Название | Terug na Eden |
---|---|
Автор произведения | Ena Murray |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624056089 |
“Nee, oom Helgard. Jy’s reg. Geen predikant kan dit vermag nie. Maar Gód kan. Net Hy alleen.”
Helgard Retief het swaar gesug, swaar gesluk. “Jy’s reg, dominee. Net God alleen. Mag Hy my genadig wees, maar … mag Hy veral vir Janneman genadig wees. My kind kry swaar … en ek kan daar niks aan doen nie. Ek kan net toekyk en voorgee ek sien niks raak nie. Dis die swaarste van alles.”
Verder as dit het hulle nie gekom nie.
Helmut wend hom nou na die ouer vrou en vra met deernis: “Wat hinder, tannie Elise?”
Sy skud die kop, veg teen die trane. “Maar weer Nols, dominee. En my gewete wat my, sedert daar finaal besluit is om te opereer, dag en nag rondjaag.”
“Tannie se gewete?”
“Ja. As klein Helgard moet sterf … Nols weet nog nie eens van sy bestaan nie. Is dit reg en regverdig dat Nols ’n seun het en dat die kind sterf sonder dat die man wat hom verwek het, ooit eens van sy bestaan bewus was. Ís dit, dominee?”
Sy oë sak. Dis ’n moeilike vraag … moeilik …
Hy hoor haar voortgaan: “Al was jy ook hoe sleg, al het jy ook watter fout in die lewe begaan … jou kind is jou kind … deel van jou. En Nols is nie regtig so sleg soos dit voorkom nie, dominee. Ek weet. Ek het hom grootgemaak. Hy was maar so sewe, agt jaar oud toe hy my seuntjie geword het. Ek weet diep in hom het Nols ’n goeie hart. Wat in hom verkeerd gegaan het en hom laat doen het wat hy gedoen het, weet ek nie, maar … Nols sal sy kind erken en wil ken as hy van sy bestaan moet weet. Hy is nie al een wat foute gemaak het nie. Ons, ek en Helgard, het ook. Dit was verkeerd om hom nooit die volle waarheid te vertel nie. Dit wás. Ek weet dit nou. Die vraag lê in my hart: Wie het teenoor wie die ergste misdryf – ons omdat ons hom nooit vertel het nie, of hy wat ons verlaat het?”
Helmut knik. “Dis ’n groot hartseer feit van die lewe daardie, tannie Elise … dat my foute dikwels die oorsaak is van ander se verkeerde optrede.”
“En bitterheid baar bitterheid. Nols is bitter teenoor ons, en nou is sy pa ook teenoor hom verbitterd.” Haar oë kyk hom smekend aan. “Dominee, ek is so bang ons, ek en Helgard, en hierdie keer Janneman, gaan weer ’n fout begaan deur Nols nie van sy kind te vertel nie en hom nie te laat weet wat klein Helgardjie se omstandighede is en van die lewensgevaarlike operasie wat vir hom voorlê nie. Wat as Nols hierdie dinge agterna moet uitvind? As hy dan moet dink Paradys se mense het onvergeeflik teenoor hom gesondig, weet ek nie of ek hom dit sal kan kwalik neem nie. Wat moet ek doen?”
Weer ’n moeilike vraag wat die predikant nie sommer kan beantwoord nie. “Ek sal eers hieroor moet dink, tannie Elise. Dink en bid. Ek sal eers leiding van Bo moet vra, want besef u watter geweldige implikasies dit vir almal kan inhou as Nols in hierdie stadium moet hoor hy het ’n kind?”
“Ek weet. Ek besef dit. Dit kan die grootste ongelukkigheid en hartseer vir ons almal inhou. En tog … hier diep in my hart knaag dit, besef ek Nols móét weet. Iemand moet dit vir hom vertel.”
Terwyl die dominee sy bystand aan sy vrou binne die huis gee, koers Helgard sommer ’n rigting in oor die werf, sien ’n silhoeët teen ’n koppie afgeëts staan, wend dan sy skrede daarheen. Sonder ’n woord neem hy langs Janneman op ’n ysterklip plaas, en ’n oomblik is dit stil tussen pa en seun.
“Dis droog.”
“Ja.”
“Ek het my netnou verbeel ek het ’n effense weerlig daar teen die kim gesien.”
“Nee, Pa. Dis wensdenkery. Daar’s niks. Daar is geen teken van reën nie.”
Stilte.
“Pa …”
“Hm?” ’n Suig aan die pyp.
“Die koste loop hoog. Hierdie afgelope vier jaar het die dokterskoste en Hantie se besoeke met die kleintjie aan die spesialis in die stad baie geld gevra. Dink Pa nie ek … ek moet maar eers vir my ’n werkie êrens probeer kry …”
“Is jy dan nou heeltemal laf? Ons is mos nie in die knyp nie, man! Watse twak …”
“Nee, ons is nie, maar ons is op pad daarheen.”
“Jy vergroot.” Hy beduie met die pyp. “Ons kort net reën.”
“Ons kort meer as reën om hierdie operasie te kan betaal. Ons kort ’n Babel se goud.”
Die atmosfeer is oombliklik elektries gelaai. Die woord Babel word nie voor Helgard Retief genoem nie.
“Moenie my kwaad maak nie, Janneman! Wat de duiwel bedoel jy met daardie woorde? Dat ons …?”
“Niks, Pa. Niks! Ek het maar sommer net gesê. Maar Pa weet wat ek bedoel. ’n Leweroorplanting kos derduisende rande wat ons …”
“Wat ons hét.”
“Maar daarna sal ons niks hê nie. Ons gaan geen kapitaal oorhou om …”
“Ons sal nog ons grond hê, seun.”
“Pa! Asseblief, ek verstaan hoe Pa voel, maar ons moet nou ons verstand gebruik. Waarmee gaan ons aangaan met boer as daar nie geld is nie? En wat as die droogte langer duur? Ons moes reeds begin voer en …”
“Ons sal regkom, Janneman. Ons sal regkom, seun. Daaroor bekommer ek my nie.” Hy sug diep, klop die reeds dooie pyp teen die kant van die klip uit. “As die operasie net sal help om klein Helgard se lewe te red. Geld is nie van belang nie.” Hy beduie met die hand na benede sodat Janneman saam met hom afkyk na die begraafplaas aan die voet van die koppie. “Wat beteken geld as jy eers dáár lê? So min soos die stof waarvan jy weer deel geword het.”
“Maar hulle wat nie daar lê nie, het wel geld nodig om te kan lewe. Pa, dit gaan nie om mý nie. Ek dink aan Ma en Pa en Hantie as dinge moet skeefloop.”
“Ek weet. Maar dinge sal nie skeefloop nie.” Hy staan op, druk ’n oomblik ’n hand swaar op die jonger man se skouer. “Moet jou nie bekommer nie, my seun. Pa sal sorg dat dinge reg gaan. Daar ry die dominee nou. Kom ons gaan huis toe.”
2
Die paar dae voordat Isabé en Hantie met klein Helgard Kaap toe vertrek, is ’n tyd vol stryd en onuitgesproke gedagtes vir al Paradys se mense. Maar in almal se harte lê daar ook die een groot versugting: Mag alles nie tevergeefs wees nie.
Elise se stryd met haar gewete oor Nols en die feit dat hy nie weet van sy kind en van dié se siekte nie, bly ’n stryd wat sy alleen moet stry, ’n vraag waaroor sy in haarself helderheid moet kry. Toe sy eindelik die motor van die werf af sien wegtrek, is sy nog niks nader aan ’n oplossing nie.
Die dag voor die vertrek lê die dogter van die buurplaas besoek af by die Retiefs. ’n Pligsbesoekie, soos almal weet, maar nietemin word dit waardeer, veral deur Janneman. Mense het in die verlede graag op Paradys gekuier, maar die afgelope jare het dit selde gebeur dat iemand gevoel het om die Retiefs, veral die jonger egpaar, te besoek. Die besoekers het altyd die gevoel gekry hulle is in die pad, dat hulle Hantie hinder in die versorging van haar siek kindjie. Daar het maar min werklike vriende oorgebly, besef Janneman toe hy die hupse stappie van die buurplaas se dogter betrag terwyl sy nader stap. Net San-Marié het bly kom, meesal net vir ’n inloertjie, soos sy dit genoem het, maar nogtans. Dit het nog altyd sy hart goed gedoen om haar vrolike gesiggie te sien. En sy is ’n voorslag-boeredogter daarby. Die man wat haar eendag kry, kan van geluk spreek. Dat sy baiekeer nie eens vir Hantie met ’n oog gesien het wanneer sy inloer nie, het nie vreemd voorgekom nie. Hantie is maar altyd besig met die versorging van klein Helgard. Meesal was dit net Janneman en sy wat ná ’n snikhete, droë Karoodag ’n koue biertjie saam geniet en oor boerdery-aangeleenthede gesels het.
Vanmiddag stap sy egter doelbewus na die kinderkamer waar sy weet sy Hantie sal