Ena Murray Keur 1. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Ena Murray Keur 1
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624068105



Скачать книгу

jy dit nie vir hom hier gee nie?” wil sy weet.

      “Ja . . . a . . .” laat Johnson onwillig hoor. “Maar ek sal verkies dat hy in ’n behoorlike hospitaal onder professionele sorg opgeneem word. Ek kan nie hier bly nie. Ek het my ander werk.”

      “Ja, en dan sal dit ook vreemd voorkom as die man so ernstig is dat hy al bloedoortappings moet kry en nog nie in ’n hospitaal opgeneem word nie,” wys die argeoloog uit en Johnson knik.

      “Presies. Dickens veral is al beslis agterdogtig. Hy het my vanoggend gevra wat sy vriend makeer en ek het nie geweet wat om te antwoord nie. Ek het ’n soort verduideliking gegee, maar ek kon in sy oë lees dat hy nie gerus voel nie. Hy het reeds genoem dat dit miskien beter sal wees as hulle maar teruggaan, of dan net nader na ’n dorp waar ’n dokter byderhand is. Ek het toe maar gesê ons sal môre kyk hoe dit gaan, en dan sal ek hom finaal sê of ek dink hulle moet verkas.” Weer dwaal sy blik na die speurder. “As jy hulle langer hier wil hou, sal jy verplig wees om hulle in jou vertroue te neem.”

      “Maar dan sal hulle dadelik weggaan,” laat Sandra hoor en die dokter kyk haar koel aan.

      “Kan jy hulle kwalik neem? Elke mens is lief vir sy of haar lewe.”

      “Ek het dit nie so bedoel nie,” verweer Sandra blosend. “Ek sou ook gaan as ek in Powell se posisie was. Dis net . . . O, ek weet nie meer wat om te dink nie!”

      “Dokter,” en dis duidelik dat Gustaf ’n poging aanwend om redelik te probeer wees en dat hy wel die dokter se standpunt ook insien, “ek begryp hoe jy oor Powell voel. Ek voel ook so, en juis daarom moet hierdie dinge stopgesit word. Powell is nie die eerste slagoffer nie en sal beslis ook nie die laaste een wees indien ons nie nou tot die kern van hierdie geheimsinnige siekte deurdring en dit stopsit nie. Kon daar in die laboratoriums nog niks opgespoor word nie?”

      Johnson skud sy kop.

      “Nee. Ek was vanoggend vroeg met hulle in verbinding voordat ek hierheen gekom het. Daar is geen spoor van ’n vreemde element te vind in die bloedmonster wat ek van Powell geneem het nie. Ek het weer netnou een geneem en sal dit dadelik stuur, maar ek is byna seker die uitslag van die tweede gaan dieselfde wees. Fisiek skort daar niks met die man nie. Inwendig en wat die organe betref, vind ek ook niks vreemds nie.”

      “Hm.” Gustaf vryf peinsend oor sy voorkop. “Sê my, dokter, hoeveel weet jy van kanker af?”

      “Daardie man het nie kanker nie.”

      “Ek sê nie hy het kanker nie. Ek vra of jy my iets van kanker kan vertel.” Gustaf bly ’n oomblik stil, weeg sy woorde versigtig.

      “Jy sê jy het mevrou Andrews vanoggend gesien,” gaan hy dan voort. “Sal jy op die oog af kan sweer sy het kanker onder lede?”

      “Nee, natuurlik kan geen dokter met die blote oog kanker sien nie – nie die inwendige soorte of tekens nie. Maar dis moontlik. Sy lyk in elk geval nog besonder goed as sy al ’n lang tyd kanker het. Dis ’n siekte wat ’n mens maar gou aftakel as hy eers sy kloue in die gestel geslaan het,” antwoord Johnson sonder huiwering.

      “Maar kom dit in kankergevalle voor dat hulle een dag ellendig sleg voel en dan die volgende dag amper gesond lyk? Vind daar so ’n vinnige wisseling van die een uiterste na die ander in sulke gevalle plaas?”

      Johnson frons.

      “Nee, beslis nie. Party pasiënte, veral dié met die minder erns­tige soorte, hou lank. Dan wissel dit ook van pasiënt tot pasiënt, want persoonlike uithouvermoë speel natuurlik ’n baie groot rol. Maar as ’n pasiënt reeds kanker in die gevorderde en ongeneeslike stadium het, vind daar nie sulke skielike verbeterings plaas nie. Daar is wel opflikkerings, maar dis dan met behulp van behandelings, en nie só dat die pasiënt die een dag in ’n koma is en die volgende dag so te sê gesond lyk nie. Beslis nie.”

      Gustaf se blik dwaal na Sandra.

      “Dokter Johnson glo nog steeds nie dat daardie vrou gister in ’n koma was nie.” Sy blik keer terug na die dokter. “En sy was. Jy het my woord daarvoor. Sy was!”

      Johnson trek sy skouers op en sprei sy hande oop.

      “In daardie geval weet ek nie wat om te dink nie; sy moet die een of ander wondermiddel hê wat sy gebruik.”

      Gustaf se oë vernou.

      “Maar dan sal jy seker raai dat die vrou glad nie ’n ongeneeslike siekte, soos kanker, het nie?”

      “Hoe kan ek dit raai of sê? As ek haar kan ondersoek, kan ek ’n mening waag. Maar ek weet niks van haar af nie. En, ja, terloops, sy het beslis nie ’n dokter in Masvingo nie. Nie een van die dokters daar ken ene mevrou Andrews van ’n vakansieplaas nie. Ek het haar aan almal beskryf, maar hulle ken haar beslis nie. Sy moet ’n dokter op ’n ander plek hê.”

      Gustaf lyk teleurgesteld en sug.

      “Dis ’n terugslag. Ek sou darem baie graag met haar dokter wou gesels het.”

      Hy kyk vinnig na Sandra. “Ek wil hê jy moet die een of ander tyd ’n gesprekkie met mevrou Andrews aanknoop. Probeer vasstel wat sy makeer en wie haar dokter is. Maar wees baie taktvol. Sy moet hoegenaamd nie agterkom dat jy aan die snuffel is nie, hoor?”

      “Maar waarom stel jy so belang in mevrou Andrews? Wat het sy met die saak te doen?” wil Johnson verward weet.

      Gustaf glimlag grimmig.

      “Alles – of niks. Dis wat ek probeer vasstel. Laat Sandra jou vertel wat gisternag gebeur het, hoewel ek twyfel of jy ons hierdie keer sal glo, want dis ongeloofliker as die komastorie waaraan jy nog steeds twyfel. Maar vertel hom, Sandra.”

      Sandra gehoorsaam en dis doodstil terwyl sy hom vertel. Johnson luister met aandag, maar toe sy by die vlermuisgedeelte kom, protesteer hy heftig.

      “Ag, kom nou, juffertjie! Jy verwag tog nie ek sal sulke snert glo nie!”

      “Ek het mos gesê jy sal dit nie glo nie,” laat Gustaf van sy kant af hoor. “Maar of jy dit nou glo of nie, dis die waarheid.”

      Hy draai na die argeoloog. “Het jy al vlermuise in die ruïnes teëgekom met jou werkery daar, doktor?”

      “O, ja. Daar is baie. Hul blyplek is eintlik aan die een kant van die ruïnes in ’n klomp rotse wat ’n natuurlike muur daar verskaf. Dis ’n soliede massa granietrots en val pylreguit na benede. Hulle bly daar tussen die klipskeure. Dis een van die teorieë wat bestaan, juis omdat ons geen grafte van die ruïnebewoners kan kry nie, naamlik dat hulle al hul dooies daar afgegooi en die aasvoëls en ander wilde diere dan die res laat doen het.”

      Hy glimlag verskonend. “Maar dit het nou niks met hierdie saak te doen nie. Ek noem dit maar net.”

      “Luister, mense, wil julle nou vir my kom vertel dat daardie vrou uit haar koma opgestaan en na die ruïnes gegaan het, en toe daar bevele aan ’n klomp wilde vlermuise gegee het?” wil Johnson weet, en Gustaf grinnik.

      “Dis wat ons jou vertel – maar ek verwag nie dat jy dit moet glo nie, dokter. Ek glo dit self nie, al het ek dit met my eie oë gesien en met my eie ore gehoor.”

      Johnson staan op. “Wel, in daardie geval . . . liewer jy as ek wat ’n aanneemlike verklaring daarvoor moet vind sodat jou hoof dit sal sluk. Ek moet regtig nou gaan.”

      “Ek het gewonder of jy nie net ’n oomblik na my sekretaresse sal kyk nie, dokter. Ek voel bekommerd oor haar,” laat doktor Basson vinnig hoor en Johnson knik geredelik.

      “Goed. Waar is sy?”

      “In die bed. Ek sal jou na haar toe neem.”

      Toe hy ’n rukkie later uitkom, probeer hy die bekommerde Basson gerusstel.

      “Ek vind niks verkeerd nie, maar haar senuwees is in ’n hopelose toestand. Sy is baie gespanne. Ek het ’n paar kalmeerpille by haar gelaat en hier is ’n paar slaappille. Miskien sal dit beter wees as jy dit hou en haar net elke aand een gee.”

      Hy