Название | Abel se dogters |
---|---|
Автор произведения | Helene de Kock |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798168090 |
“Dis die waarheid,” mompel Nomsa vakerig. “Daai ou van Mopani moet nog net sy tent op Asterhof se grasperkie opslaan, dan bly hy ook daar.”
Adelien se keel trek toe. Almal weet Dirk Joubert is moeilikheid en Bernadette behoort dit ook te weet. Watse doepa dra die man dat meisies so val vir hom? Maar eintlik weet sy. Hy’s aantreklik en gevat, sjarmant as dit hom pas. En net so effentjies roekeloos. Die tipe wat ’n weddenskap nie misloop nie. Soos die keer toe hy die Ou Letteregebou se dak in sy rooi Speedo en ’n bofbalpet uitgeklim en toe heeldag daar in die son gesit het. Hy moes glo bly sit tot donker toe voordat die joolkoningin sou inwillig om met hom uit te gaan. Adelien het gedink dis infantiel, om die minste daarvan te sê. Selfs ’n simpel student behoort twee maal te dink voor hy sy lyf só onder die Pretoriase somerson ontbloot. Maar Bernadette, die joolkoningin, het gedink dis snaaks. Of ten minste ’n bewys dat dié donkerkop mediese student vrek graag met haar wou uitgaan. Wanneer, wonder Adelien en trap onwillekeurig die petrol weg, gaan Bernadette eendag grootword?
Asof dit nie reeds erg genoeg is dat Christelle op die dorp so sonder haar ouer susters se vormende invloed in die koshuis moet bly nie. Dis bekommernis op bekommernis.
En dan is daar Henk.
Adelien skud haar kop dat die asblonde hare in haar nek swiep. Genoeg. Nou gaan sy vir ’n rukkie van hom vergeet. Maar die gedagte het nog nie mooi versink nie, of sy dink aan hom: Groot en koringblond, ’n hele kop langer as sy en daardie kobaltblou oë onder die opstaankuif. Glad nie die stereotipiese beeld van ’n professor nie.
Sy loer skigtig na Nomsa se kant toe, maar dié slaap oopmond soos ’n baba. En die pad is nog lank. Kan maar net sowel die tyd gebruik om haar eie kop agtermekaar te kry, dink Adelien. Want daar’s feite wat nie geïgnoreer kan word nie. Professor Henk Verwey hou nie van gras onder sy voete nie. Want vandat sy wat Adelien is ’n aanstelling as dosent in die Sielkundedepartement gekry het, is hy met mening agter haar bloed aan. Hy het onverwags met ’n bossie karmosynrooi angeliere in haar nuwe kantoor opgedaag. Kamma net om haar welkom te heet. ’n Paar dae daarna het hy by haar woonstel naby Hatfield Plein kom inloer met ’n flou verskoninkie: “Ek was net hier onder om fotostate te laat maak, toe dink ek daaraan om ’n koppie koffie by News Café te gaan drink. Maar dis darem so aardig om dit alleen te doen.”
Dit was ’n Saterdagoggend en sy het blou jeans en ’n wit katoentoppie aangehad. Haar hare nog klam van die stort. Sy wou protesteer, maar Henk het dit nie toegelaat nie. Haar woorde netjies toegevou met sy spontane glimlag: “Só ’n oggend moet gevier word, juffrou Buitendag. Dis herfs en die wêreld is vol goud en koper en …”
“Ja, toemaar,” het sy haastig gekeer, altyd effens sku vir die vertoon van emosie. Selfs al word dit net spottend gedoen, soos toe. Want sy het net ’n truitjie gegryp, haar hare met ’n kam agter haar kop vasgeknyp en saamgegaan. Wonder bo wonder het hulle lekker gesels. En meer as koffie geniet. Van die kontinentale straatkafee se lekker feta-en-spinasie-konkoksies geëet tot sy nie meer kon nie. Toe hulle die laaste cappuccino afsluk, het sy verskonend gebieg: “Ek eet nooit soveel nie, hoor!”
“Hopelik, want anders gaan dit my bankrot maak,” het hy sedig geantwoord. Sy het verleë na hom gekyk en hy het vorentoe geleun oor die tafeltjie met sy blou teëltjies en liggies met sy voorvinger op haar neus getik. “Ontspan, Adelien Buitendag. Die lewe is nie heeltemal só ’n stroewe proses nie!”
Maar die atmosfeer tussen hulle was meteens gedemp, of nee, dit was skielik asof die lugtigheid, die soepel geskerts gekondenseer het tot gewigtige woorde. Sy het haar asem ingetrek voordat sy egalig gesê het: “Luister Henk, ons het ons so pas wel aan die tendens van die klein vergrypie skuldig gemaak, maar …”
“Wat?” proeslag hy. “Hoe?”
“Ja, so staan dit mos in die toekomskundige Faith Popcorn se verslag. Sy sê mos die mens maak hom skuldig aan allerlei klein vergrypies omdat hy reken hy verdien dit. Jy’t gereken ons verdien spinasiepannekoeke en ryk koffie omdat … wel, omdat …” sy tas ’n oomblik na woorde en hy vat die gaping.
“Omdat ’n man darem verdien om ’n mooi meisie uit te neem. Of is dit nou weer, Calvinisties gesien, ’n te erge genieting? Sê my, het daai Popcorn-vrou dit ook teen genot, of wat?”
Sy blou oë was warm en ligweg ergerlik sodat sy vervaard probeer verduidelik het. “Nee, ek bedoel … jy sien, in dié verslag bespreek sy toekomstendense en party van hulle word nou al waar. Soos dat mense toenemend saamhok vir veiligheid, ek meen as mens nou na al die veiligheidsdorpies kyk en …”
Hy het meteens die fladdering van haar hande vasgevat. “Adelien, ek terg jou net. Jy hoef niks te verduidelik nie. Wat jy sê, is interessant.”
Sy was nog senuagtig. “Ek … ek is nie daaraan gewoond om klein geselsies te maak nie, Henk. Dis nie eintlik in my aard nie. Dis ’n fout, ek weet.”
“Watse fout?” het hy haar in die rede geval. “My liewe mens, daar is nie fout met jou nie! Waar kom jy daaraan?”
“Lang storie,” het sy gesug. “Van die soort wat te vervelig is om oor te vertel.”
“Waarom?”
Skielik het haar woorde glad gekom: “Omdat dit niks dramaties is nie. Ek is maar soos wat ek is omdat ons Buitendags eintlik ietwat sukkelend leef. Miskien stam dit uit ons … nee, uit my onvermoë om spontaan uit te reik.”
“Dis dan wat jy nou doen,” het hy sag gesê en haar hande laat los.
Sy het haar asem diep ingetrek en haar kop geskud. “Jy maak my deurmekaar, Henk. En … ek is nie goed met selfontleding nie.”
“Jy sê negatiewe dinge oor jouself. En dis ongegrond.”
Sy het met ’n flits van openbaring besef dat hy die waarheid praat. Maar sy was nie lus om verder te delf nie. “Baie dankie vir die ete. Dit was baie lekker.”
“O, dit was ’n buitengewone ervaring, juffrou Buitendag.”
Sy wou-wou dink hy spot. Maar sy oë was diep van erns. Toe het hy skielik weer geglimlag: “Kom, ek moet nog ’n vraestel gaan opstel en my ma gaan besoek.”
“Jou ma?”
“Ek het een, ja. In ’n meenthuis in Fairy Glen.”
“’n Meenthuis?” Sy kon haar tong afbyt.
Sy mondhoeke het geamuseerd getrek. “’n Meenthuis met twee parkiete en ’n kat ook. Sy hekel en brei en kyk sepies. En bak vir my beskuit. Sulke dikkes met karringmelk en vol semels en sultanas. Partykeer okkerneute ook.”
Haar mond het effentjies oopgesak en sy het onwillekeurig gesug: “Dit klink wonderlik.”
Hy het teruggeleun in die stoel en die kelner weer nader gewink. “Twee koppies rooibostee, asseblief.”
“Nee, ek kan onmoontlik nie …”
“Natuurlik kan jy,” het hy sag gekeer. “Rooibos is gesond vir die spysvertering en dit laat woorde makliker vloei ook.”
“Jy spot.”
“Glad nie. Maar ons raak nou diep dinge aan. Jou oë kyk ver as ek van my ma praat … Vertel my van jou eie ma.”
Hy is ’n gesoute sielkundige, het sy meteens weer besef. Iemand wat weet hoe om met én sonder rooibos woorde te laat vloei. Maar hy was so onverbloemd belangstellend dat sy opeens ’n knop in die keel gevoel het, skielik weer onwillig om te loop. “Sy … is nie meer daar nie,” het sy gefluister.
Hy het sy hand oor die tafel gestoot en hare vasgevat. Dit was die laaste strooi. Sy het na sy sterk vingers gekyk en onverhoeds warm trane voel opstoot. Vervaard gesluk. “Ek … ag, kyk nou net … Dis … buitendien al lank gelede. Net soms vang dit ’n mens onkant.”
“Vertel my.”
En sy het. Alles. Tot haar verstomming het die woorde weer maklik gerol. Dit was of haar