Die uurglas loop leeg. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Die uurglas loop leeg
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624069683



Скачать книгу

of ooit weer nie. Goeienag.”

      Maar dit is nie so maklik om die naakte feite te ignoreer nie. Haar verskonings vir haarself wil nie meer geloofwaardig klink nie. En ’n lang en pynlik selfbewuste dag in die saal en hospitaalgange volg. Die skille het skielik van haar oë geval. Nou sien sy alles raak … en sy word yskoud binne­kant. Dieselfde koue is nog in haar toe sy daardie middag saam met Arnold na die aangebode woonstel gaan kyk, en dié keer kan sy die skokkende besef nie ignoreer nie. Dit is van hoek tot kant gemeubileer en sy hou haar oë afgewend terwyl sy praat: “Verhuur hulle dan die woonstelle gemeubileer? Dis … baie luuks.”

      “Nee. Ek het sommer eiereg gebruik en dit klaar vir jou gemeubileer. Ek wou vir jou ’n heerlike nessie hier skep.” Hy kyk haar fronsend aan. “Skort iets? Hou jy nie van my smaak nie? Dan kan jy verander soos jy wil.”

      “Wat jy eintlik bedoel, Arnold, is dat jy vir jouself hier ’n heerlike nessie vir owerspel en wellus geskep het. As ek dit nie aanvaar nie, sal daar wel iemand anders wees wat die betrekking sal aanvaar.”

      “Karien!”

      “Dis die feite, is dit nie? Dankie, Arnold, maar ek soek nie ’n ander betrekking nie.”

      “Karien, luister na my. Nee. Jy sál na my luister! Goed. Ek het alles hier so beplan vir jou en vir my, om hier saam gelukkig te wees.”

      “Hoe kan ’n mens gelukkig wees met gesteelde goed?”

      “Karien, ek kan, want dis al manier waarop ek geluk kan vind – deur dit te steel, soos jy dit stel. Ek is ’n man, Karien. Ek is ’n normale man en ek het jou lief … ”

      “Is dit liefde of begeerte?”

      Hy lag kortaf, bitter. “Wat is liefde? Wat is begeerte? Is daar werklik ’n verskil? As jy liefhet, begeer jy vanselfsprekend. En as jy begeer, moet daar tog ’n gevoel wees waarop dit gegrond is. Hoe sal jy weet, Karien? Of weet jy? Kan jy werklik op hierdie oomblik sweer dat jy nog nooit iets meer as die geoorloofde vir my in jou hart voel roer het nie? Sal jy my toelaat om jou te soen, regtig te soen?”

      “Nee!”

      “Is jy bang ek sal daarmee bewys dat wat in my hart lê ook in joune lê? Jy begeer my soos ek jou begeer, Karien!”

      “Dis nie … ”

      Maar hy gryp haar skielik vas, soen haar die eerste keer met die volle drang en begeerte wat al van daardie eerste ontmoeting af in hom brand, en hy voel hoe sy meegee in sy arms.

      “Karien! Karien! Moenie ’n klein dwaas wees nie! Ons kan so gelukkig wees! Wat maak dit saak wat die wêreld sê? Wat maak dit tog saak?”

      Die aarde wentel om haar. In haar verstand duisel dit. Iemand … iemand het van ’n kantelende kompas gepraat … van rotse van selfvernietiging.

      “Nee, Arnold!”

      Hy moet haar laat gaan toe sy haar so beslis teësit, en sy stem is bitter: “Dan verstaan jy regtig nie. Het maar net al die tyd so voorgegee. Jy begryp nie dat ek … ek … ”

      “Ek begryp, Arnold. Ek begryp dat jy kan liefhê waar jy nie mag nie, dat jy ’n man is en dit net menslik is dat jy begeer. Maar wat jý nie begryp nie, is dat ek niemand se houvrou kan wees nie, nie eens al het ek die man werklik lief nie. Sal jy my asseblief nou terugneem?”

      Voor die verpleegsterstehuis hou hy stil, vra skor: “En nou? Wat nou?”

      “Dis die end, Arnold. Ek gaan my bedanking indien.”

      Hy kyk haar vinnig aan. “En wat dan?”

      “Dan gaan ek weg. Ek is jammer. In plaas van om jou te help, het ek jou lewe net meer deurmekaargekrap.”

      Om nie die aandag nog verder op haar te vestig nie, is Karien verplig om Hannes die volgende aand in die sit­kamer te ontvang.

      Die nuus van haar bedanking het soos ’n veldbrand deur die hospitaal versprei en Hannes het wel sy inligtingsbronne wat hom hiervan verwittig het.

      “Ek het jou gesê ons het niks verder vir mekaar te sê nie, Hannes.”

      “Jy het bedank.”

      “Ja.”

      “Waarheen gaan jy?”

      Die eerste keer in haar lewe hoor sy ’n bitter toon in haar stem toe sy sê: “Weg – nié na dokter Lutz se woonstel toe nie. Heeltemal weg.”

      “Trou met my, Karien. Asseblief!”

      Dit ruk haar, en sy kan hom net aanstaar, dan skor sê: “Jy kan nie regtig ernstig wees nie!”

      “Ek is. Ek het jou lief. Trou met my.”

      “Terwyl jy glo … ”

      “Nee. Nie regtig nie. Maar ek was seergemaak en, ja, jaloers en … Vergewe my, asseblief.”

      “Daar is niks om te vergewe nie, Han.” Sy draai vinnig weg, is dankbaar dat die sitkamer vir ’n wonder nie vol ander besoekers is nie. Want dan sal almal kan sien hoe skuldig sy voel … Skuldig, want op daardie oomblik toe Arnold haar vasgegryp het in sy arms, het sy geweet dat sy haarself al die tyd gebluf het, dat sy wel op hom verlief is, en dat sy hom wel begeer!

      Sy voel Hannes se hande huiwerig oor haar skouerknoppe vou. “Asseblief, Karien. Jy gaan nie weg nie. Trou liewer met my.”

      Sy draai stadig onder sy greep om, kyk met hartseer oë na hom op, haar mond bewend in ’n doelbewuste glimlag. “Ek het jou al tevore gewaarsku dat ek jou eendag ernstig gaan opneem … ”

      “Maak daardie eendag vanaand, Karien, asseblief … en sê ja.”

      Sy trek haar asem in. “Ja, Hannes. Ja, ek sal met jou trou.”

       2

      Toe Karien die volgende oggend diens gaan doen, is daar ’n boodskap dat sy na die matrone se kantoor moet kom. Sy gehoorsaam teësinnig. Sy het haar bedankingsbrief by die ondermatrone ingedien en nou wil die hoofmatrone seker met haar daaroor praat … en daar is niks te sê nie. Tog help die gedagte dat sy eerlik sal kan verduidelik dat sy bedank het om te gaan trou. Goeie ou Hannes … Hy het weer tot haar redding gekom, haar die vernedering en verleentheid gespaar.

      Dit verbaas haar dat matrone, ’n vrou met baie lewenservaring en die een wat ook die bewaker van die etiese reëls van die professie is, haar nie eerder na haar kantoor ontbied het nie. Sy moet soos die res van die hospitaal bewus gewees het van die vriendskap tussen die suster van die mansaal en een van die dokters, ’n getroude man.

      Karien staan verleë en skuldig voor die lessenaar.

      “Suster, ek is ontsteld oor jou bedanking,” val die ouer vrou sommer met die deur in die huis. “Ek sien in jou bedankingsbrief dat jy geen rede verskaf nie. Sal ek jou privaatheid skend indien ek vra hoekom jy bedank?”

      Karien sluk. “Geensins, matrone. Ek gaan trou.”

      “Trou?” Sy lyk verras, dan onseker. “En wie is die bevoorregte man?”

      “Hannes Eksteen, ’n boer in die distrik.”

      “Werklik?” Openlike verligting, só openlik dat Karien innerlik daarvan terugdeins, verskyn op haar gesig. “Wel, suster, dan durf ek jou seker nie probeer oorhaal om jou bedanking terug te trek nie!” skerts sy. Dan neem haar gesig die moederlike sagtheid aan wat haar personeel ken en waardeer en wat haar so bemind maak. “Karien, ek is so bly dat dinge vir jou mooi reggekom het. Jy was nog altyd my oogappel onder die susters, en ek kan dit maar vandag vir jou sê omdat jy binnekort weggaan. Maar daar was ’n tyd dat ek diep bekommerd oor jou was.”

      Sy sug liggies.” Ek wens so dat julle – die hele personeel – my nie net as die matrone sal beskou nie, maar as iemand wat persoonlik belangstel in elkeen van julle; dat julle nie net my kantoor sal ken as ’n plek waarheen julle ontbied word nie, maar ook ’n plek waarheen julle om raad en hulp kan kom wanneer dinge in jul persoonlike