Tiendes van silwer. Helene de Kock

Читать онлайн.
Название Tiendes van silwer
Автор произведения Helene de Kock
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798168588



Скачать книгу

In die plek daarvan het hy net een groot kruisie gemaak.

      Hy stap vinniger. Dis of sy gedagtes hom jaag tot binne-in die groot tuine tussen die natbleek standbeelde van konings en kunstenaars. Digby is die grys kolos van die Louvre en verder weg kan hy die vuilbruin spits van die Eiffeltoring sien. ’n Swermpie mossies naby ’n klein dammetjie sketter verskrik weg toe hy nader kom. Daar is nog ’n vars oggendstilte in die park.

      Hy gaan sit op ’n verlate bankie onder ’n ry kaal swart eike. Sy blik gly oor die naakte standbeelde van Griekse godinne, volg afwesig die helderrooi sweetpak van ’n flukse drawwer wat girts-girts op dik sole verbygaan. Toe eers laat hy sy kop toe om die gedagtes een vir een uit te pak. Dáárvoor het hy nog maar min kans gekry vandat hy en Surita twee weke gelede by haar familie – die Druets – aangekom het.

      Hy sug swaar, maar dis tog of ’n fyn, soet tinteling deur hom trek. Surita . . . Die mees lieftallige meisie wat hy ken. En loshande die mooiste. Die lang blonde hare, vol van die geur van rose. Die blouselblou oë wat ’n man met skerp kritiese intelligensie kan betrag, net om oomblikke later die kyk van ’n volbloednimf te dra. Surita Otto wat skromeloos onskuldig haar sagte, soepel lyf uitbundig teen hom aandruk en haar mond vir hom gee met ’n oorgawe wat baie belofte inhou. En tog vee hy wat Pietman is die liefdewoord uit op daardie briefie en sit ’n kruisie, ’n terloopse soentjie, in die plek daarvan! Hy verstaan homself nie.

      Aan die ander kant: Surita het baie fasette. Juis dít prikkel hom. Maar dit maak hom ook onrustig. Sy het ’n magnetisme wat hom voluit vir hierdie verhouding wil laat gaan, maar hy rem weg asof hy erns op ’n afstand wil hou. En hy dink hom dood aan die verhouding. Sy brein werk oortyd – want een plus een het in dié geval allerlei moeilike moontlikhede.

      Só maak hy somme – tel op en trek af, maar die boeke wil nie klop nie. Daar is iets wat weg is. ’n Eenvoudige gegewe soos ’n sent of twee wat die kasregister kan deurmekaar maak. En hy kan om die dood nie sy vinger daarop lê nie. Die afgelope jaar al pla dit hom; krap soos ’n allergie van duister oorsprong in sy binneste.

      Hy druk sy bevrore hande in sy baadjiesakke en stap stadig aan om by die voetstuk van ’n standbeeld te huiwer. Hy staar boontoe na die vaalgroen, veryste gesig van die skrywer Baudelaire. En hy dink aan gister toe hy en Surita ook hier kom stap het. Die wind was onguur, het gepluk aan haar hare en jas. Hy het geril en luidkeels die slegte weer verwens. Sy het laggend haar geelblonde kapsel vir die wind gegooi.

      “Dis omdat jy nie verstaan nie!” het sy gesê. “Die wind kan nie anders nie. Hy moet oor Frankryk waai.”

      “Hoe so?” wou hy half oorbluf weet.

      Sy het haar handpalms teen sy wange gedruk en haar mooi mond getuit. “Sies tog, jy’t nooit Aardrykskunde geswot nie,” het sy gepruil. “Weet jy dan nie dat daar geen bergreekse tussen Parys en die Noordpool is nie? Daar’s niks wat die wind keer nie. Die wind trek sy asem daar bo by die pool in en blaas alles tot aan die Alpe en die Pireneë plat. En . . . hy gaan my wegwaai as jou sterk lyf my nie verskans nie!”

      Onweerstaanbaar! Haar lippe was halfoop en haar geurige hare het om sy kop gefladder. Hy het haar vasgegryp en die wind se stormwoede het sy bloed in golwe deur sy lyf gejaag. Haar warm mond en bewende liggaam het sy wil en wete laat vermurwe totdat hy self soos ’n sneeuvlokkie wou wegdwarrel. As sy tóé gesê het sy wil met hom trou, sou hy ingestem het, sy kop geknik het soos ’n marionet aan toutjies.

      Hy swaai hom om en stap weg, deur die smeedysterhekke wat op die Place de la Concorde uitgaan tot op die plein waar die verkeer kolk en maal asof daar skielik ’n karnaval geopen het. Hy druk deur die haastige mense, wens opeens dat hy iewers kan wees waar dit doodstil is.

      Hy loop terug na die Louvre, aarsel en koop toe tog maar ’n kaartjie. Al drentelend loop hy, raak gaandeweg los van homself tussen die soms pynlik mooie kunswerke. Hy vergaap hom weer aan Da Vinci se Mona Lisa, Veronese se asemrowende Huwelik in Kana en kunswerke van Titiaan en Botticelli – totdat die een wonderbaarlike indruk in die ander vervloei en hy vermoeid eenkant gaan sit.

      So was dit gister ook.

      Want Surita het haar met ’n snak van haar asem uit sy arms losgemaak en ’n diep teug koue lug ingetrek. “Kom ons loop liewer, Pietman de Waal!”

      Hy het na haar bloesende gesig gekyk en wrang geglimlag, haar hand gevat. Hulle het die beskutting van die kolossale museum opgesoek en ure lank deur die sale gedwaal totdat hy later moeg gekyk was.

      “Wanneer eet ons ’n hamburger?” het hy lui gevra.

      Sy het haar kop geskud. “O nee, De Waal! Jy kan nie hier uitgaan sonder dat jy Monet se Waterlelies gesien het nie!”

      “Maar ek hét al,” het hy flou geprotesteer. “My ma het my eenkeer kom wys, maar toe was dit somer en dit was so warm dat ek oor roomys gekerm het . . .” Maar Surita het haar vingers oor sy mond gevou.

      “Stil, hoor. Buitendien jok jy. Die Orangerie het ’n spesiale uitstalling van die Impressioniste dié maand. Dis ’n klein museum net agter die Jeu de Paume en ook deel van die Louvre. Oom François sê ons móét net na Monet se Waterlelies gaan kyk! Toe, kóm nou!”

      Maar hy was nie lus nie. Surita se oë het geblink van opwinding; haar wange rooi. En hy het ’n jongmanswens gewens: dat hulle alleen op ’n eiland mag wees en dat nugter verantwoordelikheid net ’n hersenskim moet word. Hy het ook gewens dat Surita se oom François en tante Yvonne Druet nie so ’n rigiede program aan hulle wou opdwing nie. Elke liewe dag is daar iets om te doen, iets om te sien, iets om te eet, te drink, te koop en les bes, iets om te bepeins. Intellektueel is hy wraggies versadig. Heeltemal dik. Dis min of meer wat hy toe gesê het ook: “Luister, Surita, kom ons loop sommer net die strate plat. Dan koop ons tonne tjoklits en eet dit op sonder dat jou oom en tannie daarvan weet.”

      Sy het hom half uit die veld geslaan beskou, toe net gelag. “Jou baar ding!” het sy speels en effens gedemp uitgeroep. “’n Mens sou nooit kon raai dat jy so ’n geslypte man is nie!”

      “Hoe bedoel jy?” wou hy opreg verbaas weet.

      Sy het haar skouers teruggetrek, haar ken uitgestoot. “Pietman,” het sy sag gesê, “’n mens moet jou hou by die vorm waarin jy gegiet is. En ek en jy is baie dieselfde. Ons is die bevoorregtes van die samelewing. Goeie agtergrond; baie geld. Goeie geleerdheid; baie geleenthede. Volg jy wat ek sê?”

      “Nee,” het hy eerlik geantwoord, en die subtiele gekrap-krap het weer in sy binneste begin. Wat foeter sy met sulke ingewikkelde dinge? Hy het hoeka ’n hekel aan mense wat eenvoudige goed wil opsmuk sodat dit verwikkeld moet lyk. Ouens wat probleme wil aanspreek en ondervang, pleks daarvan om dit te pak en op te los.

      Op daardie oomblik het die sensuele genot van so flus skoon verdamp. Hy was sommer die joos in. “Kyk, Surita, ek is bevoorreg, maar ek is ’n man, nie ’n pop nie. Kunsmatigheid maak my naar. Buitendien, te veel klem op verfyning bring dalk spookasem voort, pleks van ’n lekker taai toffie.”

      “Dis nou vrotsige simboliek!” het sy ergerlik laat val.

      Hy het gesug, haar paaiend aan die skouers gevat. “Ag, Surita, al wat ek bedoel, is dat ons gewoonweg net moet lééf! Dinge geniet sonder om alewig vooraf met statistiese presisie die voor- en nadele op te weeg!” Hy het haar mond in protes sien oopgaan en haastig beduie: “Eenkeer toe ons in Engeland was, het ek en my ma op ’n trein geklim sonder dat ons geweet het waarheen dit gaan. Dit was wonderlik opwindend om die vreemde stasies te sien verbyskuif en uiteindelik te besef dat ons op pad is Oxford toe! Die hele dag was propvol verrassings, want ek en my ma het elke oomblik soos ’n pakkie oopgemaak. Dit . . . dit was baie lekker,” het hy lammerig afgesluit toe sy nog nie juis geesdrif toon nie. Hy moes tóé al geweet het dat hy ’n fundamentele fout begaan het.

      “Pietman,” het sy gesê, “jy is besig om my met jou ma te vergelyk.” Hy wou stry, maar sy het haar vingers dwars oor sy lippe gesit. “Nee, luister goed. Ek het respek vir jou verlede. Maar dis nou verby. Net wat ek en jy ervaar, het betekenis. En ek doen nie dinge op die ingewing van die oomblik nie. Alles in my lewe is georganiseerd. Dis tog seker nie so onaanvaarbaar nie, is dit?”