Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Ena Murray Omnibus 21
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624050230



Скачать книгу

So ’n vrou kan haar man baie geld bespaar en sy weet alles van swangerskap en babas voed en wat nog. En dink net hoe sal sy haar man eendag kan versorg wanneer hy oud en sieklik is – hom was en invryf teen bedsere . . .” Sy lag in hul gesigte op. “Sy kan selfs van groot nut wees wanneer hy doodgaan. Ek is tot geleer hoe om ’n lyk uit te lê!”

      Don Alonso sit sy glasie neer. “Ek dink die ete is gereed. Sal ons ingaan?”

      Hy bied sy grootmoeder sy arm aan en agter hul rûe hou Andrea met vonkelende oë haar hand na haar pa uit. Juan spring rats nader om sy arm aan die ander kant aan te bied.

      Haar pa fluister betigtigend: “Ou mans en lyke is nie juis die aangewese onderwerpe vir ’n skemerkelkie nie, my kind.”

      Sy knipoog. “Maar dit het die bombardement van vrae wat ek dalk nie sou kon beantwoord nie, afgeweer, liewe Pappa! As jy nie sterk is nie, moet jy slim wees!”

      “Slim vang soms sy baas. Onthou jy dit maar,” waarsku hy.

      Aan haar ander sy laat Juan hoor: “Jy is fantasties!” Hy ontmoet don Alonso se fronsende blik wat na agter gewerp word en sê reguit: “Señorita Smit is beslis ’n unieke vrou!”

      Donna Teresa se blik speur ook na agter, rus dan goedkeurend op die jong man. Dit was ’n blink gedagte om Juan saam te bring, besluit sy.

      Aan tafel vloei die gesprek in veel veiliger kanale. Dis hoofsaaklik donna Teresa wat aan die woord is; wat die vreemdeling inlig oor haar stiefkleindogter se bates en bekwaamhede. Dit lê op Andrea se tong om die trotse ouma te vra of die kleindogter, behalwe mooi lyk en die etiketreëls opsê, darem ook iets kan doen. Dan bedink sy haar. Die De Vitoria-vroue hóéf nie iets te kan doen nie, want hierdie mense praat nie in duisende nie, maar in miljoene. Don Alonso se vrou hoef net mooi te lyk en kinders in die wêreld te bring. Die werk sal deur sy personeel gedoen word. Andrea kry ’n simpatieke insig in die lewe van ’n skatryk vrou. Dit lyk op die oog af baie lekker, maar – as sy enigsins ambisie of talent het – moet sy seker sterf van verveling. En sy voel meteens dankbaar dat sy een van die “gewone” mense is.

      Dit doen Andrea se hart goed om later te luister na ’n intelligente gesprek tussen haar pa en donna Teresa. Hy kan werklik baie interessant gesels oor die lande waarin hy al rondgedwaal het, en donna Teresa vind sy geselskap duidelik baie aangenaam. Haar antagonistiese gevoel jeens die dogter geld blykbaar nie die vader nie.

      Ná ete word daar voorgestel dat hulle na ’n video kyk wat Dries Smit saamgebring het en dit wil skyn asof die res van die aand rustig sal verloop, totdat don Alonso sê: “Julle moet my en Andrea asseblief verskoon. Daar is iets wat ek graag met haar wil bespreek.”

      Donna Teresa se gemoedelikheid taan opmerklik toe sy hulle ontevrede agternakyk en Juan lyk ook nie gelukkig om by die twee ouer mense gelaat te word nie. Maar die don het Andrea aan die elmboog en lei haar die trappe af die maanskyn in.

      Sy laat ontevrede hoor: “Wat is dit? Ek wil graag na die video kyk.”

      Hy gaan staan. “Jy is waarlik uniek. Is jy besig om ’n speletjie met my te speel, of wil jy regtig eerder na ’n video kyk as om saam met my in die maanlig te wandel?”

      Sy kyk hom fronsend aan. “Moet nou nie probeer voorgee jy wil graag saam met mý in die maanlig wees nie, señor. Ek weet hoekom jy my buitentoe gebring het. Blote oëverblindery omdat daar kastig iets tussen ons aan die gang is. Goed. Ek verstaan. Maar ons was nou lank genoeg buite. Kom ons gaan in.”

      “Nie voordat ons gedoen het wat ons veronderstel was om buite te kom doen nie. As ’n mens ’n ding doen, doen jy dit goed – ook as jy toneelspeel. Sit jou arms om my nek.”

      “Moenie laf wees nie! Hier is niemand hier buite wat ons . . .”

      “Maar daar staan iemand by die venster wat ons afloer. Kom, Andrea.” Sy word nader getrek. Hy sit self haar arms om sy nek en buig sy kop.

      Sy rem terug. “Ons hoef nie regtig te soen nie.”

      Sy word meteens vas teen hom geruk, sy asem is warm op haar gesig. “Jy sou die veiligste vrou in enige seerowernes gewees het!”

      “Wat bedoel jy? En eina, jy druk my ribbes af!”

      “Want vir jou, señorita Smit, sou nie eens my seerower-voorvader kans gesien het nie!”

      “En hoekom nie? Daar skort niks met my nie!” sê sy boos. Dink ’n bietjie!

      “Daar moet iets met jou skort. Of is jy bang?”

      “Wat bedoel jy met bang?”

      “Is jy bang om my te soen? Om ’n ware man te soen?”

      Sy staan soos ’n laaistok teen hom.

      “Ek soen nie seerowers nie! Los my!”

      “Dan ís jy bang.”

      “Ek is g’n bang . . .”

      Sy word gesoen. Deeglik . . . net soos sy dit gesien het in die seerowerflieks. Om die waarheid te sê, as Hollywood hierdie man nou kon sien, maak hulle hom die held in ’n nuwe seerowerfilm.

      Toe hy sy kop oplig, voel sy soos ’n ruimtereisiger moet voel wanneer hy skielik, ná maande van gewigloosheid, weer sy voete op die aarde neersit. Vreemd. Duiselig. Knieë die ene jellie. Haar bloeddruk jaag en haar oë wil nie fokus nie. En haar tong lê lam in haar mond.

      “Jy mag honderde mans al gewas het, señorita, maar ek is seker ek is die eerste man wat jou soen soos ’n vrou gesoen behoort te word.” Sy hoor hom saggies lag. “Dan is jy tóg nie so ervare as wat jy wil voorgee nie!”

      Sy wens sy kon hom wegstamp, maar sy voel nog bewerig en half duiselig. Sy is verplig om nog aan hom vas te hou, maar haar vingers kry die hare van sy agterkop beet en sy trek, terwyl sy sissend antwoord: “Jy maak ’n fout, señor. Jy is maar net die eerste seerower wat ek soen. En ek wens . . . ek wens . . .”

      “Vir nog?”

      Ondanks die harde pluk aan sy hare kom sy kop steeds nader.

      “Nee, señor. Ek wens dat jou ouma van opinie verander en besluit ék is die ideale vrou vir haar kleinseun. Dan sal ek graag wil sien hoe jy uit die gemors kom!”

      “Baie maklik, señorita. Dan trou ek net met jou!”

      “O nee, señor. Niks op hierdie aarde sal my beweeg om met ’n seerower te trou nie.”

      “Nie eens Bonito se skat nie?”

      “Nie eens al die oliesjeiks van Arabië se skatte saamgegooi nie!” Sy begin haar ewewig herwin en rem terug. “En as jy dit waag om my weer só te soen . . .”

      “Dan wat, señorita?”

      “Dan klap ek jou! Ek is nie een van jou los vrymeisies wat jou moet besig hou terwyl jou Marinda in Europa rinkink nie.”

      Hy swaai haar vinnig om sodat die maanlig helder op haar gesig val. Dan frons hy. “Die soen het jou diep ontstel. Ek wonder hoekom?”

      Sy trek haar asem in en sy weet sy is besig om ’n gek van haarself te maak. Maar om die een of ander duistere rede voel sy seergemaak. Sy weet net don Alonso mag haar nooit weer só soen nie!

      “Jy het my in hierdie situasie betrek, maar ek gaan nie toelaat dat jy my misbruik vir jou vermaak nie, señor. Dit moet jy goed verstaan.”

      Die bekende onheilspellende frons is terug tussen sy wenkbroue. “Ek verseker jou, señorita Smit, dat dit nie my bedoeling was om misbruik van die situasie te maak nie. Ek wil jou nog ’n versekering gee: Wees gerus. Ek stel nie die minste belang om weer ’n stuk dooie boomstomp te soen nie. Goeienag.”

      Toe sy haar kamer ’n rukkie later bereik en die nat van haar wange afvee, weet sy sy is belaglik. Dit was in die eerste plek dwaas om so ’n bohaai oor ’n soen te maak. Pleks dat sy hom soos ’n ervare vrou uitgelag en neus in die lug weggestap het, het sy te kere gegaan asof dit regtig die eerste keer in haar lewe is dat ’n man haar soen. En dit is nie waar nie,