BreinBliksem. Fanie Viljoen

Читать онлайн.
Название BreinBliksem
Автор произведения Fanie Viljoen
Жанр Учебная литература
Серия
Издательство Учебная литература
Год выпуска 0
isbn 9780624078180



Скачать книгу

daarom moet hulle harder probeer om haar te laat slaag. En hulle het ook.

      Kelly werk nou by ’n pizzaplek en ruik die meeste van die tyd na deeg en gesmelte kaas.

      My ma en my pa is soos ’n wipplank. Toe die een onder was, was die ander een bo. En toe die een bo was, was die ander een onder. Ek praat nou nie van seks nie, ek praat van hulle werk.

      My pa was ’n eiendomsagent. Dit het nogal goed gegaan met hom, hy was ’n paar keer die topverkoper by Aïda. Die pay was goed, maar nie genoeg nie. Toe besluit hy om sy eie eiendomsagentskap te begin. Die mense het seker nie gedink dis snaaks om ’n huis te koop by ’n plek met die naam “Burns Housing” nie. Needless to say, die plek het gevou soos ’n fortune cookie.

      Toe gaan try hy die corporate ding en gaan werk by ’n bank. Saambou. ’n Paar jaar later staan Saambou se personeel voor ’n toe deur. Almal het die rumours gehoor, maar niemand wou dit glo nie. Werksoek daarna was ’n bitch. Regstellende aksie en die pale male-sindroom het die deure toe gehou.

      En toe kom die back breaker.

      My ma, wat jare lank as persoonlike assistent by ’n beleggingsmaatskappy gewerk het, het intussen die corporate ladder begin klim. Saans swot sy dat jy net Unisa-boeke sien waai. En deur die dag kruip sy gat by die base en woon elke denkbare konferensie by. En toe ons weer sien, is my ma se paycheck meer as my pa s’n.

      Dit was ’n recipe vir disaster. Hulle marriage was down the drain. Geen man se selfbeeld handle sulke goed met grace nie.

      Hy gryp na strooihalms en probeer om begrafnispolisse te verkoop om sy ken op te hou. Sy verdien net elke maand meer in bonusse. Sy koop ’n BMW. Hy moet downgrade na ’n second-hand Mazda.

      Maar hulle bly saam onder een dak, in aparte kamers. En ek en Kelly sien hoe hulle vir mekaar kyk. En ons weet: die shit is in die fan.

      Saterdagoggend.

      SMS vir Kerbs:

      my ma het nou net ’n moerse scream gelos. ek dink syt haar kar

      gesien :- (

      Dis die eerste keer in maande dat Kelly op ’n Saterdagoggend by die huis is. Het haar boyfriend haar gelos? Well, good for him! Gewoonlik dump sy die boyfriends lank voor hulle sell-by date. Dit laat haar voel sy het die power to end it all. Dit laat haar veiliger voel. En dan is daar ook niks van daardie dae lange tjanksessies agterna nie.

      Ek check haar uit waar sy van die kombuiskas na die yskas loop. Try sien of iets verkeerd is. Wag vir ’n julle-mans-is-almal-laer-as-varke-uitbarsting. Dalk ’n traan.

      Sy verraai niks nie. Dan is alles dalk nog oukei met haar en die boyfriend. (Wat is sy naam nou weer? Iets van Knater. Knoeter? Kunter? Gunter? Nevermind.)

      “Hulle’t gisteraand by Ma se kar ingebreek,” sê Kelly toe sy sien ek hou haar dop.

      “O?”

      Wat moet ek nou sê? Haar uitvra oor die kar? Who cares, ek was mos daar.

      Kelly gooi ’n klomp Rice Krispies in ’n bak, dan koue melk en drie lepels suiker. Ek gril vir die koue melk. En die kos. Ek weet nie hoe kan mense ontbyt eet nie. Gee my liewer ’n sigaret.

      Ek kyk hoe sy die eerste hap vat van die pap, hoor die snap-crackle-pop. ’n Straal melk loop teen haar ken af. Sy vee dit af met haar hand en vat die tweede hap, dié keer kleiner. Ek verbeel my ek kan hoor hoe die suiker onder haar tande kraak, hoe dit afgly in haar keel en dae later ’n sellulietdimpel op haar wit boud gaan maak. En ek sien hoe daai drie cartoon-mannetjies op die papboks vir haar lag.

      “Wat kyk jy my so?” vra sy na ’n ruk.

      Ek grinnik net en wonder of ek vir haar moet sê: Ek kyk hoe jy jouself vet voer. Maar ek los dit. Dis ’n oorlog vir ’n ander dag.

      Ek hoor iemand by die voordeur. ’n Rukkie later kom my pa by die kombuis in. “Die kar se ruit is stukkend geslaan. Die radio is gesteel,” sê hy.

      “Ek weet.”

      “O, jy weet?” vra hy.

      Selfde stemtoon as gisteraand. Daardie wel-boetie-ek-weet-ook-stemtoon. Maar weet hy genuine, of is dit my verbeelding?

      “Kelly het my gesê.”

      “A.” Hy vryf oor sy stoppelbaard en gaan sit langs Kelly.

      “Ek gaan kyk,” sê ek om onder my pa se oë uit te kom. Ek weet hy staar my agterna totdat ek in die gang verdwyn.

      Ek stap kaalvoet buitentoe. Ek het net ’n jean aan. Kaal bolyf.

      My ma sit in haar kar. Die look op haar gesig is soos iemand wat treur oor ’n dooie.

      “Fok, Ma, ek hoor hulle het –”

      “Hou tog op met jou banale taal,” kap sy. Sy kyk nie na my nie. Klou net aan die stuurwiel vas, kyk stip deur die windscreen.

      “Het Ma dan nie die kar ingetrek nie?”

      “Lyk dit so?”

      Ek loop om na die passasiersitplek. Die leer is nog nat na die reën. Die mat ook. Oral lê stukkies glas. My oog val op ’n skroewedraaier op die mat. Shit, dis die een wat Kerbs gebruik het om die CD player uit te lig. Ek tel dit vinnig op. My ma se oë blits na my toe.

      “Moenie daaraan vat nie!”

      “Sorry.” Ek trek my skouers op, maar gooi nie die ding neer nie. “Die polisie gaan in elk geval nie veel moeite doen nie. Met fingerprints en so aan, bedoel ek.” Hoop ek, eintlik. “Hulle vra of jy versekering het, jy sê ‘ja’, case closed. Hulle het groter worries as gesteelde radio’s.”

      “My sonbril is ook weg.”

      “Hulle het groter worries as gesteelde radio’s en brille.”

      My ma lyk so sad soos sy daar sit. Haar blonde hare is nog deurmekaar van die slaap. En haar oë lyk moeg. Sy lyk nog effens deurmekaar. Dalk van die twee slaappille. Of dalk is dit net die sadness vir die kar. Ek dink sy is liewer vir haar kar as vir my pa. Sy kry seker beter diens uit die kar.

      “Ek moet ingaan,” sê sy. “Ek moet PG Glass gaan bel. Hoor hoe laat maak hulle oop.”

      Toe sy weg is, vee ek die skroewedraaier skoon. Vir just in case.

      Toe stap ek terug huis toe.

      Ek hoor hoe soek my ma haar selfoon.

      Dis Saterdagaand. Ek en Kerbs is op ons tweede bier. Ons is by die Mystic Boer in Kellnerstraat. Die plek is vol. Lywe skuur teen mekaar. Een van Linkin Park se songs speel. Ek probeer uitfigure watter een, maar ek kom nie op die naam nie. Ek sien hoe Kerbs se been beweeg op maat van die musiek. Hy weet seker nie eens daarvan nie, check net die girls uit wat verbykom badkamer toe, bar toe of buitentoe.

      Ons sit op die rooi bank voor die muur met die silwer sinkplaat. Nice spot. Naby die bar. Daar anderkant speel die ouens pool. Af en toe hoor jy die geklap van die poolballe bo die musiek. Die Voortrekker-omies op die plakpapier hou wag oor ons. Ek wonder baiekeer wat hulle sou gedoen het as hulle nou hier was. Sou hulle ons join vir ’n bier? Hulle lyk so uitgeteer, dalk sou hulle eerder ’n Mystic pizza wou hê.

      Sky Eyes kry ons in die halfdonker. Sky is my ander pêl. As jy ’n girl is en jy moet kies tussen my, Kerbs en Sky, sal jy seker vir Sky kies. Hy lyk die meer presentable van ons drie. Iemand wat jy aan jou ma sou kon voorstel. En hy het die looks – blonde hare, blou oë. Dis weird dat hy nog nie ’n meisie het nie.

      “Ek het nou amper ’n carwatch gefloor,” sê Sky. Hy val langs my op die bank neer. “Fokken ballie vertel my ek moenie te veel suip nie.”

      Ek en Kerbs lag, maar ons weet Sky praat net. Hy sal nie so iets doen nie. Sy hart is te sag.

      “Het