’n Leesboek soos min! Piekfyn Afrikaans Leesboek vir Eerste Addisionele Taal is volgens die vereistes vir leesonderrig in die Intermediêre Fase ontwikkel. Die boek is ingedeel volgens verskillende genres met tekste en temas gepas vir leerders in hierdie fase. Wanneer leerders hierdie leesboek lees, gaan hulle hulself inleef in die wonderlike gebeure en karakters in elke storie en teks.
Maar die Piekfyn Afrikaans Leesboek bestaan nie net uit kort stories nie. Daar is ook langer stories en fotoverhale wat jong lesers nuwe avonture gaan laat beleef. Daar is kort dramas om in groepverband te beurtlees of op te voer, en gedigte om te lees vir genot of om te dramatiseer.
Daar is ook heelwat inligtings-, sosiale en mediatekste wat leerders se lus vir lees sal aanwakker. Hulle lees oor allerlei temas waarvan hulle dalk nog nie weet nie of ontdek vreemde plekke waarvan hulle nog nooit gehoor het nie. Soms gaan hulle oulike poskaarte, briewe, pamflette en plakkate lees. Dan is daar ook talle interessante koerantberigte, resensies, onderhoude, verslae en advertensies om hul taalkennis uit te brei.
Al hierdie lekker leeswerk gaan jong leser help om Afrikaans spoggerig en vlot te lees en hul taalbegrip te bevorder.
Vir die klaskamer Om die onderwyser te help met onderrig, het die samestellers die volgende inligting in die leesboek voorsien: • Vrae oor die meeste tekste wat volgens kognitiewe vlakke geformuleer is • Toeligting by moeiliker tekste • Woordverklarings vir komplekse woorde • Die stappe van die leesproses
Antwoorde op alle vrae is gratis op die uitgewer se webtuiste beskikbaar (www.bestbooks.co.za).
Piekfyn Afrikaans Graad 12 bevat interessante en eietydse leerstof vir jou as leerder van Afrikaans Eerste Addisionele Taal. Boonop word taalinhoud met dié van verskeie ander vakke geïntegreer wat jou ervaringswêreld sal verryk en jou moontlik sal help met ’n beroepskeuse ná jou matriekjaar.
Die wye verskeidenheid interaktiewe aktiwiteite sorg vir die inoefening en vaslegging van al die taalvaardighede. Afdelings soos Pitkos, In ’n neutedop, die Indeks, die Letterkundegids en die Taalgids gaan jou voorbereiding vir enige soort leer en assessering seepglad laat verloop. Jy gaan verder ook • vir begrip en waardering verskeie fiksie- en niefiksietekste lees; • verskeie visuele tekste krities interpreteer en verduidelik; • in verskillende sosiale situasies oortuigend en duidelik kommunikeer; • vlot en ekspressief praat en toesprake lewer; • aandagtig en krities na taalgebruik luister, en taalstrukture en -konvensies deeglik en foutloos gebruik in mondelinge en skriftelike aanbiedings; en • heelwat transaksionele en kreatiewe tekste volgens prosesskryf aanbied.
Maar dis nie al nie . . . Piekfyn Afrikaans help jou met jou voorbereiding vir die halfjaar- en eindeksamen. Al vier vraestelle wat jy hierdie jaar moet aflê, word in dié handboek voorsien – ook toetse en verskeie hersieningsoefeninge.
Ons weet dat Piekfyn Afrikaans jou gaan help om Afrikaans Eerste Addisionele Taal met vlieënde vaandels te slaag!
Geniet ’n Piekfyn-leerervaring!
Hoekom wil Carla se ma haar nie glo oor die meisie agter haar kamerdeur nie? En wat maak juffrou Elizabeth, van sy nuwe skool, in Arnold-hulle se spens in die middel van die nag? Hoe kan ’n skoolbussie vol kinders in die nag wegjaag sonder dat daar ’n bestuurder in is? Waar kom die vreemde outjie in Bennie se koshuiskamer se kas vandaan? Hierdie is maar ’n paar van die vrae wat jy beantwoord sal kry in hierdie lekker-lees versameling grillerige stories vir alle ouderdomme.
Die eksamen begin oor tien dae, maar Trompie voel dit is gans te vroeg om nou al te leer, want dan sal ’n mens eenvoudig weer alles vergeet. Rooie en Blikkies besluit om hierdie teorie op die proef te stel, maar Dawie weet soos gewoonlik van beter. Intussen is ’n nuwe seun in die skool besig om ons held se lewe te versuur deur allerhande stories oor hom te versprei. Dit word later duidelik dat hierdie vent Trompie wil dwing om teen hom te baklei, maar die sproetgesig is versigtig vir hom, want hy is groot en sterk en het ’n reputasie as ’n bobaas vegter. Dinge kom egter tot ’n punt wanneer die seun Dawie eendag seermaak. Die Boksombende se Grootkaptein besluit tot hiertoe en nie verder nie – die boelie moet op sy plek gesit word. Omtrent al Kwaggaberg se kinders daag by die dam in die kloof op vir hierdie groot kragmeting. Kort voor die eksamen besluit Trompie om vir Rooie ’n poets te bak. Hy smeer ’n handvol toffies vol gom en neem dit skool toe, maar dan ruk sake handuit en die skool se onderhoof én hoof se kake loop lelik deur!
Trompie trek die nuwe seun in sy klas wat al die onderwysers se witbroodjie is ’n lelike streep. ’n Paar dae later bank hy en sy bende skool om in die kloof te gaan swem, maar ’n onderwyser vang hulle en die skoolhoof gee vir elkeen ’n pak slae. ’n Afgetrede bokser wat in die distrik kom boer, begin ’n klub op die dorp en soek plaaslike talent om te leer boks. Trompie kan sy geluk nie glo nie – hy het nog altyd daarvan gedroom om ’n beroemde bokser te word. Hy kry sy pa sover om vir hom boksskoene te koop, maar wanneer hy in ’n toernooi veg, vind hy uit dat hy nie noodwendig wêreldsklas materiaal is nie. Die sirkus kom na Kwaggaberg toe en ons held ontmasker hul kragman as ’n bedrieër. Hy kry die ingewing om geld te maak met sy eie sirkus wat hy in sy ouers se sitkamer hou terwyl hulle weg is. Onnodig om te sê, lei dit tot meer as een katastrofe. Die stof het skaars gaan lê wanneer Trompie lees van ’n dorpie in Brittanje waar ’n klipgooiende spook amok maak. Hy besluit net daar dis tyd om sy tuisdorp te laat regop sit.
Die eindeksamen is naby, maar Trompie is nie lus om te leer nie – hy gaan swem eerder elke middag in die dam. Wanneer hy hoor daar is fietsdiewe op sy tuisdorp, weet die Boksombende se Grootkaptein sommer dadelik waar hulle die gesteelde goedere wegsteek – in een van die grotte bo teen die berg. Trompie en Rooie kom op die skelms af terwyl hulle die fietse op ’n vragmotor laai. Ons held stuur sy maat om die polisie te gaan haal, maar dan vat die diewe die pad en hy klim agterop hul vragmotor. Ná ’n lang rit beland hy in ’n Johannesburgse agterbuurt en moet vir sy lewe vlug. Sal Trompie die kanniedood hierdie gevaarlike avontuur oorleef sodat hy weer saam met sy manskappe onder die blou hemel kan vergader?
Dit is Trompie se laaste kwartaal op laerskool en hy is moeg daarvoor om altyd in almal se slegte boekies te wees. Die Boksombende se Grootkaptein besluit dit het tyd geword om goeie dade te doen, maar dis glad nie so maklik soos wat dit klink nie! Sy een goedbedoelde poging na die ander loop skeef en Trompie moet leer om baie mooi verskoning te vra. Dan is daar ’n ongeluk en hy beland in die hospitaal. Sy ouers stuur hom Durban toe om by sy pa se suster te gaan aansterk en die treinrit soontoe is ’n groot avontuur. Hy is só bly om by die see te wees dat hy in die groot stad verdwaal, maar uiteindelik kom hy darem by sy tannie uit. Wanneer hy terug in Kwaggaberg aanland, moet hy sy leierskap onder die seuns in ’n tweegeveg met ’n nuwe leerder bewys en Trompie leer om die hand van vriendskap na ’n vyand uit te reik.
Trompie gebruik sy vaardighede as entrepreneur om ’n sakeplan vir ’n snoepwinkel by die skool op te stel. Die Boksombende moet elkeen geld bydra om hierdie besigheid op die been te kry en is allesbehalwe beïndruk met hul Grootkaptein wanneer sake nie so vlot verloop soos hy hulle belowe het nie. Selfs Dawie se poging om die snoepie van ondergang te red misluk en die vier vriende sit met hul hande in hul hare. Wanneer Trompie ’n onervare onderwyser ’n poets bak met ’n pratende pop kry hy ’n briljante ingewing vir ’n nuwe sakeonderneming. Maar wie sal vir die sproetgesig en sy vriende geld leen en wie sal by hulle wil koop nadat die snoepie so ’n mislukking was? Ons held is egter vasbeslote om te bewys hy is ’n sakeman van formaat – en niemand het hom nog ooit van stryk gebring as hy eers ordentlik op dreef is nie!
Die dominee betrap die Boksombende wanneer hulle weer kattekwaad met sy mak bobbejaan wil aanvang en gee vir hulle ’n sweterige werkie in die pastorie se agterplaas. Trompie se suster staan op trou en hy dink skielik hy weet alles van die liefde af. Hy en sy vriende het baie pret op Anna se troudag, maar wanneer die gaste begin dans, beland ons held – hierdie keer onskuldig! – amper in groot moeilikheid. Die lewe op Kwaggaberg is nooit vervelig nie: Dawie koop ’n muntstuk waarmee jy mense poetse bak, Rooie kry ontsaglik tandpyn en Trompie verbeel hom hy is ’n galante heer. Maar dan begin die rugbyseisoen by die skool en die Springbokke speel boonop in ’n internasionale toetsreeks. Nou draai die seuns se lewens net om een ding – hul gunstelingsport. Min weet hulle watter groot verrassing en eer daar nog op hulle wag. Ons held gaan die kans kry om vir almal te wys hy is ’n ware rugbyreus!
Dis die begin van die lang Desembervakansie. Trompie en Blikkies pas die haarkapper se winkel op en die Boksombende se Grootkaptein waag sy hand aan ’n laerskoolseun se mooi lokke – met rampspoedige gevolge! ’n Identiese drieling kom vir ’n week by Dawie-hulle kuier en hierdie meisies gee die Kwaggabergers behoorlik opdraand. Hulle skeer gedurig gek met die seuns en stof hulle uit in al wat ’n kompetisie is. Trompie en sy vriende ontmoet ’n bedlêende seun en maak geld bymekaar om vir hom ’n spesiale present te koop. Hulle hoor daar is ’n skrale kans dat hul nuwe vriend weer sal kan loop, maar dan moet ’n beroemde chirurg op hom opereer. Die probleem is, só ’n operasie sal derduisende rande kos en die seun se ma het skaars genoeg geld om vir hulle kos te koop. Ons sproetgesigheld besluit dis tyd om weer met een van sy vindingryke planne vorendag te kom…