Trompie wil ’n seun se krieketkolf leen, maar oefen eers gou sy beroemde skepskop met een van die pronkdahlias in die ryk mense se tuin. Hy word gevang en moet as straf onkruid uittrek. Die sproetgesig roep dadelik sy Boksombende se hulp vir hierdie onaangename taak in. Wanneer die strafwerk klaar is, moet Trompie eers mooi met die suinige ryk seun onderhandel om sy kolf vir hulle te leen sodat Kwaggaberg se seuns kan gaan krieket speel. Hulle kies twee spanne, maar die oomblik wat die wedstryd begin, loop die een ding ná die ander skeef. Eers breek daar ’n ruit, dan reën ’n sarsie klippe kletterend op die kerksaal se dak neer en uiteindelik beland Trompie en ’n klein outjie hoog bo in ’n boomtop op soek na Dawie se duur krieketbal – oorgenoeg aksie om die Grootkaptein en sy manskappe baie besig te hou. Ná ons vriende se rampspoedige krieketdag hoor hulle ’n geheimsinnige gemaskerde stoeier kom na Kwaggaberg toe. Ons held hou hom grootmeneer en belowe hy gaan die man ontmasker!
Trompie en Rooie sien nie kans vir ’n aardrykskundetoets nie en besluit om die klas te bank. Dit lei egter tot twee baie seer sitvlakke! Ons held lees in ’n tydskrif wat die kenmerke is van ’n mens wat ’n skitterende sukses in die lewe is. Hy voel hy beantwoord aan al die vereistes, behalwe miskien dat hy effens meer beleef teenoor ander mense kan wees. Nou ontgeld sy arme familie en vriende dit – hy is só vriendelik en bedagsaam dat almal wens die ou Trompie wil eerder weer terugkom. Rooie daag die Boksombende se Grootkaptein uit om ná donker vir ’n uur alleen in die spookhuis op die bult buite Kwaggaberg te bly en Trompie loop meer as net ’n spook daar raak. ’n Wêreldberoemde toneelgeselskap kom voer ’n drama in die dorp se kerksaal op en Trompie besluit dis tyd dat hy en sy manskappe aan ’n bietjie kuns en kultuur blootgestel word – hy kry natuurlik soos gewoonlik baie meer as wat hy te wagte was!
’n Fotograaf kom die leerders by die skool afneem, en Trompie en sy manskappe besluit om nie soos al die ander vroom gesiggies op te sit nie. Hulle gaan kyk wie van hulle die lelikste bakkies kan trek. Maar die skoolhoof daag op wanneer ons held voor die kamera beland en hy kan nie maak soos hy belowe het nie. Sy drie maats beland in die moeilikheid en besluit om hom daarvoor te straf. Hulle gebruik die feit dat hy dink meisies is so mal oor hom om hul Grootkaptein ’n lelike streep te trek. Wanneer die Boksembende uiteindelik weer vrede maak, kan hulle die res van die dorp nie in vrede los nie en jaag Trompie se suster en ’n vriendin van haar lelik die skrik op die lyf. Hulle reël ook die Rugbywedstryd van die Eeu en moet boonop ’n onnutsige agtjarige knapie leer om mens te word. Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie regeer beslis op Kwaggaberg!
Ons ontmoet Saartjie Baumann, die langbeenmeisie met die wipneus, kuiltjies in die wange en duisende duiweltjies in haar oë. Hierdie rabbedoe en haar twee maats staan bekend as Die Drie Muskiete en al wat hulle lewe versuur, is seuns en ’n klein niksnuts genaamd Muggie. Saartjie reël ’n konsert om geld vir liefdadigheid in te samel en skryf haar eie toneelstuk daarvoor, maar dinge loop nie heeltemal soos beplan nie. ’n Paar dae later sluip sy en haar maats in by ’n bouvallige ou huis waar ’n kluisenaar jare gelede dood is en ontdek ’n geraamte en ’n ysterkis. Hulle het skaars van hierdie avontuur herstel wanneer Saartjie besluit om te gaan heuning uithaal. Die bye steek hulle egter nie so erg soos die arme hoenders op ’n nabygeleë kleinhoewe nie! Die laaste dag op laerskool aap Saartjie tot almal se vermaak party van die onderwysers na en dan moet sy aan ’n debat teen ’n seun deelneem. Ja-nee, sy is beslis ’n besige meisie!
Die Drie Muskiete maak kennis met die parmantige Gail Smith wat spog dat sy alles net so goed soos Saartjie kan doen – en selfs nog beter! Ons heldin laat haar nie so beledig nie en dit lei tot ’n kragmeting met ’n verrassende einde. Verder is daar ook nog ’n strooptog in ’n vrugteboord en ’n tante wat op ’n baie ontydige tyd kom kuier – om nie te praat van die onmin tussen die Muskiete nie. Gaan die meisies uitmekaar spat noudat hulle op hoërskool is?
Saartjie en haar vriende het tien dae skoolvakansie en hulle benut dit ten volle. Die Drie Muskiete gaan “dêps” sappige ingevoerde turksvye by ’n kwaai oom wat openlik sê hy sal enigiemand wat hom besteel lewendig afslag – en ons heldin kry meer as waarvoor sy haar reggemaak het. Hierna stel die rabbedoe vir haar boetie ’n valstrik in hul sitkamer, maar dan kom mevrou Dominee kuier en dinge loop lelik skeef. Saartjie begin ernstig wonder of sy nie maar liewer ’n non moet word nie. Gelukkig daag die sirkus weer in Lynnekom op en sy vergeet vinnig van haar sorge, want die sirkusleeu ontsnap uit sy hok en juffrou Baumann maak van aangesig tot aangesig met hom kennis! ’n Paar dae later maak ’n wegloperhondjie sy opwagting in Saartjie en Apie se lewens. Hulle wil hom albei dolgraag hê, maar kom ooreen dat die brakkie self moet besluit wie sy baas gaan wees. Intussen kla ’n knorrige nuwe buurman dat die hond dissipline geleer moet word – nes Saartjie-hulle!
Trompie en Rooie kom weg met ’n waarskuwing wanneer hulle resies jaag deur by die skool se traprelings af te gly. Dan daag hulle die noodlot verder uit deur met die interkomstelsel te peuter. Hulle bak die leerders in hul klas ’n lekker poets, maar dit boemerang ongelukkig op hulle! Trompie leen ’n waterpistool om sy klasmaats mee te skiet. Wanneer die pistool spoorloos verdwyn, moet hy uitvind wie dit gegaps het. Die sproetgesig kry ’n briljante idee om die skuldiges te vang met die hulp van sy getroue hond Boesman. Die Boksombende is nie lus om die kort vakansie op Kwaggaberg deur te bring nie. Hulle wil vir ’n verandering see toe gaan of op ’n plaas gaan kuier, maar die kanse vir so ’n wegkomkans is skraal – of is dit? Ons held wys weer eens wat in hom steek wanneer hy homself met twee dapper dade oortref. Hy red ’n hulpelose meisietjie en reken af met ’n gevaarlike bende smokkelaars.
Die Boksombende se Grootkaptein kom voor ’n krisis te staan. Die rugbyseisoen is om die draai en Gerrit Moerdyk, ’n seun met wie hy nog nooit klaargekom het nie, sê vir almal hulle moenie weer vir Trompie as hul spankaptein kies nie. Volgens Gerrit is Trompie ’n selfsugtige speler en is dit sy skuld dat hulle nie verlede jaar die beker gewen het nie. Dit lei tot ’n grootskaalse verkiesingsveldtog waarin ons held en sy vriende alles moet uithaal om sy naam in ere te herstel en almal te oortuig dat hy ’n waardige kaptein is. Die Grootkaptein dink self ’n gevatte slagspreuk uit om stemme te werf: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!” Kwaggaberg se sproetgesig kan sy geluk nie glo wanneer sy rugbyheld in die dorp opdaag nie. Hy kry die kans om van aangesig tot aangesig met die beroemde Springbok te gesels en handige wenke te kry – en word selfs na ’n toetswedstryd uitgenooi. Maar Trompie moet natuurlik eers ’n struikelblok of twee oorkom – nie dat dit ooit vir hom ’n probleem is nie!
Trompie bring ’n brulpadda skool toe en sake ruk hand-uit wanneer ’n nuwe onderwyseres skoon flou val van skok. Gelukkig vir die sproetgesig is die skoolhoof nie op die oomblik in Kwaggaberg nie. Die Boksombende se Grootkaptein is jaloers wanneer Katrien, die meisie wat langs hom bly, ’n brief van ’n geheime bewonderaar in hul klas kry. Dit is nie lank voor Trompie uitvind wie so beenaf op haar is nie en dan gaan hy uit sy pad om die lewe vir dié kêrel moeilik te maak. Ons held besluit hy moet ’n nuwe blaadjie omslaan en ’n beter mens word. Sy bendelede is nie juis beïndruk met hierdie nuwe gier nie, maar Trompie doen sy bes om sy medemens te help. Hy hoor by ’n vriend wat in die koshuis is dat die kinders nie naastenby genoeg kos daar kry nie en ontferm hom dadelik oor hulle. Die daaropvolgende eetstaking wat Trompie reël, het verreikende gevolge!
Trompie-hulle gaan speel in die kloof en ’n nuwe vriend, Asjas, val en sit vas. Terwyl hulle hom probeer red, ontdek hulle in die grot ’n historiese rotstekening. Die rugbyseisoen breek aan en die Boksombende speel vir plekke in ’n provinsiale span, maar dit gaan broekskeur . . . totdat hulle almal verras in ’n plaaslike wedstryd.