Название | Dokter Julene |
---|---|
Автор произведения | Ena Murray |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624064060 |
Oda gooi haarself skielik huilend teen die kussings en Julene kyk ongeduldig plafonwaarts. Genugtig! Sy is ’n mediese dokter, nie ’n chaperone nie!
“O, ek is so ongelukkig! So verskriklik . . . bitter ongelukkig! O, Julene, jy moet my help!” Oda klink skoon histeries.
Met die onrustige gevoel dat sy geensins om Oda se fisieke welstand saamgenooi is nie, antwoord sy klinies: “Dis hoekom ek hier is: om jou te help.”
“Ek praat nie van my liggaamlike toestand nie! Ek praat van Peter . . .”
“Jammer, Oda. Ek is ’n mediese dokter. Met jou hartsake kan ek jou nie help nie.”
Oda kyk haar verwytend aan. “Maar jy is ’n vrou . . . ’n Westerse vrou. ’n Moderne, verligte vrou! Ek het gedink jý sal kan verstaan!”
Maar die woorde is soos water op ’n eend se rug. Julene sê in haar gedagtes: ’n Westerse vrou wat nie onder ’n kalkoen uitgekruip het nie. “Ek is bevrees jy klop by die verkeerde deur aan, Oda. Van verlief wees en van gebroke harte weet ek niks nie. Jy sal maar elders hulp moet kry wat jou liefdeslewe betref.”
“Jy jok, Julene! Jy moes al verlief gewees het. ’n Pragtige meisie soos jy . . .”
Hemel, waarin het ek my begewe, wonder Julene ergerlik. Dit gaan allesbehalwe ’n heerlike vakansie wees om met ’n verliefde tiener opgeskeep te sit. “Behalwe pragtig – dankie vir die kompliment – is ek slim ook. Slim genoeg om nie verlief te raak nie. En as ek so na jou rooi oë en neus kyk, hoop ek van harte ek bly slim.” Sy sug. “Oda,” probeer sy rede in die verliefde swartkop kry, “al wat jy met jou trane gaan bereik, is dat jou aanstaande jou in ’n kliniek hier in die stad gaan laat opneem en ek sal my op ’n vliegtuig terug Switserland toe bevind.”
Die trane droog sommer op. “Hoekom?” kom die verskrikte vraag.
“Hoe gaan jy jou rooi oë en toe neus verduidelik? Hy gaan sien jy het gehuil en sal wil weet hoekom. Hy is hoeka so vol vrae, klink dit my. Of gaan jy hom vertel dis nie omdat jou rug seer is nie, maar omdat jy jou oë uithuil oor die doktertjie wat jy in Switserland moes agterlaat?”
“Nee, natuurlik nie!”
Julene sug weer en dit tref haar dat dit vandag al baie gebeur het, ook iets wat vreemd is aan haar. Sy neem op die ander bed plaas en vra versigtig: “Hoekom nie? As jy werklik so verlief is, behoort jy hom te vertel. In alle regverdigheid teenoor hom . . .”
“Hy sal my vermoor, Julene!”
“Ag, moenie verspot wees nie, my liewe kind! Mense vermoor mekaar nie meer oor sulke nonsens nie!” betig sy streng, wetende dat dit nou sy is wat twak praat. Mense vermoor mekaar elke dag dwarsoor die aardbol oor die liefde en so sal dit wees totdat die einde van die wêreld aanbreek. Dat Oda se Turk goed beduiweld kan raak, weet sy nou al. Die onderonsie op die kaai was maar net ’n sarsie waarskuwingskote. Die regte oorlog is nog in aantog. Hy het gesê hy en Oda praat later weer . . . Hoe beskaaf is dié Turk? wonder sy onseker. Hy lýk beskaaf . . . maar lyk en is is twee verskillende begrippe. En die oue en die nuwe gaan hier in Istanboel hand aan hand. Miskien is dit net sy moderne Westerse klere, sy blink motor en sy hotelsuite wat beskaaf is. Hy het gesê vrouens moet liewer nie dink nie, en as dít nou nie ’n volbloed primitiewe opvatting is nie!
Oda se smekende stem breek deur haar gedagtes. “Ek kan nie sommer met die deur in die huis val met my aankoms nie, Julene! Ek is verskriklik baie aan hierdie man verskuldig. Selfs my lewe! Ek kan hom nie sommer trompop sê ek wil nie meer met hom trou nie. Gee my asseblief ’n tydjie kans.”
Weer betrap Julene haarself dat sy sug. Oda het gelyk. Dit sal ongenaakbaar wees om hom summier die trekpas te gee. Daar moet gewag word op die regte geleentheid. Sy het in elk geval die gevoel dat Kadri Murad so ’n aankondiging nie sommer sonder slag of stoot sal aanvaar nie. Dié man lyk asof hy ’n goeie bakleier kan wees. Hy sal nie die bruid wat hy na sy hand grootgemaak het goedsmoeds aan ’n vaal Engelsman oorhandig nie. Nee, dis vir seker.
“Nou goed dan, Oda. Dis in elk geval jou saak. Maar jy beter aan ’n aanvaarbare rede vir jou rooi oë dink.”
“Asseblief, Julene. Sê vir hom ek is moeg ná die reis. Sê my rug is effens seer . . . sê hom enigiets, maar hy kan my nie nou te sien kry nie!”
Julene kyk haar openlik ontevrede aan. Sy wil nie betrek word by die driehoek nie en sy is glad nie lus om leuens te vertel nie. Maar sy is nog minder lus om by ’n rusie betrek te word – veral nie vandag nie. Uiteindelik maak sy alleen haar verskyning en bak die kluitjies sonder probleem. Sy is immers goed onderleg daarin.
“Ek het Oda in die bed gesit, meneer Murad. Sy is nog nie so sterk soos wat sy moet wees nie en die reis was uitputtend. Ek dink dis beter dat sy vandag eers uitrus. Sy moet in elk geval vanmiddag nog haar behandeling ontvang.”
Hy lyk maar bra skepties, maar sy stem verraai nie of hy haar glo of nie. Sy vraag is op die man af. “Sal sy volkome herstel of gaan sy iets oorhou van hierdie ongeluk?”
“Sy behoort heeltemal te herstel as sy haar aanvanklik stil hou en haar oefeninge gereeld doen.”
“En dit is waar jý in die prentjie kom?”
Sy kan dit nie verhelp nie. Sy vererg haar onmiddellik. Haar stem verkoel merkbaar. “Ja, maar ek wil u verseker ek het nie my dienste aangebied nie. Oda het my gevra.”
“Hoe goed is u dienste, juffrou?”
Sy frons nou openlik. “Ek is ’n gekwalifiseerde dokter, meneer Murad.”
“Wat bereid is om na ’n enkele pasiënt om te sien?”
Julene sluk. Kragtie, as hierdie gesprek in die Meissner-kliniek plaasgevind het, het sy hom nou by die voordeur uitgejaag! “Ek is toevallig op die oomblik met vakansie.”
“Toevallig? Waar werk jy as jy nie met vakansie is nie?”
Sy voel hoe ’n warmte in haar nek opstoot. Sy probeer sy vraag omseil: “Ek het nie geweet u sou getuigskrifte wou hê nie. Anders kon ek dit saamgebring het.”
Sy oë bly kil. “Ek kan dit later kry. Indien nodig. Maar jy het nog nie my vraag beantwoord nie.”
Sy sluk. Hy gaan haar dwing om dit te sê! “Ek twyfel op die oomblik tussen twee poste,” is die verste wat sy bereid is om gedwing te word.
“Met ander woorde, jy is werkloos,” sê hy pront. ’n Kort gelaaide stilte volg. Sy stem klink byna verspot formeel toe hy vra: “Ek het natuurlik geen idee op watter vergoeding ’n gekwalifiseerde dokter geregtig is wat net na een pasiënt omsien nie. Kan jy my ’n aanduiding gee, asseblief?”
Terwyl sy wonder hoekom sy voortgaan met hierdie gesprek en die man nie in sy peetjie stuur en haar pa gaan bel om haar te laat haal nie, antwoord sy styf: “Ek wil geen vergoeding hê nie, dankie.” Dan, ná ’n oomblik van nadenke en haar oë vererg op die wenkbroue wat vinnig omhoog skiet: “U kan net my reiskoste betaal.”
Die agterdog is nou so duidelik in sy stem dat sy vir die eerste keer in haar lewe lus voel om iets na iemand te gooi: “ ’n Werklose dokter wat geen vergoeding verwag nie?”
Sy probeer nie meer ’n front voorhou nie. Wat te erg is, is te erg. Sy is nog nooit so beledig en verneder nie. Na die maan met hierdie Turk! “Ek is nie ’n kerkmuis nie, meneer Murad. Ek het Oda se aanbod aanvaar omdat ek Turkye graag wou sien en toevallig vir haar tot hulp kon wees. Ek het nie gedink watter bybedoelings u daarin kan sien nie, maar ek verseker u daar bestaan geen gronde vir u agterdog nie. Maar aangesien u my so wantrou, kan u Oda na ’n kliniek neem en vir my plek op ’n vliegtuig bespreek. Ek sal môre gereed wees.”
Siedend van verontwaardiging draai sy om en klap die kamerdeur redelik hard agter haar toe. Wie dink hierdie Turk is hy?
Oda kyk haar met groot oë aan. Haar gesig is een groot vraag. “Ek vind jou aanstaande onuitstaanbaar!” sê Julene sissend.
“Wat . . . wat het gebeur?” vra Oda verskrik.