Название | Met ander woorde |
---|---|
Автор произведения | Wilna Adriaanse |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624067030 |
Sy kug voor sy haar kop knik. Haar bene is tot byna teen haar keel opgetrek en haar hande is asof vertroostend daarom gevou. Soos sy daar sit, lyk sy nie drie en twintig nie, dink Ben. Sy lyk soos ’n kind-vrou. ’n Jong, byna weerlose lyf, maar lewensmoeë oë. Nie meer die sorgvrye meisie van die foto nie en beslis ook nie die mens wat Lisa beskryf het nie. Miskien ’n verlangse familielid, maar dis waar die ooreenkoms ophou.
“As jy gedurende die nag iets nodig het, moet jy nie huiwer om een van die personeel te roep nie. Ek sal jou môre sien.”
“Wat sal ek nodig kry?”
Hy is vir ’n oomblik uit die veld geslaan en wonder vlugtig of sy besig is om ’n grap te maak, maar haar gesig is strak en haar blik rus stil op sy gesig.
“As jy nie kan slaap nie of as jy angstig voel en wil hê iemand moet by jou sit. Enigiets.”
“Hoe lank moet ek hier bly?” ignoreer sy sy woorde.
“Dit hang af wat ons met die evaluering vind.”
“Julle kon tot nou toe niks kry nie.”
“Willem het tot nou toe grootliks op die fisieke gefokus. Dis belangrik om eers alle moontlike fisieke probleme uit te skakel.” Ben klink vir homself soos ’n mens wat vir ’n kind iets probeer verduidelik.
Kristina bly sit met haar bene opgetrek toe hy uit is en laat sak haar voorkop op haar knieë. Op een of ander manier het sy tot by die bek van die tonnel gekom en sy weet instinktief hierdie is die laaste omdraaikans. Sy wonder of babas ook so voel as die oomblik van geboorte aanbreek. Of hulle ook soms bang is vir wat anderkant die geboortekanaal wag. Of hulle ook die lig vrees. Sy tel die foto van die bedkassie af op en staar lank daarna. Sy kan nog die dag onthou, maar nie meer waarom hulle so gelag het nie. Dis vreemd om te dink sy het iets so snaaks gevind. Die lewe is tog allermins ’n grap. Miskien het sy net té veel en té hard gelag. Miskien het haar lag opgeraak. Sy wonder of lag se klank kan wegraak, en as dit kan, waarheen dit verdwyn. Is daar êrens in die heelal ’n swart gat waarin lag kan wegraak? Dowes kan nooit hulleself hoor lag nie, maar sy wonder of hulle ook die borrels diep in hulle binnegoed kan voel; of hulle weet dat dit in ’n geluid op die lippe eindig?
Sy het êrens in haar agterkop geweet Ben Krige is ’n psigiater, maar die kere dat hulle hom by Willem en Lisa raakgeloop het was dit nooit juis ’n besprekingspunt nie. Cato kon dit nie glo toe sy dit die eerste keer gehoor het nie en het altyd allerlei opmerkings oor hom gemaak. Daar is een of ander storie aan hom verbonde, onthou sy skielik. Helen het haar lank gelede vertel nadat sy hom die eerste keer ontmoet het. As sy reg onthou, het sy pa selfmoord gepleeg toe hy nog op universiteit was. Dit was blykbaar nadat sy ma ’n paar maande vantevore verongeluk het. En asof dit nie genoeg was nie, het ’n medestudent wat op hom verlief was, een aand haar polse probeer sny omdat hy nie met haar wou uitgaan nie. Sy kan nie die detail van al die tragedies onthou nie; sy sal weer eendag vir Helen moet vra as sy genoeg belangstel om te weet. Op die oomblik stel sy egter in niemand se lewe belang nie. Haar eie het vir haar so vreemd geword dat sy haarself nie meer ken nie.
Hy gaan by haar kinderjare begin, besef sy skielik moeg. Probeer uitvind of haar pa haar nie gemolesteer het nie. Daarna gaan haar verhouding met haar ma aan die beurt kom, want blykbaar is moeder en dogter geneties geprogrammeer om vir ewig in die naelstring verstrengel te wees. Sy het nog altyd gedink hulle gesin het nie geraamtes nie. Daar is nie onoopgemaakte kaste nie. Haar ouers is goeie, godvresende mense, en sy, Calla en Pieter het waarskynlik nog nie lank genoeg gelewe om regtig geraamtes te versamel nie. Sy gaan staan voor die venster. Die buiteligte is aangeskakel en gloei soos paddastoele in die mislaag wat laag op die grond lê. Die akkerboom voor die venster is kaal en met die lig van onder af lyk die takke soos reusagtige vingers wat hemelwaarts wys. Sy kyk in die lug op asof sy probeer sien waarna hulle wys, maar daar is niks. Net ’n grou naghemel sonder ’n maan of sterre. ’n Godverlate, donker nag.
“Het hulle nie net ’n stuk steak nie?” Willem kyk oor die rand van die spyskaart na Sanet, wat oorkant Lisa sit, en dan na Ben langs haar. “Waarom kon ons nie net ’n lekker steak by die Dros gaan eet het nie?”
Ben trek sy skouers op, maar Sanet antwoord Willem met ’n soet glimlaggie: “Ons probeer julle ’n bietjie kultuur leer. Julle twee regresseer vinnig terug na julle grotman-dae as ’n mens nie keer nie. Die plek se kos is heerlik. Be daring. Dit sal nie doodmaak nie.”
“Ek was vanaand lus vir ordentlike vleis, nie hierdie klein ronde goedjies wat hulle vleis noem nie. Dis net genoeg om my vleislus aan te wakker.”
Lisa sit haar hand op sy been. “Moenie so baie kla nie. As jy jou kos mooi eet, kry jy dalk poeding.”
Willem kyk betekenisvol na haar. “Is dit ’n belofte?”
Lisa knik soet. “Ek sien hulle het appeltert – jou gunsteling.”
“Dis nie wat ek in gedagte gehad het nie.” Hy soen haar in haar nek en sy gee laggend pad.
“Is jy nie al te lank getroud om nog so jags te wees nie?” wil Sanet met ’n ligte frons weet.
“Is jy jaloers?”
“Miskien.” Haar blik gaan na Ben, maar hy is besig om die spyskaart aandagtig te bestudeer.
“Hoe gaan dit met my pasiënt?” verander Willem die onderwerp en Sanet se voorkop trek dadelik weer op ’n frons.
“Nee, dammit, Willem Uys! Los tog net vir een aand die siekes en lammes. Ek sukkel my gat af om die man agter daai hekke uit te kry en ek gaan nie vanaand oor pasiënte praat nie, veral nie oor syne nie. Daar moet wragtig interessanter onderwerpe wees.”
“Sal ons oor seks praat?” Willem kyk na sy vriend oorkant die tafel.
“Julle kan praat net waaroor julle wil.” Ben maak die spyskaart toe en sit effens agteroor op die stoel terwyl hy sy wynglas nader trek en ’n sluk neem.
“Ek weet nie waarom doen jy moeite om uit te gaan as jy in so ’n bedonnerde bui is nie. In die vervolg kan jy net nee sê. Ek het lank na die aand uitgesien en jy is vinnig besig om dit vir my te bederf.” Sanet skuif haar eetgerei ergerlik uit die pad asof sy nie meer lus het om te eet nie.
Ben kyk met openlike verbasing na haar. “As jy ’n scene wil maak, lig my net eers in waaroor dit gaan, want sover ek weet, het ek beslis niks verkeerd gedoen nie. Ek was betyds, ek het nie oor die plek of die kos gekla nie en ek het nie die siekes en lammes opgehaal nie. Ek is selfs bereid om oor seks te praat as dit jou gelukkig sal maak.”
“Moenie moeite doen nie. So hard up is ek nog nie.” Sanet lig haar hand om die kelner nader te roep.
“I see the bad moon arising . . .” begin Willem onderlangs sing en Lisa stamp hom met haar elmboog in die ribbes.
Hoofstuk 4
Die volgende oggend hang die wolke laag oor die berge. Daar val sedert die vorige aand ’n fyn motreëntjie. Ben word vroeg wakker en probeer die nag se deurmekaar drome onder die stort afspoel. Net voordat hy uitklim, draai hy die warm kraan toe en die koue kraan groot oop. Die koue water voel soos naalde op sy warm lyf en die hoendervleis slaan byna pynlik op sy vel uit. Ontslae van die wollerige newels, droog hy hom vinnig af en toe hy aangetrek is, skryf hy haastig vir Katie ’n nota om te sê sy hoef nie ontbyt te maak nie.
Hy moet die motor se reënveërs aanskakel om die fyn sproei af te vee. Weerskante van die pad staan groot ou platane, hulle kaal stamme oortrek met ’n liggroen mos. Byna soos ’n wolkombers teen die koue, dink hy.
Die kliniek se ligte gooi geel kolle in die grou oggend. Toe hy binnekom, is Wilmien Carstens in die kantoor besig met haar verslag vir die dagpersoneel. Sy kyk verras op toe Ben binnestap en sy druppende baadjie uittrek.
“En as jy so vroeg hier is? Kom kyk jy of ons ons werk doen?”
“Ek kom kyk of ek julle nie te veel betaal nie.”
“Nie