Helene De Kock Omnibus 10. Helene de Kock

Читать онлайн.
Название Helene De Kock Omnibus 10
Автор произведения Helene de Kock
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798153188



Скачать книгу

die kombuis, haar neusie weer reg gepoeier, maar haar oë was nog duidelik geswel. En Hennie Smit, ’n gawe vriend van Eugene en vennoot van Marcel by die veeartseny-kliniek, het haar sagkens voorgekeer en staan nou in diep gesprek met haar. Eugene frons geïrriteerd. Dit was reg van die begin af so – hy is glad nie doodseker of hy Lilette vir ’n leeftyd lank wil hê nie, tog maak dit hom grensloos die joos in om haar saam met iemand anders te sien. En Hennie Smit het ’n beskeie ogie op Lilette, dié vermoed Eugene hoeka al. Maar hy weet ook nou dat hy nie werklik die moed het om hom by hulle te voeg nie. Hy kan aan hul uitdrukkings sien dat hulle in liefde en verdriet van sy pa praat, en op dié oomblik sal dit hom so ontstig dat hy dalk sy waardigheid sal verloor en soos ’n kind huil. Die blote gedagte dat hy immers dit aan sy pa se nagedagtenis verskuldig is om waardig te bly, laat warm trane tot agter sy oë stoot. So dikwels het hy sy pa dit hoor sê, dat mens altyd jou waardigheid moet behou, al gebeur wat ook al.

      Met helder skryning roep hy hom ’n gesprek tussen hulle twee in herinnering net nadat Peet en Elsje in hul wittebroodsgeluk hier weg is, en hy wat Eugene is woedend teruggekom het na hy ’n onderonsie met Lilette by die dorpstennisbane gehad het. Toe sy pa hom ook nog tuis voorkeer en opsluit wil weet wat hy die dag by die koöperasie uitgerig het in verband met saadaankope, wou hy terstond sy gramskap op sy pa projekteer. Waarop oom Frederik hom darem ook op sy swaar, stadige manier vererg het.

      “Gene, my seun, nou laat jy darem toe dat ’n liefdesteleurstelling jou kwaai rondgooi – en in dié proses gaan jy jou waardigheid prysgee. En nie net dit nie. Jy gaan vir jouself ’n struikelblok word, of erger nog, vir iemand anders.”

      Eugene het hom in vurige protes aangestaar, heftige woorde na sy lippe voel kom tesame met die sobere wete dat sy pa reg het.

      “Ek is jammer, Pa,” het hy gesê, en sy oë, waaruit die wilde frustrasie nie wou wyk nie, neergeslaan. Sy pa het niks verder gesê nie, net ’n verweerde hand op sy seun se skouer gesit. Ook dié teer gebaar, so vol deernis en begrip, het ’n dieper besef gebring: elke keer dat hy met Lilette fout gevind het oor die een of ander onbenulligheid, soos dié middag toe sy verkies het om saam met haar ou tennismaat ’n wedstryd aan te pak eerder as met hóm – wat ’n eerste dan in karate het, maar niks van tennis weet nie – het hy met haar gebaklei asof sy Elsje is. Sy verontregting wou-wou elke maal net so groot wees soos die middag toe hy Peet en Elsje in mekaar se arms kom kry het. Wat ’n dag was dít nie! ’n Dag waarin die broeiende onrus van die vakansie op Damplaas meteens oopgebars het in ’n inferno van vuur en vlam en vuurwarm emosie. Nadat Eugene en Elsje en Peet en Maryn, en ook die ingetoë Marcel, die ganse koringstrooptyd hul gevoelens tot elke prys moes verberg of ’n groot opskudding veroorsaak, het daar een middag teen die einde van Desember ’n gasontploffing by die groot droogoonde plaasgevind, wat dié duur apparaat uitmekaar geruk, en meteens die sluise in die harte van die mense van Damplaas laat oopgaan het. Toe die stilte ná die geweldige ontploffing daal, was Peet se eerste gedagte by Elsje, en Maryn s’n by Marcel, want Marcel en Elsje is laas by die oonde gewaar. Ook Eugene, wat in sy skrik in haas daarheen gekom het, het hulle só kom kry: ’n oorstelpte Peet wat Elsje vashou asof hy haar nooit wou los nie, en Maryn wat salig aan Marcel se arm hang.

      Dit was sy pa, tóé reeds siekerig, wat hom daardie aand stilweg in sy kamer kom besoek het.

      “Die liefde kom nie as jy hom nooi nie, my kind. Jy mag hulle nie kwalik neem nie. Ek het reg van die begin van die vakansie af gesien hoe die wind wil waai, en tog wou ek hom keer. Dis tog ewe onmoontlik.”

      Maar toe Lilette hom met simpatieke bruin oë dieselfde vertroosting wou bied, het hy haar sonder meer afgejak, sodat sy briesend van hom af weg is nadat sy hom daarvan beskuldig het dat hy hom oorgee aan selfbejammering. Sy het sekerlik rede gehad om kwaad te wees, maar wat sy gesê het, was maar halfpad waar. Hy was jammer oor wat gebeur het, ja; hy was smartlik jammer om die mooi, blonde Elsje te verloor, maar hy was meer seergemaak en kwaad omdat hy iets verloor het wat hy as syne gewaan het. Hy was baie, baie besitlik – het hy toe meteens geweet, en ook besef dat hy dit nooit voorheen geweet het nie.

      Gaandeweg het die middag toe die droogoonde gebrand het en hy sy eie liefdesdroom in rook sien opgaan het, tog vervaag, sodat daar nou net soms ’n seer verlange is na iemand wat vir hom volkome vervulling sal bring. En ook na Peet – Peet, saam met wie hy ’n jong lewe lank saam gedink, gedoen en gedroom het. Net soms, op ’n rou middag soos vanmiddag, verlang hy na hom met ’n verlange wat hom wil verteer. En skielik, terwyl hy so staan met die koppie tee wat al koud geword het, weet hy dat hy hom nou, in hierdie tyd, wil sien. Hy is kapabel en klim op die eerste vliegtuig wat Leiden toe gaan en gaan gryp Peet aan die skouers om hom te sê van sy verlange na hom, om saam met hom te treur oor hul vader. Dit is hierdie besef, wat soos ’n pynlike blydskap in hom oopgaan, wat sy hart weer laat warm word, vir die eerste maal sedert sy pa se dood. Hy wil weer hê dat alles regtig, regtig moet wees soos dit was. En hy weet intuïtief dat dit een geleentheid gaan wees waar hy die kans gegun sal word om die soete in sy verlede weer te laat herlewe. Hy en Peet hoort in die gees bymekaar soos broers. Hy is nie meer te trots om te erken dat hy Peet in hierdie uur nodig het nie. En hierdie uur duur lank, dit weet hy met die nuwe insig van ’n treurende.

      As die begrafnisgangers op Damplaas enigsins merk dat die erfgenaam van wyle Frederik Basson vandag geheel in homself gekeer is, laat hulle dit nie blyk nie. Hul eie gesprekke is vandag maar yl, want Frederik was ’n geliefde man. Sy verlies sal nog lank gevoel word. Daarom kyk hulle onderlangs en met simpatieke blikke na die fors geboude Eugene met sy welige donker kop en helderblou oë wat starend voor hulle uit kyk. Tog so ’n jammerte dat Peet Baumann nie hier kan wees nie; die twee was altyd onafskeidbaar. Selfs toe die slim Peet Eugene se blonde nooi afgevry het – merk een van die buurtantes fluisterend op – het die twee die saak met ’n vuisgeveg uitgemaak en klaar. Moenie glo nie – fluister een van die gemeentesusters terug – met die jong goed weet ’n mens nooit. En die mense sê juis dit lyk of hy nie kan vat kry aan die rooikoppie nie.

      Toe hy sy koppie met die halfgedrinkte tee neersit, vang Eugene ’n paar woorde op wat hom tog ligweg laat lag kry, en vir die eerste maal die middag antwoord hy iemand spontaan: “Ek en die rooikop gaan nog saam-saam vir Peet en Elsje kuier, tante,” sê hy sag by die fluisterende tannie se oor, sodat sy verskrik opkyk en haar luide gefluister staak.

      “Wanneer dan, kind?” wil sy dadelik onbeskaamd weet, haar ogies koeëlrond op hom gerig.

      “Net sodra, tante, net sodra,” antwoord hy en tik haar op die skouer.

      Maar toe hy wegstap, het alle ligte humor hom reeds verlaat. Vreemd, dink hy toe hy hom by Hennie en Lilette gaan skaar, hoe die geringste poging tot humor op só ’n dag juis die tragiek daarvan beklemtoon. En buitendien is sy grappie suur. Hy wil nie saam met Lilette gaan nie. Hy wil alleen vir Peet en Elsje gaan kuier, die saak met homself uitmaak en hom koester by die vlam van ’n ou vriendskap.

      “Hallo …” sê Lilette huiwerig en raak aan sy hand, sodat hy haar vingers sag vasvat, en met haar glimlag.

      “Wanneer gaan jy begin lentekoring plant?” vra Hennie in ’n poging om ’n gesprek te begin.

      “Ons … ek het gedink om maar so gou moontlik te begin. Sommer môre of so.”

      “Jy moet jouself eintlik nou ’n ruskansie gun. Net vir ’n paar dae. Jy het dit nodig,” sê Hennie sag.

      “Nee,” sug Eugene. “Dit sal te swaar wees om stil te sit en dink.”

      “Dis ook waar,” stem Hennie saam.

      Hulle gesels nog ’n rukkie, en toe, tot Eugene se onnoemlike verligting, sien hy dat die mense begin groet en hy stap voordeur toe om hulle weg te sien.

      ’n Halfuur later het hy met elkeen wat gekom het, ’n woordjie van dank gewissel en bly daar nog net Lilette en Hennie, en Maryn en Marcel oor. Sy suster en haar man draal om weg te kom, onwillig om hom op hierdie skemeraand alleen te laat in die groot opstal met die lang gange en ruim vertrekke. Maar eindelik ry hulle ook nadat hy hulle verseker het dat hy dit nie vrees om vanaand alleen te wees nie. Dit sal hom net goed doen, sê hy. Eenmaal moet ’n mens tog besef dat alles finaal verby is, en die beste manier om dit te doen, is om in totale gesprek met jouself te wees.

      Hennie