Helene de Kock Omnibus 9. Helene de Kock

Читать онлайн.
Название Helene de Kock Omnibus 9
Автор произведения Helene de Kock
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798157780



Скачать книгу

sy Lilette na haar kamer geneem het en die geel motortjie in die motorhuis besorg het, en kry ’n taamlik simpatieke oor.

      “En natuurlik sal my goeie pa hom op enorme wyse oor haar ontferm, jy ken hom mos!” trek sy los toe sy en Elsje gou vir ou Selina in die kombuis help om aandete reg te kry. “Nou sit ek en jy met die gebakte pere, want ons sal haar natuurlik moet amuseer!”

      “Moenie glo nie,” antwoord Elsje, wat sedert die vorige aand se onderonsie met Peet en Eugene bra swygsaam was, en rasper met mening ’n wortel in die slaaibak.

      “Wat bedoel jy?” vra Maryn en los die vla waarmee sy besig was sodat ou Selina haar net betyds berispe om dit dop te hou, anders brand dit aan.

      “Wel,” sê Elsje, “dit sal nie vir ons nodig wees om haar te vermaak nie. Solank Marcel Hoffman maar net iewers in die prentjie is, sal sy heeltemal tevrede wees!”

      Dit laat Maryn totaal van die vla vergeet, en toe Selina haar weer aanmaan, is dit klaar aangebrand en moet sy weer melk daarvoor kook. Sy is pas daarmee besig, of Lilette kom voeg haar by hulle, en tot Maryn se innige verbasing en effense irritasie, maak sy haarself baie handig. In ’n japtrap, en byna sonder dat Maryn dit agterkom, het sy die vlamakery by haar oorgeneem en word die kokende melk ’n gladde, romerige mengsel waarvan die meeste huisvroue maar net kan droom.

      “Maar jy’s oulik!” kan Elsje nie verhelp om op te merk nie.

      “Dit lyk lekker,” kry Maryn uit, en kyk liewer anderpad.

      “Oefening is die wagwoord,” sê Lilette met ’n tevrede laggie. “Ek moes dit sovele male vir Christine doen, weet jy …”

      “En baie ander dinge seker ook?” sê Elsje, haar oë groot en nadenkend op die klein meisietjie gerig.

      “O ja, nee, dié kan jy weet!” antwoord sy dadelik met geesdrif. “Die tye dat ek by hulle was, was dit ék wat gekook het, en ék wat die kleintjie se doeke aangesit het en hom aan die slaap gemaak het.”

      Dit voel vir Maryn kompleet asof iets teen haar ruggraat opklim, so ’n sterk impuls het sy om uit haar vel te spring. Sy kan die rooikopmeisie se wye lag nie een sekonde langer verduur nie, en sy vlieg om, loop sonder ’n woord kamer toe. Agter haar, soos ’n tergende refrein, hoor sy Elsje en Lilette se half skertsende, half ernstige gesprek, en toe sy voor haar venster gaan staan en na die verdonkerende tuin kyk, is dit asof haar luierende gedagtes van die afgelope paar dae in rat kom. Natúúrlik sal Elsje Lilette se gebabbel amusant en interessant vind; sy is tog nie so betrokke nie! En daarmee sluit sy haar oë, haar blik geheel na binne gekeer. En ék ís, erken sy, terwyl sy voel hoe die aanslag van hierdie bekentenis haar innerlik laat sidder. Ag, dink sy byna bedroef, al die ander vakansies in die bakermat van Damplaas was so ’n kalme skommeling binne gevestigde verhoudinge, ’n rustige deining op staande waters. Maar hierdie keer het hulle almal in ’n stroming beland wat hulle met ’n vaart iewers heen voer. En die ergste, dink Maryn, is dat ek geen begeerte ondervind om terug te draai nie. Een deel van my kyk met ’n koue oog terug na wat was en op die oog af nog is, en die ander deel strek reikhalsend uit na die betowering van die onbekende.

      Sy skrik op toe ou Selina die etensklokkie met ’n streng hand lui, gaan trek ’n kam deur haar hare en stap lusteloos eetkamer toe. Sy is verbaas om Marcel ook daar te sien. Hy is in diep gesprek met oom Frederik en sy lei af dat haar pa hom genooi het om oor die beeste te praat. ’n Paar van die koeie se kalftyd is naby en Marcel voorsien probleme vir sommige van hulle. Vir ’n wonder is Eugene en Peet ook by vir ete, en nadat Eugene vir almal ’n ligte tafelwyn ingeskink het, dank oom Frederik en hulle sit aan. Dis vanselfsprekend dat Lilette ’n plek langs Marcel kry, en sy skep sy kos in asof hulle ou getroudes is. Hy laat hom dit stilswyend welgeval en praat feitlik uitsluitlik met oom Frederik, wat aan sy regterhand sit. Die ander eet swygend, sonder om veel te probeer gesels. Eugene maak geen geheim daarvan dat hy die rooikoppie se teenwoordigheid in die huis interessant vind nie, en toe hy klaar geëet het, vra hy haar onomwonde ’n paar reguit vrae.

      “Hoe geval die platteland jou ná Kaapstad, juffrou?”

      Lilette kyk ietwat verbaas op, strengel toe haar fyn vingertjies voor haar inmekaar, glimlag kinderlik lief met hom, en antwoord: “Dit geval my goed, meneer Basson.”

      Eugene kyk met verskerpte aandag na haar, skreef sy oë.

      “Ja, maar wát geval jou hier, ek bedoel, ná die teaters en die see en die Kaapse kêrels?”

      Dis haar beurt om hom beter te beskou, en sy doen dit met wye swart oë wat blink en takserend op hom gerig word, sodat almal hul asem ophou en byna elkeen met trae verwondering aanskou hoe hierdie twee mekaar met woord en blik meet.

      Voor hul oë word Lilette se liewe glimlaggie misterieus, haar lippe sluit vol en aanloklik voordat sy sê: “Die somtotaal van al die dinge in die Kaap, meneer Basson, weeg nie op teen wat ek hier kom soek het nie!”

      Dis so stil aan tafel dat ’n mens ’n speld kan hoor val. Totdat Marcel met ’n haastige ongeduld skielik sê: “Omdat jy haar nou eenmaal ge-‘juffrou’ het, Eugene, gaan sy jou nou ‘meneer Basson’ tot die perde horings kry! Skei uit, Lilette!”

      Lilette lyk nie in die minste gepla deur Marcel se kwaai woorde nie; haar blik is vasgenael op Eugene se songebrande gesig. Dié sit haar met ’n omgekrapte frons en bekyk.

      “Nee wat, hy is meneer Basson net totdat hy my welkom heet!”

      Maryn voel lus om hoorbaar na haar asem te snak, en selfs Elsje het haar gewone teenwoordigheid van gees vir ’n oomblik verloor. Oom Frederik se pyp lê stil in sy hand en maak dun rookkrulletjies boontoe. Ook Peet se slim gesig lyk dom en Marcel is duidelik sommer kwaad.

      Dis Eugene wat meteens breed lag sodat sy sterk wit tande skerp afsteek teen die gebruinde vel.

      “Jy het nie my welkom nodig nie, juffrou, dus kan dit maar wag! Julle sal my asseblief moet verskoon! Ons stroop vannag deur, anders is ons skedule na die maan!” Toe buk hy af en soen ’n bra verbaasde Elsje vol en ’n klein bietjie demonstratief op die mond. “Nag, Els … of stap jy saam?”

      Maryn sien hoe ’n dowwe gloed van verleentheid oor Elsje se gesig sprei, en hoor hoe sy amper fluisterend antwoord: “Ek kom saam.”

      Sy en Eugene groet dan ook die ander en loop uit – Eugene met ’n besitlike arm om haar middel.

      Ook Peet vra verskoning en beduie dat hy maar met die stroper gaan spook totdat die skopper-as reg is. Maryn loop saam met hom tot buite die ligkring van die werf, sê nag en draai traag om om terug te gaan huis toe.

      Sy besluit om óm die huis te loop en voor in te gaan. Dis so ’n lekker louwarm aand dat sy baie meer lus het om ’n lang ent te gaan stap. Sy wik en weeg, en besluit tog maar daarteen. Want in die laaste tyd, vandat hy so siekerig is, is haar pa erg knorrig as hy nie presies weet waar sy of selfs Elsje ook, hulle bevind nie. Hy sal hom nou weer gedaan kwel as sy laat by die huis kom.

      Om die hoek van die huis steek sy vas, tree toe effens terug sodat sy in die dieper skadu’s van die sykant van die huis is. Voor op die grasperk, in die vae ligskynsel van die stoep, staan Marcel en Lilette. Hy staan met albei hande op die heupe en afkyk na die klein meisie wat met ongekende erns staan en praat. Haar arms is voor haar bors gevou en styf teen haar aangedruk, asof sy haarself so kan verweer teen iets. Dis ’n intense gesprek waarin elkeen presies sê wat hy bedoel, en hulle praat in ’n dringende toon wat dra. Waar sy staan, kan Maryn elke woord hoor. Haar eerste impuls is om te maak dat sy wegkom, maar hul woorde hou haar asof sy ingeplant is.

      “Ek wil jou nie hier hê nie, Lilette. Ek het dit sonder enige omhaal aan jou gestel die aand met die vleisbraaiery.”

      “Marcel! Moet my nie wegjaag nie …”

      “Ek jaag jou nie weg nie. Ek konstateer net ’n feit – jy hóórt nie hier nie!”

      “Waarom nie? Alles hier is nie so danig behoorlik nie, laat ék jou vertel!”

      “Dis jý wat nie verstaan nie, Lilette. Hierdie mense behoort aan mekaar. Ek is die buitestander en is van plan om dit