Die Poort 4: Krygers. Nelia Engelbrecht

Читать онлайн.
Название Die Poort 4: Krygers
Автор произведения Nelia Engelbrecht
Жанр Детская фантастика
Серия Die Poort
Издательство Детская фантастика
Год выпуска 0
isbn 9780624077572



Скачать книгу

na buite fokus, slinger ’n stormwind my tussen die pers wolke in. Die wind ruk die asem uit my longe en vul dit met nat koue. Ek verander in ’n ysstandbeeld wat kop eerste soos ’n missiel vorentoe skiet. ’n Helder lig ontplof iewers links voor my en my gil val soos skerp skerwe klank uit my mond en raak weg in die groot lawaai van die storm.

      Hel, hoe stop mens ’n orkaan? Ek het nie ’n clue wat om te doen nie. Dalk moet ek my gedagtes op wolklose blou lug fokus. Of beweginglose stilte. Fokus … fokus …

      Dan is ek terug in die vliegtuig. Om my roep mense uit en klap hande. Is dit vir my wat hulle …?

      Nee, dit is vir die loods, onderbreek Leonardo my gedagtes. Hulle dink hy het hulle veilig deur die storm gekry. Net jammer dis nie heeltemal waar nie.

      Ek kyk om my. Die vliegtuig skud nie meer nie en die passasiers praat opgewonde, verligting op hulle gesigte.

      “Wow, ons is deur die storm,” sê Nomsa.

      “Nee, ons is nie,” sê Leonardo en wys na die venstertjie langs ons. “Kyk daar.”

      Buite is ’n pers muur wat – wait for it – stadig in die rondte draai. Ek leun vooroor en span my Bewaker-visie in om verby die ry passasiers langs ons deur die venstertjie aan die oorkant van die vliegtuig te kyk. Aan daardie kant is net so ’n bank wolke en dit draai ook stadig in die rondte.

      “Hulle noem dit die stadion-effek,” deel Leonardo sy Wikipedia-wysheid met ons. “Die wolke lyk soos die paviljoene en die middel – waar ons nou is – is die rugbyveld, so to speak.”

      “In other words, we’re in the eye of the storm,” sê Tara met ’n bewende stem.

      Die bloed stol in my are. “Jy bedoel ons is in die middel van die storm en moet weer deur daai massa wolke kom voor ons veilig is?”

      “Jip, maar ek is seker die ouens sal in die oog bly sirkel totdat hulle ’n plek in die wolke kry waar die storm nie so erg is nie.”

      Aanvanklik klink Leonardo se woorde fine, maar die spiertjie wat langs sy oog spring en die wilde klop van sy hart wat ek sense, vertel ’n ander storie. Ek bou vinnig ’n muur sodat Tara en Nomsa nie ons seine kan optel nie. Hoe erg is dit regtig? sein ek vir hom.

      Hy kyk vinnig na Tara en Nomsa.

      Toemaar, ek het hulle uitgeblok.

      Dinge is actually hectic. Ons het baie hoogte verloor én ons kort een enjin. Die oog van die storm lyk darem groot genoeg. As dit kleiner was, sou so ’n groot vliegtuig nie daarbinne kon sirkel nie.

      Net toe kondig die kaptein aan dat hulle van die vliegtuigbrandstof gaan dump.

      Nomsa vou haar arms oor haar kop en begin kerm. “Dis omdat hulle weet ons gaan val. Ek het julle mos gesê … Oe-ee, ons gaan mincemeat wees … My ma-hulle gaan nie eens genoeg van my bymekaar kry om my in Bospoort te gaan begrawe nie. My arme spirit gaan vir altyd rondhang tussen mense wat paddas en hase eet en …”

      “Nomsa!” Ek leun oor Leonardo en gryp Nomsa se hande. “Dis nou genoeg. Ons gaan nie val nie. Ons …”

      Ek bly stil toe ek die merk aan die binnekant van Nomsa se pols sien. Dit gloei. Ek kyk na my eie pols. Die lyntjies van die sirkels blink ook soos die elektriese draadjies in ’n gloeilamp.

      “Bloody hell, what is this?” roep Nomsa uit en staar geskok na haar arm.

      Ek lig my T-hemp op. Die merke op my maag lyk dieselfde.

      “Check jou merk, Tara. Kali, kyk of myne ook so lyk.” Leonardo hou sy kop nader aan my. Ek ruik die seevakansiegeur van sy lyf en dit vat ’n millisekonde voor ek registreer dat die merk agter sy oor dieselfde as ons s’n lyk.

      “Ja, dit blink ook.”

      “Mine too,” sê Tara terwyl sy haar skoen weer aantrek. “Ek verstaan nie. Dit brand nie soos wanneer die Ander naby is nie.”

      “Daai goed onder ons velle is alien glow-in-the-dark-wurms …” kerm Nomsa.

      “Die Ander is dalk nie naby nie, maar ek dink hulle het op ’n manier iets te doen met wat hier gebeur,” sê Leonardo.

      “… die wurms het deur ons sweetgate gekruip,” karring Nomsa aan terwyl nie een van ons na haar luister nie.

      “I sense the Others too, but not in here,” sê Tara.

      En nou? Hoekom staan al die vroue in die vliegtuig op? Selfs die twee tannies langs Tara kom regop. Ek trek my oë op skrefies. Hoekom anders lyk hulle so wasig? So spookasemrig?

      Skielik, poef! is hulle weg.

      11

      Asem. Ek moet asemhaal. In. Uit.

      “Kali, wat is dit?” vra Leonardo.

      “Hulle …” Ek trek my asem diep in, verby die deegklont in my keel. “Al die vroue is weg. Die Ander het hulle ontvoer.”

      “Wat? Wie’s ontvoer?” vra Nomsa wat uiteindelik uit haar wurm-frenzy gekom het.

      “H’m, ek is nie so seker van daai een nie,” sê Leonardo terwyl hy om hom kyk. “Lyk vir my of hulle nog almal hier is.”

      Ek knip my oë. Sowaar as vet. Die vroue is terug en hulle staan nie meer regop nie, hulle sit. “Dis onmoontlik! Ek sê jou, ek het nou net gesien …”

      Ek bly stil toe ’n gevoel van déjà vu soos ’n nat kombers om my skouers vou. Vroue het al vantevore reg voor my oë verdwyn. Net voor of nadat die Ander hulle probeer ontvoer het.

      Skielik ruik ek seewater en die kruitreuk van weerlig. In my gedagtes is ek terug op die Oosterland, in die middel van die stormsee. Die Ander se woorde weerklink in my ore. “Volgens die Ooreenkoms het ons hulle kom red voor die skip vergaan.”

      Ek sluk en probeer my bes om my bewende binnegoed te ignoreer. “Tara, jy was reg, ons moet die storm stop, anders gaan die Ander dit as verskoning gebruik om die vroue in die vliegtuig te ontvoer.” Ek steek my hande uit na my vriende. “Vat hande en konsentreer op die elemente wat deel van julle Kragte en Magte is.”

      “Genuine? Bloody hell, wat moet ek met grond doen hier bo in die lug?” vra Nomsa.

      Vir ’n oomblik het ek nie ’n antwoord nie. “Uhm … dink aan die aarde se swaartekrag – hou dit laag … swak … whatever.”

      “Met ander woorde, Nomsa,” sê Leonardo, “sorg dat die grond doer onder bly en ons hier bo.” Hy kyk na my. “Right, Kali, go for it.” Onthou, jy’s die sterkste Bewaker ooit, sein hy verder. Jy’s Kali, die godin van oorlog en verwoesting.

      Shitters. As ek so ’n sterk godin is, hoekom bibber my jelliebinnegoed dan so?

      Die oomblik toe ons almal hande vat, is ek weer buite die vliegtuig. Dié keer is die wolke om my ligter, die wind kalmer. Ek kry ook nie so koud nie, want oral op my lyf is vere.

      Vere. Régtig? Nee. Voëls het vere. Ek is nie ’n reusevoël met goue vere wat met elke sterk vlerkslag vorentoe skiet, nader en nader aan die draaiende wolkmassa nie. Ek is nie Chikawa, die arend, wat die kolkende wolke binnegaan en dan teen die wind en reën in beur terwyl blitse om my rank nie.

      Ek is nie …

      Of is ek?

      Die waarheid dat ek en Chikawa één is, tref my soos ’n trein op volle vaart en ek skiet agtertoe terwyl ek deur die reën en wind en pers wolke tol en draai. Ag, jissie tog, ek gaan hier in die orkaan doodgaan en ek gaan hulle nooit weer sien nie. My ma en pa. Kristoffeltjie. Zak. Leonardo. Nomsa en Tara.

      Néé! Ek kan nie sommer opgee nie!

      Eers kry ek dit net reg om op een plek te bly, maar dan begin ek stadig vorentoe beweeg, teen die storm in. Hoe verder ek vorder, hoe stiller word dit om my en hoe makliker beweeg ek vorentoe. Wow, ek vlieg genuine. Soos Supergirl met vlerke. Dis awesome!

      Kali!

      Wat