Название | Die uurglas loop leeg |
---|---|
Автор произведения | Ena Murray |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624069683 |
Maar dít wat ná byna een huweliksjaar uit hierdie ryk teelaarde voortgebring word, is ’n flou uitspruitsel en Karien weet dit. Dit is wel liefde, maar dit kan net sowel as gehegtheid beskryf word. Dit is beslis nie daardie soort liefde wat die hartklop versnel en die bloed laat jaag nie … daardie allesoorheersende gevoel en besef dat hy dié belangrikste mens vir jou op die hele aarde is nie. Om een met hom te wees, beteken nie terselfdertyd om saam met hom ’n paradys te betree nie. Dit beteken eerder ’n diepe gevoel van sekuriteit en beskerming. Daar is geen ekstatiese ervarings nie. Haar huwelik met Hannes laat haar dink aan ’n stilvloeiende stroom onder rustig hangende treurwilgers deur.
In onbewaakte oomblikke van onrus en frustrasie is sy gou om al haar seëninge vir haarself op te noem. Wat meer kan ’n vrou verlang as wat sy reeds in oormaat ontvang? Maar elke keer groei die skuldgevoel in haar aan. Sy weet sy het haar man nie waaragtig lief soos ’n vrou haar man behoort te bemin nie, soos wat sy weet Hannes háár liefhet.
Maar dit is dinge van die hart. Op die oog af, vir almal wat die Eksteens van Franskraal ken en hul mooi lewe saam sien, is hulle ’n gelukkig getroude paartjie.
Ook op finansiële gebied gaan dit goed. Hannes is ’n vooruitstrewende, wetenskaplike boer. Dikwels maan Karien haar man tot meer rustigheid. Sy laggende antwoord is altyd dat hy nie net vir homself werk nie, maar vir haar en hul kinders. Elke keer wanneer hy dít sê, keer haar hart in haar om. Die kwessie van kinders, wanneer en hoeveel, is nog nooit werklik bespreek nie. Sy het dit ook nie aangemoedig nie. Eers moet die dinge van die hart regkom. Maar hulle is nou al byna ’n jaar getroud en sy weet Hannes begin uitsien na ’n nageslag.
Toe hy daardie middag sy kos vinnig afsluk, sê sy in haar beste verpleegsterstem: “Stadig, my man. Die lusern sal nie wegloop nie. Eet rustiger.”
Hy glimlag tussen die slukke deur. “Ek kan nie anders nie. Die lusern moet nog voor vanaand alles klaar gesny wees, want ek het so ’n gevoel dit gaan nog hierdie week reën. Net voordat ek vir ete ingekom het, het ek weer daardie handgrootte wolkies agter die kim sien uitkruip.”
Sy kyk hom teer aan. “Jy werk so hard, Hannes.”
Hy glimlag, stoot sy halfleë bord terug, en staan op. “Bêre dit vir my in die lou oond vir vanaand. Ek kan nie langer wag nie.” Hy buig oor haar, sit sy arm om haar skouers en druk haar ’n oomblik styf teen hom vas ten spyte van sy haas. “Ek gee nie om nie, my skat. Dis vir jou en vir ons kleingoed.” Skielik kyk sy oë diep in hare af, en haar hartklop verstil by die aanhoor van sy volgende woorde: “Ons is nou al amper ’n jaar getroud, my vrou. Dink jy nie dis tyd dat ons aan ’n gesin begin dink nie?”
Sy weet die oomblik het gekom dat sy dit nie weer kan wegpraat nie. Daarom antwoord sy moedig: “Ja, my man. Ek dink dis tyd daarvoor.”
Die skemering van angs in sy oë verdwyn en hy glimlag breed. Met ’n hart wat skielik wil ween, sien sy hoe vreugde soos dié van ’n kind onverbloem in sy oë lê.
“Karien … my vrou … ”
Sy sluk, probeer die intense emosie van hierdie oomblik verlig. “Vanaand, my man. Nou wag die lusern buite en jy was so haastig.”
Hy soen haar teer, gryp dan sy ou plaashoed van die kapstok af. “Vanaand, skat!”
Sy hoor hom gaan, haastige voetstappe op die sementagterstoepie, en dan is hy weg … die stilte swaar en benouend om haar. Karien bly verslae by die eetkamertafel sit, bang vir hierdie vreemde hart wat sy in haar ronddra.
Wat ’n voorreg om saam met jou man vir ’n nuwe lewe te beplan. Wat ’n genade om dit sonder kommer of finansiële probleme te kan doen. Wat ’n genadegawe om dit te kan doen saam met ’n man soos Hannes … en sy wil nie!
Here, vergewe my my ondankbare hart! fluister sy woordeloos. En leer hierdie vreemde hart van my wat hy aan Hannes Eksteen en al u wonderlike genade en gawes het!
In die loop van die middag word die wolke vinnig meer en pak dreigend saam.
Teen skemer begin die eerste reëndruppels uit die bewolkte lug oor Franskraal neersak.
Toe Karien haastige voetstappe op die agterstoepie hoor, aanvaar sy dat dit hy is wat eindelik terug is, maar daar word aan die agterdeur geklop en sy kyk teen die wydgerekte oë van hul staatmaker op die plaas vas.
“Pool! Wat … ?”
“Kom tog gou! Kom tog net baie gou, asseblief! Daar was ’n ongeluk … ’n lelike ongeluk. Hy is omtrent in twee gesny deur die lusernlem!”
Van daardie oomblik af registreer niks werklik by haar nie, is haar reaksies werktuiglik terwyl haar verstand feitlik gaan stilstaan het. Haar verpleegagtergrond kom haar te hulp toe hulle die ongelukstoneel bereik en sy Hannes in die ligte van die trekker in die moddervoor sien lê. Die reën sif saggies op hom neer en meng met die bloed wat uit hom vloei. Soos ’n robot doen sy die regte ding. Dié ramp is egter ver bokant haar vermoë as verpleegsuster. Sy stuur Pool terug huis toe om die ambulans te ontbied en komberse saam te bring. Toe hy later een van die komberse oor haar hou om die ergste reën van haar af te keer, voel sy dit nie eens nie. Sy sit net magteloos en kyk na die man wat sulke groot planne gehad het en wat nou vermink in ’n moddervoor lê.
Net een keer praat sy, meer met haarself as met Pool: “Hoekom het hy nog lusern gesny? Hy kon mos sien dat dit gaan reën, en wat help dit dan? Dan sou … ”
Pool antwoord, maar of sy hom hoor, weet hy nie. “Nee, ons het vanmiddag al ophou sny, want die lusernlem het gebreek. Ons het toe net die droë lusern betyds probeer baal. Ek en die meneer het die ander so ’n rukkie terug in die onderste land agtergelaat om gou die lusernlem te kom regmaak en die lusernsnyer terug te kry by die huis. Hoe die ongeluk gebeur het, weet ek nie, maar toe beland hy reg voor die lem toe ons dit uittoets en … ”
Daar volg ’n lang, donker tydgaping waartydens Karien nie weet waar sy is of wat met haar gebeur het nie. Maar dan kom sy weer tot haarself toe bekende tonele voor haar oë verskyn, bekende reuke in haar neusgate prikkel. Sy kyk om haar rond en vra: “Waar is hy? Waar is Hannes?”
“In die operasiesaal. Hulle is nog besig.”
“Hy … lewe? Hy lewe?”
“Ja.” Dat die bevestigende antwoord ’n wonderwerk is, laat die suster na om by te voeg. Solank iemand lewe, word daar geveg. Dit is nie vir die man wat nou oor die operasietafel buk en orde uit ’n bloederige massa probeer skep om te besluit of hierdie man, of wat van hom oor is, nie liewer sou wou sterf as hy kon kies nie. Dit is nie vir hulle wat ’n eed afgelê het om lewe te behou om te besluit dat die dood soveel genadiger sal wees nie. Die dokter wat so versigtig ’n lewe probeer red, is self ’n man. Dit is nie vir hom om te besluit dat as dit hy was wat hier gelê het, hy liewer die dood sou verkies as om die res van sy lewe nooit weer regtig mens, beslis nooit weer man te wees nie. Hy doen wat hy kan en laat die res aan Iemand anders oor om verder te besluit.
Die man wat hom bystaan, vloek gedemp agter die groen masker. “Was dit ek wat hier gelê het, sou ek die laaste een van julle doodgeskiet het wanneer ek bykom. Genade, wat gaan hierdie man se lewe hierna wees? Het jy al daaraan gedink?”
Die oë word nie afgewend van die taak nie, en die antwoord kom gedemp: “Dis nie nou tyd vir dink nie. Nou doen ons net.”
Dokter Arnold Lutz laat toe dat die suster die sweet van sy voorkop afvee terwyl hy ’n klomp are toeklem. Hy was net op pad huis toe, toe die noodgeval die hospitaal bereik. Hy kon nie glo dat enige dokter kans sien om te opereer nie.
“Wat wil jy opereer? ’n Mens weet nie waar is wat nie.”
Dokter Weich, die superintendent, het self twyfelmoedig gelyk, maar hy het geantwoord: “Dokter Willems wil probeer.”
Arnold het na die ander man gekyk wat reeds die operasieklere begin aantrek het. “Wie is hy?”
“Hy is die nuwe dokter wat ons verwag het. Hy het so pas hier aangekom. Trouens, sy motor is nog nie eens afgepak nie. Ek het hom so pas verwelkom toe die geval inkom. Hy het dadelik aangebied