Название | Ryker as Dawid |
---|---|
Автор произведения | Maretha Maartens |
Жанр | Религия: прочее |
Серия | |
Издательство | Религия: прочее |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780796315939 |
Jy is ’n verbondsmens onder Jesus Christus as die Verbondshoof
“Toe die mens egter hierdie verhouding verbreek het, het God dit herstel en die verbondsverkeer op ’n ander grondslag geplaas deur dit te verbind met en te grond op die versoeningsarbeid van ’n nuwe verbondshoof, Jesus Christus.”56
• Wanneer jy lees hoe dit was toe God en Abram twee dae lank niks anders as verbondsluiting gedoen het nie, lees jy die geskiedenis van God se verbond met jou.
• Wanneer jy lees hoe die bovertrek reggemaak is vir die instelling van die nagmaal, lees jy hoe die vertrek reggemaak is vir die nuwe gestalte wat God aan sy ou verbond in jou lewe wou gee.
• Wanneer jy al hierdie dinge lees, lees jy die verhaal van die verbond waarin God, die Verbondmaker, jou met jou hele geskiedenis, jou gawes, jou swakhede, jou vrese en jou hoop opgeneem het. Dit is die verhaal van jou verlede, jou hede en jou toekoms.
Só was dit toe Abram vir God as die Verbondmaker ontmoet het
Die verbondsluitingsgeleentheid tussen God en Abram was ’n geweldige gebeurtenis wat twee dae lank geduur het. God as die Verbondmaker het aan Abram, ’n nakomeling van Noag se seun Sem, verskyn om met hom ’n ooreenkoms aan te gaan wat oor sy nageslag en die mensdom handel.
Die eerste nag het God Abram die sterre aan die hemelruim gaan wys.
Die volgende dag het Abram die vleis vir die verbondsluiting gereedgemaak en dit neergesit op die wyse waarop verbondsooreenkomste in daardie tyd gesluit is. Dit was die gebruik dat mense wat ’n verbond met mekaar gesluit het, ’n kalf in twee dele sny en dan tussen die twee dele deurloop.57 Die Hebreeuse woord vir verbondsluiting bevat dan ook die grondwoord berîyth (sny).
Gedurende die dag wou roofdiere die vleis gryp en opvreet wat vir die verbondsluiting neergesit was, maar Abram het hulle weggejaag.
Daardie dag teen sononder was Abram baie moeg en het hy in ’n diep slaap versink, ’n slaap vol angs en gevul met ’n geweldige voorafwete van lyding en groot verdrukking. God het hierdie toekomswete aangaande sy nageslag se verdrukking in Egipte vir Abram gegee, maar hom ook vertroos: “Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in die land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed”58.
Toe breek die tweede nag aan. Dit was die nag waarin die verbond waartoe God Hom reeds voor die grondlegging van die wêreld verbind het, weer bevestig is as ’n blywende, onveranderlike en ewige ooreenkoms tussen God, Abram en ’n mensdom waarvan Abram nog nie geweet het nie.
So staan dit in die Skrif
Ná hierdie dinge het die woord van die HERE (YAHWEH, die God wat Hom deur sy Verbondsnaam as die Verbondsgod openbaar) tot Abram gekom in ’n gesig (visioen) en gesê: “Vrees nie, Abram59 (moenie bang wees nie, Abram), Ek is vir jou ’n skild (jou beskermer) en jou loon is baie groot.”
Abram en die Verbondmaker
Abram (die naam van Abraham voordat God sy naam by die verbondsluiting verander het) spreek God, die Verbondmaker, as Here HERE (Adonai Jehôvâh) aan (Gen 15:2). In dié aanspreekvorm is daar ’n belydenis van die grootheid van God, Abram se ontsag vir Hom, en Abram se besef van sy eie geringheid as mens.
Abram gebruik die Naam Adonai (Oppermagtige, Almagtige) langs die Godsnaam wat ons binne ons fonetiese raamwerk ontoereikend só transkribeer: YAHWEH. Dié heilige Naam spreek Abram uit as J ehôvâh, want die Naam,
Toe vra Abram: “Here HERE (Adonai Jehôvâh)60, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan (gaan sterf) en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is? Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees.”61
God het gesê: “Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.”62
Toe het God Abram buitentoe gelei en gesê: “Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. So sal jou nageslag wees.”63
Abram het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.64 (“The LORD regarded that faith to be his approval of Abram,” volgens die God’s Word Bible.)
Verder het die HERE vir Abram gesê: “Ek is die HERE wat jou uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee.”65
(Abram het gevra waaraan hy sou weet dat God die land in besit sou neem. God het hom beveel om ’n driejaaroud vers, ’n driejaaroud bokooi, ’n driejaaroud ram, ’n tortelduif en ’n jong duif voor Hom te plaas op die wyse waarop verbondsooreenkomste in daardie tyd gesluit is. Abram het die vleis van die diere gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie. Toe kom roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag.)66
Teen sononder het ’n diep slaap Abram oorval; groot angs en ’n groot duisternis het hom oorweldig.
(“And when the sun was going down, a deep sleep fell upon Abram; and, lo, an horror of great darkness fell upon him.67 … and, lo, a dread, even a great darkness, fell upon him.”68 In daardie skemeruur, toe God Abram die komende verdrukking van sy nageslag laat aanvoel het, het Hy ook aan hom die versekering gegee dat Hy Abram se nageslag uit verdrukking en vreemdelingskap en slawerny sou bevry. )
God het vir Abram gesê: “Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in die land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. Maar jý sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. En die vierde geslag sal hierheen terugkom.”69 a
So is God
Die eerste woorde wat God in die ontmoeting tussen Hom en Abram sê, is: “Moenie bang wees nie.”
Die eerste koms van die Seun van God word aangekondig met die woorde: “Moenie bang wees nie, dogter van Sion! Kyk, jou Koning kom en Hy sit op die vul van ’n esel” (Joh 12:15, die vervulling van Sag 9:9.)
In Jesus Christus sien, beleef en hoor ons die volle beliggaming van die God van Abram (Kol 1:17). En hoe groet Jesus sy dissipels keer op keer? Wat sê Jesus telkens wanneer Hy aan sy dissipels en aan ons verskyn?
“Moenie bang wees nie” (sien onder meer Matt 14:27, Matt 17:7 en Matt 28:10).
Ná sononder, toe dit heeltemal donker was,