'n Stukkie van jou hart. Elza Rademeyer

Читать онлайн.
Название 'n Stukkie van jou hart
Автор произведения Elza Rademeyer
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624066484



Скачать книгу

is drie weke op Darlingsdrift toe Amanda half met ’n skok besef dat haar verlange na Chris aan die taan is. Hulle bel mekaar weliswaar elke dag, maar haar hart sit nie meer op loop wanneer sy sy stem hoor nie. Hy glo steeds sy gaan tou opgooi en eersdaags weer in die stad opdaag, maar sy is klaar nie meer so seker of sy wil teruggaan Pretoria toe nie.

      Sy geniet veral die plaasbesoeke. Die dorpsmense se nuuskierigheid oor haar het seker tot aanvaarding gelei, want hul besoeke het afgeneem, en niemand blyk meer kwaad vir haar te wees nie. Oom Jorrie het net ’n week nadat hy vir sy eerste ondersoek by haar was, kom vrede maak en vir haar ’n klein varkie as geskenk aangebied. Sy’t moeite gehad om hom te laat verstaan dat sy nie ’n varkhok op tant San se werf kan bou nie.

      Eendag toe sy gou van die spreekkamer na die poskantoor stap om seëls te koop, hoor sy toevallig hoe sy deur Klara en tant Miems beskinder word. Dis nie dat sy bedoel het om hulle af te luister nie, maar nuuskierigheid laat haar voor die poskantoor se deur draal.

      “Dis waar wat dokter Strydom vir jou gesê het: jy gaan jou nog morsdood rook!” sê Klara.

      “Dit was g’n nodig om vir my te sê ek stink nie!” kap tant Miems terug.

      “Dink jy dan jy ruik lekker? Natuurlik stink jy. Jou klere, jou hare en alles. Pure rook!”

      “Aan wie se kant is jy nou skielik? Net die ander dag nog het jy my vertel die dokter is so hardvogtig, sy’t Welma se kind amper morsdood geslaan. En dit net oor hy in haar kamer gaan kla het oor maagpyn.”

      “Ek praat haar nie goed nie, maar . . . Jy weet, Miems, partykeer wonder ek of die storie oor Pietertjie wat geslaan is waar is. Welma wil niks van daardie maakseltjie van haar weet nie, maar hy is ’n stoute wettertjie. Ek kan nie dink dokter sou hom oor so iets onskuldigs wou slaan nie. Vir al wat ons weet, het hy kwaadgedoen in haar kamer.”

      “Klara, dink jy sy’t regtig hiernatoe gekom om Janus en Riekie te help?”

      “Wat anders?”

      “As jy my vra, het sy weggevlug van ’n man af. Ek neem mos gereeld boeke uit by die biblioteek. Weet jy hoeveel keer het ek al gelees van iemand wat platteland toe vlug om weg te kom van ’n man of ’n meisie af?”

      “Praat jy! Noudat jy dit noem, sy’t hoeka vir my gesê sy hét ’n vriend in Pretoria. ’n Spesiale vriend! Maar sy’s nou al meer as ’n maand hier en ons het hom nog nie met ’n oog gesien nie. Hier het ook nog nie eens ’n enkele brief vir haar opgedaag nie!”

      “Ja, maar nou moet jy weet, die mense het mos deesdae selfone. Hulle skryf nie meer briewe nie. Tog ’n jammerte, want as ek darem dink aan die vryersbriewe wat ek gekry het toe ek nog . . .”

      Amanda besluit dis tyd om haar teenwoordigheid bekend te maak. Sy kug hard voordat sy oor die drempel tree. Klara is skielik baie besig met die papiere voor haar op die toonbank, en tant Miems druk haastig die pakkie sigarette wat sy in haar hand gehad het in haar sak.

      “Middag, dokter. En hoe gaan dit met dokter?” vra sy met ’n stroopsoet stemmetjie.

      Amanda onderdruk haar lag. “Baie goed, dankie, tant Miems. Ek sien tante rook nog steeds?”

      “Baie minder, dokter, baie minder. Haai wag, ek moet loop. Dan groet ek maar.”

      Klara is ook die ene onskuld. “Waarmee kan ek dokter help?”

      “Net ’n paar seëls, asseblief.”

      Toe Klara die seëls oor die toonbank stoot, gee sy ’n kuggie. “Hoe kom dokter reg met die mense daar in die gastehuis? Ek meen, is hulle darem gaaf teenoor dokter?”

      “Ja, wat. Ons kom baie goed oor die weg.”

      “En Paul? Hou hy hom nog so eenkant?”

      “Ek ken hom maar sleg. Sien hom net af en toe in die eetsaal.”

      “Die arme man.”

      Amanda weet sy sal meer oor hom te wete kom as sy vir Klara uitvra, maar sy betaal vir die seëls, groet en loop. Net soos hulle haar beskinder het, sal hulle vir Paul ook beskinder. Sy wil nie daarby betrek word nie. Só nuuskierig is sy nie oor hom nie.

      Tog fassineer hy haar by die dag meer en meer. Hy groet haar wel vriendelik wanneer hul paaie kruis, maar dis al. Hy het nog nooit ’n gesprek met haar probeer aanknoop nie. Sou hy ’n meisie hê? Sy motor staan onder dieselfde afdak as hare geparkeer, maar sy sien selde dat hy dit gebruik. Soggens wanneer sy werk toe ry, staan sy motor maar daar en saans as sy terugkom, is dit steeds daar. Die enkele kere dat hy wel na ’n kant toe ry, is hy gewoonlik binne ’n uur of wat terug.

      Op ’n dag kry sy ’n geslagte hoender as geskenk by die spreekkamer. Toe sy dit die middag vir tant San in die kombuis gaan gee, word sy genooi om ’n koppie koffie te drink.

      “Kom sit ’n rukkie, dokter. Ons kry so min kans om ’n bietjie te gesels. Wat dink dokter van ons dorpie? Jy is mos darem nou al meer as ’n maand hier.”

      “Haai, tante, die plek begin al dieper in my hart kruip. Sy mense ook. Waar in die stad sal iemand nou daaraan dink om vir ’n dokter ’n hoender present te gee? En dit was so amper of ek het ’n klein varkie ook gehad.”

      “Ja, tog, dié ou Jorrie met sy varke. Die goed is meer in die straat as op hok. Maar so het elkeen maar sy eienaardighede. Kyk vir ou Klara van die poskantoor. Sy’s altyd eerste om te sê Darlingsdrift se mense is ’n klomp skinderbekke, maar daar is niemand op die dorp wat meer stories versprei as sy nie.”

      “Ja, sy wou nou die dag by my ook uitvis oor die inwoners hier. Of ek dan nou met hulle regkom, en of Paul hom nog so eenkant hou,” stuur Amanda opsetlik die gesprek in Paul se rigting.

      “Paul is maar so ’n eenkantmens,” sê tant San. “ ’n Mens kan hom seker ook nie kwalik neem nie, hy’s deur diep waters.”

      “Tante het eenkeer genoem dat hy in ’n motorongeluk was. Wat het gebeur?”

      “Ag, jong, waar moet ek begin? Paul en sy broer en daardie merrieperd van ’n vroumens het mos eendag van Bloemfontein af hier by my aangekom; hulle het vir die naweek oorgebly. Dit kon nie hoër of laer nie, sy wou die plaas sien waarop Paul en Theuns grootgeword het – Sannieshof hier in die distrik. Theuns het bestuur, ’n roekelose mannetjie. Ek weet, want ek het gesien hoe spin hy die motor se wiele toe hulle hier wegvlieg. Was ook nie ’n uur later nie, toe kry ons die tyding. Motor omgesmyt kort duskant Sannieshof, en Paul in ’n bedenk­like toestand.”

      “En toe?” vra Amanda openlik nuuskierig.

      “Janus moes met hom deurjaag Bloemfontein toe, Riekie saam agterin die kombi om hom aan die lewe te hou. Theuns en daardie merrie het omtrent niks oorgekom nie, net ’n paar skaafwonde.”

      “Die merrie, wie is sy?”

      “Jessica de Brie. Glo ’n Nederlander of iets. As jy nou al ’n spektakel in jou lewe gesien het! Pers lippe, naels in al die kleure van die reënboog geverf. Om van haar klere­drag nie te praat nie! Die een dag soos ’n Voortrekkertannie aangetrek en die volgende dag wonder jy hoekom sy nie sommer heeltemal kaal loop nie, so skamel is die kortbroekie en bloes. Ag nee, ’n meisie moet haar nie so mismaak nie.”

      “Wat is haar verwantskap met Paul en Theuns dan? Is hulle familie?”

      “Sy was verloof aan Paul.”

      Amanda se maag gee ’n onverwagte draai. “Paul se verloofde?”

      “Ja. Ná Paul en Theuns se pa se dood het hul ma mos Sannieshof heeltemal tot niet laat gaan. Sy was ’n spoggerige vrou, net gekoop en gekoop en die boerdery heeltemal links laat lê, tot hulle feitlik bankrot was. Paul wou graag boer, maar hy was nog in matriek, toe verkoop sy ma die plaas. Ook maar vir ’n appel en ’n ei, want daar was omtrent niks meer van die wild en die beeste oor nie. Theuns het ook so reg na haar geaard. Hom niks aan die plaas gesteur nie, net die geld uitgemors op motors en meisies. Hulle drie is toe saam hier weg Bloemfontein toe, Theuns om daar met ’n bouery te begin en Paul om te gaan leer. Dis toe daar