Название | Ena Murray Keur 1 |
---|---|
Автор произведения | Ena Murray |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068105 |
Sy kry geen antwoord op haar vraag nie, en vervolg: “En dan is daar Phil Andrews. Hy het vir my eers as ’n bullebak voorgekom, ’n man wat nie aarsel om sy sieklike vrou teen die kombuiskas vas te gooi wanneer hy kwaad is nie. En tog, gisternag het ek met my eie ore gehoor hoe hy pleit by haar en . . . daar was vrees in sy stem. Phil Andrews is in werklikheid bang vir sy vrou, vir die fyn, sieklike Nina, al het hy haar in ’n oomblik van frustrasie en woede aangeval. Hy het ook met sy eie mond gesê hy gaan jare lank al deur hel, met ander woorde, hy het nie van sy gevoel vir Dianne gepraat nie. Dié ding is maar twee, drie maande aan die gang. Hy moet iets anders in gedagte gehad het. Maar wat?”
Gustaf knik sy kop en konsentreer hard.
“Ja, dis waar. Ek probeer die presiese woorde van hul gesprek onthou. Help my, Sandra, as jy iets onthou. Hy het begin deur te vra of sy al wéér hier is, bedoelende in die ruïnes. Met ander woorde, dis ’n gereelde ding van haar om snags, want ek het haar nog nooit bedags daarheen sien stap nie, na die ruïnes te gaan. Op sigself baie eienaardig. Ek sou nie sê dat die ruïnes in die nag ’n aantreklike plek, veral vir ’n vrou, sal wees om te gaan wandel nie.”
“Dit kan jy weer sê!” laat Sandra met gevoel hoor, en doktor Basson frons skerp.
“Maar nogtans nie verbode nie. Baie mense het eienaardige smake. En dan het Andrews verduidelik dat sy vrou graag gaan stap wanneer sy baie pyn het. Dit klink vir my aanvaarbaar. Daar is baie mense wat liewer rondbeweeg wanneer hulle pyn verduur as om doodstil in ’n bed te gaan lê. Dit maak dit draagliker, soos hy ook gesê het.”
“Hm.” Gustaf dink diep. “Maar hy het ook gesê dat sy liewer daar moet wegbly, dan sal dit miskien beter met haar gaan, of iets in daardie trant, altans. Wat sou hy daarmee bedoel het?”
“Ek kan dalk raai,” laat Sandra hoor. “Daardie plek het ’n eienaardige invloed op my en ek is tog ’n gesonde mens, liggaamlik en hopelik geestelik ook. Maar wanneer ek by die ruïnes kom, veral in die nag, is dit asof . . .” Sy soek verward na woorde.
“Dis of die plek my beïnvloed. Ek raak bang, behoorlik bang en my verbeelding gaan op hol. Miskien het dit dieselfde invloed op Nina, en omdat sy juis siek is, kan dit haar nog meer beïnvloed as vir my. En as sy nog geestelik ontwrig is, wat ek sterk begin vermoed, is die ruïnes in die nag beslis nie die aangewese plek vir haar nie.”
“Juis. Hier is tog genoeg stapplek. Hoekom juis altyd na die ruïnes toe gaan?” wil Gustaf weet, en Sandra skud haar kop.
“Miskien is dit by haar die geval dat juis die ding wat haar afstoot haar onweerstaanbaar aantrek.”
“Kan wees.” Gustaf se stem klink skepties. “Sy het vir my nie bang gelyk of geklink nie. Maar laat ons verder gaan.” Sy oë trek peinsend saam. “Hy het gepraat van as ‘dít’ weer begin, kom sy altyd na die ruïnes. Wat is ‘dít’?”
“Ek sou sê wanneer sy een van haar pynaanvalle kry,” probeer doktor Basson help.
“Maar sy het hom gevra hoe weet hy ‘dít’ het weer begin. Net asof sy nie wil hê hy moet weet daarvan nie. Hoekom sal sy haar pynaanvalle vir haar man geheim wil hou?”
’n Doodse stilte heers en Sandra vervolg: “Hy het ook gesê hy is moeg daarvan om haar te beskerm. Teen wie of waarteen?” Die twee mans skud hul koppe en sy gaan verder: “Hy het haar ook lelike name genoem, ’n satan, of so iets, en gesê sy hou haar vuil duiwelsmag van Dianne af. Dit was sy presiese woorde: ‘jou vuil duiwelsmag’. ”
“Ja, en toe het sy gesê Dianne is veilig, want sy is ’n vrou, maar hy, Andrews, moet oppas.” Sy kop ruk op en sy stem klink gespanne, opgewonde. “Dit kan ’n leidraad wees. Dianne is ’n vrou. Sy is veilig. Sien julle wat ek bedoel?”
Sandra kyk hom vraend aan, maar doktor Basson knik sy kop.
“Ja, ek sien die verband. Almal met die vreemde aandoening was mans.”
Sandra lyk skepties.
“Dit kan wees, maar dit kan ook niks beteken nie, Gustaf. Sy het ook gepraat dat sy beheer het oor iets, of net in ’n mate of tot op ’n sekere punt. Hy moet haar nie te ver dryf nie. Maar dit kan seker maar net beteken dat elkeen net tot op ’n punt hom- of haarself kan beheer. Jy kan verby jou perke gedryf word en dinge doen wat jy normaalweg nie sou doen nie.”
“Ja, en toe het hy gepleit dat sy hom moet laat gaan, en dat niemand ooit sal weet nie. Wat weet nie? En met watter storie het hy gedreig om vorendag te kom as Dianne iets oorkom? Hulle is ook nie man en vrou nie. Daar is geen normale huwelikslewe tussen hulle nie.”
“En op die end het sy gesê sy sien hom liewer dood,” eindig Sandra stil en hulle kyk mekaar hulpeloos aan. “Dit bly maar ’n deurmekaarspul. Dit kan enigiets beteken . . . of niks nie.”
“Ja.” Gustaf sug. Net sodra dit voel asof hy nou iets beethet, ontwyk dit hom en klink dit na niks nie. “Maar daardie vlermuise . . . Dit kan onmoontlik toevallig wees dat daardie gediertes op Dianne toegesak het, toe weer op Nina Andrews gaan sit het en toe weer net so geheimsinnig verdwyn het.”
Dokter Dennis Johnson stap skielik die rondawel binne. Hy groet kortaf en val sommer met die deur in die huis.
“Môre. Ek is so pas klaar met Powell. Geen verbetering nie. Hy is vanoggend so swak dat hy nie sonder hulp op sy eie bene kan staan nie. Jy sal iets moet doen, kaptein Lenard, of daardie man gaan sterf. En, ja, terloops, onthou dat ek julle wys hoe lyk ’n mens in ’n koma. Mevrou Andrews het my so pas buite vriendelik gegroet. Daardie vrou kon onmoontlik gister in ’n koma gewees het en vandag só lyk. Wel, Lenard, wat gaan jy in verband met Powell doen?”
7
Gustaf kyk hom stug aan, asof hy hom wil vererg vir die dokter.
“Niks. Hy bly hier tot tyd en wyl . . .”
“Tot tyd en wyl hy dood is. Ek wil nie ’n mens se dood op my gewete hê nie. Dan neem jy die volle verantwoordelikheid op jou, maar ek is sy dokter, onthou. Ek sal ook moet verbykom as dinge handuit ruk.”
Johnson lyk ontsteld en bekommerd.
“Kom sit, dokter. Is die man werklik so swak? Dickens het aan die ontbyttafel gesê Powell wil vanoggend opstaan.” Basson se stem klink paaiend.
Johnson blaas deur sy neus. “Hy kon dit gesê het, maar Powell is nie in staat daartoe nie. Wat my regtig ontstel, is dat die man so ontsettend vinnig swakker word. As dit geleideliker gebeur . . . Maar jy kan byna sê dat hy binne die bestek van ’n dag van ’n sterk, gesonde man na ’n invalide verander het.”
Weer kyk hy die speurder vas aan. “Ek hou nie van hierdie besigheid nie. Ek hou net niks hiervan nie.”
“Nie een van ons hou hiervan nie, dokter,” laat Gustaf ysig hoor, “maar om daaroor te sit en sanik, sal niks aan die toestand verander nie.”
“Ek sanik nie. Maar wat jy nie wil besef nie . . .”
“Stadig nou, kêrels. Om ons te vererg en opgewonde te raak, sal nog minder help. Asseblief, laat ons kalm bly,” keer doktor Basson vinnig. Hy en Sandra besef dat die speurder en die dokter op die oomblik twee uiters gefrustreerde manne is. Gustaf vorder oënskynlik niks met die ondersoek na al die geheimsinnighede nie. Die dokter weet nie wat sy pasiënt makeer nie en moet magteloos toesien hoe Powell onder sy hande wegkwyn. Albei is konsensieuse mense en daarom is dit te verstane dat gemoedere nie van die beste is nie. Tog besef albei mans dat doktor Basson gelyk het. Hulle moet kalm bly, want dis net ’n kalm verstand wat kan dink en planne beraam.
Johnson word effens rooi.
“Jammer. Ek het dit nie so bedoel nie,” mompel hy verleë. “Maar, deksels, ’n mens weet nie wat jy moet doen nie. Ek doen wat ek kan, maar daar is geen reaksie nie. Ek voel eerlik dat daardie man ’n bloedoortapping behoort te kry. Hy het dit nodig.”
Hy kyk weer na Gustaf en sy oë verwyt: Maar jy wil nie hê ek moet die man hier wegvat nie!