Название | Bambi en die boef |
---|---|
Автор произведения | Anita du Preez |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624058694 |
Sy vertroetel vir koorsagtige oomblikke die idee om elke koerant by elke kafee op elke straathoek te gaan opkoop.
Skielik is sy smoorkwaad. Sy smyt die kussing van haar weg en begin ’n woedepaadjie loop op haar Persiese tapytjie, op en af. Hierdie gemors is ongetwyfeld Margaret se skuld, niemand anders s’n nie! As dit nie vir Margaret was nie, sou sy nooit – haar landlyn lui.
“Wat!” antwoord sy.
Die persoon aan die ander kant runnik nes ’n perd. Bambi hoor ’n gegiggel op die agtergrond.
“Kyk, Harold,” sis Bambi, “as jy jou lewe liefhet …”
“Goeiemôre, gorgeous filly,” proes Harold.
“Harold, ek gaan nou hierdie foon neersit en dan gaan ek na jou huis toe kom en –”
“Moenie jou aan hom steur nie, Bambi,” praat Margaret in die telefoon, “hy is sommer simpel. Ek dink dis fabulous. Veels geluk! Dit beteken ons –”
“Gmf!” sê Bambi en plak die foon neer.
Dit lui feitlik dadelik weer.
“Kry end, Harold!” gil Bambi.
“Is dít nou hoe beroemde mense deesdae hul ma groet?”
“O, hallo, Ma,” sê Bambi, bedees van skrik, “ek dog dis, uhm, Harold.”
“Maar baie geluk, my kind. Ek sê mos lankal jy moet bietjie meer vroulik aantrek. Jy lyk pragtig op die foto.”
“Bly Má dink so,” brom Bambi.
“Is jy dan nie bly nie? Ek dog jy sou in jou skik wees met die vakansieprys. Hoe dan nou, my kind?”
“Nee, niks, Ma. Ek’s net moeg.” Haar ma hoef nie te weet hoe die vurk regtig in die hef steek nie. Hoe minder sy weet, hoe beter. Anders wroeg sy weer. Magda le Roux is ’n kampioenwroeger.
“Eet jy reg, kind? Jy lyk maer. Dalk moet ek vir jou van daardie tonic kry wat die apteker self meng.”
“Ek is fine, Ma. Belowe.”
Daar is ’n kort stilte.
“En die man op die foto? Is daar iets tussen julle? Het jy dan nie laas nog gesê dinge kom dalk na ’n kant toe met jou en Bertus nie?” Een van Magda se grootste wroeginge is dat haar dogter nooit geholpe gaan raak nie.
“Nee, Ma.”
“Nee wat? Hy is vreeslik aantreklik, of wat sê ek? Tannie Moira sê hy lyk amper nes daai een akteur wat James Bond gespeel het … wat is sy naam nou weer?”
“En toe?” praat Bambi se pa se diep stem skielik in haar oor. Hy het die gewoonte om sommerso die foon by haar ma oor te vat.
“Hallo, Pa.”
“Watse vreemde man is dié wat jy so in die koerant mee flankeer, Hermien? Waar is Bertus dan?” Herman le Roux draai nie doekies om nie. Boonop sal hy vir ewig dink Bambi is nog twaalf.
“Sommer iemand wat ek ken, Pa. Niks om oor te praat nie.”
“Wees maar in jou pasoppens, my kind. Hy lyk vir my altevol na ou Niklaas van Breda wat destyds vir die stadsraad gestaan het, en vir hom kon jy net vertrou so ver as wat jy hom kon gooi.”
“Ontspan, Pa. Ek en die man het bloot toevallig voor die kamera beland. Daar is absoluut niks tussen ons nie.”
“Gmf,” sê Herman, “jy het darem ’n goeie kop op jou lyf. Ek glo jy sal dit gebruik.”
“Ja, Pa.”
“Nou ja, dan groet ek maar, my kind. Jou ma sê ook totsiens.”
“Baai, Pa,” sê Bambi, maar hy het reeds neergesit.
Skielik voel sy bitter klein.
2
Bambi se selfoon lui net mooi toe sy in die bad klim. Sy gaan dit ignoreer. Daar is tans heeltemal genoeg drama in haar lewe, dankie, sy het geen begeerte om verder met enigiemand op enige foon te praat nie. Sy het juis laventelolie in die badwater gedrup en haar huisfoon van die mik afgehaal om vir haar ’n kalm kolletjie te skep. Die vervlakste foto in die Sunday Times het haar selfs dieper ontstig as wat sy aanvanklik besef het. Sy moet ’n plan van aksie uitdink. Haar beste idees kom altyd terwyl sy bad.
Sy laat sak haar kop diep agteroor en laat die lou water oor haar gesig spoel. Gewoonlik help dit om haar te laat ontspan as sy haar ledemate gewigloos in die water laat dryf. Toe sy haar ore weer bokant die watervlak lig, hoor sy haar selfoon wéér lui. Dit lê op die toiletbak en bewe van ongeduld. Sy sit dit altyd daar neer terwyl bad, want sy woon per slot van sake alleen.
Met haar kop teen die badrant gestut lê sy en luister totdat die geskril ophou. Toe die foon egter ’n derde keer begin skree en vibreer, vee sy een hand ergerlik droog en druk die groen knoppie. “Unknown number,” sien sy eers vlugtig op die skermpie.
“Uiteindelik!”
Bambi herken die melodieuse stem van Louis van Breda. Sy voel hoe alle rus en vrede oombliklik uit haar lyf wegswem. Haar impuls is om die foon dood te druk.
“Hallo? Juffrou Le Roux?”
“Waar het jy hierdie nommer gekry?” vra Bambi met moeite verby haar stramgeskrikte stembande.
“Hmmm,” sê die vent, “ek moes dan darem ’n klein bietjie indruk op jou gemaak het as jy my stem dadelik herken?”
“Ek het nie die vaagste benul wie jy is nie,” lieg Bambi, “wat ek wil weet, is waar jy aan my private nommer kom?”
“Maak dit regtig saak, juffrou Le Roux? Ons moet tog een of ander tyd praat.”
“Ek dink u het die verkeerde nommer, meneer,” sê Bambi en druk die foon dood.
Dit lui feitlik dadelik weer. Na ’n rukkie slaan die irriterende piepgeluid van ’n SMS blikkerig teen die badkamerteëls vas. Bambi klim uit die bad en droog af. Van haar kalm oasetjie is daar nou niks oor nie. Gevorderde tegnologie beteken ook nie altyd vordering nie, dink sy vies, nie as dit mense toelaat om jou privaatste oomblikke binne te dring nie. Die selfoon kyk haar aan met een reghoekige, beterweterige oog.
Bambi hou uit totdat sy ’n skoon wit hempie en ’n ou sweetpakbroek aanhet. Toe gee sy in en lees die SMS.
Jammer as aanstoot gegee. Nie bedoel. Indien vergewe ontmoet 2nm by Emperor’s vir soenoffer. Hulle burgers is fenomenaal. Asseblief?
Louis
Gmf, ’n soenoffer nogal, dink Bambi. Verbeel jou. Jammer, meneer Boef van Breda, heeltemal die verkeerde woordkeuse. Sy is op die oomblik allergies vir enige soort soen, met of sonder offer. Die blote idee om weer in die publiek saam met die glibberige vent te moet verskyn laat galbulte oral op haar lyf uitslaan. Sy gaan nie eens die moeite doen om die SMS te beantwoord nie. Sy skakel haar foon af, smyt dit eenkant op die bed en gaan lê skuins oor die voetenent in ’n sonkolletjie.
Toe Bambi wakker word, voel sy effens naar en lighoofdig. Dit neem haar ’n rukkie om te fokus voordat sy agterkom dat haar voordeurklokkie lui. Sy swaai haar voete traag van die bed af en slof deur toe.
“Ja, ja, ek weet julle kom julle net verlekker in my uur van –” sê sy nog voordat sy die deur oophet. Maar dit is nie Harold en Margaret op hulle gewone Sondagmiddagbesoekie nie. Op haar drumpel leun Louis van Breda teen die kosyn met ’n bruin papiersak in die hand.
Bambi kry nie een woord uit nie. Sy het vergeet presies hoe mooi hy is. Hy lyk allesbehalwe soos ’n geharde skelm in sy sagte ligblou V-nek-trui en verbleikte jeans. Sy langerige amper swart hare is effens deurmekaar. Om sy mond huiwer