Название | Sarah du Pisanie Omnibus 8 |
---|---|
Автор произведения | Sarah du Pisanie |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624065746 |
“Ai, juffrou, ek wens ou Zeus wil meer kere weggaan. Ons moet vir hom ’n meisie op die dorp kry, sodat hy gereeld sy ry kan kry.”
Bertus wag gespanne dat Annie moet antwoord op Paul se voorstel. Hy is skielik gretig om te hoor wat sy gaan sê.
“Ja, dalk maak die liefde hom sommer sag en inskiklik!” Dis sowaar Boef wat ook ’n stuiwer in die armbeurs te gooi het, nog voordat sy kan antwoord.
“As dit liefde is wat hy nodig het, kan hy mos maar op juffrou Annie ook verlief raak. Dit sal baie makliker wees.” Hierdie aanmerking kom sowaar van een van die nuwelinge wat nog nat agter die ore behoort te wees.
’n Growwe gelag bars los.
“Arme Persephone – as ou Zeus op haar verlief moet raak! Hy sal nie weet wat om te doen nie. Hy sal haar oor die kop slaan soos die oermense en haar na sy grot toe sleep.” Jan lag vir sy eie grappie en die ander borduur elkeen ’n stukkie daarop voort.
“Julle raak nou skoon stuitig. Kom ons gaan was die skottelgoed.”
“Nee, juffrou, kom ons drink eers melk. Daar is nog twee waatlemoene ook. Kan ons dit nie maar eet nie?”
“Nie hier op die gras nie. Julle sal van die pitte hier mors en meneer Kruger sal nie daarvan hou nie. Ons kan darem gou eers melk drink. Daar is nog perskes ook as julle wil hê.”
Die seuns sien vir alles wat eetbaar is kans ná die dag se swem en baljaar.
Bertus kan homself nie verstaan nie. Hy het sowaar lus en sê vir die kinders dat hulle tog maar die waatlemoene op die gras mag eet.Wat sal ’n paar pitte op die gras nou saak maak? Skaam en vies vir homself laat sak hy sy kop in sy hande.
“Kobus, hoe laat dink jy sal meneer Kruger terugkom?”
Haar mooi stem ruk Bertus uit sy eie gedagtewêreld. Hy wil hê sy moet iets van hom sê. Hy wil weet wat sy van hom dink, hoe sy voel.
“Persephone vis uit na Zeus se doen en late . . . Wat moet ek vasstel? Wat?” Pieter is al weer besig om dramaties toneel te speel en Bertus loer deur die skrefie van die gordyn.
“Ag, Pieter, kan jy nooit ernstig wees nie?” Annie lag hulpeloos. “Ek wil net weet of ons vir hom moet kos warm hou of nie.”
Jan kom sit langs haar en sy stem is vol terglus.
“Is juffrou tog nie bekommerd oor meneer Kruger nie?”
Oswald, wat ook vandag die geleentheid kry om van sy opgekropte terglus ontslae te raak, is dadelik by.
“Ja, dié gedagte is glad nie sleg nie . . . glad nie. Hoe lyk dit, juffrou? Vir beter dae hier op Skurwekop! Ag toe, juffrou! Dan is hy so sag soos ’n lam en hy eet uit juffrou se hand en dan kan juffrou hom probeer beïnvloed en sal hy ons dalk toelaat om af en toe by die meisies te gaan kuier. Teen hulle tennis te speel . . . of liewer, sáám met hulle tennis te speel.”
“Nee, ouens, julle kan dit nie aan die arme Persephone doen nie! Hoekom moet sy nou so ’n groot offer bring vir Skurwekop? Ons sal maar ’n ander slagoffer moet soek.” Boef kom lê op sy maag voor die ander.
“Nou is julle baie lelik! Almal van julle!” Haar stem is gemaak kwaai. “Ek dink meneer Kruger is ’n baie aantreklike man en die meisie wat hom kry . . .”
Sy bly ’n oomblik stil en Bertus sit gespanne en wag dat sy moet klaar praat. Dis Oswald wat tergend aanpor.
“Toe, sê? Wat kry sy?”
“Sy sal ’n standvastige en baie presiese en netjiese man kry. Kyk net hoe mooi is alles hier om julle. Dis ’n lushof!”
“Sy gaan nie met Skurwekop trou nie, juffrou, sy kry vir Zeus!” Oswald los nie die storie nie. Hy is glad nie van plan om op ’n dwaalweg gelei te word nie.
“Ek dink meneer Kruger is eintlik ’n eensame mens,
Oswald. Daar het dalk dinge in sy lewe gebeur waarvan ons niks weet nie. Geen mens is sommer net sonder rede verbitterd en moeg vir die lewe nie. Hy het dalk ’n seer waarmee ons hom kan help. As ons hom dalk meer vriendskap en liefde aanbied, kan ons daardie seer genees.”
Dis lank stil voordat iemand weer praat. Bertus kom agter dat hy sy hande vasklem en stil en gespanne sit en wag.
“Ons is darem ’n klomp nare, ongepoetste goed, nè, juffrou? Skurwekop het lankal ’n vrou nodig gehad.”
Bertus sien hoe Annie haar hand uitsteek en saggies oor Org van Rensburg se wang vee.
“Verwyt jy jou nog steeds oor die storie van die muis, Org? Dit was regtig niks nie. Ek het sommer onnodig hard gegil. Ek is van kleins af verskriklik bang vir ’n muis.”
Org vang haar hand en druk galant ’n soen in haar palm.
Kobus staan vinnig op. Hy het dan nou glad ’n knop in sy keel.
“Kom, die hoofman oor dertig sal die voorbeeld stel en die voortou neem. Ons gaan die skottelgoed was. Juffrou Annie, juffrou hoef nie te help nie, want juffrou het kos gemaak.”
“Ek gaan glad nie nee dankie sê nie. Julle hoop verniet so. Ek is so lui soos ’n mokkel.”
“ ’n Watse ding, juffrou?”
“Nee, dis sommer ’n woord wat my oom altyd gebruik. Jy kry dit in geen woordeboek nie.”
Die pienkvoete, soos die nuwelinge genoem word, word kamer toe gestuur. Hulle aanvaar dankbaar die vergunning, want ná vandag se baljaardery gaap hulle reeds lang gape.
Bertus sien hoe sy haar op die naat van haar rug uitstrek op die gras en haar hande onder haar kop vou.
Annie se gedagtes bly kring om Bertus Kruger en die seuns se tergery. Hy is ’n aantreklike man! Hy is groot en fris met pragtige breë skouers. Sy donker hare is altyd skoon en blink sodat dit los en dig om sy kop vou.
Ná wat Kobus haar vanoggend vertel het, voel sy jammer vir hom. Arme mens, elkeen het in sy lewe iemand anders nodig, iemand wat vir hom lief is! Geen mens kan so alleen en eensaam deur die lewe gaan nie.
Sy wonder hoe lyk die meisie wat hom in die steek gelaat en toe so in sy dop laat kruip het. Kobus sê die man is Schalk Potgieter se broer. Sou hy ook so glad en . . . oorbewus van homself wees?
Die skottelgoedwassers kom sak weer langs haar op die gras neer en Oswald gee vir haar die kitaar aan.
“Kom ons sing nog ’n bietjie, asseblief, juffrou.”
“Goed, maar ons moenie te veel lawaai nie. Die kleintjies slaap seker al.”
“Ons sal vir hulle ’n wiegeliedjie sing. Hulle sal dink hulle is in hul ma’s se arms.” Jan maak sy oë toe en begin saggies ’n wiegelied neurie.
Die jong stemme klink so mooi in die aandstilte, so hartseer en vol verlange dat Bertus sy oë sluit en soos ’n ou man agteroor teen die stoel se leuning lê.
Dit word stil en rustig in sy binneste. Hy het baie om oor na te dink, so vreeslik baie! Maar nou wil hy eers net so stil sit – doodstil sodat hul stemme al die misslierte en rookwolke uit sy verstand kan wegvee. Vannag . . . môre sal hy alles wat vanaand hier gesê is, uithaal en orden. Hy sal dit oordink en weer beleef. Dis tog goed om soms dinge omtrent jouself uit iemand anders se mond te hoor.
Dit raak later heeltemal stil en die goeienag-fluisteringe het lankal weggesterf, toe sit hy nog steeds roerloos in die stoel – weggevoer na iewers waar dit rustig en vol vrede is.
Hy raak eers weer bewus van die wêreld om hom toe die hongerpyne sy maag laat saamtrek. Hy het nie vanmiddag geëet nie, en toe ook nie vanaand nie. Hy staan op en rek hom behaaglik uit. Sy het mos gesê sy bêre vir hom kos. Hy kan gerus gaan proe hoe smaak haar kos.
Die hele koshuis is donker. Sonder om sy lig aan te skakel, sluip hy stil-stil kombuis toe. Die bak met die kos is toegemaak in die lou oond. Dit is heerlik warm en ’n geurigheid