Talmende tuiskoms. Louisa du Toit

Читать онлайн.
Название Talmende tuiskoms
Автор произведения Louisa du Toit
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624066569



Скачать книгу

as hulle hom weggesmyt het? Was sy koppige argument. Die kinderhuis was goed vir hom, hulle is sy familie.

      “En ons?” wou Irma en Tillie jaloerserig weet.

      “Aag, julle is maar net jammer vir my.”

      Hy het ná ’n bogemiddelde matriek begin werk as toonbankklerk in ’n groot manswinkel. Toe het hulle hom maar selde te sien gekry. Sy het inderwaarheid alle kontak met hom begin verloor toe sy in ’n brief van Tillie verneem dat Deon plaas toe kom en vader teen betaling sal help boer. Vader se toestand is jare reeds nie na wense nie. ’n Hart wat moeg is, reken die dokter. Tog meen Irma dat sy meer bepaald die rede van die verswakking ken: ’n vrou soos Matilda.

      Die koue sypel van buite af die motor binne. Sy wil nie die verwarmer voluit aanskakel nie, uit vrees vir die vaak. Die donker is intenser as gewoonlik. Sou dit wees omdat sy nie meer aan die oop veld gewoond is nie, of omdat sy alleen wakker is? Selfs die motorligte wat die duister deurboor, verlig geensins haar gevoel van verlatenheid nie. Die teenwoordigheid van Deon is egter ’n vertroostende gedagte, al is hy ook op die oomblik onbewus van die werklikheid. Dis nie nodig om stil te hou vir petrol nie, die tenk is nog half en hy sal self daarna omsien. Dis ’n gerusstellende besef.

      Teen halftwaalf begin haar oë brand en haar ooglede word swaar.

      Sy moet skielik stadiger ry vir ’n paar beeste wat langs die pad drentel. Die verandering in spoed laat vir Deon roer. “Irma?” vra hy loom.

      So kinderlik aanhanklik is die woord uitgespreek, dat haar gemoed vol skiet. Sou hy soms, vroeër, in sy slaap so na sy moeder gevra het? Niemand om sy probleme aan te hoor nie; niemand om sy aspirasies te deel nie. Die ouers by die tehuis was goeie plaasvervangers, maar nie sy eie nie. Tillie het geskryf dat hy ’n graadkursus deur middel van korrespondensie volg. Sy het haar voorgeneem om aan hom te skryf, hom aan te moedig en belang te stel, maar het nooit sover gekom nie. Hy kan net sowel eerste skryf, het sy haar dikwels verontskuldig.

      “Dis net beeste. Slaap maar verder,” stel sy hom gerus.

      “Nog nie moeg nie?”

      “Glad nie,” jok sy. Met ’n ligte kreun slaap hy verder.

      Dan is dit weer net die egalige gebrom van die verouderde hoewel sterk enjin, die diep asemhaling agter haar, die effense lamheid van haar voet wat op die versneller moet bly. Verbrands, dink sy dan, dis omdat die sitplek nog al die tyd gestel is vir Deon se langer bene. Haar voet moet half in die lug hang om die versneller te kan bykom. Sy wil nie nou sukkel om die kontrole te vind nie en hou maar so uit. Sou Johan nou ook slaap, met sy steil, ligte kuif ordeloos oor sy voorkop, met die eentonige getik van sy wekker wat versmelt met sy asemhaling? Hoe smag sy daarna om vir altyd by hom te wees.

      Ver vorentoe, noordweswaarts, begin weerlig uitslaan. Miskien sukkel ons nog met ’n nat pad as ons eers van die teer af is, dink sy bekommerd. Dis duidelik dat die onweer nog nie uitgewoed is in die rigting van Wernersdal nie. Dit kan oponthoud beteken. As daar geen teenspoed kom nie, kan hulle teen twee-uur daar wees. Wat ’n droefgeestige tuiskoms. En boonop het Matilda haar seker nog nooit vergeef omdat sy die huis verlaat het nie, buite bereik van die isolasie wat sy so doelmatig op die twee dogters toegepas het, jaar na jaar. Sy was die selfaangestelde hoeder wat hulle moes bewaak teen die versoekinge van die lewe waarin “jou liewe stiefsuster Irma haar nou willens en wetens gewerp het, en mag sy haar deeglik in daardie Sodom vasloop …” Sy kan haar voorstel dat dit die trant van Matilda se jongste onderonsies met Tillie sou wees.

      “Irma …?” Deon se stem is hierdie keer vaster as hy kragdadig orent kom. Dankbaar hou sy dadelik stil en klim uit, styf van die lang sit en koud vanaf haar tone tot by haar knieë.

      “Het ek so lank geslaap?’ vra hy verstom toe hy op sy horlosie kyk. “Dankie. Ek voel baie beter. Nou kan jy weer slaap.” Hy help haar om agter in te klim en haar gemaklik te maak.

      Sy druk haar gesig in die kussing met die skoon, manlike reuk wat daaraan kleef. Sy trek die boonste reisdeken tot teen haar ken op en raak aan die slaap met haar blik op Deon se agterkop. Sy word slegs een keer half wakker toe die ligte van ’n vulstasie by die stilstaande motor inskyn. Sy kry die skoon reuk van petrol. Deon sien haar beweeg waar hy buite aan ’n appel staan en kou. Hy leun na binne en bied haar ook een aan. Sy glimlag nee en slaap verder, verlaas half bewus daarvan dat hy nog na haar staan en kyk.

      Om halftwee skrik sy wakker en kan nie dadelik weer slaap nie. Sy lê hom en dophou, die beweeglose lyn van sy kop en skouers, totdat sy hom laat skrik deur skielik oor te klouter na die voorste sitplek. “Is ons naby?” vra sy.

      “Veertig kilometer; die pad was op plekke so sleg dat ek byna staan-staan moes ry.”

      “Ek kom nou eers agter dat ons op grondpad ry,” sê sy verbaas, haar stem nog loom van slaap. Wat ’n eienaardige nag. Die weer is swaar en dit weerlig laag rondom. Aan weerskante van die pad, in die beperkte ligkring, buig die droë wit gras weg asof twee reusehande dit oopgevlek het. Sy word haar skielik so intens bewus van hulle kleinheid, hulle absolute onbeduidenheid in die voortspoedende motor, omring deur die groot, stormende heelal, dat sy die drang voel om Deon te laat deel in haar gevoelens.

      “Voel jy ook so klein, Deon?” vra sy ernstig. Om een of ander rede verwag sy dat hy sal lag, maar in die blik wat sy donker oë sydelings op haar werp, is daar geen skerts nie. Sy besef dat hy volwasse geword het, ernstiger; dat die gedurige jongmens-gekorswel vir goed verby is.

      Hy knik net. “Ons is mos,” sê hy na ’n tydjie.

      Oor minder as ’n halfuur sal hulle daar wees, sal sy Tillie weer sien, na twee jaar. Die laaste beeld wat sy van Tillie saamdra, is dié van ’n eensame figuurtjie wat trane wegsluk en wie se handjie bly waai en waai terwyl vader en Matilda reeds die perron verlaat. En nou is die rolle omgeruil en sal dit sy, Irma, wees wat haar emosies sal moet bedwing as sy voor Tillie te staan kom.

      “Is sy … is daar lelike merke?” vra sy met beklemming die vraag wat sy tot dusver weerhou het. Om daardie gesiggie met littekens voor te stel …

      “Net ’n skrapie hier en daar,” stel hy haar gerus; tog wonder sy of hy die waarheid praat.

      “Sal hulle ons nou toelaat? Waar is my pa-hulle?”

      “Die nagsuster sal ons toelaat. Hulle het my dit beloof. Jou pa-hulle gaan by tant Bets in die dorp tuis; dalk gaan hulle beurt-beurt bietjie slaap.”

      Tant Bets, haar ma se ouer suster. ’n Liefdevolle en begrypende mens as daar ooit een was. Die omgewing begin nou bekend voorkom. In die lig van ’n weerligstraal herken sy een van die plaashuise. Dis nog twintig kilometer.

      Albei is nou nugter wakker en gespanne. Irma begin haar hare kam. Hy hou sy hand uit en sy plaas die kam daarin. Hy kam met een hand en trek sy kraag reg onder die hals van die trui.

      Die ligte van Wernersdal verskyn, wasig en onseker deur die sluiers van die reën wat nou begin uitsak het. Hy ry stadig deur die lewelose strate.

      Toe hulle by die hospitaal se hek indraai, verstar hulle albei. Uit die skaduwees van die stoep by die hoofingang verskyn haar vader, sy skouers geboë, terwyl hy met sy hand keer vir die skerp motorligte in sy oë.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги,