Die einde van die wêreld. Johannes Bertus de Villiers

Читать онлайн.
Название Die einde van die wêreld
Автор произведения Johannes Bertus de Villiers
Жанр Юриспруденция, право
Серия
Издательство Юриспруденция, право
Год выпуска 0
isbn 9780624057963



Скачать книгу

n>

      

title.jpg

      INLEIDING

      Die laaste man op aarde

      Vra jou af, wat sal jy doen as jy hoor die wêreld gaan binnekort eindig?

      Toe Jakkals Loubser dié nuus hoor, het hy sy stapskoene aangetrek, ’n sakkie vol proviand gepak en koers gekies na die berge.

      Dit sal nie heeltemal akkuraat wees om te sê Jakkals het gevlúg nie. Hy was in sy middel veertigs en het in sy lewe al genoeg tyd in die wildernis deurgebring om te weet jou kans op oorlewing is beduidend beter as jy deeglik voorberei, en dus het hy eers kaarte van sy tuisprovinsie, die Oos-Kaap, gefynkam om ’n gepaste berg binne ry-afstand van sy huis te vind. In boeke het hy nagevors watter voorrade hy sal benodig. Op Google Earth het hy lugfoto’s deurgesoek vir ’n diep, versteekte kloof wat lopende water het en so onbegaanbaar is dat geen vreemdeling tydens die Laaste Dae sy kosvoorrade sou kan kom steel nie.

      En toe is hy berge toe.

      Dit was ses jaar gelede.

      Ek het onlangs eers van Jakkals uitgevind toe ’n universiteitsvriendin my vertel van haar broer wat vir hom ’n grot in die berge ingerig het om die einde van die wêreld daar in te wag. Hy praat nie juis met vreemdelinge daaroor nie, het sy vertel, maar as sy vir my ’n goeie woordjie insit, sal hy dalk instem om my te wys hoe sy grot lyk.

      Teen daardie tyd was ek reeds ’n geruime tyd bewus van iets vreemds in die lug. ’n Vriend van my het ’n jaar vantevore landwyd koerantvoorblaaie gehaal toe hy deur Suid-Afrika gereis het om mense te waarsku dat die wegraping op 21 Mei 2011 gaan plaasvind. ’n Ander vriend het een aand uit die bloute vir my ’n CD gegee vol lesings oor hoe mens jou moet beveilig wanneer ’n natuurramp die beskawing verwoes. Op besoek aan ’n universiteit vertel ’n akademikus my hy leer sy kinders om ysterwapens te maak sodat hulle hulself kan verdedig nadat die samelewing in duie gestort het. Op ’n klein dorpie in die Suid-Vrystaat sê die eienaar van ’n padstal my van ’n groep Swede wat onlangs daar verby is op pad na Lady Grey om ’n plaas te koop waarop hulle in Desember 2012 die einde van die wêreld wil gaan inwag. ’n Kennis lig my in oor ’n Johannesburgse miljoenêr wat stil-stil en ten duurste op ’n plot ’n bunker laat bou het. ’n Vrouetydskrif kontak my en vra of ek deel wil wees van ’n paneel skrywers wat bespiegel of die wêreld in 2012 gaan eindig.

      Wat gaan hier aan? het ek begin wonder. Was daar al ooit soveel mense wat oor hul skouers loer vir een of ander verskrikking uit die hemele?

      Ek het my vriendin om haar broer Jakkals se nommer gevra sodat ek kon uitvind wat dit is wat mense na die berge laat vlug.

      En só staan ek toe een sonnige Februariemiddag, met stapsandale aan my voete en ’n paar pakkies grondbone in my rugsak, buite Port Elizabeth se lughawe en wag dat Jakkals my kom oplaai om my sy grot in die berge te gaan wys.

      * * *

      Vertel mense van iemand wat in ’n grot gaan skuil om ’n ramp in te wag en baie van hulle verwag ’n figuur soos die Ou-Testamentiese profeet Elia, wat glo in ’n grot van reënwater, broodkrummels en kraaivleis gaan leef het terwyl hy gewag het dat ’n ramp Israel tref. En as jy Jakkals die eerste keer sien, kan hy nogal ’n bietjie soos ’n Kinderbybel-Elia lyk. Hy is bebaard. Sy vel is bruingebrand. Ondanks sy vyftig lewensjare is hy net spier en sening, waarskynlik danksy jare se bergklim en al die weke wat hy al in die wildernis van rys, neute en spekboomblare geleef het.

      Anders as Elia se vlamwa, laai Jakkals my egter op met ’n ou kombi wat aan sy vriend Nick behoort. Nick is ’n musikant (“een van die beroemdste rockmusikante in die Baai”) en hy gaan saam. “As een ou val of seerkry, is daar iemand wat by hom kan wag terwyl die derde een hulp gaan soek.”

      Nick se kombi is die tipe waarin mens sal verwag ’n rockmusikant ’n groot deel van sy tyd sal deurbring. Daar is gordyntjies voor die vensters, ’n matras agterin en ’n kitaar onder die sitplekke. Die binnekant ruik na ou tabakrook.

      Daar is iets hippierigs aan Jakkals en Nick, besef ek terwyl ek van die agtersitplek af na hul gesels luister – twee vyftigjarige ouens wat oor lang jare goed skepties oor die moderne samelewing geraak het en lankal oortuig is dat die kapitalistiese Westerse wêreld een of ander tyd onder sy eie gewig in duie gaan stort.

      Dit is ’n paar ure se ry vanaf die lughawe na die voet van Jakkals se berg. “Ek sê nou juis vir Jakkals,” vertel Nick oor sy skouer, “as die einde kom, is jou grootste bekommernis nie die asteroïde of die kernwapens wat uit die lug val nie. As jy in die pad van daai goed beland, is daar niks wat jy daaraan kan doen nie. Die ding waarop jy jou moet voorberei, is om ná die ramp te oorleef, wanneer die paar mense wat oorbly oor kos begin baklei.”

      Terwyl hy aan ’n handgerolde sigaret teug, vertel Jakkals hy het ’n grot gekies so ver moontlik van die stad af. “’n Plek waar daar geen ander donderse mense is nie.”

      Hulle parkeer Nick se kombi teen skemer aan die voet van die berg en maak ’n vuurtjie van rondlêhout. Dis ’n weeksaand en daar is geen ander stappers naby nie. Die enigste geluid uit die bos is dié van goggas, ’n bruisende riviertjie en in een stadium ’n bok wat deur die bosse naby die kampterrein bars.

      Langs die vuur vertel Jakkals hy het oor die einde van die wêreld begin wonder toe sy dogter hom vertel het van bespiegelings dat daar ’n groot katastrofe aan die einde van 2012 gaan plaasvind. Hy het opgelees en was verstom oor al die moontlike rampe wat mense voorspel. Op sommige 2012-webwerwe het hy byvoorbeeld die teorie gelees dat daar in ons sonnestelsel ’n planeet is wat nog nie deur sterrekundiges waargeneem is nie, dikwels genoem Planeet X of Nibiru, en dat dié planeet op ’n koers is wat binnekort met die aarde s’n gaan kruis.

      Hy kyk op na die Magellaanswolk wat helder langs die Melkweg hang. “As daai ding teen die spoed van lig op jou afpyl, sal jy dit nie sien voordat dit omtrent bo-op jou is nie – die planeet is byna net so vinnig hierheen op pad as sy eie lig.”

      Nick het sy eie teorie. “Ek gaan net een ding sê en dan gaan ek geen verdere kommentaar lewer nie: Ruimtewesens uit die buitenste ruimte.”

      “En jy?” vra hulle meteens en kyk albei in my rigting. “Wat dink jý gaan die einde veroorsaak?”

      Ek is onkant gevang. In die weke voor my besoek aan Jakkals het ek by wetenskaplikes gaan kers opsteek, onder hulle van die wêreld se slimste fisici. Ek het ook met waarsêers en fortuinvertellers gesels. Daar is uiteenlopende teorieë oor die wêreld se einde – sommige oortuigend, ander nie. Sommige mense beweer ’n groot storm op die son gaan plasma en elektromagnetiese golwe in ons rigting stuur wat al ons tegnologie gaan vernietig en, in die ergste scenario, die aarde hard genoeg gaan skop dat ons in die teenoorgestelde rigting sal begin draai, met rampspoedige gevolge. Daar is mense wat praat van Planeet X en ruimtewesens. Party wag vir ’n groot asteroïde of komeet om die aarde met die krag van 100 000 Hirosjimas te tref en die mensdom uit te wis, nes ’n soortgelyke ruimterots 65 miljoen jaar gelde met die dinosourusse gedoen het. Ander voorspel ’n supervulkaan wat grotendeels dieselfde skade as ’n reuse-rots uit die hemel kan aanrig. En nóg ander sê ons hoef nie te wag vir enige van dié rampe om die mens te kom uitwis nie; ons kan net agteroor sit en wag, want die mens is op eie stoom reeds deeglik op pad om sy tydjie op aarde kort te knip.

      Met watter een van dié rampe sou ek vir Jakkals en Nick kon bangmaak?

      “Ek was ’n paar maande terug (vroeg in 2012) in die Krugerwildtuin toe ’n sikloon die ooste van die land getref het en oorstromings groot dele van die gebied laat wegspoel het,” vertel ek hulle. “Die Sabierivier het oor sy oewers gebars en hele ruskampe verwoes, in die omgewing van Hoedspruit is brûe en paaie deur die vloedwaters vernietig en elders is hele huise meegesleur. Maar toe ek die bestuur van die Wildtuin vra of hulle bekommerd is dat die oorstromings hul skaars grootwild, soos renosters en olifante, afgemaai het, het hulle geantwoord hulle is heeltemal gerus; hulle kon nie die karkas van ’n enkele groot soogdier vind nie. Blykbaar het al die diere op een of ander instinktiewe wyse van die naderende ramp te wete gekom, nog voordat die Suid-Afrikaanse Weerdiens of enige wetenskaplike geweet het die sikloon is op pad. Die diere is deur ’n