Dokter Julene. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Dokter Julene
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624064060



Скачать книгу

as dokter hoog aangeslaan word en dat almal baie spyt is dat hy oor ’n paar maande wil terugkeer na Engeland. Daarenteen het die Turkse meisie wel ’n baie gawe geaardheid, is soms nogal gevat met die mond en het ’n pragtige gesiggie . . . maar nie veel meer nie. En dat sy baie aan haar Kadri verskuldig is, is seker.

      Daar was ’n klompie jare tevore groot oorstromings in Turkye en die motor waarin Oda se ouers met haar as jong dogtertjie gery het, is deur ’n stroom meegesleur. Kadri het dit sien gebeur en doodsveragtend probeer om die mense te red. Toe hy die motor in die malende stroom bereik, het Oda se moeder haar spartelend na hom uitgehou met die woorde: “Neem my kind en kyk na haar.” Hy het die kind uit die stroom gekry, maar toe hy hom omdraai om terug te gaan, was daar geen teken meer van die motor nie. Kadri het die dogtertjie huis toe geneem, diep onder die indruk van die tragiese insident, en met die vaste voorneme om aan die moeder se laaste wense te voldoen. Oda het deel van die gesin Murad geword, altyd bewus daarvan dat sy haar lewe aan Kadri Murad verskuldig is. Die feit dat sy as ’n soort grootmaakbruid vir Kadri beskou is, het haar nie gehinder nie; sy het half vanselfsprekend aanvaar dat hulle eendag sal trou.

      Daar het Oda se verhaal geëindig, maar Julene kon die res van die storie voltooi: Tot sy in ’n Switserse kliniek beland en ene Peter Rudman ontmoet het . . . en nou is sy nie meer so seker dat dit vanselfsprekend moet wees dat haar dankbaarheid tot by ’n trouring moet strek nie. Julene kan egter die kommer in die donker oë begryp. Dis nie maklik om iemand aan wie jy baie verskuldig is, teleur te stel nie. Sy weet. ’n Oomblik is Anna se beeld voor haar – die vrou wat haar grootgemaak het en van wie se drome en ideale ook niks gekom het nie.

      Dit is Oda se idee dat hulle van Switserland af moet vlieg tot in Athene en van daar ’n boot moet neem na Istanboel, wat vir Julene op die wêreldkaart net ’n onnodige ompad lyk. Sy aanvaar Oda se verduideliking dat dit is om vir haar, Julene, die geleentheid te gee om meer te siene te kry, maar voel aan dat hierdie dametjie eintlik nie oorhaastig is om tuis te kom nie. Nietemin kry sy so die beroemde Griekse eilande te sien en bevaar sy ’n paar dae later Turkse waters. In die See van Marmara, toe hulle om die Seragliopunt kom, lê Istanboel voor hulle.

      Die stad is nog in ’n vroeë oggendmis gehul en dis of daar skielik en onverstaanbaar ’n benoudheid in Julene se bors vorm. Die vreemde silhoeëtte van torings en koepels wat in die mistigheid na bo troon, bevat al die Oosterse misterie wat sy al op foto’s en in brosjures gesien het, maar dis of die atmosfeer haar bang maak.

      Voor hulle lê die ou deel van die stad en Oda wys haar die belangrikste besienswaardighede uit: die ses minarette van die Blou Moskee; die Hagia Sophia, 1 400 jaar oud, eens die hoofkerk van die Christendom hier, toe ’n moskee en vandag ’n museum; die Topkapi-paleis waar die sultans vroeër op goue trone gesit en Turkye geregeer het. Gou beweeg hulle in die Goue Horing in en ’n rukkie later meer hul boot vas. Julene merk tot haar grootste teleurstelling op dat hierdie beroemde tregtermond geweldig besoedel is, dat die waterweg selfs slymerig vertoon.

      Weer is Oda nie baie haastig om voet aan wal te sit nie en verduidelik breedvoerig aan Julene: “Istanboel is die enigste groot stad wat op twee kontinente lê. Die Goue Horing sny deur die hart van die Europese deel van die stad. Oorkant die Bosporus, die seestraat wat die Swart See en die See van Marmara met mekaar verbind, lê die Asiatiese deel van Istanboel. Ek hoop jy sal jou besoek aan my land geniet, Julene. Hos geldiniz!”

      “En dit beteken?”

      “Welkom!”

      Toe hulle hulle omdraai om aan wal te gaan, staan hy daar voor hulle. Iets vertel Julene dit kan net een persoon wees, en toe sy Oda se ligte snak na asem hoor, weet sy sy het reg. ’n Vlugtige kyk na die Turkse meisie laat Julene besef sy lyk skuldig – asof sy op iets ongeoorloofs betrap is. Sy lyk selfs ’n bietjie bang. Toe haar blik terugkeer na die man voor hulle, kan sy haar ook nie kwalik neem nie. Die Turk lyk allesbehalwe oorstelp van vreugde om sy aanstaande voor hom te sien staan.

      ’n Paar vinnige (en vir haar natuurlik onverstaanbare) Turkse woorde word gewissel. Sy stemtoon is ysig en hare verontskuldigend, verdedigend en toe parmantig. Dat sy deel van die gesprek vorm, word duidelik toe Oda met armswaaie na haar wys en sy net ’n vlugtige, ontevrede blik ontvang voordat daar verder gesels word. Dit begin tot Julene deur­skemer dat die man geensins ingenome is met haar teenwoordigheid nie. Sou Oda hom ooit ingelig het dat sy iemand saambring? begin sy benoud wonder.

      Die geredekawel kom skielik tot ’n einde en sy hoor hom op Engels sê: “Ons praat later weer hieroor. Stel my asseblief aan jou vriendin voor.”

      Sy het geen ander keuse as om maar haar hand gedwee uit te steek toe sy aan die kwaai man voorgestel word nie. Sy handdruk is amper te ferm, asof hy sy woede sommer op die onwelkome gas – wat sy nou oortuig is sy is – wil uithaal.

      By die motor aangekom, glip Oda dadelik by die agterste deur in en die voordeur word vir Julene oopgehou. Sy aarsel, wonder of dit onbeskof sal lyk as sy ook liewer agter in­skuif.

      “Klim in, juffrou, of bly,” kom dit ongasvry.

      In die verlede, ’n ver verlede voel dit nou vir haar, sou niemand só met haar gepraat het nie. Dokter Julene, soos sy in die Meissner-kliniek bekend gestaan het, was altyd daaraan gewoond om met die grootste respek en ontsag behandel te word, en niémand het haar rondbeveel nie. Dit was sy wat die bevele uitgedeel het, én sy het daarin uitgeblink, sal die personeel jou ook kan vertel. Maar die Meissner-kliniek koester hom nou rustig in die Bolandse son in die verre Suid-Afrika en sy staan met haar voete op wildvreemde bodem . . . en as sy nou hier bly staan, weet sy nie herwaarts of derwaarts nie.

      Sy doen nou iets wat vorige kollegas se oë uit hul koppe sou laat peul as hulle dit moes aanskou: sy klim vinnig en sonder ’n enkele woord van teëspraak by die deur in wat vir haar oopgehou word. Dit klap agter haar toe.

      Sy waag dit nie om na Oda te kyk nie, maar dis seker dat sy en die dametjie agter haar ’n baie reguit gesprek gaan hê wanneer hulle arriveer by waar die onbeskofte man hulle ook al mag neem.

      Te besig met haar eie stormagtige gedagtes, sien sy nie veel van wat by die venster by haar verbygaan nie en toe die motor tot stilstand kom, sien sy hy het hulle na ’n moderne hotel gebring. Hilton Hotel staan in groot letters voor haar. Sy slaak ’n suggie van verligting. Dit laat haar darem minder vreemd en onwelkom voel.

      ’n Droë stem vra: “Wat het jy verwag? Dat ek jou na ’n harem sal neem?”

      Sy ontmoet sy blik en ’n bietjie van die ou vuur keer terug na haar. Sy kan nou bekostig om haar man teen hom te staan. Sy sal darem nou haar pa kan laat weet wáár in Turkye hy haar kan kom haal. Haar stem is koel: “Tot dusver weet ek nog nie wat om te dink nie, meneer Murad.”

      “ ’n Baie verstandige besluit, juffrou. Ek vind dis beter as ’n vrou liewer nie te veel dink nie,” en ’n vlugtige blik word na agter gewerp.

      Sy vind uit dat Kadri Murad sy eie suite in die Hotel Hilton het. Hoekom sy so verbaas daaroor voel, weet sy nie. Oda het haar tog verseker Kadri kan betaal, Kadri rol in die geld. Maar omdat sy afgelei het dat hierdie Turkse dametjie die waarheid goed kan verdraai om háár saak te pas, het sy nie regtig geglo hy is só ryk soos wat vir haar voorgehou is nie. Maar hy is blykbaar stinkryk besef sy toe sy die luukse-sitkamer en die slaapkamer wat vir haar en Oda aangewys word, bekyk. En hy kan stinkonbeskof ook wees!

      Toe die deur agter hulle toegaan, wend sy haar dadelik tot Oda. “Waaroor was die oorlog?” wil sy weet.

      “Oorlog?”

      Sy vererg haar. “Moenie jou oë so gemaak onskuldig vir my rek nie, Oda! Bêre dit maar vir Peter Rudman. Ek praat van die oorlog toe ons hier aangeland het.” Sy sien Oda se oë verskrik wegskram en vervolg kwaai: “Ek kon nie verstaan wat julle praat nie, maar dit is vir my baie duidelik dat jou aanstaande,” en sy lê klem op die woord, “nie juis van entoesiasme oorloop nie. Noudat ek daaraan dink . . . hy het jou nie eens gegroet nie – ek bedoel, gesoengroet. Én hy het niks van my geweet nie. Jy het hom nie laat weet jy bring iemand saam nie,” beskuldig sy reguit.

      Maar Oda het net vir een sinsnede ore. “Hoekom . . . hoekom sê jy ek moet my onskuldige oë vir dokter Rudman