Название | Alles wat blink |
---|---|
Автор произведения | Melissa Scharneck |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780795800375 |
Vir ’n paar oomblikke is net die horlosie se tik-tak hoorbaar. Madie raas nou met haarself omdat sy gevloek het. Toe ons dertien was, het sy eendag “kak” gesê en haar pa het haar so hard deur die gesig geklap dat haar mond gebloei het. Daai man het ’n unieke manier van ouerwees wat nog altyd gemaak het dat ek hom wil kastreer.
“Die honde het my opgebeur omdat dit Willem se wil was, maar net tydelik. Hy put nog steeds groot genot uit hulle en gaan stap gereeld met hulle op die strand, maar vir my het hulle weer net honde geword. As Willem nie oor twee weke Bali toe gaan saam met ’n ander vrou nie, sal ek myself laat toets. Ek sal seker maak of daar ’n rede is hoekom ek nog nie swanger kon raak nie. Ek belowe ek sal alles in my vermoë doen om swanger te raak én om vir Willem te vertel ek verafgod hom.”
“Ons tyd is amper verstreke,” sê Doreen. “Wat van Janine?”
“Wat van haar?” vra Madie.
Ek spits my ore. Doreen swyg.
“Ek is kwaad. Nie vir haar nie, natuurlik. Ek is niks anders as lief vir Janine nie. Ek is kwaad vir die heelal. En ek is eensaam.”
“Jy lyk nie kwaad nie.”
“Ek ís. Sy’t gesukkel om asem te haal en ek mors my asem,” sê Madie voor sy haarself van die bank optel en haar handsak oor haar skouer sit. “Totsiens, Doreen.”
“Totsiens, Madel.”
Madel is so ’n kak naam. Ek dink dis net Doreen en Madie se pa wat haar nog Madel noem. Madie is nie ’n Madel nie, sy’s ’n Madie. Myne.
Ek bly by haar tot sy by haar kombuis instap. Lettie is nog daar. Lettie is Madie se huishulp, al suffer Madie van die grootste case van white guilt wat ek ooit teëgekom het. As Lettie dit toegelaat het, sou Madie háár klere stryk.
“Dis ’n helse ding om ’n kleurlingvrou te hê wat jou onderklere was terwyl daar ’n kleurlingman in jou bed slaap,” het Madie haarself altyd probeer verdedig. Altyd aan die opmaak vir die sondes van haar vader, ten spyte van mense wat werk nodig het.
“Lekker gewerk?” vra Lettie.
“Lekker, dankie. En jy?” vra Madie terwyl sy begin toast maak.
“Lekker, lekker. Dit begin koud raak. Ek gaan môre winterbeddegoed opsit.”
Lettie gee vir Madie die vyekonfyt aan. Dis haar gunsteling. Elke dag wanneer sy by die huis kom, eet sy toast met vyekonfyt. Ek vermoed dis al wat sy eet, maar ek het nog nie genoeg daarop gelet om seker te wees nie.
“Die vroutjie wat gister hier was, het haar serp vergeet. Ek het dit gewas en oor die bank in die onderste sitkamer gehang,” sê Lettie.
Madie se oë raak groot. “Watter vroutjie?”
“O, ek ken nie haar naam nie. Sy was vir lank saam met dokter in die studeerkamer.”
Lettie loop uit terwyl Madie bly staan, angstige vingers om die konfytpot geklem. Sy wil na die studeerkamer toe gaan. Sy wil gaan soek vir iets wat haar sal oortuig dis alles ’n groot misverstand. Of iets wat haar sal oortuig dis nié ’n misverstand nie.
Sy mik-mik tussen die broodplank en die kombuisdeur. Dan sit sy haar toast op die tafel neer en loop uit.
Madie is nie haarself nie. Broodkrummels op die tafel sou haar onder normale omstandighede die piep gee.
Sy stap rustig genoeg deur die huis tot by Willem se studeerkamer, maar toe sy die deur agter haar toemaak, kan sy haar nie meer beheer nie. Sy ruk die lessenaarlaai só hard oop, dit val amper uit. Die kaartjies lê nog daar.
Ek wil vir haar skree: Willem gaan nie die kaartjies in sy lover se hand stop en haar ’n lekker vakansie toewens nie! Wat maak dit saak wie die kaartjies hou as hulle saam reis?
Vandat Madie op die goed afgekom het, hou sy Willem se werksure dop. Hy is nooit regtig laat nie, maar ’n man het net tien minute nodig om ’n affair te hê. Dis die vrouens wat alewig tyd nodig het.
Op die lessenaar is ’n foto van Madie met die honde. Hoe kan hy ’n ander vrou hier inbring? Tot binne-in Madie se huis. Wat doen hulle hier binne, op hierdie lessenaar, teen hierdie mure? Dis om van te kots.
Op TV hardloop vrouens wat ’n krisis het alewig weg. Hulle probeer afstand sit tussen hulle en die katastrofe, maar nie Madie nie. Sy bly sit. Sy wil vashou aan alles wat hare is. Haarself aan die huis vasanker. Sy wil niks verloor nie, niks opoffer vir ’n vreemde vrou nie, want dis háre!
Sy het dié gevoel al baie aan my probeer verduidelik wanneer Willem se dinge haar laat wonder. Ek raak saam met haar só kwaad dat dit voel of elke partikel van my wese uitmekaar gaan skeur.
Wanneer dít gebeur, gaan ek terug na waar ek vandaan kom – waar ook al de donner dit is. Enige oorweldigende emosie is blykbaar net nie vir my bedoel nie. Toe ek geleef het, het dit my hartaanvalle gegee, en nou, ná die dood, skeur dit my van plek tot plek.
Ek wens die donkerman wil terugkom en verduidelik. Ek kan sekerlik nie vir ewig so tussen hier en niks rondhang nie.
Sonja, probeer ek myself kalmeer. Wanneer ek so weggeruk word, is Sonja my enigste link met die mensdom.
Ek kan dit nie wetenskaplik verduidelik nie, maar dit maak sin. Vandat ek haar ken, is Sonja deel van my, eerder as buite my. Seker omdat ons so baie dieselfde is, ek en sy.
Sonja
Sonja
Ek het vir Madie eerste ontmoet. Lang jare voor enige van die ander, sy is my oudste vriendin.
Sonja het later gekom, aansienlik later in my lewe. Ná my eerste hartaanval, ná die dood van my ma en pa, ná ek my virginity verloor het, ná ek die eerste paar kere my tasse gepak en die wye wêreld ingevaar het. Wat anders doen mens as jou ouers vir jou sakke vol geld gelos het en jy nie weet hoe lank jy het om te leef nie? Jy gaan eet sushi in Japan en pizza in Italië, jy spring op ’n boot om te kyk waarheen dit jou vat en jy praat met mense wat dink jy is ’n oulike uitlandertjie met ’n aksent.
Ek het Sonja Viljoen ontmoet toe ek een-en-twintig was. Op ’n vliegtuig, uit Frankryk op pad terug huis toe.
Sonja is nés ek. Ek kan nie eers sê sy pas my soos ’n handskoen nie, want ons is al twee die handskoen. Sonja is die tipe vriendin wat nie ’n sekonde ná my gaap nie, sy gaap saam met my. As ek in my kar geklim het om na haar te ry, het ek haar gewoonlik langs die pad gekry – op pad na mý toe.
Ek en Madie is dieselfde ouderdom . . . wás dieselfde ouderdom: dertig. Sonja is drie jaar jonger, maar sy het daai wyse-ou-vrou-kyk in haar oë. Asof sy al alles gesien het. As dit nie vir my hart en haar brein was nie, was ons dalk nooit vriende nie.
Toe ons mekaar ontmoet het, het haar ma net begin mal word. Waansin is al generasies in haar familie. Ons eerste ontmoeting was kort ná haar ouma se dood. Ouma Anna het van die malhuis se dak afgespring. Sy het geglo haar vlerke sal haar oor die inrigting se heining dra. Hoe sy dit reggekry het om op die dak te kom sonder om deur die vele verpleegsters en wagte gesien te word, bly tot vandag haar geheim.
Ouma Anna was glo ’n doodnormale kind wat grootgeword het om ’n doodnormale vrou te wees. Maar op ’n dag het sy stemme begin hoor en dinge begin sien asof dit nog altyd daar was. Sonja wonder steeds wanneer presies dit was wat haar ouma verander het. Sy het baie gesê sy voel asof sy iets miskyk. ’n Gebeurtenis wat van ’n gawe ouma ’n verleentheid gemaak het.
Sonja voel so sleg daaroor dat sy haar skaam vir haar ouma, haar ma, haar eie gene. Wie kan haar daarvoor verkwalik? Ek dink alle mense is skaam vir die dele van hulleself wat moontlik ander mense sal laat lag. Daai lelike lag waarvoor laerskoolkinders so bang is. Wanneer jy weet jy kan nie saamlag nie, want hulle lag vir jou. Vir Sonja het dit nie ná laerskool opgehou nie.
In haar hoërskooljare was sy angsbevange dat iemand sou uitvind van haar ouma Anna. Wat sou sy doen as een van die skoolkinders uitvind Sonja Viljoen se ouma glo