Die kind uit die wingerd. Helene de Kock

Читать онлайн.
Название Die kind uit die wingerd
Автор произведения Helene de Kock
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780798179102



Скачать книгу

die oë te kyk. Hierdie dag moes hy instinktief voel kom het. Sy oë bly op die brandewyn in sy glas, hy lig dit weer om die boeket in te adem. Bessies en vanielje en nog iets wat hy om die dood nie nou kan eien nie. Want dit voel of die ander twee akuut bewus is van enige reaksie van sy kant af. Cecil moes tog seker geweet het wat sy pa beplan. Hy het niks laat blyk nie.

      “Hoe het Oom dit reggekry?” vra Laurens. Die vraag klink selfs vir hom kortaf.

      Oom Janus stoot twee vingers deur sy swartgrys kuif. Proe weer aan die brandewyn en toe kom die woorde: “Ek het baie kontakte in Nederland, nes Peet. Jy weet tog van ons oom Wilhelm Waterink wat destyds in Leiden gewoon het? Ons … e … het al dikwels van hom gepraat. Hy was mos aan die universiteit verbonde. Ek korrespondeer nog soms met my neef se seun wat ’n afgetrede professor aan die Leidse universiteit is. Dié woon nou in Delft, maar het heelwat invloed.” Hy trek sy asem diep in, hou dit in voordat hy vinnig afsluit: “Ons Erasmusse en die Nederlanders is mos maar ’n verweefde klomp.”

      Omdat die moedswil en ook die angs in hom stu, vra Laurens: “Wat bedoel Oom, die Erasmusse is verweef met die Nederlanders? Beteken dit ek is ook aan hierdie Nederlanders verwant?”

      Oom Janus verstik amper in sy brandewyn. Hy kug ’n slag, sit die glas neer. Draai na Cecil wat star sit en luister. “Gee ons bietjie privaatheid, asseblief,” beveel hy.

      Cecil trek een wenkbrou op en loop uit.

      “Mag hy nie weet nie?” vra Laurens. Sy binneste beef. Hy het nog selde in sy bestaan hier op Vredenhoek so reguit met hierdie man gepraat. Deels omdat die geleentheid hom net nooit voorgedoen het nie en ook omdat Janus Erasmus se plofbare humeur menige gesprek in die kiem smoor. Openlik gesels ken Laurens nie in hierdie huis nie.

      Oom Janus kug weer. Kyk hom direk aan. “Dis nie dat Cecil nie mag weet nie, ek dink net dis tyd dat jy weet dat …” Dis of sy asem wegraak.

      “Dat?” Laurens sit vorentoe, voel hoe tot die klein spiertjies in sy hande saamspan.

      “Dat jy ook uit Nederland stam. Dit vermoed jy darem seker.”

      “Omdat ek mislik geword het toe ek daardie dag op die kaai daardie groot skip gesien het? En omdat ek steeds ’n paar Nederlandse frases onthou? Ja, ek het al daaroor gewonder. Maar slegs bolangs. Miskien wou ek nie wonder nie.” Dis moontlik dalk die eerlikste sin wat hy nog teenoor hierdie man kwytgeraak het. Die ontsteltenis het sy woorde losgemaak.

      Oom Janus staar na hom, die kleur op sy wangbene hoog. “Jy sal seker wil weet waarom ons jou nog nie vroeër daarvan gesê het nie.”

      “Ek wil nou alles weet, ja. Ek weet wel dat die Groot Oorlog tot in 1918 geduur het. Ek wil weet waarom ek in 1916, toe die oorlog nog gewoed het, per skip hierheen gestuur is?”

      Maar oom Janus skud sy kop heftig. Hy word persrooi. “Ek is nie die aangewese een om jou te vertel nie.”

      Laurens trek sy asem hoorbaar in. “Oom Janus, ek is ’n volwasse man. Vertel my, asseblief.”

      Oom Janus lig sy kop effens. “Wel, Laurens, jy is regtig ’n Erasmus. Maar ek durf niks verder sê nie. Dit is ’n baie sensitiewe saak. Meer mense word geraak.”

      “En ek die meeste.” Hy klink bitter. Dis of die skielike openhartigheid van oom Janus saam met die brandewyn hom vanaand braaf maak. Dalk roekeloos ook. Hy neem ’n diep sluk van die gloeiende vog. Dit gaan vurig af. En hy merk dat oom Janus hom effe geskok beskou. Maar vir suutjies trap in hierdie huis is Laurens nou moeg. Dis ’n woedende satheid wat op hierdie aand onverhoeds in hom ontketen is. Dit skraap sy binneste rou.

      Netnou nog in die kelder was alles reg met hom. Die aanvaarding van sy plek hier op Vredenhoek was jare al beleë in hom. Die intuïtiewe wete van sy buitestanderskap het ook gehelp. Dis nie asof hy hierdie plek vir hom toegeëien het nie. Hy het hom wel hier as werker gesien. In die wingerde en veral in die kelder. Hy wou nog nooit êrens anders wees nie. Maar op hierdie oomblik lyk dit na ’n newelagtige siening van die toekoms. Noudat hy kwansuis moet weggaan, word sy sekerhede aangetas. Daardie diepgesetelde wete wat soos druiwe aan ’n wingerdstok met die seisoen saam in hom ryp geword het. Laurens Erasmus van Vredenhoek. Kind van die huis, al is hy moontlik nie ’n bloedverwant nie. Altans, dis wat hy kleintyd besluit het om te glo toe hy as ’t ware in ’n digte mis gewandel het en uiteindelik tog sy voete hier kon vind. Die eenkantskoolseun wat geleef het vir naweke se kelderbesoeke en die saamspeel met veral Carijn. Hy is daardie Erasmus-student wat sy regsgrade cum laude geslaag het, merkwaardig ontdooi het op universiteit – maar veel tuiser in die Vredenhoekkelder is. Daar waar hy die kuns van brandewyn stook en rooiwyn maak by Janus en op Bontevlei by Peet Erasmus opgetel het. Dis die plek waar hy brand om te wees. Nee, hy wil beslis nie Leiden toe gaan nie. Nie na familie toe wat hom aanvanklik nie wou gehad het nie. Mense wat sy teenwoordigheid klaarblyklik so onwelkom gevind het dat hulle hom as klein kindjie seker met ’n oppasser op ’n skip na die suidpunt van Afrika gesit het. So ver kon hy darem redeneer. Dis tog ’n logiese gevolgtrekking.

      Die stilte in die studeerkamer het dik geword. Hy kyk op in Janus Erasmus se altyd onleesbare blik. Tog bespeur hy ’n soort benoudheid. Iets verdags. Soos ’n rokie wat trek waar dit nie moet nie.

      “Ek wil nie gaan nie,” sê Laurens hard. “As ek hier in die pad is, sal ek ’n ander plan maak, maar ek gaan nie Nederland toe nie.”

      Oom Janus gooi sy hande driftig in die lug. “My hemel tog!” weerklink sy stem in die vertrek. “Gebruik jou goeie verstand. Iewers daar, ek bedoel in Nederland, is mense wat jou bloedmense is. Hulle wil jou ontmoet.”

      “Ek dag julle is my bloedverwante.” Sy stem is sag maar ferm. “Ek moes met ’n rede hierheen gestuur gewees het. As dit waar is dat ek ook ’n Erasmus is.”

      Hy sien selfs in die flou lig van die staanlamp dat oom Janus se gesig aardig verkleur, tot die are in sy nek bult. Die man sluk en sluk.

      Laurens skrik effens. Hy staan op. “Kan ek vir Oom water ingooi?”

      Oom Janus knik twee maal stywerig. Laurens skink water uit ’n glaskraffie in ’n brandewynglas. Kyk hoe die ouer man dorstig sluk. Toe hy weer die glas by hom neem, raak hul vingers aan mekaar. Oom Janus pluk syne weg, kyk venster se kant toe waar die gordyne al dig getrek is.

      “Asseblief, Laurens, gaan net.” Sy stem is ’n hees smeking. “Volgende jaar, so net ná die parstyd moet jy gaan. Jy kan later weer terugkom. Jy … e, weet tog dat jy welkom is hier. Jy het tog hier grootgeword, mens geword. Ons … e, gee om vir jou.”

      Hulle gee om? Sekerlik, ja. Hulle het vir hom ’n huis gebied. ’n Hawe. ’n Tydelike een, blyk dit nou. Nes ’n skip. Wat het hom in elk geval anders laat dink? Of droom? Laurens bly staan, hande op die heupe. “Waarom die groot geheimhouding, oom Janus? Wie se goeie reputasie is nog altyd op die spel?”

      Skrik en ’n byna wanhopige smeking verdring die gewone onleesbaarheid van sy blik. “Asseblief, Laurens.” Dis ’n patetiese fluistering wat hom net kwater maak.

      Tog weet hy ook hy gaan niks verder uit hierdie mens kry nie. Dat hy reeds soveel openbaar het, is ’n volslae wonder. “Goed dan. Maar eendag sal ek nog uitvind. Ek reken elke mens is geregtig op volledige, feitelike kennis van sy herkoms.” So direk was hy ook nog nooit. Die Vader alleen weet waarom hy so lank met soveel onderdrukte vrae geloop het. Moontlik is dit daardie dag se aankoms uit die wingerd. Die ingeskape kennis dat hy ’n vreemdeling is en versigtig moet trap om ’n holte vir sy voet te vind. Dit is ’n besef wat met die jare gegroei en hom na binne laat keer het. Hy, wat sy mond so glad in die regsklasse kon oopmaak, was nog altyd eerder ’n swyer in hierdie huis. Behalwe as hy oor wyn praat.

      Hy kyk nog een maal na die eensklaps versonke figuur agter die lessenaar. “Nag, Oom. En dankie.” Presies waarvoor hy dankie sê, weet hy nie. Maar dis seker die regte ding om te doen. Nou wonder hy mos ook: hoe het hy nog altyd geweet om min of meer die regte ding te doen? Is dit in sy bloed, of waar het hy dit geleer? Moontlik is dit ’n aangebore oerversigtigheid.

      Toe hy deur die stil gang na sy slaapkamer toe loop, raak hy bewus van hoe droog sy mond is. Hy sal vannag weer nie