Marta. Helena Hugo

Читать онлайн.
Название Marta
Автор произведения Helena Hugo
Жанр Религия: прочее
Серия
Издательство Религия: прочее
Год выпуска 0
isbn 9780796317599



Скачать книгу

nie goeie maniere om jou versnipperde tydskrifte vir iemand anders aan te dra nie.

      Die plastiekmandjie gaan swaar wees met al die nat handdoeke. Marta skuif dit eenkant toe, trek die rottangmandjie met die volgende lot nader en begin die masjien laai.

      “Ek dag ek hoor die telefoon?” vra haar ma.

      “Dit was die vrou wat by mevrou Visser huur. Sy kom tienuur.”

      “Lyk my sy is van plan om lank te kuier.”

      Marta kom orent. “Of om môre terug te gaan huis toe.”

      “Ek dag Tienke sê die vrou se man het haar gelos?”

      “Dalk het hulle weer opgemaak.”

      “In my tyd sou ’n vrou nooit die pad kon vat en op ’n ander plek gaan wegkruip nie, ons moes suffer en uithou.”

      Marta staan met die mandjie in haar arms. “Moeder het mos nie gesuffer nie?”

      “Ek praat nie van my en jou pa nie, ek praat in die algemeen. Die ketel kook.”

      Marta sit die mandjie neer en haal die klein teepotjie uit.

      “Wat van jou?” vra haar ma – asof sy omgee.

      “Ek is nie nou lus nie.”

      “Jy gaan ’n sakkie mors as jy net vir my maak en dan kla jy weer ons kom nie uit met die groceries nie.”

      Marta haal die blik met eenkoppiesakkies uit die kas. “Dis nie so erg nie. Moeder is lus vir tee en Moeder mag drink soveel soos Moeder wil.”

      “Is dit al weer daardie flou sakkies?”

      “Laat dit trek tot ek van die wasgoedlyn af terugkom, dan skink ek vir Moeder.”

      “Dit kan trek, maar ek sê jou …”

      Haar ma maak ’n snorkgeluid en blaai verwoed in die Vrouekeur.

      Marta ignoreer dit. Sy trek vir die teepot ’n mussie aan en lig die swaar mandjie. Maar die agterdeurslot sukkel en sy moet dit neersit om die deur oop te kry. Skielik voel sy weer so oud en opgebruik. Dit raak moeiliker om stil te bly en altyd byderhand te wees vir almal, veral vir haar ma. Niemand sien ooit raak dat sy wat Marta is, ook ’n mens is met behoeftes nie – soos om weg te kom en nie meer verantwoordelik te wees vir alles in hierdie huis nie! Eindelik is die deur oop.

      Buite herwin sy haar kalmte. Die vars oggendlug is verfrissend teen die kombuis se bedompigheid. Sy ruik die skoon geure van grond en water en kry nuwe krag. Die mandjie nat wasgoed word ligter. Haar voete raak skaars grond. Sy vryf die drade met flinke bewegings skoon en skud die eerste handdoek goed uit. Tienuur kom Marinda Boshoff. Dit beteken ’n nuwe kliënt en meer geld – veral as sy highlights wil hê. Dalk bly sy nog ’n paar dae of weke, dan kom sy elke week vir ’n was en blaas. Dit kos tagtig rand. Vier maal tagtig is drie honderd en twintig wat Marta by haar maandgeld kan inreken. Dis min, maar alle bietjies help en die highlights teen drie honderd rand gee haar ’n goeie hupstoot.

      Wie weet, die lewe hier rond kan nog ten goede verander.

      Voëltjies fluit vrolik en vlieg heen en weer oor haar kop. Margriete, gousblomme en ander sonsoekers vou hul helder kroonblare oop. Marta lig haar gesig na die son en stuur een van haar skietgebede op.

      Dankie, Here, dankie vir alles wat volmaak is. Ek smeek U, verander vir my alles wat nie volmaak is nie.

      Deon is terug. Ongelukkig het hy ’n meisie aan sy sy en Ciska sê sy is pragtig. Maar Ciska wil so graag ’n skoondogter hê, enige vrou wat een van haar seuns huis toe bring, sal pragtig wees. Marta gee ’n laggie. Miskien is die meisie van Bahrein wat eintlik in Pretoria woon, glad nie so wonderlik nie. Miskien verander Deon van plan en los haar as hy háár weer sien. Baie kan in drie jaar verander. Sy het ouer geword, meer gesofistikeerd, nie so onseker soos laas nie. Dink net – as hy weer sy hare gesny wil hê, kan hulle so naby soos minnaars wees. Dié keer sal sy nie sukkel met sy kop vol kroontjies nie. Moeilik om te sny en tog so oulik, hy lyk jare jonger as vyf en veertig. Ja, hy is tien jaar ouer as sy, maar as mense eers ouer as twintig is, maak ouderdomsverskille nie meer saak nie. Haar pa was agt jaar ouer as haar ma.

      Net jammer haar ma dink niks van die Swanepoels nie – te high and mighty na haar sin. Dit het begin die dag toe Gideon Swanepoel as skoolhoof aangestel is en Arend Koster as onderhoof. Haar pa was tevrede, want hy wou nie hoof wees nie. Haar ma het dit egter as ’n persoonlike belediging beskou dat ’n jonger man bo Arend bevorder is.

      Sondagaand toe Ciska bel om te sê meneer Swanepoel se “verlangse familie” is Deon en Gunther, het Marta se ma nie in die opwinding gedeel nie.

      “Nou gaan jy weer heeldag en aldag daar boer agter die seuns aan,” het sy verwyt.

      “Hulle is nie seuns nie, Moeder, hulle is mans en Deon is verloof,” het Marta gekeer.

      “Sal dit jou terughou?”

      Haar ma het haar so stip aangekyk, dit het gevoel asof sy diep in die geheimste hoekies van haar hart inkyk.

      Dis waar, sy kan nie wag om Deon te sien nie en sy sal vandag nog haar kans waarneem. Gewoonlik doen sy Ciska se hare Maandae, Woensdae en Vrydae, maar Ciska het Sondagoggend ná kerk onverwags gebel en haar gevra om asseblief ’n draai te kom maak en haar hare te kam. Swanie het ’n oproep van verlangse familie ontvang wat Sondagmiddag laat kom kuier en sy wil hom nie in die steek laat met haar deurmekaar kop nie. As Marta toe geweet het wie die gaste was, het sy by die Swanepoels gekuier tot Deon-hulle se aankoms. Nou moet sy wag tot Woensdag, want Ciska het haar dubbeld betaal omdat sy op Sondag moes werk en haar belowe dat sy dan nie Maandag hoef te kom nie.

      Sy kan dus onmoontlik vandag soontoe gaan, tensy sy ’n ander verskoning as hare uitdink. Sy het dit klaar gedoen – laas nag toe sy nie kon slaap nie. Sy gaan ’n sjokoladekoek bak en dit oorvat, maar eers teen middagkoffie se koers. Vanoggend is buite die kwessie al het sy die koek voor dagbreek gebak en versier. Oom Ollie is netnou hier vir sy baard en Marinda Boshoff kom tienuur vir haar highlights, wat ’n uur of twee in beslag sal neem. Haar ma sal nuuskierig wees as sy op wasdag begin koek bak. Dis ook hoekom sy die bakkery uitstel tot haar ma haar middagslapie vang. Dan kan sy in vrede bak en later verduidelik. Teen halfvier sal sy voor die Swanepoels se deur staan. Hopelik sal haar ma nie omgee om ’n uurtjie alleen te bly nie, anders moet sy met tannie Dora reël om iemand op kort kennisgewing oor te stuur. Dit het juis Sondag ’n geskarrel veroorsaak. Toe word sy boonop aangepraat oor die sonde van Sondagwerk.

      Soms voel sy so vasgekeer, dis asof ’n wurgende gewig om haar nek hang, ’n albatros in die vorm van haar eie ma! Maar sy het nie ’n keuse nie – sy moet haar ma oppas. Sy, Marta, met haar alles oorheersende pligsbesef en nimmereindigende arbeidsaamheid. Probleem is net, dit word nie raakgesien nie, ook nie waardeer nie.

      Twee

      “Jou lank geneem om die paar handdoekies op te hang,” skimp Hetta toe Marta die agterdeur oopstoot.

      “Dit was so lekker buite, ek het bietjie gedraai.”

      “Intussen staan my tee en koud word.”

      Dis op die punt van Marta se tong om vir haar ma te sê sy kon maar self geskink het, toe Hetta met haar verwronge handjie oor die bladsy voor haar vee. Dis moeilik vir haar om ’n teepot met kookwater te hanteer, selfs een so klein soos dié een. En Marta voel so skuldig, sy maak oordadig verskoning terwyl sy die tee skink. Dit is nog stomend warm.

      “Hou op om ekskuus te sê, jy maak dit net erger!” keer Hetta.

      “Jammer, Moeder.”

      “My pille!”

      Hetta slaan haar vingertjies om die rand van die piering en trek die koppie tee aan die piering nader. Die koppie wikkel gevaarlik en Marta neem weer oor. Sy gooi melk en suiker in, kry raas omdat daar te min melk en te veel suiker is, en vlug kamer toe om haar ma se pille te gaan haal.

      Hetta is gewas en aangetrek, maar haar