Название | Hanna |
---|---|
Автор произведения | Maretha Maartens |
Жанр | Религия: прочее |
Серия | |
Издательство | Религия: прочее |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780796319678 |
God het geswyg – vir jare. Wag sy op ’n gedagte wat dalk van Hom sou kon kom, hoor sy niks anders as leë stilte nie. Prys sy Hom oor ’n reënboog wat van heuweltop tot heuweltop span, tref Hy ’n rots vlakby haar met ’n weerligstraal.
Toe sy Hom oplaas vra om haar straf te herroep, het Hy haar ’n swaarder vonnis opgelê. Daardie nag in die kliphuis toe Elkana sy besluit in ’n fluisterstem aan haar meedeel, kon sy die jakkalse naby die bokke se kraal hoor blaf.
HOOFSTUK 6
Hoe min jy ook al verstaan, hoe intens jy ook al daarna smag om te verstaan, sekere dinge weet jy voordat jy hulle verstaan, het Hanna dikwels in haar enigheid gedink. Jy weet veral dat sekere dinge nie vanself of deur jou toedoen gebeur nie.
Grond spoel vanself weg wanneer dit die jaar te veel reën. Ná die stortreën wat druisende bruisende watervalletjies in die rante veroorsaak, staan jy sonder gewetenswroeging of sielsnood na die slote in die lappies saaigrond en kyk. Ja, jong plante en saad is saam met die waterstrome bergaf, vlaktes toe. Skade gebeur. Vloedwaters kom en gaan. Jy gaan bekyk die slote, steek jou hande uit die mou, kry die saaigrond weer gelyk en sit nuwe saad in die grond. Die Here het gegee, die Here het geneem – prys sy heilige Naam.
Kruike val op die vloer en breek aan skerwe omdat iemand gewoon lomp of onverskillig was. Dan klap jy jou tong of stel die een wat die voorwerp laat val het, gerus: “Dit is wêreldsgoed. Moenie dat dit jou dag bederf nie.”
As dit jy was wat lomp was, neem jy jou voor om volgende keer versigtiger te wees. Weer en weer gebeur dit dat jy nie kyk wat jy doen nie, maar nooit lê jy snags en tob oor die oomblik toe jy die kruik hoor val het nie.
Sy het geweet dat haar familie se wegtrek uit die Efraimsberge anders as vloedwaterslote en die breek van ’n kruik was. Dit het nie vanself gebeur dat haar twee oudste broers ’n jaar of twee ná haar en Elkana se troue grond gaan koop het naby Gibea, vlakby die grens van Efraim en enkele klipgooie van die grondgebied van Benjamin af nie. Dit was ’n beskikking of ’n besluit van die Here. Dat haar broers haar pa toe oorreed het om hom ook daar te kom vestig, het die lewe vir haar makliker gemaak. En moeiliker, onrustiger.
Sy het snags daaroor rondgerol en Elkana uit sy slaap geïrriteer.
“Wat pla, Hanna?”
“Die muskiete,” sou sy sê. En dit was waar. Dit was asof daar ná elke reënbui groter en meer geslepe muskietswerms op hulle toegeslaan het. Hulle het in die donkerste hoeke van die huis geskuil waar geen wind kom nie. As sy soggens die deur oopmaak, wolk hulle by die huis in. Soos bokke wat storm om by die water te kom, het die insekte by die huis ingestorm om by die bloed van die huisbewoners uit te kom.
Soms wanneer hy dit nie meer met haar kon uithou nie, het Elkana vaakdronk opgestaan om die flessie met die oliemengsel van tiemie5 en kaneel wat hy as muskietweerder aangemaak het, van die rak te gaan haal.
“Smeer aan, Hanna.” Geduldig wag hy met sy hare wild en sy skouers moeg. Halfpad terug rak toe, steek hy vas: “Of wil jy die smeergoed by jou hou? Partykeer help dit om te weet daar is ten minste iets byderhand.”
Die mengsel het haar nie laat slaap nie, maar die reuk van kruie en speserye aan haar lyf was soos ’n waarskuwing vir die res van die nag: “Lê tog net stil!”
Moes sy El Yisra’el vir haar pa en broers se wegtrek loof en dank, of was dié skuif waardeur haar ma vir alle praktiese doeleindes uit haar lewe geruk is, ’n verswaring van die straf wat Hy haar opgelê het?
As sy maar net op Elkana se wysheid en insigte kon terugval … Maar sy kon nie. Sy durf nie. Teenoor hóm het sy maar net die regte geluide oor die wending in haar familielewe en die voor die hand liggende verliese in haar eie bestaan gemaak.
“Ek sal my ma mis,” het sy vir Elkana gesê. “Sy sal my ook mis. Ons is na aan mekaar met dié dat ek haar enigste dogter is.”
Bolangs het sy oor die wending gepraat, maar net bolangs. In die derde nagwaak, wanneer enige regdenkende vrou haar man met rus laat om sy krag vir die volgende dag se geswoeg en gesweet te herwin, het alles waarmee sy nie vir Elkana kon belas nie, onkeerbaar na die oppervlakte gekom.
Niks is erger as om wakker te wees terwyl die derde nagwaak6 verbysleep en jou liggaam kragteloos pleit om te kan rus nie.
Bedags het Elkana, slegs bolangs bewus, haar verseker hy kry haar jammer. “Ai, die oorstap na jou ma het jou nog altyd so goed gedoen.” En soms het hy bygevoeg: “Maar moenie dink dit is net jy en jou ma wat mekaar gaan mis nie. Jou broers se kinders is gek na jou, Hanna.”
“En ek na hulle, die wilde goed.”
“Pasop wat jy sê,” het Elkana dan skielik gegrinnik. “Wanneer ons ons eie wilde wesentjies het, gaan jou broers se kinders vir jou soos mak skape lyk.”
“Ek sal hulle nie kan vergelyk nie. My broers se kinders is uit ons lewe. Ek dink nie my broers gaan ooit terugkom nie. Hul grond is dan verkoop.”
Snags wanneer Elkana slaap en bedags by die wasklippe was dit asof twee strydende faksies in haar baklei. Wat is belangriker? Die grootste moontlike afstand tussen jou pa en jou man, of om jou ma naby jou te hê? Om met die voetpad langs na haar te kan stap, om weer en weer by haar te sit wanneer die bloedvloeiing jou platslaan en jou hoop vernietig, Hanna?
Wat is beter? Dat die eer van jou vader en jou broers nie in die gedrang sal kom nie of om keer op keer deur jou ma vertroos te word met gedroogte vye en dadels, met rosyne, huiswyn en saambid? Om diep in die winter met ’n kommetjie stomende lensiesop in jou ma se warmte en begrip te kan sit? Om elke keer by haar te kan hoor El Yisra’el is betroubaar en dat sy gedagtes nie die mens se gedagtes is nie? Om haar vir jou te hoor bid met haar stem so rou soos jou eie hart?
Wat doen die Here regtig? Verskuif Hy my pa en my broers sodat die behoefte in my om alles vir Elkana te vertel, kan weggaan? Sodat my man met agting van sy skoonpa kan bly praat? Sodat Elkana nie soos ek sal word nie – ’n Israeliet wie se lamp sekerlik in die pikdonker sal doodgaan. Of het dit reeds doodgegaan?
Het die Here dié wegtrek tot my beswil laat gebeur? Maak Hy my dae helderder sonder my pa? Of is Hy besig om my lewe en my ure donkerder te maak deur die afstand tussen my en my ma so te vergroot? Was my ouma se dood nie genoeg nie?
’n Paar maande voordat haar ouers weggetrek het, het die tyding een oggend vroeg gekom: Jou ouma Seruja het vannag in haar slaap gesterf.
Sy het haar ma die ou liggaam help was en onrein geword. Later het haar ma hulle albei rein geskrop in reinigingswater met die as van ’n rooi koei daarin. Sy was geskok oor wat die ouderdom aan mense doen. Hoe los haar ouma se vel en weefsel geword het. Hoe elke been onder die los vlees uitkenbaar en voelbaar word. Hoe min daar van ’n mens oorbly, maar hoe swaar ’n lyk ten spyte hiervan is. Hoe klipkoud die oë en die kyk van dooies is – ook dié van jou ouma met haar beenwit hare, haar skewe heup, haar wysheid en haar erns, haar kommer en haar diep geloof. Hoe stof tot stof terugkeer. Of nie …
Henog, het ouma Seruja ’n paar keer gesê, het baie na aan Elohim geleef, asof Elohim sy vriend was. En toe hy sy lewensdae op hierdie aarde geleef het, het die mense na hom gesoek, maar hy was daar nie meer nie. Sy plek was leeg, sy kinders en sy hele nageslag het vergeefs na hom gesoek. Daar was geen bloedspoor en geen voetspore nie. Hy is nie deur roofdiere verskeur of deur mense na ’n ander plek geneem nie. Elohim het hom weggeneem na waar Hy is.
Elohim is in die hemel, het ouma Seruja gesê. En soos Henog gaan dié wat Hom eer en aanbid, wat sy wil doen en op Hom alleen vertrou, ook daarheen.
“Hoe kom ons daar, Ouma?”
“Ek weet nie, Hanna, maar die Here weet. Niks is vir Hom onmoontlik nie.”
Sy,