Beminde vreemdeling. Schalkie van Wyk

Читать онлайн.
Название Beminde vreemdeling
Автор произведения Schalkie van Wyk
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624058663



Скачать книгу

ook agter my aandra nie, tant Grietjie. Ek sal hom met my bagasie help.”

      “Ja … ja …” mompel Grietjie, horende doof, haar neus in die inkopiesak. “Dalk sal een ou malvalekkertjie tog nie sonde wees nie,” praat sy met haarself, reeds besig om ’n plastieksak oop te skeur, en klim die trap na die voordeur terwyl Wiandri wegdraf na die motorhuise.

      Wiandri sien Floors met sy hande in sy sye voor die oop bagasiebak van haar motor staan, loop vinnig nader en sê verskonend: “Jy is nie ’n huisbediende nie, Floors. Ek sal self my tasse dra.”

      “Ek weet wat ek is, juffrou Wiandri. Vyf tasse … Geen normale mens het vyf tasse nodig vir klere nie!” antwoord hy afkeurend en gluur haar vanonder saamgetrekte wenkbroue aan.

      Floors is vies omdat sy nie sy verskoning en sy kompliment wou aanvaar nie, daarom spreek hy haar nou weer as juffrou aan, dink Wiandri, staar stip na die naaste tas en antwoord styf: “Sewe, nie vyf nie. Daar is nog twee tasse vol boeke op die agtersitplek. Sewe kleinerige tasse, meneer Floors, want as student moes ek self my tasse dra. Dis makliker om twee kleiner tasse as een groot tas te dra, veral as die hysbak vol is en ’n mens trappe moet klim.”

      “Jy is verstommend, juffrou Wiandri – mooi, slim en boonop logies. Ek sal nooit weer lag as iemand van vroulike logika praat nie,” terg hy.

      Sy hoor die glimlag in sy stem en weet sy oë lag haar uit – so sy sal nie opkyk na hom nie. Sy durf nie in sy oë kyk nie, want sy is nog bekommerd oor die verwarrende emosies wat sy ervaar het toe sy hom die eerste maal gesien het. Sy antwoord ingehoue: “Dankie, meneer Floors. As jy nou eenkant toe sal staan, sal ek my tasse uittel.” Hy bly staan en sy versoek hoflik: “Asseblief, meneer Floors. My hare en klere is lankal droog, maar ek sal graag wil stort voor middagete.” Sy wag weer dat hy wegtree van haar motor, maar hy roer nie en sy herhaal met ’n suggie: “Asseblief nou, meneer Floors.”

      “Dankie, meneer Floors, asseblief, meneer Floors. Klein blikskottel! Jy maak ’n grap van my naam, maar ek verseker jou my situasie is beslis nie grappig nie,” sê hy grimmig, ’n ondertoon van spanning in sy stem.

      Sy kyk op in sy onstuimige swartbruin oë en glimlag goedkeurend. “Wonderlik! Ek het geweet daar kruip ’n regte mens met emosies agter Floors se klipgesig weg,” spot sy en vervolg vertroostend: “Ek is seker jy het jou bes gedoen, Floors, maar jy het nie genoeg talent om die rol van die dommerige Floors Visser oortuigend te vertolk nie.”

      “Venter,” korrigeer hy haar ergerlik.

      “Venter of Flenter – wat maak dit saak? En Floors! Jy is ’n hopelose toneelspeler en jou naam is ’n grap. Wat het jou besiel om so ’n lawwe naam te kies?” vra sy. Sy besef dat sy van die diep timbre van sy normale stemtoon hou en dit uitermate geniet om met hom rusie te maak.

      “Floris, juffrou Wiandri, is ’n gerespekteerde Nederlandse naam, afgelei van die Latynse naam Florentius, wat ‘welvarend en voorspoedig’ beteken,” lig hy haar kil in.

      “A … Florentius! Goeiste, Floorsie, hoekom het jy my nie lankal gesê jou naam is Florentius nie? Ek is dol op jou naam! Florentius, jy hoef nie my tasse in te dra huis toe nie. ’n Man met jou adellike naam kan nie ’n huisbediende wees nie,” koggel sy.

      Sy regterhand skiet onverwags uit en sluit met ’n staalgreep om haar linkerpols. “As ek skielik die adellike Florentius is, moet ek seker soos ’n man optree,” sê hy, ’n dreigende ondertoon in sy donker stem.

      Floors moenie dit aan haar doen nie. Hy moenie aan haar raak nie, want sy vingers stuur klein, elektriese skokkies deur haar arm en versnel die normale geklop van haar hart tot druisende tamboerslae in haar ore, besef Wiandri ontsteld. Moontlik is Floors koorsig, want geen ander man se hand het haar ooit gebrand nie, redeneer sy met haarself en ontspan. Sy kyk op na hom, sien die koue, oorwegende lig in sy oë en beveel kordaat: “Los my arm, Floors. Ek kan byt en skop en krap en tant Grietjie sal jou met ’n besemstok disnis slaan as jy my seermaak.”

      “As tant Grietjie my kan vang nadat ek jou in julle visdam verdrink het, klein pes,” antwoord hy grimmig.

      “Jy het my reeds twee maal in tant Wessie se eendepan verdrink – en my uitgelag toe ek druipnat op die sypaadjie gestaan het.”

      “Ek het nie gelag nie,” herinner hy haar.

      “Nie letterlik nie, maar jy het met smaak na my foto’s in tant Grietjie se album verwys. En jy het my bedrieg oor jou naam en gejok oor jou beplande huwelik met my tant Lerina. Jy is ’n groter sondaar as ek, Floors. Toe, vergeet nou maar van jou adellike naam en wees net ons dommerige Floorsie. Jy is te afknouerig as jy adellik is, en jy maak my arm seer.”

      “Jammer,” sê hy skuldig en los haar gewrig. “Solank jy onthou julle dommerige Floorsie is nie so dom soos wat hy voorgee nie, sal ek vergeet van die adellike Florentius.”

      “Is jy Floris of Florentius gedoop, Floorsie?” vra sy nuuskierig.

      Hy kreun moedeloos en tel twee van haar tasse uit die bagasiebak. “Nee, Wiandri, nee. Ek het reeds verduidelik: Ek kan nie my eie naam gebruik nie, omdat ek hoop om ’n beter pos te kry.”

      “Watter pos? By die poskantoor? Jy lyk nie soos …”

      “By die slagter in die slagpale, ellendige agie!” val hy haar boos in die rede. “Hier, dra jou tasse en gaan stort, anders kry ons nooit vandag middagete nie.”

      “Ek het my skootrekenaar en my skouersak kom haal. Ek het oorgenoeg skoon klere hier in my hangkas, dankie, Floorsie,” antwoord sy met ’n treiterende glimlaggie en ignoreer sy gemompelde verwensing toe hy met haar tasse in sy hande wegstap huis toe.

      Wiandri trek haastig ’n skoon T-hemp oor haar kop toe daar aan haar kamerdeur geklop word. Sy kyk op en sien haar tant Lerina die slaapkamer binnekom.

      “Ekskuus, my kindlief, maar ek kon doodeenvoudig nie langer wag om jou te groet nie,” sê Lerina verskonend en kom vinnig nader om Wiandri te soengroet en ’n drukkie te gee. “Welkom tuis, kindjie. Ek is so trots op jou en so innig dankbaar om te weet jy hoef nie weer weg te gaan nie.”

      “Hallo, tant Lerina. Tannie lyk pragtig in die sagte pienk pakkie. Mag ek dit leen?” vra Wiandri skertsend, lag onnutsig en druk ’n ekstra soentjie op Lerina se wang. “Ek is so trots op my slanke tannie, nie een van my studentemaats kon glo ek en tannie dra dieselfde nommer klere nie. Oor vier-en-sestig jaar wil ek net so mooi soos tannie wees.”

      “Mooi?” vra Lerina oorbluf, draai na die spieëltafel en bars uit van die lag. “Dis nie ydelheid nie, Wiandri, want ek is so oud dat dit ’n historiese feit is: Op twee-en-twintig was ek ongetwyfeld mooi. Maar deesdae kyk ek net in die spieël om te sien of al my knope vas is en ek niks agterstevoor aangetrek het nie.”

      “Tannie het blou-blou oë soos Kaapse vergeet-my-nietjies, ’n fyn neusie en die digte, silwerwit hare en …”

      “En meer plooie as plekke, my liewe kind. En dit help nie eens as ek glimlag nie, want dan kruip al my plooie teen my wange op na my oë en ore toe,” lag Lerina en skud haar kop. “Maar ek is dankbaar en so diepgelukkig, kindjie, want jy is terug by ons in Huis Groeneweide. En jy is nou ’n gekwalifiseerde hospitaalsuster. Dis waarom ek dít gebring het,” vervolg sy en haal ’n juweelboksie uit haar broeksak.

      “Vir my?” vra Wiandri met blye verrassing, neem die juweelboksie en maak dit gretig oop. “Maar …” Sy staar oorstelp na die goue diamanthalssnoer en bypassende oorbelle in die boksie en kyk ontsteld op na Lerina. “Dis … dis te veel … te waardevol. Dis ’n fortuin werd, tannie! Ek kan dit nie aanvaar nie, as ek dit verloor, sal …”

      “Sal die versekering jou uitbetaal, kindjie, maar ek hoop jy verloor dit nooit nie, want dit het soveel sentimentele waarde,” val Lerina haar gerusstellend in die rede.

      “As dit een van tannie se erfstukke is, moet ons dit liewer in die kluis toesluit. Ek dra nie dikwels juwele nie,” sê Wiandri en voel onthuts deur Lerina se vrygewigheid.

      “Jy verstaan nie, Wiandri. Jou pa het die halssnoer en die