Die Poort 4: Krygers. Nelia Engelbrecht

Читать онлайн.
Название Die Poort 4: Krygers
Автор произведения Nelia Engelbrecht
Жанр Детская фантастика
Серия Die Poort
Издательство Детская фантастика
Год выпуска 0
isbn 9780624077572



Скачать книгу

herken Giovanni Contarini se grys kop tussen die hotelpersoneel wat voor die hotel staan en armswaaiend opkyk na waar die dak gebrand het. Tussen die punt van die eiland waarop ons staan en die hotel is net ’n smal kanaal. As iemand omkyk …

      Skielik draai oom Giovanni om. Ek tree agteruit toe sy sein my soos ’n vuishou teen die bors tref.

      Nuwelinge! Kom onmiddellik hierheen!

      Die laatmiddag ruik na verbrande dakteëls en die skroeireuk van woede.

      “Shit,” sê Leonardo. “Ons het seker nie ’n keuse nie.”

      Ons drie vat hande en wit mis begin om ons dwarrel.

      “Maybe moet ons net hier bly,” sê ek terwyl ons in die veilige wattewêreld van die Portaal staan.

      “Te laat,” sê Tara toe die mis begin verdwyn.

      Oom Giovanni wag alleen voor die hotel. Jis, ek sweer hy het die hotelpersoneel binnetoe gestuur sodat daar nie ooggetuies is as hy ons vermoor nie.

      Yskoue woede blink in oom Giovanni se swart oë. “Wie het my hotel aan die brand gesteek?” vra hy in Engels.

      “Sorry, Oom, ek …” begin ek.

      “Kali didn’t mean to …” sê Tara.

      “Dit was ’n ongeluk …”

      Ons bly al drie stil toe oom Giovanni sy hand lig. “En die water? Wie se ‘ongeluk’ is dit?”

      Uit die hoek van my oog sien ek hoe mense uit die hotel peul en in die bote wat in die kanaal voor die hotel vasgemeer is, begin klim.

      “Ek het my nuwe Kragte …” sê Leonardo.

      “Leonardo het dit nie aspris …”

      “It was not as if …”

      “Stil!” Oom Giovanni kyk ons omtrent middeldeur. “Ons ontruim die hotel totdat dit veilig is. Tara, jy kom saam. Kali en Leonardo, julle sorg dat daardie fratsgolf verdwyn, en vinnig ook!”

      “Ek bly by hulle,” sê Tara en kyk die kwaai Italianer vierkantig in die oë.

      “My oupa is reg, Tara, dis te gevaarlik,” sê Leonardo sag. “As iets gebeur, sal ek en Kali fine wees – jy nie.”

      “But I want to help …”

      Voor sy klaar gepraat het, storm Nomsa op ons af. “Wat gaan aan? Hoekom moet ons …” Dan sien sy Leonardo se handewerk raak. “Oe-ee! Wat is dit daai?”

      “’n Effense foutjie – niks wat ek nie kan oplos nie,” antwoord Leonardo en kyk na Jason wat skuins agter Nomsa staan. “Vat vir Nomsa saam met jou na een van die bote toe, Jason.”

      “Dit is kwalik ’n ‘foutjie’, Leonardo,” sê oom Giovanni kil voor hy na Adriana en Caleb draai wat ook intussen nadergekom het. “Adriana, sorg dat almal in die bote kom. Capisce?”

      Adriana kyk haar oupa agterna toe hy driftig wegstap. “Wow, neef Lenny, jy beter die probleem fix, anders onterf Oupa jou nog voor sononder, mark my words.”

      “Wow, dude, dis awesome!” Caleb staar vol bewondering na die deining wat amper drie verdiepings hoog bokant die eiland uittroon.

      “Sal julle oukei wees?” vra Tara terwyl sy bekommerd na Leonardo kyk.

      “Of course, jy weet mos ek het kieue in plaas van longe. Kali ook.”

      Kieue in plaas van longe. Régtig? Soort van, ja. Weirdness is after all die storie van my lewe. Ek en Leonardo en Adriana, hulle oupa en twee van hulle ooms kan onder water asemhaal. My eie meerminstatus het ek ontdek toe een van die Ander my ’n ruk gelede in die rotspoel buite Bospoort probeer verdrink het.

      Bospoort. Hart-seer sny soos ’n dun draad deur my. Ek verlang na my pa en my kwaai ma en my liewe Zak wat maybe een van die Ander is, maar maybe ook nie en ek mis my Kristoffeltjie-hond …

      “Kali!”

      Leonardo se stem laat my ruk van die skrik. Oukei. Reality check. Ek is nie in Bospoort nie, ek is op die Venesiese eiland, Poveglia, en ek het nie naastenby ’n clue wat om met Leonardo se “effense foutjie” aan te vang nie.

      3

      “Enige planne?” vra Leonardo terwyl ons op die kant sit van die muur wat skuins uit die see boontoe loop.

      “Nee, en jy, genius?”

      “Ek dink nog.”

      Die gedeelte waarop ons sit, is ’n agthoekige puntjie aan die suidekant van die eiland. Eeue gelede het die Italianers ’n fort hierop gebou om die Groot Lagoon voor Venesië teen invallers te beskerm, maar al wat daarvan oorgebly het, is die mure wat skuins uit die see boontoe loop en die grond bo-op.

      “As ’n golf na vlakker water toe beweeg, begin die onderste deel van die golf stadiger beweeg as die boonste en dan tiep die bokant om en word dit ’n brander wat breek,” begin Mister Wikipedia useless inligting met my deel.

      “So what?”

      “As ons die seebodem reg onder die golf dieper kan maak, gaan die golf hopelik baie kleiner word en nie so woes breek nie.”

      “Sure, want ons het mos onderwater-bulldozers waarmee ons dit gou kan doen.”

      “Laas toe ek gecheck het, het jy ’n sinkgat opgevul. Maybe kan jy weer iets in daai lyn doen.”

      My mond val sommer oop. “Seriously? Jy weet net so goed soos ek dit was ’n vloekskoot – ek wou net keer dat ons twee tot onder in die sinkgat val. Dat dit reggekom het en my ma-hulle se swembad weer van iewers uit die gat opgepop het, was net ’n surprise.”

      “Wel, dan moet jy jouself maar weer surprise … en vinnig ook, want dit lyk vir my of die golf al weer hoër word.”

      Sherbet, hy’s reg. Ek sal iets moet … Voor ek klaar gedink het, verskyn Nomsa en Tara ’n entjie van ons af.

      Leonardo staan op en sit sy hande in sy sye. “En nou? Het ek nie gesê julle twee moet in die bote bly nie?”

      “Hei, moenie MY kop afbyt nie, dis Tara wat ’n bee in haar bonnet het,” sê Nomsa terwyl hulle naderkom.

      “Ek het gesense julle het hulp nodig,” sê Tara. “It has something to do with soil or sand.”

      Leonardo laat sak sy hande. “Jy’s reg.”

      Nomsa se oë word al hoe groter terwyl hy hulle van sy plan vertel. “Oe-ee, as long as I don’t have to dig the holes – al daai wurms en goed in die grond is totally disgusting,” sê sy en skud haar skouers soos sy gril.

      “Sorry, Nomsa, but I sensed that your Powers have something to do with the earth – dit is hoekom jy saam met my moes terugkom,” sê Tara. Dan draai sy na my. “I also had to give you this, Kali.”

      Ek vat die klippie by haar. Dit lyk soos die een wat die Amerikaanse tweeling se ma, tannie Awenasa, so twee dae gelede saam met ’n skulp, ’n veer en ’n stokkie waarvan die een punt verbrand is, vir my gegee het. Simbole van water, wind, vuur en grond. My totemitems, het sy gesê.

      “As mens na die vier elemente kyk, maak dit sin,” sê Leonardo. “Tara kan met wind werk, ek met water en Kali met vuur. Al wat oorbly, is Nomsa en grond.”

      “No bloody ways!” Nomsa kyk na my. “Kali, daar moet ’n ander manier wees.”

      “Dalk kan ek ’n aardbewing veroorsaak wat die golf insluk?” Sowaar. As iets my genuine die hel in maak, kan ek so hard gil dat die aarde bewe.

      Leonardo skud sy kop. “Nee, dit kan meer golwe veroorsaak. Nomsa sal moet help.”

      Die kleur in Nomsa se wange verander van ’n diepbruin espresso na ’n valerige latté. “Weet julle hoeveel kieme en … Hei, waarheen gaan jy?”

      Tara