'n Stukkie van jou hart. Elza Rademeyer

Читать онлайн.
Название 'n Stukkie van jou hart
Автор произведения Elza Rademeyer
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624066484



Скачать книгу

      Daar ís darem ’n beter deel van die dorp, dink Amanda toe sy weer voor die venster gaan staan nadat sy klaar uitgepak en gestort het. Meer moderne huise nader aan die rivier, soos Riekie gesê het. Maar dit bly nog steeds ’n klein plekkie. Sy hoef amper nie haar kop te draai om die hele dorp in oënskou te neem nie. Dog, dit sal nie help om nou bekommerd te wees oor die mal perd wat sy opgeklim het nie. Sy is nou hier, en sy sal uithou. Al is dit net om aan Chris te bewys dat sy van sterker stoffasie is as wat hy dink. Dit herinner haar: sy moet hom bel om te sê sy het veilig aangekom.

      “Ek wed jou jy is klaar spyt jy’s daar,” sê hy. “Hoe lyk die plek?”

      “Nie sleg nie. Beter as wat ek verwag het,” jok sy blatant. “Dis nie ’n groot dorp nie, maar dis ver van agterlik.”

      Hulle praat nie lank nie, want hy moet teater toe. Sy knipper haar oë toe sy haar selfoon afskakel. “Moenie nou huil nie,” praat sy fluisterend met haarself. “Dis te laat vir trane. Jy is by omdraai verby, Amanda Strydom.”

      Toe daar êrens in die huis ’n klokkie lui, onthou sy dat tant San gesê het etenstyd word met ’n klokkie aangekondig. Sy stap uit en kyk op en af in die lang gang, volg dan maar die rigting waarin sy twee jong meisies sien stap. Seker die twee skooldogters, dink sy.

      Tant San wag vir haar by die eetkamer se deur om vir haar te wys by watter tafel sy moet sit.

      Amanda kyk verlangend na die tafeltjie in die hoek wat vir net een mens gedek is. Maar asof tant San haar gedagtes kan lees, sê sy: “Daardie tafeltjie is waar Paul Sauerman sit. Jy kan hier by die groot tafel tussen Elna en Ilse sit.”

      Die twee skooldogters glimlag vriendelik en een skuif op om vir haar plek te maak. “Tant San glo seker ons twee is te stout om langs mekaar te sit,” giggel sy. “Nou kom druk sy vir dokter hier tussen ons in sodat ons nie weer mekaar se kos kan gaps nie.”

      Amanda maak spoedig kennis met almal wat die vertrek binnekom. Sy kom agter sy word nuuskierig beloer terwyl hulle eet, maar sy steur haar nie daaraan nie. Almal maak grappies en betrek haar by die geselskap, behalwe die vrou wat regoor haar sit. Welma, die weduwee met twee seuntjies, Pietertjie en Hansie. Sy praat egter met niemand nie, so Amanda glo sy is maar net nie die spraaksame soort nie. Paul Sauerman se tafel bly leeg. Hy’t seker gaan kuier, of hy werk dalk nog, dink Amanda, teen haar sin nuuskierig.

      Ná ete ry sy weer na Riekie en Janus toe sodat hulle die hospitaaltjie vir haar kan gaan wys. Wat sy te wagte was, weet sy nie, maar beslis nie dat dit só primitief sou lyk nie. Veral die teatertjie. Dis uiters beknop en die bietjie toerusting wat daar is, is so outyds en verslete dat sy amper te bang sal wees om dit te gebruik vir die verwydering van ’n toonnael, laat staan nog vir mangel- of blindederm­operasies!

      Daar is net een pasiënt in die hospitaal, ’n vrou.

      Sommer net vir observasie omdat sy van maagpyn kla. Dit laat Amanda weer wonder of Janus nie mans genoeg sou wees om alleen die mas op te kom nie. Waarin het sy haar begeef! As Chris dít moet sien, sal hy regtig glo sy het van haar trollie af geraak.

      Amanda is vroeg die volgende oggend op, en sy is eerste in die eetkamer. Johanna, een van die huishulpe, bring die kos tafel toe. Sy sit ’n kospakkie langs Amanda se bord neer.

      “Mevrou San het gesê dokter het gesê dis nie nodig om iets te ete saam te gee nie, maar dokter moet eet, want ’n mens se kop kan nie reg werk as jou maag leeg is nie.”

      In Pretoria het Amanda meesal net ’n stukkie beskuit en koffie vir ontbyt genuttig, maar die kos is so geurig en lekker voorberei dat sy haar bord dolleeg eet. Sy is besig om haar koffie te drink toe haar oog ’n beweging by die deur vang. Dis ’n man met gitswart hare en ’n ontstellend aantreklike gesig. Hy kyk haar vir ’n oomblik stip aan, knik dan sy kop in ’n groet en beweeg na die tafeltjie in die hoek.

      Dit moet Paul Sauerman, die rekenmeester, wees, flits dit deur haar gedagtes. Maar hoekom loop hy so moeilik? Is hy met ’n gebrek gebore, of het hy dalk polio gehad? Toe hy gaan sit en in haar rigting kyk, slaan sy vinnig haar blik neer. Sy sal wel die een of ander tyd hoor wat die probleem is.

      Een ding is seker: sy mankheid doen geen afbreuk aan sy aantreklikheid nie.

      Toe sy haar koffie klaar gedrink het, loop sy na sy tafel toe en steek haar hand uit. “Ek is Amanda Strydom.”

      Hy kom effens orent en neem haar hand. “Paul Sauerman.”

      “Aangename kennis. Tant San het genoem jy is ’n rekenmeester,” probeer sy ’n geselsie aanknoop. Maar hy knik net sy kop.

      “Ek neem aan jy is ’n vaste inwoner hier?”

      “Ja.”

      “Hoe lank woon jy al hier?” probeer sy nog ’n keer.

      “Vyf maande,” sê hy en lig sy vurk om dit na sy mond te bring. Dis duidelik dat hy nie lus het om met haar te praat nie.

      “Geniet jou dag,” sê sy dus maar en loop geaffronteer by die eetkamer uit. Wat verbeel hy hom, die ou suurknol!

      Amanda het nooit kon dink dat die spreekkamer só besig sou wees nie! Dis ook nie lank voordat sy agterkom Riekie is moeg nie. “Gaan huis toe en gaan rus ’n bietjie,” sê sy teen elfuur vir haar vriendin. “Ek voel nou vertroud genoeg met die omstandighede hier om jou deel van die pa­siënte te kan oorneem.”

      “Jy hoef my nie ’n tweede keer te nooi nie,” sê Riekie. “Maar moenie glo dit gaan elke dag so woes nie. Hierdie stormloop is aan jou te danke.”

      “Aan my! Hoe so?”

      “Nuuskierigheid. Almal wil sien hoe die nuwe dokter lyk.”

      Amanda kom gou agter Riekie was reg. Haar volgende pasiënt is oom Jorrie. Sy “siekte” is bepaald niks anders as onverbloemde nuuskierigheid nie.

      “Ek verstaan van Riekie oom boer met varke?” probeer sy op ’n stadium sy uitvraery ontwyk.

      “Nee, ek sal nou nie sê ek boer met varke nie. Maar my ou sog het darem drie weke gelede agt kleintjies gekry. Mooie goedjies.”

      “Oom moet net versigtig wees dat hulle nie weer uit die hok kom en ’n ongeluk veroorsaak nie. Dit was so amper of hulle het gister onder my motor beland.”

      Oom Jorrie ruk hom dadelik op. “Dit sal jou leer om ordentlik te ry. Op ons dorp is nie plek vir jaagduiwels nie.”

      “Ek het nie gejaag nie – gelukkig nie. Maar hier kan mense van ander plekke af opdaag wat nie varke in die straat te wagte gaan wees nie.”

      “Dan sal dit maar net jóú soort mense wees. Die mense wat hier bly, se familie is almal ordentlike mense wat stadig ry. Wat makeer ek?”

      “Ek kan nie ’n ernstige fout vind nie. Niks wat ’n bietjie salf en ’n pynpil nie sal kan regmaak nie.”

      “Is ook al wat julle stadsdokters ken: pille en salf. Los dit maar. Ek het genoeg daarvan by die huis.”

      Haar volgende pasiënt is Klara Havenga. “Dokter, jy moet gou maak. Ek moet terug poskantoor toe. Darlingsdrift se mense dink mos die wêreld sal vergaan as hulle by die poskantoor kom en hy’s gesluit. Maar hierdie pyn op my maag het gemaak dat ek nou nie anders kon nie.”

      Terwyl Amanda besig is met haar ondersoek, word sy weer eens met vrae bestook. Nee, haar ouers leef nie meer nie. Ja, sy gaan net tydelik hier uithelp. Ja, Darlingsdrift is maar klein teenoor Pretoria, maar sy glo sy sal dit kan uithou hier. Ja, sy het ’n mansvriend in Pretoria. Nee, sy weet nie wanneer hy vir haar gaan kom kuier nie.

      Die derde pasiënt is tant Miems, sewentig jaar oud, wat kla dat sy in die nag so benoud word dat dit voel asof sy nie kan asem kry nie.

      “Rook u?” vra Amanda fronsend nadat sy na die geroggel van tant Miems se longe geluister het.

      “Ja, dokter. Maar nooit meer as vyf en twintig op ’n dag nie.”

      “Het tante al gehoor van emfiseem?”