Название | Goue gerf |
---|---|
Автор произведения | Tryna du Toit |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798157698 |
Elizabeth ry by die hospitaalhek uit. Terwyl sy by die verkeerslig wag, dink sy aan Ryk Muller en hulle gesprek. Sy sou graag vanaand saam met hom wou uitgegaan het, veral omdat hy die volgende drie weke vas sal wees, maar Oswald Pienaar het reeds gereël dat ’n paar van hulle vanaand gaan eet en dans en sy kan hom nie goedsmoeds so op die tippie in die steek laat nie. Ryk moet ook leer dat hy ’n meisie betyds moet vra as hy wil hê sy moet saam met hom uitgaan, veral op ’n naweeksaand. Sy aanbod om saam met haar Oudendal toe te ry het haar verras, maar daar is nie sprake daarvan nie.
Die verkeerslig verander en vinnig skiet die Fiat vorentoe.
Elizabeth loseer so ’n entjie uit die middestad. Die gehalte van die kos en bediening is maar bra middelmatig, maar die plek is skoon en netjies en sy het ’n ruim noordekamer. Daarby is die losieshuis taamlik naby aan die hospitaal geleë en pas dit haar sak. En, belangrikste van alles, sy is haar eie baas. Die eerste paar jaar was sy verplig om in die meisieskoshuis te bly omdat haar voog daarop aangedring het, maar gelukkig het die koshuisreëls nie voorsiening gemaak vir senior mediese studente nie en aan die einde van haar derde jaar kon sy die koshuislewe met al sy beperkings en sy gebrek aan vryheid en privaatheid, waarteen haar selfstandige gees so dikwels in opstand gekom het, met verligting vaarwel roep. Ná soveel jare in koshuise – sy was nege jaar oud toe sy vir die eerste keer dorpskoshuis toe gegaan het – was dit vir haar of sy ’n nuwe wêreld betree het.
Sy en ’n vriendin het eintlik beplan om saam ’n woonstel te huur, maar haar voog wou nie sy toestemming daarvoor gee nie. Sy was pas twintig jaar oud en hy het voorgestel dat sy by ’n gesin inwoon – hy het toevallig geweet van mense wat bereid is om haar as loseerder te neem – maar daarteen het sy hand en tand geveg. Sy het mooigepraat en hom daarop gewys dat sy dikwels by die hospitaal diens moet doen en dat haar ongereelde ure net ongerief vir die huismense sou veroorsaak. Op die ou end het hulle met verblyf in die losieshuis tot ’n vergelyk gekom. Die uitstekende resultate wat sy nog altyd in haar kursus behaal het, het seker gehelp om hom te oorreed.
Verlede September het sy een-en-twintig jaar oud geword en kon sy die ideaal om haar eie woonstel te hê uiteindelik verwesenlik, maar toe was daar weer ander dinge. Die Fiat wat sy aan die begin van die jaar gekoop het, het ’n groot gat in haar bankrekening gemaak en haar ander uitgawes was hoër as wat sy bereken het. Sy het besef dat sy baie mooi te werk sou moet gaan om met haar geld uit te kom tot aan die einde van haar kursus. Haar vriendin het intussen ook ander planne gemaak en die weelde van ’n eie woonstel kon sy net nie bekostig nie. Daarvoor sal sy nog ’n rukkie langer moet wag.
Toe sy by die losieshuis kom, stap sy eers briewerak toe, maar daar is geen pos vir haar nie. Sy het aan haar pa geskryf dat sy van plan is om die naweek te kom en sy het verwag om van hulle te hoor. Hulle dink seker nie dis nodig om te skryf nie, aangesien sy tog self kom. Briewe is in elk geval maar ’n seldsame gebeurtenis in haar lewe en met ’n filosofiese skouerophaling skud sy die ligte gevoel van teleurstelling van haar af. Daar is twee lekker vet briewe vir Ethel Fourie, ’n jong onderwyseres met wie sy taamlik goed bevriend geraak het, en ’n oomblik staar sy met ’n vreemde gevoel van jaloesie en verlange na Ethel se briewe. Dan draai sy om en stap vinnig weg. Sy sal dadelik gaan bad, besluit sy. Oor ’n rukkie begin die loseerders van hulle werk in die stad af terugkeer en begin die groot stormloop na die badkamers. Nou sal daar nog volop warm water wees.
Sy is net terug in haar kamer ná ’n lekker warm bad toe daar aan haar deur geklop word. Dis Ethel Fourie wat om die deur loer.
“’n Telegram vir jou, Elizabeth. Nou net gekom.”
’n Telegram! Elizabeth voel hoe haar hart ruk. Het haar pa weer ’n hartaanval gehad? Dié keer miskien noodlottig? Met ’n gesmoorde “dankie” neem sy die telegram by Ethel, wat haar besorg aankyk. Sy sien hoe bleek Elizabeth skielik geword het.
“Ek hoop nie dis slegte nuus nie.”
Haastig skeur Elizabeth die oranje koevert oop en angstig lees sy die paar woorde. Dan sug sy verlig.
“Dis net ’n boodskap van my stiefma om te sê dat my pa terug is op die plaas en dat hulle my die naweek verwag.”
“Ek is bly,” sê Ethel. “Ek was bang jou pa is dalk sieker. Nou ja, ek sien jou weer. Ek wil gou gaan bad.”
Glimlaggend gaan sy by die kamer uit. In haar hand hou sy haar twee briewe, nog onoopgemaak.
Elizabeth gaan sit op die bed en betrag weer die telegram. Sy het groot geskrik. As haar pa nou moet sterf voordat sy ’n geleentheid kry om met hom te gesels en iets meer oor die verlede uit te vind sal dit ’n bitter slag vir haar wees. Hy is die enigste een wat haar kan help, wat haar miskien ’n leidraad kan gee om haar in haar soektog te help. Hy kan nie, hy mag nie nou sterf nie.
Sonder veel geesdrif begin Elizabeth ’n rukkie later aantrek. Gedurende die week werk sy hard, maar naweke ontspan sy graag indien haar werk dit toelaat, en sy het vroeër nogal uitgesien na vanaand. Oswald Pienaar is ’n sjarmante en amusante jong man, ’n bekende en gewilde persoonlikheid in sport- en sosiale kringe in die stad. Hy is ’n sesdejaar-mediese student, maar weens sy baie bedrywighede het dit hom tot dusver drie jaar langer as gewoonlik geneem om klaar te maak. Hy is die enigste seun van welgestelde ouers, ’n kranige rugbyspeler en die universiteit se gholfkampioen. Sy duur, vinnige sportmotor is goed bekend by sowel die hospitaal as die universiteit en hy is die held van menige jong verpleegster en student. Hy was verloof en het reeds op trou gestaan toe die verlowing twee jaar gelede skielik beëindig is. Daar was allerhande gerugte en skinderpraatjies oor ’n jong verpleegster wat selfmoord probeer pleeg het, maar sy weet nie hoeveel waarheid in die verhaal steek nie. Die verpleegster het in elk geval van die toneel verdwyn en niemand het weer iets van haar gehoor nie. Sedertdien het Oswald ’n hele paar meisies uitgeneem, maar hy was blykbaar versigtig om nie weer in ’n ernstige verhouding betrokke te raak nie. Van die begin van die jaar af het hy skielik in Elizabeth begin belang stel en hulle het die afgelope tyd taamlik dikwels saam uitgegaan. Oswald is ’n lekker metgesel wat die kuns verstaan om ’n meisie mooi en belangrik te laat voel, en Elizabeth is ’n bietjie gevlei deur sy belangstelling. Maar vanaand is sy vreemd genoeg nie in die bui vir Oswald Pienaar nie.
Is dit die gedagte aan die telegram en die naweek wat voorlê wat haar so asosiaal laat voel? wonder sy. Of is dit die herinnering aan Ryk se uitnodiging wat haar geesdrif vir die aand so ’n bietjie bederf het?
Dit was vriendelik van Ryk om aan te bied om môre saam met haar Oudendal toe te gaan, dink sy, en heimlik is sy spyt dat sy nie die aanbod kon aanvaar nie. Dis ’n lang, vervelige pad en goeie geselskap sou gehelp het om dit korter te maak. Maar dis natuurlik buite die kwessie en buitendien het Ryk reeds gereël om die naweek huis toe te gaan.
Watter soort familie en huis het Ryk? wonder sy. Sy weet sy pa is in die redaksie van ’n aandkoerant en sy ma ’n bekende skryfster van kinderverhale. Ryk is die jongste van drie kinders. Sy broer is in Amerika, waar hy verder studeer, en sy suster is getroud en woon in Johannesburg. Ryk is twee, drie jaar ouer as Elizabeth. Hy het eers sy B.Sc.-graad voltooi voordat hy met die mediese kursus begin het. Van haar tweede jaar af loop hulle saam klas en deur die jare het sy hom leer ken as ’n interessante jong man en ’n skrander, hardwerkende student. Hulle is goeie vriende en gaan dikwels saam uit, maar dit is al. Ryk het groot planne vir die toekoms en daardie planne sluit nie ’n vrou in nie, altans nie vir ’n hele paar jaar nie. Dit pas haar goed. Ook sy stel hart en siel in haar werk belang en sy is nie van plan om haar toekomsplanne te verongeluk ter wille van ’n illusie wat so dikwels vir die vrou net teleurstelling bring nie. ’n Hele klomp van hulle klasmaats is reeds getroud, ’n paar van hulle het al gesinne, maar sulke kortsigtigheid lok by haar net ongeduld en minagting uit. Hoe kan ’n man sy ambisies en ideale verwesenlik, iets in die wêreld bereik, as hy homself met ’n vrou en kinders opsaal voordat hy behoorlik op sy eie voete staan?
Sy