Ena Murray Omnibus 30. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Ena Murray Omnibus 30
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624053699



Скачать книгу

Basson kortaf, kyk haar skerp aan. Dis of Nickey saam met haar begrafnisklere ook haar afhanklikheid van hom van die afgelope drie dae afgegooi het. “Jy kom bly by my. Ek sit alleen in ’n groot huis en …”

      “Dankie, meneer. Dis vriendelik van u, maar ek sal regkom.”

      Haar oë kyk hom vas aan met oorgeërfde trots. So het haar ma daardie dag ook voor hom gestaan: Ons sal regkom. Regkom? ’n Ongehude, verwagtende kind van agtien in die harde lewe van vandag waarin sterker en meer ervare mense as sy daagliks struikel en val?

      Hy beteuel sy humeur. “Ek het jou ma beloof ek sal na jou omsien.”

      Dieselfde terugtrek van die skouers, dieselfde stywe ruggie. “Ek waardeer dit, meneer Basson, maar ek onthef u van daardie belofte.”

      “Hoekom wil jy nie by my kom bly nie?”

      Haar ooglede fladder, en dan kom die reguit antwoord: “Ons het nog altyd sonder aalmoese reggekom.”

      Dis ’n rukkie stil. Sy stem is grof toe hy eindelik beheer daaroor kry: “Ek bied jou geen aalmoes aan nie, Nickey. Dis ék wat verleë is. Dis jy wat my ’n guns sal doen, nie ek vir jou nie. Kom bly by my in daardie groot alleenhuis … asseblief.” Hy sug, laat sy blik deur die klein vertrekkie dwaal. “Sedert ek die tyding gekry het dat Terence vermis word … Ek is saans bang om huis toe te gaan. Die een oomblik wil die mure my vasdruk en die volgende oomblik wil ek in die huis verdwaal. En daardie lang nagure waarin ek wag dat die telefoon moet lui … As ek dan net kan weet daar is nog iemand wat saam met my in daardie swart stilte asemhaal.”

      Tant Hessie snuif bewoë en Nickey kyk weg. Dan kom dit onwillig: “Ek sal daaroor dink. Gee my tyd, asseblief. Dis nou nog alles te vars …”

      “Natuurlik. Maar sal tant Hessie asseblief vanmiddag nog oortrek hierheen? Sy kan nie alleen hier slaap nie.”

      “Natuurlik. Ek gaan my goedjies sommer nou haal. Meneer hoef nie bekommerd te wees nie.”

      “Dankie, tante.” En toe tant Hessie uitstap: “Dan gaan ek maar.”

      “Wil u nie eers ’n bietjie koffie drink nie?” vra Nickey.

      Hy kyk na haar en sy hart pyn. Hy wil bly. Hy wil nie nou met hierdie onstuimige gedagte teruggaan huis toe nie. Maar hy weet nie hoeveel koffie in die klein kombuisie oor is nie. Netnou is dit die laaste of voorlaaste skeppie. En hy durf nie een van die note in sy sak uithaal en op die tafeltjie neersit nie, want hy is reeds gewaarsku: Marie Buys se dogter kan sonder aalmoese klaarkom, dankie.

      “Nee, dankie. Ek moet nou eers terug.”

      Sy stap soos die goed opgevoede kind wat sy is saam met hom na die motor. “Baie dankie vir alles, meneer. Die hulp en … die betaal van …”

      Hy onderbreek haar vinnig, want hy weet dat al is ’n mens opreg dankbaar, die “dankie” soms uitgedwing moet word: “Dit was my voorreg. Tot siens, Nickey.”

      Hy is bly toe hy in die truspieëltjie sien dat sy reeds in die huis verdwyn het voordat hy by die afdraaistraat kom. Hy bring die motor tot stilstand en stap vinnig ’n ander huisie binne.

      “Tante, u weet dat ek dit nie vir Nickey kan gee nie. Sy sal dit nie aanvaar nie. Asseblief, vat hierdie geld en koop as daar iets nodig is.”

      Die ou vroutjie knik, ontvang die rol note. Nickey is trots, maar noudat sy alleen staan, sal sy nog leer dat trots nie ’n honger maag voed of rekenings betaal nie.

      Daardie nag is dit vir Christian Basson asof sy huis regtig in ’n skrikwekkende plek verander het. In die nagure ontdek hy hoe hard ’n mens se eie asemhaling in ’n groot, donker plek klink. Dan hou hy sy asem op, en die stilte begin soos sonbesies in sy ore sing, tot hy van sy verstand af kan raak.

      En Nickey leer die finaliteit van die dood ken. Verlede nag was haar ma nog bo die aarde. Vannag is sy in die aarde. Nooit weer sal sy in hierdie huisie gesien word nie. En nooit weer sal hierdie huisie dieselfde wees nie.

      Tant Hessie voel dat sy die moederlike pligte op haar moet neem. Sy verstaan hoe Nickey voel. Sy bly self in Bokmakieriestraat. Dikwels is dit net jou trots wat jou die onoorkomelike laat oorkom. Maar dit het perke. En wanneer trots sy perke bereik het, leer jy nog ’n groot waarheid van Bokmakieriestraat ken: Dit help nie om die versene teen die prikkels te slaan nie.

      “Jy moet aan jou kind dink, Nickey. Aan sy toekoms. Watter toekoms het hy in Bokmakieriestraat?”

      Nickey kyk amper vyandig terug. “Daar is baie mense wat groot hoogtes in die lewe bereik het wat uit ’n plek soos Bokmakieriestraat gekom het, tante!”

      “Toegegee, my kind. Maar met hoeveel smart en sukkel en opoffering, veral van die ouer se kant af? Jy weet ek praat die waarheid, Nickey. Kyk maar na jouself … Kom ons vergeet nou eers van die baba. Jy kan langs enige kind uit watter deftige straat van hierdie stad gaan staan. Daar kan kwalik iets beters uit daardie strate kom as wat uit hierdie huisie in Bokmakieriestraat gekom het …”

      “Tante, nee!” Sy draai haar gesig weg, sluit haar oë asof sy in pyn verkeer. “Hoe kan tante so iets sê?”

      “Ek kan dit sê, Nickeytjie, en ek sê dit in opregtheid en met volle oortuiging. My kind, een misstap in die lewe maak nie van ’n goeie mens sommer dadelik ’n slegte mens nie. Moenie so hard op jouself wees nie, Nickey. Dit was verkeerd wat jy gedoen het, maar kom wys my die mens wat nog nooit iets verkeerds gedoen het nie. Almal val soms, Nickey. Elkeen van ons. Niemand kan voor God gaan staan en sê ‘Ek het nog nooit gesondig’ nie. Daar is nie so ’n mens te kry nie.” Knopperige ou vingers streel die jong hande wat slap hang. “Nou die oggend in die kerk het dominee iets gesê wat vir my so mooi was. Hy’t gesê: ‘Om te val is verkeerd, maar ook menslik. Wat belangrik is, is dat jy weer opstaan en nie bly lê nie. Dis ’n groter sonde om te bly lê as jy geval het, as die val self.’ Moenie in Bokmakieriestraat bly lê nie, Nickey. Want jou kind gaan saam met jou hier bly en hy het nie skuld aan wat gebeur het nie.”

      Stadig kyk Nickey op in tant Hessie se oë. Haar eie oë swem in trane. “Ek is … so verward, tant Hessie. Ek kan nie dink nie …”

      “Jy weet wat jou ma sou gedoen het in so ’n geval, Nickey. Jy het die voorbeeld van haar gekry. Volg dit na.” Die jong meisie kyk haar vraend aan, en sy sê sag: “Jy moet bid, Nickey … dan sal jy lig ontvang.”

      Nickey laat haar kop sak. “Weet tante hoeveel het ek al gebid? Soms voel dit vir my my dae en nagte gaan om in gebed.”

      “Ek weet, my kind. Ek weet. Maar jy moet aanhou … en áánhou … tót jy die antwoord kry. En wanneer jy die lig ontvang, moet jy doen soos vir jou gesê word, al is dit nie soos jy wou hê nie. Ons weë is in sy Hand – selfs ook jou ongebore kind s’n.”

      ’n Rukkie later stap tant Hessie gou oor na haar eie huisie om haar paar malvatjies en drie roosbome nat te gooi, en sommer ook ’n stukkie muwwe brood in water op te krummel vir die ou rondloperkat. Dis nou gelukkig een ding van hierdie straat se katte: Hulle is nie vol fiemies nie.

      Terselfdertyd help sy Nickey bid. Sy is ’n mooi een om vir Nickey te preek. Sy het laas nag met haar verstand lê en uitredeneer wat Nickey moet doen. Nickey moet by meneer Basson gaan bly. Alleen sal sy die mas nie opkom nie. Hoekom sal sy hier in Bokmakieriestraat sit en worstel om liggaam en siel aanmekaar te hou, terwyl daar aan die ander kant van die stad oorvloed wag vir haar en haar kind? En dit is mos ’n Basson wat sy verwag. Dis niks meer as reg dat die belangrike meneer Basson na sy kleinkind en dié se moeder omsien nie. Dis tog sy plig.

      Maar nou begin haar gewete haar pla. Sy het nie rêrig hard genoeg gebid oor hierdie saak nie. Hoe weet sy dat die Liewenheer met haar saamstem wat die beste vir Nickey en haar kind is? Hoe weet sy dat dit nie die beste vir hulle is om in Bokmakieriestraat te bly tussen al die swaarkry en armoede nie? Want hoe weet sy wat Hessie Vermeulen is hoe dit miskien daar aan die ander kant van die stad gaan? Sy het die gedagte dat daar ook maar soms baie trane onder daardie deftige huise se dakke gestort word; dat daar dikwels ’n ander soort swaarkry by die duur voordeure insluip wat niks te make het met droë pap en gestopte