Название | Tuiskoms |
---|---|
Автор произведения | Irma Joubert |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624053729 |
Sy haal die boek van die rak af, soek by “dilemma”: verknorsing ken sy, sy kan nie glo sy het nie self daaraan gedink nie. Dikkedensie? Sy dog dit het iets met die agteruitgang van die samelewing te doen. Wel, dit is seker ’n dilemma as die samelewing begin disintegreer.
Môre is Vadersdag.
So?
Strapasie? Dis nie eens in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek nie. Maar al eksemplaar wat sy het, is haar broer se oue. Dalk is dit ’n nuwe woord.
Miskien moet ek iets doen vir Vadersdag? Not!
Verklertsing. Dís nou ’n lekker woord, rol lekker op die tong ook. Verklertsing.
Ek moet iéts doen om uit hierdie verknorsing te kom, dink sy. My aanvanklike strapasie het my nou in hierdie nuwe dikkedensie vasgevang – nes Daniël in die leeukuil. Ek is ’n gevangene in my eie kamer, tralies voor die vensters, geslote deur, de lot. Dis regtig boring.
Sy besef: Ek is nie eintlik kwaad vir Pappa nie. Vir Ma, ja; vir Grant – wie’s Grant? O, daai Grant? Hy’s ’n . . . ’n . . . sy soek in die Sinoniemwoordeboek vir ’n meer beskaafde woord . . . ’n diederiks.
Vadersdag môre ry haar bloots. Pappa kan nie help hy is met Ma getroud nie.
Sy gee áltyd vir Pappa ietsie op Vadersdag. Veral nadat Gertien se pa in graad vyf al dood is.
Sy neem ’n wilsbesluit: Sy sal die minste wees. Dis die regte ding om te doen.
Sy pluk haar kas oop. Hier moet êrens iets wees wat sy vir haar pa kan gee. Die Gideonsbybeltjie wat sy in graad agt by die skool gekry het? Maar sy het klaar haar naam voorin geskryf. Miskien die good luck-beertjie wat Melissa voor die eksamen vir haar gegee het? Not, dit het ewigheidswaarde: Die waarde van goeie vriende is ver bo korale. Een van haar CD’s? Maar sy het nie ’n Josh Groban-CD nie.
Miskien moet sy maar net ’n kaartjie maak – sy is nogal goed daarmee, veral met die skryfdeel. Dis tog die gedagte wat tel, nie die present nie. En pa’s kan nogals soppy wees oor tuisgemaakte kaartjies van hul poppies.
Dit hou haar lank besig om die kaartjie te versier. Sy maak strikke in die hoeke (sy’s baie goed met strikke teken) en ’n blom in die middel. Die blom het nie so goed gekom nie, miskien moes sy maar ’n groot strik in die middel ook gemaak het. Maar dis nou te laat.
Sy weet nie presies wat sy binne-in wil skryf nie. Sy soek daai gedig wat Antjie Krog vir haar ma geskryf het toe sy in standerd sewe was, hulle het dit verlede jaar in die klas behandel. Toe het sy al geweet: Antjie Krog sal haar verstaan. Maar dis in Junior Verseboek; hulle gebruik vanjaar Senior Verseboek. Sy vind ’n ander Antjie Krog-gedig oor ’n onderwyser, maar dit sal nie werk nie. Sy sit ’n stukkie papier by die plek in, sy kan dit aan die einde van die jaar vir haar Afrikaans-onderwyser oorskryf.
Sy probeer onthou – sy sal die gedig kan aanpas:
pappa
ek skryf vir pappa ’n gedig
’n kaalvoetgedig
sonder fênsie kommas en punte
Dêm, sy onthou nie die res nie. Iets van: jy het my gebeitel.
Maar dis eintlik haar ma wat haar beitel. Haar pa is ’n liewe, goeie, sagte mens wat net die beste vir sy gesin wil hê.
Miskien moet ek my eie gedig skryf, dink sy. Antjie Krog moes ook êrens begin het.
Pappa
Sy hou van die begin.
In my verklertsing waarin ek sit,
dink ek aan kant en blomme en maanskyn wit.
Die strapasie waarin ek tans verkeer,
verhinder egter dat ek weer,
soos elke jaar, soos vergange tye,
aan Pappa ’n geskenk kan wye.
Dit klink nie lekker nie. Sy is vreeslik vaak. En vrek honger. Sy moet iets anders probeer skryf.
Halfeen skuif sy die kaartjie saggies halfpad onderdeur haar ouers se slaapkamerdeur. Toe gaan smeer sy brood en gaan slaap.
Marius Cloete word Sondagoggend vroeg wakker. Hy hoor ’n geskarrel in die kombuis, weet by voorbaat: Sy koue roereier en verbrande roosterbrood en te flou koppie koffie sal nou-nou hier wees, blommetjie en al. Langs hom lê Hanneli nog rustig en slaap.
Vandag moet hulle met Petronel vrede maak. Hulle moet die saak uitpraat – so kan dit nie aangaan nie.
Dan sien hy die kaartjie onder die deur uitloer. Hy staan versigtig op om Hanneli nie wakker te maak nie.
Die kaartjie het veelkleurige strikke voorop. Ook ’n moderne, minder suksesvolle weergawe van ’n blom.
Hy maak dit versigtig oop.
Liefste Pappa
Ek is so lief vir Pappa. Ek hoop Pappa het ’n baie geseënde Vadersdag en dat daar nog baie Vadersdae vir Pappa beskore is.
Sê asseblief vir Mamma ek is ook lief vir haar.
Met liefde van Petronel.
Grootjie Henna se doodskleed
Sondagoggend breek aan: 15 Mei, Moedersdag op die kalender. Maar daaraan steur Diena haar nie. Vandag is die dag wat haar oudste kleindogter, die een wat haar trouring eendag moet erf, gedoop word. En sý gaan haar in die kerk indra.
Adrienne het haar Vrydagoggend al op die lughawe kom haal – hele aardigheid, die vliegmasjien. Op pad huis toe het sy versigtig gepols: “Wat noem julle haar toe . . . die ou babatjie?”
“Ek hou van Jeanelize of Suné-Marié; William verkies Bridget, of dalk Marlyn. Ons moet nog besluit.”
“Ek het die dooprokkie saamgebring,” sê sy so terloops moontlik.
Adrienne reageer eers nie. Maar dan sê sy beslis: “Ma, ek sê nou reguit en vir die laaste keer: Die baba word nié Sondag in daardie vergeelde dooprok gedoop nie.”
Diena kyk na haar dogter se goedversorgde naels, sien die ferm trek om haar mond, weet: dis haar eie skuld. Sy het haar kind bederf, maar sy was darem so ’n pragtige klein dingetjie na die seuns. Sy hoor ook baie duidelik: die baba. Die kinders het sowaar nou nog nie ooreengekom wat hulle haar gaan noem nie! Maar daardie debat gaan sy sowaar nie weer oopmaak nie – dit het maande terug tot ’n groot rusie gelei.
Dis haar eerste kleindogter. Haar oudste seun het net twee seuns, ook al groot; haar tweede seun en sy vrou het besluit om nie kinders te hê nie. Sy sou darem so graag wou hê . . .
Daardie aand in die vreemde bed in haar dogter se grand huis besluit sy tog om ’n finale poging aan te wend – beslis nie oor die naam nie, wel oor die dooprok. En die volgende dag, toe “die baba” (arme klein dingetjie wat nie eens ’n naam het nie) rustig in haar duur waentjie lê en slaap, maak sy ’n skinkbord tee en dra dit na die sonstoep van haar dogter se huis.
“Adrienne, Ma gaan vanoggend vir jou ’n verhaal vertel. Ek weet jy hou nie daarvan om sulke stories te hoor nie, maar vanoggend moet jy maar net stil sit en luister.”
Sy sien hoe Adrienne haar redelik verstom aankyk, maar sy is nie verniet Hendriena Kathariena die Sesde nie, en sy begin vertel:
“My grootjie Henna se ma is in ’n ossewa rondom Bloedrivier se tyd gebore. Sy was twee jaar oud toe háár ma ’n optog na sir Iemand gelei het om te sê die vrouens trek liewerster kaalvoet oor die Groot Berg as om weer onder Ingelse goewermint te staan, sy het saam met haar ouers weggetrek uit Ohrigstad toe die koors drie van haar broertjies gevat het.”
“Ma-a, waar gaan ons heen?” vra Adrienne.
“Moenie in my sop val nie, Adrienne. Ewenwel, is g’n wonder sy het staal in haar are gehad nie. Grootjie Henna was meer gelukkig, sy is gebore toe die Ou Republiek al ’n werklikheid