Kan ek maar aan jou selluliet vat?. André le Roux

Читать онлайн.
Название Kan ek maar aan jou selluliet vat?
Автор произведения André le Roux
Жанр Здоровье
Серия
Издательство Здоровье
Год выпуска 0
isbn 9780624050773



Скачать книгу

flou word. Julle asem mekaar in, eufories.

      Julle kry ander mense, wat nie ervaar wat julle ervaar nie, eintlik jammer. Jul liefde is die beste en grootste in die geskiedenis. Cleopatra s’n was sommer kalwerliefde. Julle kan jul hande nie van mekaar afhou nie. Enige verskoning om in mekaar se arms te wees, julle is onafskeidbaar.

      Wat wetenskaplikes via magnetiese resonansie agtergekom het, sal die romantikus in jou laat glimlag: Romantiese gevoelens in jou brein registreer nie dieselfde as seksbeluste gevoelens nie. Trouens, Fisher glo romantiese liefde is sterker as die seksdrang: Wanneer jy seks geweier word, gaan soek jy bloot verder daarna. Maar as jy romantiese liefde geweier word – jou liefde word nie beantwoord nie of jou groot liefde los jou – stort jy in duie.

      In die Health24-meningspeiling van 2009 is gevra: Wat kom eerste: liefde of seks? Vir die meeste mans én vroue was dit liefde: 45,3% van mans, 61,8% van vroue. Seks: 18% van mans, 8,3% van vroue.

      Mans is in die minderheid hier, maar byna die helfte is inderdaad romanties!

      Daarom sal ’n man verby tien vroue kyk tot hy jóú raaksien. En as hy hou van wat hy sien, kliek iets in sy kop en hy staan vinnig nader … dis die dopamien wat hom so doelgerig na jou toe stuur.

      En terwyl julle gesels, boots julle mekaar se lyftaal na. Hy kruis sy bene, jy kruis jou bene. Jy vat aan jou hare, hy vat aan sy hare. Julle is in pas. Dit word interaktiewe of sosiale sinchronie genoem, ook bekend as isopraktyk (isopraxis).

      Die proses begin reeds by babas, verduidelik Fisher – die baba sinchroniseer die bewegings van sy lyf met die ritme van sy ma se stem.

      Julle kantel ook jul koppe terwyl julle so in mekaar se oë staar. Julle stel jul nekke bloot, volgens Navarro.

      Nek-taal.

      Navarro maak heelwat afleidings uit nek-taal. Wanneer ’n situasie stresvol of ongemaklik is, vat ons onwillekeurig aan ons nekke. Mans vat met die hele hand agter of aan die kant van die nek, of hulle trek aan die vel van hul ken net bokant die adamsappel, waar senupunte bymekaarkom. Wanneer dié area gevryf word, laat dit die bloeddruk daal en hartklop bedaar.

      Dis kalmerend.

      Vroue vat effens anders. Hulle vat eerder met die vingerpunte as die hele hand, voor, in die kuiltjie onder die adamsappel, of hulle speel met die hangertjie om hul nek. Wanneer ’n vrou aan die hangertjie om haar nek vat terwyl julle mekaar nog leer ken, dui dit op ’n bietjie senuweeagtigheid, of sy’s skaam. Die man wys dieselfde deur aan die kuiltjie in sy nek of hempskraag te vat.

      Dis wanneer julle jul koppe kantel sodat die nek ontbloot is. Julle vat baie aan mekaar se nekke. Maar sodra daar die een of ander ongemaklikheid intree (iemand het ’n té persoonlike vraag gevra, daar’s iets waaroor julle nie wil praat nie), maak julle jul nekke styf. Dan trek die man aan sy hempskraag of sy T-hemp wurg hom skielik, en jy lig op jou beurt die hare agter uit jou nek, al kry jy nie warm nie.

      Julle trek jul nekke in (skouers lig). Dis ’n baie goeie aanduiding van ongemak, angstigheid, swak selfvertroue of kommer.

      Dié skouerbeweging is ook iets wat onbetroubare mense doen, of wanneer iemand moontlik jok, sê Navarro.

      En voete-taal?

      Navarro meen jou bene en voete verklap meer van jou gemoedstoestand as jou gesig. Wanneer gevaar dreig, verstyf jou bene danksy jou limbiese stelsel, en jou voete draai onwillekeurig in die rigting van die naaste ontsnaproete. Dis ook jou limbiese stelsel wat jou waarsku om nie so naby aan die afgrond te loop nie.

      Ons staan gemaklik met gekruisde bene en gesels, maar sodra ons ongemaklik word, ontkruis ons ons bene, gereed om weg te loop (vlug). En wanneer jy ’n groepie mense nader, kan jy aan hul voete sien of jy welkom is: Hulle draai nie net hul bolywe na jou toe nie, hul voete draai ook saam in jou rigting. Jy is dus welkom.

      Navarro sê ook wanneer ’n verhouding begin suur raak, is daar ál minder voetkontak tussen julle, al hou julle nog handjies vas …

      Ondertussen is jy nog besig om hom deur te kyk, onbewustelik, om agter te kom of hy goeie genetiese materiaal vir jou toekomstige kinders is, of hy die “regte” man is. En dit kan tyd neem, teenoor ’n warrelwind-romanse waarin jy jou instink moet vertrou.

      Deur seks uit te stel gee jy hom ’n kans om te wys of hy ’n “goeie” man is, met die veronderstelling dat ’n goeie man geduldig gaan wag tot jy eendag reg is daarvoor, volgens Britse navorsers (2005). Die “verkeerde” man se geduld gaan spoedig opraak en op ’n dag besef jy hy gaan nie terugkom nie. Maar jy’s bly jy’s ontslae van hom, want dit beteken hy was die verkeerde man.

      Maar as hy lank genoeg rondhang … Dan is dit nog lank nie die laaste sien van dopamien of oksitosien nie. Daar’s feromone in die lug!

      (Maar ook heelwat mites. Hulle het ons nie altyd reg geleer nie …)

      Mite 1: Liefde is ’n wilsbesluit, ’n keuse

      If your husband and a lawyer were drowning and you had to choose, would you go to lunch or to a movie?

      – Anoniem

      ’n Wilsbesluit wanneer dit by die liefde kom, is uit jou hande. Daarvoor is die liefde gans te chemies.

      Ál keuse of besluit wat daar is, is wanneer een van julle vra: Sal jy met my trou? En om by iemand te bly wanneer probleme opduik … dís ’n wilsbesluit.

      Nie die liefde nie. Die liefde gebeur vanself.

      Hoe om weer te begin date ná ’n mislukte verhouding of huwelik? Mense kry dikwels die raad: Kom ’n bietjie uit, gaan kuier, sluit aan by ’n dansskool, neem kooklesse. Daar waar jy ander mense kan ontmoet, en wie weet …?

      “Maar ek’s al 30!”

      Moenie so desperaat raak nie. Jy hoef nie liefde te loop soek nie. Die liefde sal jou wel vind. Hou net jou oë – en reuksintuig – oop.

      (Hou vas, daar kom nog ’n hele paar mites, wat jou oë kan oopmaak.)

      5. Jy ruik vir my so lekker na jouself

      Feromone en die liefde

      The meeting of two personalities is like the contact of two chemical substances; if there is any reaction, both are transformed.

      – Carl Jung

      Aan die neus rondgelei. Letterlik.

      A, die natuurlike reuk van feromone! Deesdae word dit grotendeels verdring deur parfuum en seep, maar vroeër was feromone ’n aanduiding van jou potensiële maat se immuunstelsel en genetiese sterkte om gesonde kinders te verseker. Dit was dus bepalend of jy iemand van die teenoorgestelde geslag aantreklik vind of nie.

      Die digter Opperman was heeltemal reg: My nooi is in ’n nartjie … lank voordat aroma-olies en aromaterapie so gewild geword het, voor dit taamlik algemeen aanvaar is dat reuke ons gemoed positief kan beïnvloed. Dit kom uit jou getroue limbiese stelsel, wat sorg dat jy reuke en indrukke verbind met aangename ervarings van vroeër.

      Reuke bring mense en oomblikke terug.

      Breek ’n nartjieskil en jy’s terug by jou eerste liefde op Citrusdal. Ruik kaneel en jy’s terug by jou ouma se pannekoeke op die plaas. ’n Ma wat haar seun in sy rugbytrui ruik wanneer hy by die skool is, haar man in sy hemp voordat dit wasgoedmandjie toe gaan, ’n man wat skielik die geur van sy vrou kry al is sy nie naby nie.

      Dis nostalgie op sy olfaktoriese suiwerste.

      Dis feromone …

      Die woord “feromoon”, afgelei uit die Grieks (= om stimulasie/opwinding oor te dra), is in 1986 deur die Duitse biochemikus Peter Karlson en sy Switserse dierkunde-kollega Martin Lüscher geskep. Hulle het navorsing gedoen oor die chemikalieë wat termiete afskei om te kommunikeer of mekaar aan te trek. Wyfierotte maak op hul beurt hul feromoon-afleidings uit die mannetjiesrot se urine.

      By die mens word feromone deur sweet afgeskei.

      Jy’t drie soorte velkliere waarby feromone betrokke is: