sien, ver onder ons waar hy besig is om ’n stuk vleiland langs die hawe droog te lê.
“Pa is nie regverdig nie, Mara.”
“That’s no lie,” sê sy.
Ek begin moed opgee oor die roomys.
“As hy regverdig was, sou hy julle laat dans het op julle twenty-first.”
“Dit kan jy ook weer sê.” Mara gaan staan. “Ek sê jou wat …”
“Wat?”
“Jy kan ook iemand na my partytjie toe bring.”
Asof dit nou opmaak vir ure se wag in die badkamer.
“Ek het nie ’n meisie nie.”
“Wat van Elsie?”
Elsie is in my klas. Sy is mooi. Mooier as al die meisies wat ek ken. Behalwe Helen. Helen is Zane se girlfriend. As mens Helen by die swembad kry by Ansteys of Brighton Beach en sy’t daai blink bikini van haar aan en sy kom staan voor jou om hallo te sê, weet jy sommer al die meisies is jaloers op haar. En al die ouens op Zane. As Helen met jou praat en in jou oë kyk, kan jy nie wegkyk nie. En as jy na aan haar gaan staan wanneer sy met iemand anders praat, sien jy die fyn haartjies op haar bene, en dié wat van haar naeltjie afloop ondertoe. Braam sê hy kan verstaan hoekom Zane sê hy sal moor as iemand met haar lol. Of as sy hom die dag verneuk of so. Hy laat haar nie eers met ander ouens práát nie, behalwe met ons wat te klein is vir haar, en met Joon. Hy mag by haar huis ook vir haar gaan kuier, al is Zane nie daar nie. Ek het altyd gedink dis omdat Joon skeel is, maar ouma Makkie sê nee, Zane is skrikkerig vir Joon – op ’n manier wat niks met vuiste te doen het nie.
Ek het Elsie nog nie in ’n bikini gesien nie, maar dis orraait. Ek het darem haar tas skool toe en terug gedra, al van die heel eerste Republiekdag af. Daai dag was almal trots daarop dat ons nie meer ’n Unie was nie, van Pa af tot die onderwysers en dominee Van den Berg. Nie die Engelse mense nie; hulle wou ’n Unie bly, onder die koningin se vlag. Ons het ’n groot byeenkoms by die skool gehad en elke kind het ’n vlaggie gekry. Dominee het met gebed geopen en ons skoolhoof, meneer Gertenbach, het ’n vreemde oom met ’n hoed en ’n donker pak laat toespraak hou. Ek het nie juis geluister wat hy gesê het nie – Elsie was langs my. Dit het nie vir my saak gemaak of ons onder die koningin of die Republiek se vlag gestaan het nie. Een van die ander seuns het Elsie se vlaggie gegryp en ek het myne vir haar gegee. Ons was al amper by hulle huis voor ek gevra het of ek haar tas kan dra. Sy het hom vir my gegee en ons vingers het aan mekaar geraak. En altyd daarna, elke keer wanneer ek haar tas aanvat, en wanneer ek hom vir haar teruggee.
Maar laas jaar, standerd vyf, het ek begin bang word. Oor ’n ding wat Martina vir my gesê het, sommer uit die bloute uit: “Ek sien Elsie het sommer al meisiekind geword. Rêrig mooi. Heupies en tieties en alles. Jy moet oppas as julle in die hoërskool kom, Timus, sy gaan ’n hit wees daar.”
Ek het kwaad geraak. Maar bang ook.
“Man, ék dra haar tas,” het ek gesê.
Martina het haar kop staan en knik asof sy alles weet. Ek haat dit as iemand dit doen.
“Jy dra haar tas,