Helene de Kock Keur 1. Helene de Kock

Читать онлайн.
Название Helene de Kock Keur 1
Автор произведения Helene de Kock
Жанр Эротическая литература
Серия
Издательство Эротическая литература
Год выпуска 0
isbn 9780798176071



Скачать книгу

speel sy huiwerig, byna stokkerig, met niks van die spontane vertolking van netnou nie. Maar gaandeweg kom sy onder die bekoring van lied en stem, en teen die tweede strofe het sy vergeet vir wie sy speel. Sy is ’n goeie begeleidster ook, en haar spel smee saam met sy sang, ’n voordrag wat weinig kritiek op ’n konsertverhoog sou uitlok.

      Toe dit klaar is, lag sy effens uitasem op in sy gesig. Weg is haar skuheid, haar raak-my-nie-aan-houding.

      “Dit was eenvoudig heerlik! Ek het natuurlik geweet jy sing mooi. Maar dis veel meer as dit! Ek is nou lus om jou te vra waarom jy dokter geword het?” sê sy opreg.

      Dai lag en steek sy hande in sy sakke, gaan sit op die hoepelbeenstoel vlak langs haar.

      “Nee wat, jong, ek sien myself darem nou nie op die operaverhoog nie! Ek sing maar sommerso vir myself en vir my vriende . . . veral my vriendinne . . .!”

      Dis asof daar ’n deur toeklap tussen hulle, asof hy meteens heeltemal alleen in die vertrek is. Sy staan op, neem die wit mussie en reik na die leerskouersak wat sy altyd by haar dra.

      “Ek moet nou gaan. Dit was voorbarig van my om so te sit en speel. Ek het gedink jy sal eers gaan eet, dokter. Eintlik . . . wou ek net hoor of die klank regtig so goed is as wat dit in Christie’s geklink het . . .”

      “Christie’s . . .?” vra hy afwesig terwyl hy sukkel om te probeer peil wát haar op loop gejaag het.

      “Ja, hulle het mos elke dag ’n veiling,” sê sy meer bedaard. “Ek het gehoor ’n mens kon vandag op ’n Niendorf-vleuelklavier bie. Gistermiddag het ek na die voorskou gaan kyk en geluister. Ek het mevrou Thatcher gevra om te gaan bie . . .” Sy vou haar hande bedees voor haar en swaai een slanke enkel voor die ander. “Ek . . . ek is bevrees ek het . . . e . . . jý het byna tweeduisend pond daarvoor betaal . . . Eintlik was jy baie gelukkig, daar kon nie baie belangstellendes gewees het nie, want só ’n klavier . . .! En jy hét gesê jy wil ’n goeie een hê . . .” Haar oë is groot en bekommerd in die smal gesig.

      Dit word week en warm om Dai se hart, ’n milde gevoel wat hom byna vaderlik laat voel.

      “Sit, Sylvia,” sê hy sag.

      Sy stoot die klavierstoeltjie in en gaan sit stywerig op ’n fyn tweesitplekbankie. Dai leun agteroor, strek sy lang lyf gewaag op die brose langbeenstoeltjie en kyk dak toe.

      “Suster Saunders, hoekom ontspan jy nie? Ek gee jou my woord as gebore en geswore Afrikaner dat ek nie besig is om jou die hof te maak nie! Maar ons is mos vriende, is ons nie?” Toe eers kyk hy weer na haar.

      Sy sit stom, haar hele houding boogsnaar gespanne. En haar oë ontwyk hom.

      Eienaardig, dink Dai, hoeveel emosie daar in so ’n oënskynlik kalm mens kan skuil. Want dat die emosie daar is, weet hy intuïtief.

      “Sylvia . . .?”

      “Dokter Deetlefs, ek hou nie van . . .”

      “Wie’t gepraat van familiariteite?” val Dai haar ergerlik in die rede. “Dis ’n lamlendige ou argument! Ons is nie altyd op diens nie! En wanneer ek van diens af is, Sylvia, het ek iemand soos jý nodig. Iemand wat vriendskap vooropstel, wat tog nie op loop gaan nie . . .” Hy bly verskrik stil. Wat makeer hom om so te tier? Hy, Daïrus Deetlefs, wat so hoflik is dat hy nie eens sy eie ma kan berispe nie! En hy pleit: “Daar is mos . . . e . . . kameraadskap tussen ons, is daar nie, Sylvia . . .?”

      Sy knik, stryk die wit mussie plat tussen haar vingers.

      “Ja, natuurlik, dis net . . .”

      “Dat jy bang is . . .” vul Dai sag aan. Hy sit vooroor, stut sy elmboë op sy knieë en laat sy ken op sy saamgeklampte hande sak. Hy sien dat sy bleek is; tot haar wange is wit, en ’n fyn blou aartjie loop langs haar slaap. Sy lig haar kop en kyk hom in die oë. Dai se hart draai binne-in hom. Vreemd, dink hy, haar oë is werklik viooltjiekleurig, ’n fluweelpers wat ’n mens die indruk laat kry dat jy al dieper en dieper kan kyk . . .

      “Luister na my,” sê hy meteens bruusk. “Ons ken mekaar mos nie van vandag af nie! Ek weet weliswaar nie veel van jou nie . . . en hoe die seerkry gekom het nie . . . maar onthou jy die dag toe ek en Charles-Henry en die ander gaan roei het op die Teems? Jy en suster Stevens en nog twee ander het op die oewer vir ons gesit en skree . . .”

      Sy glimlag fyntjies en daar kom ’n sagte kleur op haar wange.

      “Hm, en het ons nie geskree nie! Julle het teen Guy’s se huisdokters geroei, en dit was ondenkbaar dat julle moet verloor . . .”

      “Moenie my sê dis ál wat jy van daardie dag onthou nie, Sylvia!”

      Skielik is dit asof sy ontspan. Haar skouers verloor hul styfheid, en sy vee haar uniform glad oor haar bene toe sy hulle voor haar uitstrek, enkels gekruis.

      “Nee, Dai, natuurlik nie. Ons twee het op die een of ander manier daardie dag bymekaar uitgekom en begin gesels. Gaan stap ook. Toe ons weer by die piekniekplek kom, was die ander al weg.” Sy lag skielik spontaan, haar breë wittandlaggie, gooi haar kop terug en druk haar hande teen mekaar – ’n outydse gebaar wat Dai vreemd bekoor. “Ons het myle ver geloop om weer by die hospitaal uit te kom. En jy het my gehelp om by my kamervenster in te klim! Weet jy ooit dat ek lelik geroskam is daaroor? Matrone Barrie het my gesien . . .”

      “Nooit!” veins Dai met groot oë, en hy dink: Heksekind! Jy maak verniet asof jy vergeet het ek wou jou soen onder die elmboom voor dieselfde venster! Jy het onder my arm deur geduik en byna deur die ruit gevlieg, laat staan nog die venster! Ek was nogal gekrenk, maar nou weet ek dat ek by dit alles blind was ook!

      Hy staan skielik op, steek sy hande in sy sakke en frons effens.

      “Dit was kort voor die eindeksamen, nè?”

      Sy knik.

      “Daarna het ek jou ’n paar maal uitgeneem,” sê Dai asof hy met homself praat. “Een keer na Charles-Henry se partytjie by Hepley Manor, na ’n dans of twee, en een keer na ’n Shakespeare-opvoering . . .”

      “The Two Gentlemen of Verona,” sê sy met ’n fyn-fyn laggie in haar pers oë. “En jy het my gevra omdat die lied ‘Who is Sylvia?’ daarin voorkom, want jy was nie bra seker wie jy wou vra nie! In elk geval, jy was in ’n taamlik afwesige bui daardie aand. Ek kan nie onthou of jy elf of twaalf woorde met my gepraat het nie. Maar dit het my nie gehinder nie – ek ken mos julle dokters so voor ’n groot eksamen!”

      “Ja . . . dit was kort voor die eksamen,” herhaal Dai lammerig.

      “Drie dae, om presies te wees . . .”

      “Werklik? Ek moet van lotjie getik gewees het! Ons was nogal Stratford-on-Avon toe vir die okkasie!”

      “Ag wel, jy het die afleiding nodig gehad, en toe jy nie weet wie om saam te vra nie, toe val dit jou by dat ‘Who is Sylvia’ maar net sowel Sylvia Saunders kan wees!”

      Dai sit doodstil na die matpatroon en kyk.

      “Sjoe!” sê hy uiteindelik. “Dit noem ek nou uitvreet met grasie!”

      “Hoegenaamd nie! Dis net om jou te wys dat ek net so eerlik is soos jy! Dis maar net dat ek nooit dink dat mense se doen en late noodwendig swaargelaai is aan betekenis nie!”

      Dai tik op sy sakke op soek na ’n sigaret. Hy steek een tydsaam op en teug diep, vryf ingedagte oor sy agterkop.

      “Wat ek die meeste van jou waardeer, Sylvia,” sê hy, “is dat jy nie dom is nie!”

      Voordat sy nog kan reageer, verander hy die onderwerp:

      “En wat die klavier betref, ek is jou baie dankbaar, soos trouens met alles wat jy hier vermag het. Ek hét jou mos ’n vry hand gegee, en dis werklik ’n redelike prys vir ’n Niendorf-vleuel. Hy het ’n lieflike klank . . . vol en diep . . .”

      “Dan is ek bly,” sê sy en staan op. “Sê my, moet jy nie maar ’n rukkie wag met die twee slaapkamers nie? Dit gaan ook . . . heelwat