Название | Tryna du Toit-omnibus 3 |
---|---|
Автор произведения | Tryna du Toit |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798158862 |
Mevrou Du Randt lyk verbaas toe sy hoor die meisie is die nuwe dokter. Verstandiglik sê sy egter niks nie en Karin is bly daaroor.
Arrie du Randt voel egter nog glad nie gelukkig oor die saak nie.
“Ek verstaan nog nie waarom Hugo of dokter Roux nie self gekom het nie,” sê hy toe sy ma ingaan om die koffie te gaan haal. “Of maak hulle ’n gewoonte daarvan om vir jou al die onaangenaamste werk te gee?”
“Dokter Slabbert het vanmiddag ’n noodoperasie en dokter Roux is vroeg vanmiddag al die distrik in – ’n plaas daar naby die nedersetting. Ek is al een wat oorgebly het.” Sy kyk na hom en vervolg: “Gee my maar eers kans om te wys wat ek kan doen voor jy verder beswaar maak – of ’n ander dokter inroep.”
’n Aantreklike glimlag sprei oor sy gesig.
“Ek sal nie verder beswaar maak nie,” sê hy. “Ek sal ook nooit weer ’n ander dokter ontbied nie.”
“Nou spot jy met my,” berispe sy hom.
“Nee, ek spot nie – ek terg maar net ’n bietjie,” antwoord hy glimlaggend.
Onmiddellik nadat hulle koffie gedrink het, is hulle saam daar weg.
Arrie het sommer kortpad deur die veld gekies en hulle was baie gou by die werkers se huise. Een man sit met ’n sny aan sy gesig in die son voor sy huis en slaap.
“Waar is Jakop?” vra Arrie een van die vroue wat besig is om mielies te stroop.
“Binnekant,” sê sy en beduie na ’n huis daar naby.
“Sê vir hom die dokter is hier, hy moet uitkom.”
“Asseblief, meneer Du Randt!” Karin se stem klink koel en beslis. “Hulle moet liewer vir Jakop laat staan – ek wil eers self na hom kyk. Laat ons maar eers uitvind wat hierdie man makeer.”
Die vrou gaan terug na die mieliestropery. Maar sy hou Karin die hele tyd dop en skud kort-kort ongelowig haar kop. Sy ken nie ’n vroudokter nie.
Skynbaar onbewus van die opskudding wat sy veroorsaak, stap Karin nader.
Die snywond aan die man se gesig lyk lelik en hy het blykbaar heelwat bloed verloor, maar sy hart klop sterk en as daar nie ontsteking in die wond kom nie, behoort hy oor ’n dag of twee weer perdfris te wees.
“Ek sal ’n paar steke moet insit,” sê Karin. “Maar ek moet eers die wond ontsmet.” Sy kyk op na Arrie wat belangstellend toekyk en vra: “Sal jy my kan help, meneer Du Randt?”
“Ek sal probeer, Dokter. Jy moet maar net sê wat ek moet doen.”
Die man steun toe sy aan die wond raak, maak sy oë verward oop en sit regop. Hy weet eers nie waar hy is nie en gluur Karin aan.
“Sit stil, Piet,” beveel Arrie streng. Piet herken die stem en sit gehoorsaam terug. Karin ontsmet die wond, sit ’n paar steke in en gee die man ’n penisillieninspuiting teen moontlike ontsteking.
Arrie neem haar nou na Jakop se huis.
“En hier lê die belhamel,” sê hy toe hulle by Jakop kom.
Die man is bewusteloos en Karin ril toe sy die wrede wond aan sy kop sien.
Vlugtig ondersoek sy hom. Behalwe die gevaarlike wond aan sy kop is daar ook ’n meswond aan sy skouer en kneusplekke aan sy gesig en nek. Dis duidelik dat Jakop baie bloed verloor het en hy brand van die koors – ’n teken dat komplikasies reeds ingetree het.
“Hy moet onmiddellik hospitaal toe gaan,” sê sy toe sy opstaan. “Ek kan nie veel vir hom hier doen nie.”
“Ek sal dadelik die verewaentjie laat inspan,” stel Arrie voor. “Dit het motorwiele – hy sal heeltemal gemaklik wees. En moenie so verwytend na my kyk nie, Dokter, ek sou hom dadelik gestuur het, maar die polisie het gesê ek moet vir die distriksgeneesheer wag.”
Sy glimlag effens vir sy houding, maar hy sien dat die blou oë nog bewolk is.
“Ek verwyt jou nie, meneer Du Randt. Inteendeel, ek is baie dankbaar vir jou hulp.”
“Ek is bly ek kon help,” sê hy en sy stem is onverwags grof en diep. Die swarthaarmeisie maak die eienaardigste gewaarwordings in hom wakker.
Die son het net agter die blou rantjies begin wegsak toe Karin weer die dorp binnery. Sy voel vuil en moeg en effens bedruk, en nie heeltemal gelukkig met die verloop van die middag nie.
Die tweede besoek het haar heelwat hoofbrekens besorg – sy weet nou nog nie wat die kind makeer nie. Hy het nou al vier dae lank ’n hoë koors en was die vorige nag ylend, sê sy ma. Sy kliere is geswel en alles dui daarop dat dinge nie pluis is nie. Maar hoewel sy hom van kop tot tone ondersoek het, kon sy nie haar vinger op die moeilikheid lê nie. Sy het die seuntjie ’n inspuiting gegee en sulfapille gelaat, maar sy voel tog of sy onverrigter sake terugkeer. Sy begin ook bedenkings oor Jakop hê. Miskien dink dokter Slabbert dit was onnodig om hom hospitaal toe te stuur – miskien is die wond nie so ernstig soos sy gedink het nie. Ongeduldig skud sy dié gedagtes van haar af, maar sy bly bedruk.
Waarom voel ’n mens party dae so sterk en seker van jouself, wonder sy, en ander dae weer so hulpeloos en onkundig? Is dit maar net omdat sy nog jonk en onervare is, of het die feit dat sy ’n vrou is ook iets daarmee te doen?
Daar wag ’n paar boodskappe vir haar by die hotel, ook een van Hugo wat vra sy moet hom bel sodra sy terugkom.
Hy beantwoord dadelik die telefoon.
“Dokter Slabbert wat praat,” hoor sy die koel, saaklike stem sê en onbewustelik staan sy regopper en lig haar ken ’n duim of twee hoër.
“Goeienaand, dokter Slabbert.” Sy hoop haar stem klink net so koel en saaklik soos syne. “Dis Karin de Wet. Ek het nou net teruggekom en jou boodskap gekry.”
“Goeienaand, dokter De Wet. Dis gaaf van jou om dadelik te bel. Ek wou net hoor hoe dit met die besoeke gegaan het.”
Karin kan haar ore nie glo nie. Dis die eerste keer dat hy dit doen en ’n oomblik weet sy nie wat om te antwoord nie. Dan sê sy onverwags: “Ek weet nie – nie so goed nie.”
Daar is ’n klein stiltetjie voordat hy vra: “Was daar probleme?”
“Nee, glad nie,” sê sy haastig. Sy het nooit bedoel om so ’n erkenning te maak nie – dit het heeltemal onverhoeds uitgeglip. “Maar een van die beseerde werkers kom vanaand hospitaal toe met skedelbreuk en ek wou jou vra om hom vanaand nog te gaan ondersoek indien dit moontlik is.”
“Ek sal agtuur by die hospitaal wees. Is dit in orde?”
“Heeltemal in orde, dankie, Dokter.”
“Goed, dan praat ons verder. Ek doen die galblaas môreoggend. Sal jy kan assisteer?”
“Ek sal graag help. Baie dankie, ek kry jou dan agtuur by die hospitaal.”
Terwyl sy in ’n warm bad lê in ’n poging om van haar moegheid en bedruktheid ontslae te raak, dink sy weer aan haar gesprek met Hugo. Nuuskierig wonder sy of hy haar gebel het om haar van die operasie te laat weet en of hy net wou seker maak sy is veilig terug. Dis so ’n vreemde gedagte dat hy bekommerd oor haar was dat sy nie eens verder daaroor wil dink nie. Hy het natuurlik net gebel om seker te maak sy sal hom die volgende oggend kan assisteer.
Sy is bly sy kan by wees met die operasie en ondanks haar bedenkings oor die middag se besoeke, is sy tog bly dat sy gegaan het.
Sy hou van Arrie du Randt en sien uit daarna om hom weer die naweek by die Truters op Geluksvlei te sien.
Sy trek ’n warm rooi rok aan wat ’n bietjie kleur in haar wange bring en die glans van haar donker hare verhoog. ’n Nuwe lipstiffie en ’n bietjie parfuum help om haar iets van haar verlore gemoedsrus te laat herwin en in ’n heelwat opgewekter stemming stap sy later eetkamer toe.
Toe