Название | Stroomop |
---|---|
Автор произведения | Adeline Radloff |
Жанр | Морские приключения |
Серия | |
Издательство | Морские приключения |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780795801754 |
Adrie kyk verward rond. Waar is die bloed? Die skerwe? Die weerligskade?
Dan sien sy dit. In die bad.
Op die water dryf ’n drolletjie.
Sy gee haar man ’n moedelose kyk. “Dammit, Charl. Ek dog die manne is al in hulle PJ’s.”
Want hy’t belowe. Hoog en laag gesweer dat hy haar régtig vanaand met die seuns gaan help. Date night was immers sy idee. Hy het gesê sy moet ’n slag weer onthou dat sy ’n vrou sowel as ’n ma is, en het belowe hy sal sorg dat die kinders in die bed is terwyl sy regmaak vir hulle spesiale aand uit. Maar natuurlik, sodra die kleinste probleempie opduik …
Adrie se gedagtes word onderbreek deur ’n wilde gespat soos die seuns die dreigende gevaar van hulle af probeer weghou. Ai tog. Normaalweg sou dié tipe ongelukkie haar skaars ’n wenkbrou laat lig, maar sy’t nou nét haar hare en grimering gedoen en sy het haar heel mooiste rok aan.
“Doen iets!” smeek sy vir Charl.
Maar haar dapper man, die ou wat op skool spelers twee maal sy grootte kon tackle, kan nou niks doen behalwe om haar smekend aan te kyk terwyl hy sy bes probeer om nie ’n kat te skiet nie.
Adrie dink vinnig, gryp Ben se speelgoedtrokkie en probeer daarmee die ding uit die water skep. Dis natuurlik op presies dié oomblik dat die voordeurklokkie lui.
“Die babysitter!” Charl neem sy kans waar en verdwyn uit die badkamer om te gaan oopmaak.
Absoluut tipies.
Adrie leun so versigtig moontlik oor die bad, maar die seuns is nou al so buite beheer dat hulle glad nie na haar dreigemente luister nie, en teen die tyd dat sy uiteindelik die droltrokkie kan neersit, is haar gesig en hare papnat gespat met die vuil water.
Ten minste is my rok nog droog, troos sy haarself, net voordat Leon huilend met sy nat lyfie aan haar begin klou en Sebastiaan in ’n kleurvolle stroom reg oor haar opgooi.
In die wasmasjien tol haar rok om en om.
Adrie voel onverwags ’n knop in haar keel, asof sy self nog ’n kind is wat in trane kan uitbars as die lewe ’n bietjie moeilik raak. Sy sluk dit weg, onmiddellik geïrriteerd met haarself. Hierdie tipe goed gebeur mos maar, dis nou regtig nie ’n tragedie nie. Eendag gaan hulle almal nog lekker daaroor lag.
En tog.
Dit was haar gunstelingrok dié. Die enigste een waarin sy nog regtig vrou gevoel het. Een van daardie kledingstukke – deesdae so skaars soos hoendertande – wat gesny is om ’n regte vrou in plaas van ’n winkelpop te laat goed lyk. En vanaand moes spesiaal wees. Sy wou so graag vir ’n verandering weer skaflik lyk. Wou so graag vir ’n rukkie weer mooi en begeerlik voel.
In die masjien tol haar rok om en om.
Om en om.
Charl kom die waskamer binne met een hand weggesteek agter sy rug. Dan rek sy oë. “Ek weet nie wat jy aanhet nie, maar ek hou daarvan.”
Oeps!
Adrie gryp ’n handdoek uit die wasgoedmandjie toe sy besef sy staan nog in haar Spanx. “Uit, Charl!”
Soveel vir die vroulike misterie.
Maar hy bly staan waar hy is, ’n stout glimlag op sy gesig, voordat hy met ’n flambojante gebaar ’n red velvet cupcake van agter sy rug te voorskyn bring soos ’n towenaar wat ’n hasie uit ’n hoed ruk.
“Dis vir môre,” sê sy.
“Dis date night.” Hy wikkel sy wenkbroue.
“Dit was voor Sebastiaan se geboorte laas date night.”
Adrie besef dat sy kortaf klink, maar sy kan dit nie verhelp nie. Sy weet Charl probeer sy bes om haar op te beur na die fiasko van vroeër vanaand, maar die lááste ding wat sy nou nodig het, is die sewe biljoen kalorieë wat in daardie onskuldige stukkie koek skuil. As mens self iets bak, weet jy mos presies hoeveel suiker en botter daarin gaan.
Haar man laat hom egter nie so maklik afsit nie. Die bliksem weet alte goed wat haar swakplekke is, en hy vat stadig ’n suggestiewe hap uit die cupcake, die genot op sy gesig so intens dat dit amper lyk asof hy iets onbehoorliks doen.
Adrie voel hoe haar mond begin water.
“Charl.”
Maar sy kry dit nie heeltemal reg om afkeurend te klink nie. Na al die jare vind sy haar man nog steeds verskriklik aantreklik, en met die manier waarop hy nou met daardie stuk koek tekere gaan, kan sy nie anders as om aan ’n heel ánder soort plesier te dink nie.
Hy doop stadig ’n vinger in die versiersel en vee daarmee oor haar lippe, sy oë vuurwarm, sy groot hand sag.
Dis meer as wat vlees en bloed kan weerstaan.
Adrie lek haar lippe af, stadig en deeglik, die genot van die tuisgemaakte versiersel soos ’n soet, elektriese skok deur haar lyf. “Mmmmm.”
Dis al aanmoediging wat hy nodig gehad het. Die volgende oomblik is sy lippe hard teen hare, sy soen driftig, en met een vinnige beweging lig hy haar tot op die wasmasjien.
Die soet op haar tong, haar man se sterk arms om haar lyf, die sagte vibrasie onder haar, sy warm asem teen haar wang … Alles is so onverwags genotvol dat Adrie haarself voel smelt, en vir ’n lighoofdige paar minute gee sy haarself ten volle oor aan die plesiere van suiwer sensualiteit.
Dddrrrr … DDDRRRR …
Onder haar begin die wasmasjien meteens met sy spinsiklus, en die wilde geskud laat elke rolletjie om haar midrif bewe. Charl kies dié oomblik om langsaam oor haar lyf te begin streel, en met die masjien se gerammel onder haar kan sy nou presies voel hoe haar drillerige maagvet teen sy palm vibreer.
Die walging wat sy vir haar eie lyf voel, ruk haar uit die oomblik soos ’n vis uit water. Sy stoot sy hand weg. “Wag. Wag.” Dan klim sy van die wasmasjien af, haar selfhaat soos ’n gif wat deur haar trek. “Ek’s jammer.”
Hy staan terug, duidelik afgehaal, maar hy ken haar ook goed genoeg om te weet dat hy nie nou druk op haar moet plaas nie.
Toe hy wegstap, kan sy die seerkry van verwerping duidelik in sy skouers lees, maar sy roep hom nie terug nie. In plaas daarvan maak sy die kas oop en skuif die waspoeier opsy. Agter die boks Omo staan ’n bottel dieetpille. Die pille laat haar aaklig voel, bewerig en befoeterd en deurmekaar, en dit gee haar hartkloppings en hou haar wakker. Maar dit laat haar definitief minder eet.
Sy’s nog besig om besluiteloos na die pille te staar, toe die wasmasjien se be-ee-ep die einde van die siklus aandui. Sy maak die masjien oop en haal haar rok uit, net om te sien dat dit onredbaar gevlek is. Totaal geruïneer.
Haar laaste mooi rok.
Sy sak moedeloos op die vloer neer, voor haar foon met ’n WhatsApp pieng. Melissa het ’n resep op die matriekreünie groepie geplaas: KOOLSOP.
Sy skud drie pille in haar hand uit. Sluk dit. Probeer vergeefs teen die trane veg.
Diona
Dis eers toe die tafel al vol Britse aandenkings staan dat Diona ordentlik tot verhaal kom. David, natuurlik, is so rustig en gemoedelik soos altyd. Sy kyk hoe gemaklik hy met Nixie sit en gesels, kompleet asof niks fout is nie.
Asof hulle enigste kind nie nou net uit die bloute op hulle drumpel beland het nie.
Diona tel stadig tot twintig, soos sy altyd maak om kalm te bly, en dan terug van twintig tot nul. Maar die swart wolk van verontrusting wat op haar neergedaal het toe sy die deur oopmaak om haar dogter voor haar te sien staan, bly so swaar op haar druk dat sy skaars kan asemhaal. Daar is groot fout. Nixie